Foto’s Francois Oberholster en Elza Cooper | Stilering Marian van Wyk, Amanda van Wyngaardt, Suretha Jansen van Rensburg en Margaux Tait

Sê dit met blomme

Lara Myerson van Lara Myerson Designs het opdrag gekry van ’n kliënt in Fresnaye, Kaapstad, om ’n meisiekamer te versier sodat dit by die res van hul huis inskakel.

Lara het besef eikehout-bekleding sou te volwasse lyk; daarom het sy plakpapier laat maak wat lyk soos afgewitte bekleding met verskillende blommotiewe op die “planke” om ’n prettige fokuspunt te skep. ’n Klapperhaarmat komplementeer die sagte, vroulike voorkoms van die kamer.
Mat van Coirtex; plakpapier van catalinaestrada.comBeddegoed van @home

Blink idee! Danksy dié treffende fokusmuur het die bed nie ’n kopstuk nodig nie – die plakpapier doen al die praatwerk.

Hoekom pienk?

“Oor die afgelope paar dekades het die globale psige stadigaan begin verskuif van ’n hoofsaaklik manlike wêreld na een wat al hoe meer vroulike energie insluit,” sê Rose McClement van Design Monarchy. “En namate vroue in die kollig begin beweeg het, het die kleur pienk dieselfde begin doen.

“Net soos ’n vrou, kan pienk ’n bepaalde stempel op ’n ruimte afdruk: Dit kan reguit lyne versag en iets moois in ’n vertrek inbring; dit kan lewe in ’n ruimte blaas of dit lig en opgewek laat voel wanneer nodig. Maar dié kleur kan ook sy stem laat geld en ’n treffende fokuspunt uitmaak. Soos wat vroue deesdae hul intrinsieke waarde openbaar, so ook sal ons nou al hoe meer pienk in die kollig sien.”

Boeiend en vol lewe

Natalie Knight is oortuig die erfenishuis in Oranjezicht, Kaapstad, waar sy en haar man, James, en twee dogters woon, is “loshande die flambojantste huis in ons straat”. Dis duidelik te sien in haar dogter Luella se eklektiese slaapkamer met sy ligpienk aksentmuur en geverfde hemelbed. Titsels groen en blou in die gordyne, plakpapier en mat verleen ’n prettige energie en tekstuur aan die ruimte.

Die interieurontwerper Danela Conti het die versiering gedoen volgens Natalie se opdrag – sy wou ’n huis hê “vol humor en ’n energieke dinamika wat vir die kinders net so prettig sal wees soos vir die grootmense.”

Die eindresultaat? Reg in die kol.

Ons is dol oor die onverwagse spatsel geel in die slaapbank.
Metaal-hemelbed van Cash Converters; mat van irugs.co.za; kandelaber van Provenance Auction House

Teksbydrae Kerryn Fischer • Produksie Luanne Toms • Foto Elsa Young (Frank Features)

Vir ’n goeie doel

’n Spieëlbeeld van die geblomde plakpapier op die oorkantse muur van dié badkamer is absoluut beeldskoon teen die dofpienk agtergrond. Saam met die koperkrane en wasbakkas van esdoringhout gee dit aan dié selfsorgwoonstel, The Blush Studio by La Bella Vita Studios in die Paarl, ’n gevoel van pure weelde.

Die interierontwerper Elsje Schonken van Schonken Interiors het die pienk kleur (Duram Ceres Blush) gekies ter ere van vroue, en La Bella Vita skenk 3,5% van hul jaarlikse wins uit selfsorgverblyf aan Reach for Recovery, wat borskankerlyers ondersteun. 
Koperkrane van Victorian Side Bathrooms; plakpapier van Eijffinger

"Pienk roep beelde op van skemer in die woestyn of ’n rosige sonsopkoms. Dis so ‘n positiewe kleur en dit versterk die huidige neiging om terug te keer na die aarde en die natuur vir inspirasie." – Jani Augustyn-Goussard, The Colour Collectors

’n Klassieke kombinasie

Nadat hulle ’n tweedehandse rusbank-basis van imbuia gerestoureer het, het Ziska en Edward McGilton dit ’n ereplek op die stoep van hul huis in Centurion gegee voor ’n muur met grys (MODO Stormy Skies) en wit strepe. Hulle wou dit in ’n kleur verf wat die aandag trek, maar steeds inpas by die romantiese ruimte – en pienk was perfek! “Ons het voorheen ’n tafelloper in ’n soortgelyke skakering gebruik en toe al besef hoe mooi dit saam met grys lyk,” verduidelik Edward. “Pienk is juis een van Ziska se gunstelingkleure.”

Hulle het die bank geverf met Rust-Oleum Painters Touch Spray in die kleur Coral. ’n Galerymuur met uitstalgoed in wit, duifgrys en mentgroen rond die prentjie af.
Swart-en-wit strooikussings van Loads of Living

Die perfekte agtergrond

Lana Fredericks, die eienaar van die ontwerp-agentskap Myuzu, het donkerpienk (Plascon Just Terracotta) gekies vir ’n aksentmuur in die sitkamer van haar woonstel in Groenpunt.

“Ek het verwag dit sou meer oranje-terracotta as rooi-terracotta wees, maar ek het intussen vrede gemaak daarmee. Die kleur verander voortdurend saam met die gefiltreerde lig deur die dag en aand, en dit verleen warmte aan die ruimte,” sê sy.

Dis die perfekte agtergrond vir ’n ruimte wat gedurig verander, soos wanneer Lana haar meubels afwissel of blomskeppings in ryk skakerings van bruin of groen byvoeg.
Kabinet van Quirky Me; plant-beeldhouwerk van Myuzu; stoele van Pierre Cronje; mat van @home

Tropiese pret!

Pienk is die perfekte pasmaat vir groen in dié tropiese plakpapier. Dit kontrasteer lieflik met die rou sementblad en laat die koperwasbak en swart kraan uitstaan.
Plakpapier deur Cara Saven Wall Designs; wasbak van Moroccan Warehouse; kraan van Still Bathrooms

Boheemse bekoring

Teen ’n vrolik geblomde agtergrond gee die kontrasterende pienk en groen ’n speelse energie aan dié badkamer. Die pienk op die kis is ’n mengel van Annie Sloan se Emperors Silk, Henrietta en Old White, terwyl die pienk detail op die rak met Burgundy gedoen is.

Die oranje en geel blomme op die plakpapier skep klein kleurontploffings, terwyl die witgeverfde rustieke houtvloer al die boheemse elemente in die ruimte anker.
Vertrek deur Janice Issitt soos gesien op anniesloan.com

Klein maar getrein

Hy is wel die grootkop van die suksesvolle funksie-onderneming The Aleit Group, maar toe hy ’n kleur vir die mure van sy dogter se kamer moes kies, sê Aleit Swanepoel dit was duidelik wie is in beheer. Die negejarige Kateline was vasbeslote dat haar kamer helderpienk moes wees!

“Kateline is ’n regte meisie,” sê Aleit. “Sy hou van als wat vroulik en blieng is.” Wit ragfyn gordyne en houtrakke vir al haar speelgoed versag die sterk kleur.

Hou jy van dié helderpienk? Oorweeg dan ook Plascon Fuscia Fizz.
Foto Charlene Schreuder

... en dan is daar pers!

Anisa du Plessis het aanvanklik besluit die kleurskema in haar Johannesburgse huis moes so neutraal moontlik wees, met grys as hoofkleur. Maar eintlik is sy lief vir kleur, en kort voor lank was haar oorspronklike, “veilige” plan iets van die verlede. Sy het ’n verskeidenheid helder kleure gekies, soos dié dieppers aksentmuur in die leefarea. Die verweerde groen kas en metaalkleure van die artikels daarop versag en breek die sterk kleur. ’n Aardse sementvloer keer dat die vertrek te donker voel.

Hou jy van Pantone se Ultra Violet? Oorweeg dan ook Duram Royal Iris.

Het jy geweet?

Pantone se kleurspesialiste het Ultra Violet as hul kleur van die jaar aangewys; dis ’n pers wat mooi by verskillende pienke pas. “Ultra Violet is vernuwend en verbeelding-ryk, en gee ’n voorsmaak van wat die toekoms van kleur inhou,” sê die kenners by Pantone.

“Pers is misterieus, vindingryk, oorspronklik en dramaties. Dis ook ’n simbool van elegansie en spiritualiteit, en werk veral goed in ruimtes waar daar ontspan word, soos slaap- of badkamers. Omdat dit warm én koel kleure bevat, is dit baie veelsydiger as wat ons dink – oorweeg die kleur ook vir jou bykomstighede soos kussings, beddegoed of gordyne.

“Gebruik Ultra Violet saam met ander skakerings van pers, of met saliegroen of grys aksente. Die sagter skakerings bring vrede en kalmte. Of wees waaghalsig en meng dit met sterk komplementêre kleure vir ’n kontemporêre voorkoms.”

VERSKAFFERS
  • @home 0860 834 834, home.co.za
  • Cara Saven Wall Design 082 696 6062, carasaven.com
  • Cash Converters 087 820 4060, cashconverters.co.za
  • Coirtex 021 762 2227, coirtex.co.za
  • Danela Conti 021 419 3533, danelaconti.com
  • Eijffinger 011 262 4946, dreamweaverstudios.co.za
  • Lara Myerson Designs laramyersondesigns.com
  • Loads of Living 0861 565 565, loadsofliving.co.za
  • Moroccan Warehouse 021 461 8318
  • Myuzu 073 600 9563, myuzu.co.za
  • Pierre Cronje 021 691 8589, pierrecronje.co.za
  • Provenance Auction House 021 461 8009, provenanceart.co.za
  • Quirky Me 079 223 3203, quirkyme.com
  • Schonken Interiors 083 442 1751
  • Still Bathrooms 021 421 9970, stillbathrooms.co.za
  • Victorian Side Bathrooms 021 982 0461, victoriansidebathrooms.co.za