#1 Bly weg van bonkige ligte

Kompakte leefruimtes het dikwels lae plafonne. Passtukke wat oorgroot is of laag hang, gaan net die vertrek kleiner en meer beknop laat voel. Standaard-plafonligte in Suid-Afrika is tussen 2,1 m en 2,4 m lank. Dit beteken jou passtuk moet liefs nie meer as 40 cm hoog wees en laer as 2 m bo die vloer hang nie. Gesonke ligte is die beste opsie, want dit beklemtoon nie ’n lae plafon nie. As jy dolgraag ’n passtuk wil hê vir ’n dekoratiewe element, kies een met ’n lae profiel en ’n groot deursnee.

#2 Gebruik die muurwastegniek

Dis ’n eenvoudige tegniek wat ’n vertrek groter laat voel. Gooi lig op spesifieke dele van jou muur, byvoorbeeld ’n skildery of argitektoniese eienskappe. Dit skep die illusie van ’n groter ruimte en lei die aandag na treffende elemente in jou huis. Skuifbare gesonke ligte en spoorligte werk goed vir dié effek.

#3 Werk boontoe

Skyn lig boontoe na die plafon om die oog vertikaal te lei. Dié beligtingstyl gee ’n klein ruimte visuele oemf en dis maklik om te doen met ’n verskeidenheid ligte. Sekere lampe en muurligte se ontwerp laat dit lig boontoe gooi. Jy kan ook ligte in die grond installeer vir ’n dramatiese effek.

#4 Onthou van agtergrondverligting

Agtergrondverligting is dikwels vergete wanneer beligting in ’n kleiner huis ontwerp word, maar dit bly ’n belangrike opsie. Sit strookligte in nisse, kaste of agter ’n TV of kunswerk om die illusie van diepte te skep.

#5 Gebruik meer as een ligbron

’n Aantal ligte wat strategies geplaas is, sal skaduwees in ’n klein vertrek uitskakel en dit groter laat voel. Gebruik tafellampe en muurligte saam met onopvallende plafonligte vir ekstra lig – die doel is om ’n laag-op-laagvoorkoms te skep (omgewings-, taak- en aksentbeligting). Onthou net om die vertrek se grootte in gedagte te hou wanneer jy ligte kies. As jy ligte kies wat te groot is vir die skaal van die vertrek, gaan dit die ruimte beknop laat voel.