Local is lekker

Ons is gaande oor dié Floral Bouquet Vintage-plakpapier met somerblomme – rose, krismisblomme en Asiatiese lelies – van Cara Saven Wall Design. Dit kos R450/m2; sien carasaven.com.

Winkels toe!

Foto Ian Vermeulen (ianvermeulen.com)

Pilgrimage Spaces, voorheen net ’n aanlynwinkel, het nou ’n toonlokaal. Die ruimte (op die hoek van Portswood- en Somersetweg in Kaapstad) het die mooiste handgemaakte artikels van Indonesië en Indië – nou kan jy daaraan vat en voel voor jy koop! Skakel 021 300 1925 of koop aanlyn by pilgrimagespaces.co.za.

Die gesukkel om Ikea-produkte van oorsee te kry, is nou iets van die verlede! Die plaaslike mykea.co.za voer Ikea se platverpakte meubels in – soos dié Pahl-verstelbare lessenaar (96 cm breed x 58 cm diep x 111 cm hoog) vir R2 299. En as hulle nie die produk wat jy soek in voorraad het nie, kan jy hul aanlyn-wenslys invul, dan voeg hulle dit by hul volgende grootmaat-bestelling.

Nadat ons dié sierlike rakstutte in die Junie-uitgawe gewys het, is ons oorval met navrae. Loer in by die dekor-en-selfdoenwinkel Chisel & Chalk in Durbanville, wat soortgelyke stutte van die groothandelaar Press Up Industries verkoop. Dis beskikbaar in swart, met ’n afgewitte voorkoms of roes-effek en in twee groottes: 18 cm en 28 cm. Skakel 021 976 0444 vir besonderhede.

Hou dop!

BESIGHEID Native Décor
WIE Vusani Ravele
WAAR Johannesburg
SY WERK In 2015 het Vusani Ravele, ’n gekwalifiseerde industriële ingenieur, ’n koordlose boor as Valentynsgeskenk gekry. Dit het sy lewe verander. “Ek wou net gate boor!” skerts hy. “Ek het begin timmer; my eerste projek was ’n klein laaikas.” Sy volgende kopie was ’n CNC-masjien en vandag is hy die stigter en eienaar van die aanlyn-dekorwinkel Native Décor. Hy verkoop alles van horlosies en drupmatjies tot muurkuns, potplante en tydskrifrakke – alles met minimalistiese ontwerpe en gemaak van volhoubare topgehalte-laaghout. Besoek nativedecor.co.za of skakel 011 783 9600.

Uit lapland

Stacey Wright ART en The A Store het pas hul Blue Botanicals-materiale bekend gestel. Die reeks van drie ontwerpe, waaronder Palm Grove hierbo, is ontwikkel nadat Stacey se klante haar oortuig het om haar pragtige kunswerke op lap te laat druk. Dit kos R550/m (144 cm breed). Vir meer inligting en om te bestel, besoek theastore.co.za.

Pasta Primavera uit die Soft Composition-kleurstorie

Witwarm mode!

Plascon se kleur van die jaar is Amadeus, maar dié verf-vervaardiger het ook vier kleurstories vir 2018: Exotic Euphoria, Soft Composition, Craft Spirit en High-Glo. Elk van dié kleurstories bestaan uit agt kleure. As minimalisme jou aanstaan, is die Soft Composition-kleurstorie jou antwoord: van appelkoospienk Hudson en liggrys Beijing Moon, tot Storm Cloud, ’n sterk blou net reg vir ’n fokusmuur.

Wil jy jou leefarea ’n styl-inspuiting gee? Dan is dié leer-sitkussings van Moroccan Warehouse (elk sowat 50 cm in deursnee en 30 cm hoog) net die ding! Besoek die winkel op die hoek van Buitenkant- en Commercialstraat in Kaapstad of skakel 021 461 8318.