Foto’s Francois Oberholster, Donna Lewis, Elza Cooper en verskaf

Die woord “bekleding” herinner nie verniet aan klere nie, want dit word vir min of meer dieselfde doel gebruik: as versiering, ja, maar ook vir beskerming én om weg te steek! Ons kyk na hoe en waar verskillende materiale rondom jou huis vir bekleding gebruik kan word en hoe dit jou sak raak.

1 Hout

As dit by buiteruimtes kom, is hout een van die voorkeurmateriale. Ons ken dit as buite-afwerking van tradisionele houthuise, maar dit word ook dekoratief in kombinasie met ander materiale gebruik.

Natuurlike skoonheid

Daar is talle houtsoorte met dieper kleure en treffender strukture as gewone dennehout wat die skoonheid van die natuur na jou eiendom bring. Volgens Roy Purdham van Country Woods is die grootste voordeel van hout dat dit “groen” is indien dit van ’n volhoubare plantasie kom. “En as ’n mens boonop indringerhout soos saligna nuttig kan inspan, is dit ’n groot pluspunt,” sê hy. Die enigste nadeel van hout is die instandhouding wat dit verg. Jy moet dit gereeld skuur en vernis of met olie voed as jy die oorspronklike kleur wil behou. Gebruik ’n produk soos Woodoc 50 (deursigtig) of Woodoc 55 (getint) vir beskerming teen die son, wind en reën. Solank dit nie ononderbroke aan water blootgestel word nie, is hout geskik vir enige dekoratiewe of funksionele struktuur in die tuin. Roy se voorkeurhout vir buitegebruik is Western Red-seder, maar hy beveel ook massaranduba, garapa, saligna, meranti en Japanse sederhout aan. Dit word meestal verkoop in planke van 90 x 19 mm. 

SELFDOEN? Soms, afhangend van die projek

KOSTE Vanaf sowat R575/m² 

Die stoepmuur by dié huis in Oranjezicht, Kaapstad, is met jarrahout beklee.

Hierdie ekovriendelike huis naby Calitzdorp is afgerond met houtbekleding.

Lyk soos hout

Wat daarvan as jy jou buiteruimtes kan verfraai met iets wat nie net volhoubaar is nie, maar ook afvalmateriaal uit die vullisterrein hou? Nùdek is ’n samestelling van hout- en bamboesskaafsels, plastiek (alles herwinde materiaal) en bindmiddels. Die bekleding is te kry in planke van 5,8 m-lengtes (hoekprofiele van 2,9 m) en verskillende breedtes (96 mm, 135 mm en 150 mm). Daar is 5 basiese kleure – Chocolate, Savannah, Terracotta, Grey en Charcoal. Volgens Duard Kleyn, eienaar van Nùdek, is die produk gebruikersvriendelik en kan kranige selfdoeners dit maklik self installeer. “Die tong-en-groefplanke skuif eenvoudig inmekaar,” verduidelik hy. “En vir diegene wat regtig tien duime het, kan ons ’n ervare installeerder aanbeveel.”

Saamgestelde hout verg geen onderhoud nie; spuit dit net af as dit vuil word. Die produk het ’n 10-jaarwaarborg mits dit volgens voorskrifte geïnstalleer is.

SELFDOEN? Beslis

KOSTE Vanaf R690/m²

Voor ’n Lelike afvoerpyp reg langs die voordeur?

Steek dit netjies weg met Nùdek.

Nùdek werk ook goed as muurbekleding vir ’n buitestort.

Die estetiese waarde van gewone houtlatte as bekleding is duidelik te sien by hierdie vraghouerhuis naby Botrivier.

Muntslim opsie

Houtverskaffers soos The Pole Yard het volledige plank- en lattepanele wat teen ’n muur vasgesit kan word; of koop bondels latte en heg dit aan ’n raam teen die muur. SELFDOEN? Dis die hele idee KOSTE Vanaf R1 360 per paneel (1,8 x 2,1 m) 

Die fokusmuur by dié swembad is met kwartsietteëls beklee.

2 Klip

Klip versier menige fokusmuur, skoorsteen of waterglanspunt. Maar wat na ’n soliede muur van handgekapte klip lyk, is meestal gewone bakstene wat met klip – of iets wat soos klip lyk – beklee is.

/

Van ’n hoop klippe tot netjiese, natuurlike bekleding.

Die ware Jakob

By Clara Anna Fontein, ’n nuwe ontwikkeling in Durbanville, Kaapstad, kap ’n span klipkunstenaars met hul hamers en beitels vierkantige en reghoekige vorms uit sandsteen.

“Dié klip kom uit ’n steengroef naby Nieuwoudtville in Namakwaland,” vertel Etienne Janse van Rensburg, eienaar van Cape Sandstone. Die vakmanne kom meestal van Lesotho, waar hulle self in kliphuise grootgeword het, verduidelik hy. Elkeen kan sowat 10 m² se klip in ’n week kap, afwerk en pasmaak sodat dit ’n natuurlike grofheid het, maar knus langs mekaar gaan lê sonder breë voeë tussenin. Dit is juis eers wanneer die klip met dagha teen ’n rou baksteenmuur aangebring word dat ’n mens besef hoeveel beplanning by dié eeue oue vakmanskap betrokke is – dit lyk kompleet asof die muur in die natuur vorm gekry het! 

Patroon en kleur

Ware klipkunstenaars raak al hoe meer gesog, omdat masjiene deesdae meestal die snywerk doen en die klip in netjiese “teëls” met egalige afmetings vorm. Dit word dan individueel óf in panele waaraan kleiner “teëls” klaar geheg is, verkoop.

Los klipteëls word in verskillende klassieke patrone gelê, terwyl die panele langs mekaar geplaas word om ’n groot oppervlakte te bedek.

“Die moontlikhede is legio,” sê Leo O’Connell, verkoopskonsultant by Natural Stone Warehouse. “Ons sal byvoorbeeld ’n groot teël in stroke sny en dit in ’n visgraat-patroon lê vir ’n fokusmuur. Gesteentes soos ongepoleerde marmer en graniet gee ’n wonderlike warmte aan buitemure.”

Die kleurspektrum is wyd – klassieke travertyn en marmer kom in aardse skakerings, maar ook moderne grys en wit; sandsteen in verskillende skakerings van room tot roes, terwyl leiklip en kwartsiet metaalagtige silwer en koper tone kan hê.

Volgens Steve Blair, besturende direkteur van Mazista in Kaapstad, het klipbekleding die volgende voordele: min instandhouding, natuurlike skoonheid, beskerming en veiligheid. “Klipbekleding dra in werklikheid by tot die meganiese sterkte van die struktuur waaraan dit geheg is,” verduidelik hy. Omdat dit uit die natuur kom, verweer klip ook op ’n natuurlike manier.

Wanneer dit kom by die lê van natuurlike klip is dit beter om die diens van ’n professionele installeerder in te roep, sê Kate Stubbs van Artmar Natural Stone. Dis ook belangrik dat die regte kleefmiddel gebruik word. “Kies ’n natuurlike wit kleefmiddel, veral by die beige en grys klip wat nou so gewild is,” is haar raad. “Omdat klip poreus is, kan gekleurde sement of grys teël-hegmiddels dit vlek.”

Hoewel sommige verskaffers glo klip moet elke paar jaar geseël word, is ander van mening dat dit nie nodig is nie. Probeer net om dit skoon te hou: Vuil kolle kan met ’n sagte seep skoongemaak word; spoel en droog agterna goed af. Moet nooit asyn, suurlemoensap of ander middels wat sure bevat, op marmer, kalksteen, travertyn of oniks gebruik nie; bly ook weg van badkamer-, voegbry- en teëlreinigers.

SELFDOEN? Nee

KOSTE R400–R1 200/m²

Leiklip gee trefkrag aan dié braaiplek by ’n huis buite Bloemfontein.

Goedkoper opsies

1 As jy nie egte klip kan bekostig nie, is daar ander produkte wat net soos die ware Jakob lyk. Volgens Jeanine Pomario, die bemarkingsbestuurder van Revelstone, is hul gesimuleerde klip die voorkeur-alternatief vir regte klip. Die “klip” is basies beton wat in vorms gegiet word. Die betonmengsel is só saamgestel en regdeur gekleur dat dit die natuur in alle opsigte naboots en net soos klip verweer. Dis beskikbaar in stene van 110 x 110 x 15 mm tot 1 200 x 600 x 55 mm. “Ons produkte is geskik vir enige plek waar die voorkoms van egte klip verlang word,” verduidelik sy. “Daar is 15 kleure om van te kies; Perfectstone Grey, Charcoal en Sandstone is tans die gewildste.” Die “klip” word met ’n teëlkleefmiddel aan mure geheg en ’n professionele teëlaar wat ervaring van klipwerk het, word aanbeveel.

SELFDOEN? Liewer nie

KOSTE R255 tot R611/m²

2 Vir selfdoeners wat van die klipvoorkoms hou, het Rockwood Cladding waarskynlik die maklikste oplossing: buigsame poliuretaan-panele van industriële sterkte, bedek met Jesmonite (’n veelsydige, vormbare materiaal) en granietpoeier. Die driedimensionele, UV-bestande panele is ’n presiese replika van stene, lei of klip en elkeen word met die hand geverf in die verlangde voorkoms. Op die oomblik is panele wat grys en beige leiklip naboots, die topverkopers. Installasie is vinnig en maklik. Die panele (sowat 1 200 x 900 mm) pas soos ’n legkaart inmekaar en word aan ’n muur geheg met ’n kragtige kleefmiddel en Hilti-spykers. Dit kan maklik met ’n figuursaag op maat gesaag word en omdat dit so lig is (4–7 kg/m²), kan een mens tot 35 van die panele op ’n dag lê. ’n Akrielseëlaar word tussen panele aangewend en nate word met ’n tikkie verf verbloem.

SELFDOEN? Beslis

KOSTE R395 tot R450/m²

/

Gesimuleerde klip-bekleding deur Revelstone: 1 tradisionele Viking Random, 2 Viking Split, en 3 Perfectstone Grey.

’n Rockwood-paneel met die voorkoms van wit leiklip.

3 Veselsement

Die plankiesvoorkoms van tradisionele strandhuise word deesdae verkry met veselsement.

Gebou om te hou

Die voordeel van veselsement is dat dit nie maklik brand nie, bestand is teen verrotting, waterskade, termiete en sure; as dit korrek geïnstalleer is, sal dit ook nie bars of kromtrek nie. En hoewel dit so te sê onderhoudvry is, kan dit wel geverf word.

Nutec-bouplanke word deur Everite vervaardig van sellulosevesel, silika en water (geen asbes nie). Dis ’n gewilde keuse as buitelaag van hout- of staalraamgeboue, maar ook as bekleding van baksteenmure ter wille van afwisseling of om skade of swak afwerking weg te steek.

Tydens installasie word die planke in ’n oorslagpatroon gelê en direk aan die hout- of staalraam of, in die geval van ’n baksteenmuur, aan stutte teen ’n buitemuur vasgeskroef. Die planke kom met ’n gladde of houtgrein-afwerking (Vermont), word verskaf in hul natuurlike kleur en kan op die terrein met ’n akriel-PVA geverf word.

SELFDOEN? Ja

KOSTE Bouplanke (7,5 mm dik): sowat R98 (150 mm breed) tot R120 (225 mm breed) per 3,6 m-lengte; ook te kry in panele (9 mm en 12 mm dik x 2,4 m, 3 m of 3,6 m lank): vanaf R565 elk

Die ouderwetse Spaanse pleister van dié huis in Vredehoek is netjies verbloem met veselsementplanke.

Voor ’n Lelike afvoerpyp reg langs die voordeur?

/

Die buitemure van dié twee vakansiehuise is met Nutec-planke beklee.

/

Voor ’n Lelike afvoerpyp reg langs die voordeur?

/

Ná Steek dit netjies weg met Nùdek.

Nutec-planke kan jou huis ’n heel nuwe voorkoms gee en selfs as heining ingespan word.

4 Metaal

 Volgens Nadia Lloyd van Studious-argitekte is metale ’n gewilder ontwerp-opsie vir buitestrukture omdat die meeste hout instandhouding verg.

Twee huise in Midrand wys hoe verskillende soorte bekleding as stylelemente ingespan kan word: Die muur op dié foto is beklee met staal wat liggrys geverf is; by die een langsaan is Nutec-plate gebruik met ’n gaatjie-ontwerp wat deur middel van ’n waterstraal-snymetode geskep is (dit kan nie met ’n CNC-masjien gesny word nie).

Funksioneel

Voorafgekleurde dakplate soos Chromadek, vervaardig van gegalvaniseerde staal, word dikwels gebruik as bekleding vir die buitemure van ligtestaal- of houtraamhuise danksy die beskerming wat dit bied teen die elemente en die maklike installasie. Maar dit het ook hoë estetiese waarde en maak deesdae deel uit van die ontwerp van talle moderne huise, met die profiel vertikaal of horisontaal. Die handelsmerk het oor die afgelope 35 jaar bekend geword vir sy duursaamheid: Dit sal nie roes nie en die kleurlae is bestand teen UV-skade. Ongelukkig word daar nou ook namaaksels onder dieselfde naam aangebied. Om seker te maak jy koop die regte produk, kyk uit vir die identifikasiemerke op die agterkant van die plate.

Chromadek-plate is 0,5 mm dik en 1 225 mm breed en word per lopende meter verkoop. Dit kom in 14 standaardkleure, vier daarvan met spesiale hitteweerkaatsende eienskappe wat binneruimtes koeler hou. Die plate kan wel met ’n geskikte dakverf oorgeverf word indien dit sou nodig wees. As bekleding word die plate met spesiale skroewe aan die onderliggende struktuur vasgesit. Die plate en bykomstighede is te koop by alle vooraanstaande dakplaatverskaffers landwyd.

SELFDOEN? Ja

KOSTE Sowat R130 per lopende meter

Aluminiumpanele soos dié van Tilt Architectural Feature Screens kan as skerms of bekleding ingespan word.

Kunstig

As jy regtig kreatief wil raak met buitebekleding, veral by ’n moderne huis, oorweeg uitgesnyde metaalpanele. Kelly Cooke, ontwerpdirekteur by Tilt Architectural Feature Screens in Kaapstad, sê aluminium bied talle opsies om ’n kontemporêre fokuspunt te skep. “Ons argitektoniese panele bied ’n magdom kreatiewe oplossings deur funksionele detail aan ruimtes te verskaf. Aluminium is lig en weerbestand, wat dit perfek maak vir kustuine en buiteleefruimtes.” Buiten aluminium vervaardig Tilt ook skerms van saamgestelde aluminium. Dit kan kostedoeltreffender wees en is ook geskik vir buitegebruik. Tilt ontwerp, vervaardig en installeer die produk in die grootte, patroon en poeierverfkleur van jou keuse. Die sierlike panele kan direk binne ’n opening, teen mure of tussen pale en rame aangebring word.

SELFDOEN? Nee

KOSTE Vanaf ± R3 450/m²  

VERSKAFFERS

Artmar 021 556 0202

Cape Sandstone 072 785 7613

Chromadek 016 889 4870

Country Woods 021 552 2631

Everite 0861 333 835

Mazista 021 511 6640

Natural Stone Warehouse 021 506 1300

Nùdek 012 998 9149 

Revelstone 021 761 9739

Rockwood 082 726 9214

Studious Architects 012 663 3371

Suzerain 083 266 5638

The Pole Yard 021 200 0425

Tilt Architectural Feature Screens 021 556 9229