Foto’s Francois Oberholster en Elza Cooper | Stilering Marian van Wyk en Amanda van Wyngaardt

#1 Groen en kalm

Catherine Crawford het haar huis in Kaapstad gekoop nadat sy haar hart op die pragtige binnehof verloor het. Die vorige eienaars het reeds ’n klimop teen die meeste van die donker-grys mure opgelei en het ’n pragtige prieel geskep deur ’n ornamentele druif oor ’n raamwerk van dryfhout te laat rank. Kunsgras vra min moeite, en dra by tot die weelderige gevoel.

Die eetkamer en kombuis het stapeldeure wat op die binnehof oopmaak – ’n goeie keuse vir ’n klein ruimte. “Die binnehof is ’n ekstra ‘kuiervertrek’ en lekker beskut teen die wind,” sê Catherine, en die eetkamertafel kan maklik buitentoe gedra word wanneer hulle onthaal. Balau-bankies verskaf ekstra sitplek teen die muur, en verg min onderhoud.
Pasgemaakte eetkamertafel van Saks Corner; stoele van Guideline; kussings en skinkbord van Skinny laMinx

Kies ’n rankplant

Rankplante is ’n goeie keuse as jy kleur en tekstuur by ’n ruimte wil inbring; JJ van Rensburg van Garden World in Johannesburg gee raad:

  • Jy het nie altyd latwerk nodig om ’n rankplant teen op te lei nie. Die meeste, soos klimop, kruipvy of die Mexikaanse trompetblom, kleef self aan die muur.
  • Oorweeg meer as een plant indien jy ’n groot muur wil toemaak.
  • As jy ’n rankplant oor ’n dakstruktuur wil laat groei, oorweeg die Mexikaanse trompetblom, bloureën, Catawba-druif, sterjasmyn of Pandorea. Dié plante kort wel af en toe aandag en jy sal jou hand op hulle moet hou.
  • Immergroen rankers is oor die algemeen “netjieser” omdat hulle nie blare afgooi nie, maar dalk wil jy hê die son moet in die winter jou koue stoep ’n bietjie opwarm.
  • As jy hou van blomme, oorweeg rankers soos Mandevilla, rankrose, trompetblom of valsjasmyn.

#2 Al fresco- elegansie

Dié ruimte in Allison Graham en Samantha Robinson se huis in Melville was voorheen ’n onooglike ruimte met baksteenplaveisel waar hulle wasgoed opgehang het. Die paartjie onthaal graag en het besluit om dit in ’n intieme buite-eetarea perfek vir lang, luilekker middagetes te omskep.

Hulle het ’n Franse tema gekies en ’n afdak in die Provensaalse styl laat maak. Dit bestaan uit ’n geboë staalstruktuur bedek met latte – en nou ook rankrose! “Die roos was reeds tuis hier. Ons het dit net vertroetel en oor die dak opgelei, en nou word ons beloon met skouspelagtige blomme, asof die plant uitreik na die son!” sê Allison.

Volop groenigheid, vars wit linne en elegante bykomstighede maak dié binnehof perfek vir enige spesiale geleentheid. Die oorspronklike hortjies is afgeskuur en vernis vir ’n vars nuwe voorkoms.

Allison het ou gietyser-rakke geverf en nuwe nut gegee as staanders vir haar versameling vetplante. Terwyl ’n kruipvy besig is om die muur toe te rank, verskaf sterjasmyn in emmers heerlike geur.

André Kruger van Garden Bleu het die vloer ontwerp: die ou bakstene is opgetel en sement-plaveistene is in ’n skuins patroon gelê met pepermentbos tussenin. “Die ment stel die heerlikste geur vry wanneer jy daarop trap!” sê Allison. 
Tafel en stoele van Hope Garden Furniture; sitplekkussings van MRP Home; spieëls en blou lasergesnyde stokkielekkerbome van Garden Bleu; breekgoed van Apsley House; ’n vriend het die kerskandelaber gemaak

Om die illusie van meer ruimte te skep het Allison groot spieëls opgehang. Die rame skakel in by die kerskandelaber bo die tafel.
Kis van die eertydse winkel Ossewa in Melville

Die huiseienaar, Allison, met die “eintlike base van die plaas” – die Jack Russell Lola en die miniatuur-schnauzer Lily.

#3’n Marokkaanse oase

Weens die droogte in die Wes-Kaap het Karen en Michael Hodges se tuin in Durbanville ’n lelike knou gekry. “Dit het ’n regte seeroog geword namate ons die dooie plante begin uithaal het – onder meer ’n rankplant wat pragtig teen die muur opgerank het,” verduidelik Karen.

Vir ’n ruk het die hoekie in ’n opgaarplek ontaard, totdat die paartjie besluit het om dit as kuierplek met ’n Marokkaanse voorkoms in te rig. Behalwe die grond se gelykmaak het hulle alles self en op ’n klein begroting gedoen. Die resultaat is iets waarop hulle met reg trots is. “Nou het ons die perfekte agtergrond vir ons Marokkaanse roerbraai-etes, met die klank van ’n borrelende fontein en die sagte lig van geurkerse,” sê Karen.

Al wat hulle nog moet doen, is om die binnehof teen die elemente te beskerm. “Ons het oorhangende boomtakke verwyder en wil dakplate van deursigtige polikarbonaat opsit om die reën – en enige ‘geskenkies’ van ons geveerde vriende – uit te hou!” sê Karen laggend.

Twee soorte klip gekombineer met groot en klein sementblokke skep interessante patrone op die vloer.
Teëls van Kales Marble; stensils van Creative Talents

Die paartjie wou graag ’n fontein as aksent hê, maar kon nie ’n fortuin daaraan bestee nie. Michael het toe self een geprakseer met ’n plastiekbak, bakstene en teëls. Bo en onder die koperkraan in die muur is treffende ronde potstaanders wat die paartjie met vakansie in Turkye gekoop het, ingebed. Karen het die vloer rondom die fontein gestensil om die prentjie te voltooi.

Wenke

  • Maak seker jou sagte meublement is bedek met duursame buitelap. Indien nie, kan jy kussings en dekens in ’n kis in die huis bêre in slegte weer.
  • As jy in jou binnehof wil tuinmaak, sal ’n grondbedekker, gruis of perskepitte werk. Maar as dit ’n onthaalarea is, kies iets meer stabiel, soos plaveisel, sodat gaste nie klippies of pitte by jou huis intrap nie.
  • Toe die boom in dié sementpot doodgaan, het Karen dit versier met mosaïekteëls wat sy op ’n uitverkoping raakgeloop het – dit het toe die tema vir die ruimte bepaal: wit en blou met spatsels rooi en groen.

Mooi, nè! Klein mosaïekteëls versier die rand van dié ou steierplank wat as vensterlys ingespan word. Selfs die kombuisvenster se raam wat op die binnehof oopmaak het ’n laag verf gekry (Plascon Periwinkle Palace).

Bo tot onder

Nadat die Hodgese se tuinier, Xolani Momo, die grond met bousand gelykgemaak het, het Michael sementblokke met die gladde kant na bo gelê sodat Karen die vloer kon verf en stensil. Sy het die blokke eers ’n laag Plascon True Colour Primer Sealer Undercoat gegee, gevolg deur wit Plascon Floor Paint. Vir die stensil het sy Plascon Wall & All in die kleur Deep Sea Reef gekies en die vloer agterna verseël met helder Duram Showfloor Polyurethane Floor Paint.

Met die vloer klaar, het die paartjie die mure bedek met blou patroonteëls en die ruimte ingeklee met tweedehandse vondste om koste te bespaar: ’n ou enkelbed wat in die garage gestaan het, het ’n dagbed geword; ’n staanskinkbord is geverf en word nou as kanttafel ingespan; en twee rottangstoele van ’n stel op hul voorstoep het nuwe staanplek hier gekry.

’n Spieël is in ’n ou vensterraam geïnstalleer om die omliggende groenigheid te weerkaats en lanterns, mooi potplante, dekens en strooikussings voltooi die prentjie.

Verskaffers
  • Apsley House 011 325 4250, apsleygroup.co.za
  • Creative Talents 021 949 0608, creativetalents.co.za
  • Garden Bleu 011 888 4734, gardenbleu.co.za
  • Guideline 021 534 0334, guideline.design
  • Hope Garden Furniture 021 448 7485, hopegf.com
  • Kales Marble 021 510 4102
  • MRP Home 0800 212 535,mrphome.com
  • Saks Corner 074 101 7552, sakscorner.co.za
  • Skinny laMinx 021 424 6290, shop.skinnylaminx.com