Vir Nadine Theron van Worcester is daar niks lekkerder as om na haar eie droomwêreld tuis te ontsnap waar sy “huis-huis” kan speel nie. “Dit is my stokperdjie om dinge te verander en mooi te maak,” vertel sy opgewonde nadat sy aangewys is as die wenner van Tuis | Home se Rookie Stylist-kompetisie op Instagram in samewerking met MRP Home.

Nadine en haar man, Philip, woon die afgelope vier jaar in ’n huis wat in die 1930’s gebou is. Hulle was dadelik verlief op die Oregondennehoutvloere en ruim vertrekke, en het stadig maar seker ontslae geraak van die pers en geel teëls, die potblou bad, wasbak en toilet, ou viniel en dik wolmatte op die vloere; hulle het ook ’n paar mure uitgebreek om die vloei te verbeter.

Die wen-hoekie

HOOFSLAAPKAMER

Wie het gesê die muur agter die kopstuk moet die fokusmuur in ’n slaapkamer wees? Plascon Night Moss skep ’n treffende fokuspunt as jy by die hoof- slaapkamer instap. Die kopstuk, ’n geskenk van Nadine se broer, is gemaak uit akkerhoutplanke wat ’n wynkelder uitgegooi het nadat dit in rooiwyn- tenks gebruik is vir veroudering. Die deken op die bed het Nadine uit ’n Hertex-lapboek gemaak en die res van die beddegoed het sy met haar wengeld by MRP Home gekoop.

Sement-takbokkop van Bali Trading

GASTEKAMER

Dié tafeltjie was al elke denkbare kleur, maar spog tans met ’n lagie Dulux Pink Nevada. Dit staan mooi uit teen die plakpapier van Hertex.

KOMBUIS

Ouma se potterak spog met blikkies wat van verskeie tantes, oumas en ma’s kom.

GASTEBADKAMER

Die oorspronklike vloer is net so behou omdat Nadine en Philip van die retro-gevoel hou. Hulle het op ’n swart- en-wit-voorkoms besluit, maar met aksentkleure. Philip het die handdoek-leer uit koperpype gemaak. Vir die mure bo die teëls is twee verskillende kleure blou bymekaargegooi.

Art Deco-kas en waterbankie van Odds & Ends Cottage Antiques; spieëls van @home en MRP Home

Mooimaak in haar bloed

Met die bouwerk klaar, kon Nadine vrye teuels gee aan haar dekorstyl, wat sy as ’n eklektiese kombinasie van “oud en nuut kleurvol saamgeflans” beskryf. “Ek gooi ’n klomp goed saam, staan dan weg en as dit op ’n afstand vir my mooi lyk, dan los ek dit so!”

Sy glo haar liefde vir mooimaak en dekor kom van haar oorlede ma, Marietha van Wyk. “As kind was geld maar aan die min kant, maar my ma het ons huis met allerhande slim planne in ’n mooi, gesellige tuiste omskep,” vertel sy. “Ek onthou hoe sy by die biblioteek portrette uitgeneem het en gedurig die meubels rondgeskuif het; dit het elke keer anders gelyk as jy by die huis instap. Ek het my liefde vir meubels skuif by haar geërf – tot my man se ergernis!” sê sy laggend.

Gelukkig deel Philip haar passie vir mooimaak. “Sy hande staan vir niks verkeerd nie en hy werk supernetjies. Hy het ’n baie goeie oog en ek weet altyd: As hy help, gaan my projek presies uitkom soos ek daarvan hou.”

NADINE SE WENKE

• Toetspotjies verf is goedkoop en perfek vir kleiner meubelstukke.

• Dink nuut oor wat jy het: ’n Hoepel kan ’n krans word teen jou voordeur, en ’n tafeldoek ’n treffende muurbehangsel.

• Voltooi een vertrek met jou mooiste en duursaamste artikels totdat jy tevrede is met die geheel. Dit help nie jy het ses mooi stukke wat tussen ses vertrekke versprei is en nêrens ’n impak maak nie.

• Raak ontslae van meubelstukke wat geen doel dien nie en skaf eerder iets in sy plek aan wat wérk.

• Maak skoon en aan die kant: Dikwels is jou huis sommer klaar mooi as jy eers netjies gemaak en die warboel weggewerk het.

VERSKAFFERS

@home 0860 576 576

Bali Trading 028 713 2080

Hertex 021 914 3390

MRP Home 0800 212 535

Odds & Ends Cottage Antiques 021 851 8267