In dié jaarlikse kompetisie in vennootskap met Tjhoko Paint kan jy wondere verrig met verf, ’n kwas, roller en stensil. Gee jou verbeelding vrye teuels en gee terselfdertyd nuwe lewe aan iets ouds. Daar’s geen rede om altyd iets nuuts te koop nie, want met Tjhoko Paint kan jy toor en apploustrekkers skep reg deur jou huis. Om nie te praat van die lekker pryse wat jy kan wen nie...

Nuut!

Vanjaar se kompetisie het ’n paar nuutjies. Eers kon jy jou inskrywing(s) net op Instagram laai, maar nou kan jy ook Facebook gebruik. Jy moet natuurlik ’n Instagram- of Facebook-rekening hê; as jy nog nie een het nie, laai die apps af in die Apple App Store of by Google Play. Stuur gerus ’n e-pos na redakteur@tuis.co.za as jy vasbrand.

KATEGORIEË

Die ander nuutjie is dat ons vanjaar tien kategorieë het. Die boordelaars (’n kennerspaneel met lede van die Tuis-redaksie en die Tjhoko Paint-span) sal al die inskrywings onder oë neem en dan finaliste per kategorie kies. Laat die lys hieronder vir jou ’n riglyn wees van waarna ons soek:

1 Die beste inskrywing deur deelnemers onder 18 jaar   

2 Indrukwekkendste fokusmuur 

3 Oulikste inskrywing     

4 Beste gemeenskapsinisiatief

5 Grootste inspirasie 

6 Mees uitsonderlike inskrywing       

7 Aangrypendste storie                    

8 Beste herwinningsprojek             

9 Kleurinspirasie                             

10 Beste oormaak van ’n vertrek 

Skryf só in

Die kompetisie begin op Maandag 21 Junie en sluit op Vrydag 15 Oktober. Enigiemand kan inskryf. As jy jou oogappel se kreatiewe werk wil deel, laai dit op jou profiel en vertel ons meer van die klein kunstenaar. 

Lesers kan vanaf Maandag 25 Oktober vir hul gunsteling in elke kategorie stem. Meer besonderhede sal in die Oktober|November-uitgawe van Tuis bekend gemaak word.

Volg dié stappe:

1 Besluit wat jy wil inskryf. Dit kan ’n bestaande projek of ’n nuwe een wees. En daar is geen beperking op hoeveel inskrywings jy mag stuur nie!

2 Neem ’n foto met jou selfoon, in natuurlike lig (met ander woorde, nie donkeraand met oorhoofse beligting nie, ons wil kan sien wat aangaan!).

3 Laai die foto op Instagram en sluit dié hutswoorde in: #tuishomemag en #tjhokochamps2021. Vertel kortliks iets oor jou projek en noem watter Tjhoko Paint-produkte en -kleure jy gebruik het.

4 Maak seker jou Instagram-profiel is nie privaat nie, anders kan ons nie jou inskrywing sien nie!

Die pryse

Die wenner in elke kategorie kry ’n Tjhoko-geskenkpak ter waarde van R1 000, ’n R1000-koopbewys van Takealot en ’n PNA-geskenkkaart ter waarde van R600. Die algehele wenner kry R10 000 kontant en ’n persoonlike meesterklas by Nadine Vosloo, Suid-Afrika se Tjhoko Paint-ghoeroe. Die algehele wenner se inskrywing sal afgeneem word vir publikasie in ’n latere uitgawe van Tuis of een van Tuis se spesiale uitgawes.