Foto’s Francois Oberholster, Elza Cooper en Henrique Wilding | Stilering Marian van Wyk, Amanda van Wyngaardt, Kim Bougaardt en Juané Scheepers

Vir privaatheid

Die probleem

Donna Podems van Kaapstad wou nie die elegante atmosfeer in haar badkamer bederf met swaar, onvanpaste vensterbekledings nie. Maar omdat die bad reg onder ’n venster staan, moes daar op die een of ander manier privaatheid geskep word.

Die oplossing

Silver Stain Stained Glass Studio het dié pragtige venster op maat vir die badkamer gemaak. Dit sorg vir privaatheid en verfraai die ruimte, maar laat steeds genoeg gefiltreerde lig deur.
Handdoek van Weylandts; vloerteëls van Lasco Architectural Components; badkamer ontwerp en gebou deur Bespoke Bathrooms

Pienk plesier

Die probleem

Tydens ’n onlangse opknap op Robertson moes die interieurontwerper Etienne Hanekom plek vind vir ’n ekstra badkamer in ’n huis wat nie genoeg plek binne gehad het nie.

Die oplossing

Etienne het ’n sjarmante vertrek met ’n boogdak ontwerp wat relatief eenvoudig en bekostigbaar was om aan te bou. “Omdat die pasgemaakte sinkdak so solied is, was min baksteenwerk nodig; dit het nie eens ’n staalraam nie,” verduidelik Etienne. En omdat die 150 jaar oue kleisteenhuis reeds ’n sinkplaatdak het, pas die nuwe aanbouing perfek by die argitektuur, voeg hy by.

’n Boogdeur skakel netjies in by die hoofstruktuur en ’n baksteenvloer skep die plaasgevoel waarna Etienne gemik het. ’n Muur tussen die wasbak en stort is afgerond met ’n groen-en-wit marmerblad bo-op.

’n Dakvenster verskaf ekstra natuurlike lig. Die buitekant van die struktuur is geverf met Dulux Roofguard met Solarflex-tegnologie, wat die ergste somerhitte afweer. “Ek het dit verlede Desember getoets; buite was dit 42 ºC, terwyl dit in die badkamer nooit warmer as 28 ºC geword het nie,” sê Etienne.
Mure geverf met Dulux Irish Rose; dak pasgemaak deur RainQueen Tanks; wasbak van Flush Bathrooms; handdoek van Blockhouse

Bakstene is ’n goeie opsie in ’n nat vertrek; dis heeltemal glyvas. – Etienne

Dié deur maak oop op die swembad-area – alte gerieflik as jy wil stort ná ’n swem!

Perfek geplak

Die probleem

Heidi van der Westhuizen, die eienaar van Heidi J Design – wat onder meer aanplak-vinielteëls verkoop – wou haar wasbakkas opkikker omdat dit begin skade wys het weens blootstelling aan klammigheid.

Die oplossing

Sy het die kas (wat voorheen as klein buffet gebruik is) ’n water- bestande baadjie gegee met vinielplakkers in die Delft-styl. Dit het net R300 gekos en kan maklik vervang word vir ’n vars voorkoms.

Rooi gevaar!

Die probleem

Die modeblogger Sergio Ines was op soek na ’n funky element vir die gastebadkamer in sy dupleks in die Kaapse middestad.

Die oplossing

Hy het ’n ou voordeur gehang, dit helderrooi geverf en afgerond met koperdetail. Maak net so! Hou jy van dié rooi? Probeer Duram Sunburst Nose of Plascon Red Flame.
Foto Greg Cox/bureaux.co.za

Sit-sit so

Die probleem

Niemand hou van onbenutte ruimte nie! Die argitek Antonio Zaninovic het ’n betonblad met swart klipskerwe vir die badkamer in Ute Faure se Bo-Kaapse huis ontwerp, en het ’n slim plan gehad met die leë ruimte tussen die wasbak en die stort.

Die oplossing

Die onderste rak is verleng vir sitplek in die stort. “Dit laat die vertrek soveel groter voel en ek kan dit as sit- óf pakplek gebruik,” sê Ute.Ons is dol oor die natuurlike lig wat by die daklig instroom.
Badmatjies van Ashanti Design; handdoek van Mungo

Oop en ruim

Die probleem

Tydens ’n opknap is ’n slaapkamer in Ute se huis aangebou met ’n en suite-badkamer wat, nes die ander vertrekke, op ’n sentrale binnehof oopmaak. Maar waarheen met die bad?

Die oplossing

Om die badkamer en rustige buiteruimte met mekaar te verbind het die argitek die bad reg langs die matglasdeur gesit – wanneer dit oop is, voel dit of jy in die buitelug bad. Lieflik! 
Gehekelde mat van Alles Wat Mooi Is

Nuwe nut vir weggooigoed

Die probleem

1. Lysbeth Bijlstra en Peter Annesley het pas ’n onbenutte dek in hul Houtbaaise huis omskep in ’n badkamer, en was op soek na net die regte materiaal om hul 3 m²-stort mee af te skort – dit moes inskakel by die rustieke sementvloere, ontblote koperpype en besonderse houtlessenaar waarin Lysbeth haar juweliersware bêre. 2. Die rame voor hulle geseël is.

Die oplossing

Toe hulle ’n paar groot vensterrame by ’n skrootwerf raakloop, het hulle geweet dis perfek vir die stort. Die paartjie het die houtrame laat inbou en dit behandel met ’n waterbasis-seëlaar en lynolie, en toe onbreekbare glas daarin geïnstalleer.
Handdoeke van Rain Africa; ronde mat van Weylandts; stoel van Milnerton-mark

1. Die Oregondennehout-spieëlraam is gemaak van ou dakbalke. Dit hang uit die plafon en is aan die wasbakkas vasgemaak met kettings sodat die aantrek- en badkamer nie heeltemal van mekaar geskei is nie. Die kaste in die aantrekkamer is geverfde dennehout. 2. Die rustieke sement-wasbakkas is met ’n Coprox-produk verseël teen nattigheid. Peter het die trendy koperpype vir die krane geïnstalleer. 3. Blink idee! Peter het die lessenaar vir Lysbeth gemaak van drie ou drukkerlaaie wat hy by die Milnerton-mark gekoop het.

Gladde kalant!

Die probleem

Toe Nikki Zigras, eienaar van die interieurontwerp-firma Studio Do Cabo, besluit om haar Mouillepunt-woonstel op Airbnb te verhuur, het sy die oudmodiese badkamer opgeknap. Sy wou mooimaak (op ’n begroting) en seker maak dis veilig vir gaste – die gladde teëls op die vloer moes uit!

Die oplossing

Nikki het die verskillende teëls op die vloer en in die stort uitgekap en vervang met mosaïekteëls wat soos rivierklippies lyk – in die stort én die res van die badkamer. “Ek hou van die eksotiese voorkoms, en dis glyvas!” sê sy. Om die rustieke atmosfeer te versterk het sy die ongepleisterde mure geverf en ’n spieëlraam en wasbakkas van dwarslêerhout ingebring. Kunswerke hang naby die plafon om dit teen waterskade te beskerm en die klein vertrek groter te laat voel.
Spieëlraam en wasbakkas deur André Otto van Green Cube Design

Hoe slim is dié eenvoudige hangplek vir handdoeke in JD en JR Reverchon se huis op Hoedspruit? Dis ’n stuk afvalhout wat skuins gesaag is sodat dit teen die muur kan rus. ’n Ronde blad – dit was deel van die metaal-kombuisblad wat hulle moes uitsny vir ’n spoelwasbak – is bygevoeg vir pakplek.
Handdoek van Sanders

Natuurlike skerm

Die probleem

Robert en Gina McClelland van Grottobaai wou hê hul badkamer met sy see-uitsig moet die aardse atmosfeer in die res van die huis weerspieël. Hulle het besluit op ’n kwartsvloer, wit hortjies en wit verf vir die mure, maar moes nog die bad en stort van mekaar skei.

Die oplossing

Toe hulle dié latteskerm (wat gewoonlik in tuine gebruik word) sien, het hulle geweet dis perfek vir die doel; hulle het dit op maat laat saag en uit die plafon gehang. Dit lyk pragtig in dié lugtige badkamer, en die openinge tussen die latte is ook goed vir lugsirkulasie.
Foto Louis Lemaire • Stilering Insidehomepage

Waterskeiding

Die probleem

’n “Vervelige” baksteenmuur het die interieurontwerper Hanno de Swardt van Milnerton se slaap- en badkamer geskei. Hy wou die vertrekke naatloos met mekaar laat skakel, sonder nattigheid in sy slaapruimte.

Die oplossing

Hanno het ’n 8 mm-muur van getinte glas gekies vir vloei en goeie lig. “Dis sexy en kontemporêr, en interessanter as mat glas omdat dit net-net deursigtig genoeg is,” sê hy.
Muurteëls van The Tilehouse; glasmuur deur Matthews Aluminium

Duidelike prentjie

Die probleem

Mia Widlake van Johannesburg was siek en sat van haar “outydse groen badkamer so reg uit die sewentigs”. Toe dit tyd raak vir opknap, moes sy besluit hoe om ’n sjiek, tydlose ruimte te skep wat haar persoonlikheid weerspieël.

Die oplossing

Vir ’n prettige element het Mia geraamde items van elders in die huis gebruik en ’n galerymuur geskep. Danksy goeie ventilasie bly die kuns in ’n goeie toestand. Ons is ook dol oor die ingeboude kas; Mia het die oorspronklike hortjiedeure vervang met Shakerstyl-deure en dit ’n gesofistikeerde donkerblou geverf.
Vloerteëls van Ferreiras; rakeenheid van T&Co Fabrics; die hanglamp was ’n vintage-vonds

Beskerm só kunswerke in ’n klam vertrek
Cara Saven van Cara Saven Wall Design gee die volgende wenke vir hoe jy kunswerke in ’n klam vertrek beskerm: Skilderdoek Vernis die voorkant van die doek en strek dit oor behandelde obeche-hout sodat dit nie skeeftrek nie. Afdrukke Gebruik ’n Masonite-rugkant met ’n wasafwerking aan die buitekant, sit ’n laag plastiek tussen die afdruk en die rugkant, of gebruik ’n raam van deurdruk-plastiek.
VERSKAFFERS
  • Alles Wat Mooi Is 074 859 9801
  • Ashanti Design 021 461 0367, ashantidesign.com
  • Bespoke Bathrooms 021 492 0531, bespokebathrooms.co.za
  • Blockhouse 083 675 7128, blockhouse.co.za
  • Cara Saven Wall Design 082 696 6062, carasaven.com
  • Ferreiras 011 699 3500, ferreiras.co.za
  • Flush Bathrooms 021 511 7888, flushbathrooms.co.za
  • Green Cube Design 076 339 9292, greencubedesign.co.za
  • Heidi J Design 082 413 3110
  • Lasco Architectural Components 021 422 0106, lascocomponents.com
  • Matthews Aluminium 021 905 4792, matthewsaluminium.co.za
  • Mungo 021 201 2374, mungo.co.za
  • Rain Africa 021 425 5248, rainafrica.com
  • RainQueen Tanks 011 708 0319, rainqueentanks.co.za
  • Silver Stain Stained Glass Studio 072 100 5334, silverstain.co.za
  • Sanders 086 123 4448, sanders-southafrica.co.za
  • T&Co Fabrics 011 262 4718, tandco.co.za
  • The Tilehouse 021 506 3020, thetilehouse.co.za
  • Weylandts 021 914 1433, weylandts.co.za