Foto’s Francois Oberholster, Elza Cooper, Henrique Wilding en verskaf | Stilering Marian van Wyk, Amanda van Wyngaardt, Kim Bougaardt en Suretha Jansen van Rensburg

1. Rottang

Rottang is ’n wonderlike manier om tekstuur aan ’n buiteruimte te verleen. Dit word gewoonlik van riet of bamboes gemaak. Deesdae word nagemaakte rottang van poliëtileen spesifiek vir buitegebruik vervaardig en dit is gewild omdat dit duursaam is en min onderhoud vra.

“Ongelukkig is nie alle nagemaakte rottang dieselfde nie,” verduidelik Mia Delport van Patio Warehouse. “Goedkoper handelsmerke sal soms kraak, breek of verbleik, daarom is dit baie belangrik om ’n produk van goeie gehalte te koop.”

VOORDELE

Dis liggewig en geskik vir binne én buite. Dis ook herwinbaar, UV-bestand en vra min onderhoud. Daar is verskillende style vir verskillende dekor.

NADELE

Nagemaakte rottang kan taamlik duur wees omdat dit ontwerp is vir maksimum duursaamheid en met die hand geweef word. As jy natuurlike rottang koop, maak seker dis goed gevleg sonder enige swak plekke wat kan loskom.

ONDERHOUD

Borsel natuurlike rottang weekliks om dit stofvry te hou en te keer dat dit muf en verniel. Oorweeg ’n produk soos Starbrite Artificial Wicker Cleaner/Protector om dit te onderhou en jou nagemaakte rottang se leeftyd te help verleng.

Rottangstoele komplementeer die Mediterreense styl van dié droommooi stoep en werk goed saam met die houttafel en -bankie.
Foto geneem by Flawless Villa & Cottage

Het jy geweet? Die term rottang verwys na ’n geweefde produk van natuurlike óf sintetiese materiale.

TOPWENK

Natuurlike rottang moenie buite in die reën staan nie; gebruik dit net op oordekte stoepe. Nagemaakte rottang van goeie gehalte kan buite staan in son en reën, maar gaan dit gereeld na omdat swakker produkte sal kraak.

WINKELS TOE!

1. Cascade-stoel van rottang en hout met kussing R3 150, Patio Warehouse

2. Sugi-stoel van natuurlike rottang met blad van soliede hout (35,5 x 47 cm) R759, Decofurn

3. Kona-tweesitplekbank van polirottang met kussing R4 480, Tradewinds

4. Sedgewick- modulêre rottangstel met gestoffeerde kussings vanaf R3 099 per eenheid, Coricraft

5. Sadie- patiotafel (medium) R1 999, Coricraft

Dekoratiewe metaal wat wit geverf is, gekombineer met geblomde en blougrys strooikussings skep ’n romantiese voorkoms in dié tuinhoekie.

2. Metaal

Metaal – yster, staal en aluminium – is nog steeds gewild in die tuin. Staalmeubels is swaarder as aluminium, maar ligter as yster. Van al dié metale is aluminium waarskynlik deesdae die gewildste, sê Mia van Patio Warehouse. “Aluminium bied die meeste voordele: dis lig, duursaam en roesvry en vra min onderhoud.”

VOORDELE

Afhangend van die styl kan metaal ’n klassieke atmosfeer of kontemporêre voorkoms skep.

NADELE

Enige soort metaal kan nogal warm word in die son en kan onaangenaam wees om op te sit; voeg kussings by vir gemak. Swaarder metale, soos gietyster, is moeilik om rond te skuif, terwyl yster en staal kan roes.

ONDERHOUD

Metaal is so te sê onderhoudvry. Moet net nie skoonmaakprodukte met ’n skuurwerking op aluminium gebruik nie, want dit kan die oppervlak krap. Staal- en ystermeubels kan gerestoureer word met produkte soos Rust-Oleum Stops Rust Protective Enamel Spray of Textured Metallic. As jy tekens van roes sien, behandel dit dadelik!

WINKELS TOE!

Baswick Bistro-stel van gegote aluminium (beskikbaar in Charcoal, Pebble en Soft White) R6 500, Patio Warehouse

3. Hout

Buitemeubels van hardehout was vroeër jare baie duur, maar is deesdae meer bekostigbaar – sonder verlies aan gehalte of duursaamheid – danksy bekostigbare invoere. Vandag gaan die groot debat daaroor of jy hardehout natuurlik moet laat verweer tot ’n silwergrys afwerking, en of jy dit met olie of vernis moet behandel om die rooierige kleur te behou.

Die meeste vervaardigers beveel aan dat hul meubels met ’n geskikte olie behandel moet word en net onder ’n oordekte stoep gebruik moet word. Ander spesialiseer weer in meubels wat in wind en weer kan staan. Maak altyd seker wat die waarborg sê.

“By Hope Garden Furniture gebruik ons karri (Eucalyptus diversicolor), ’n uitheemse houtsoort wat in Knysna verbou en verwerk word, of jarra (Eucalyptus marginata), uit Australië,” sê die eienaar, Adrian Hope. “Albei kan buite gebruik word, maar ons beveel aan dat dit elke seisoen met ’n plantolieseep gewas word om enige organismes in die barste te neutraliseer.”

VOORDELE

As jy hardehout reg onderhou, kan dit ’n leeftyd hou.

NADELE

As jy besluit om jou hout te olie of vernis, moet dit elke jaar gedoen word, wat arbeidsintensief kan wees. Selfs houtsoorte wat gelos word om natuurlik te vergrys, moet elke jaar met ’n geskikte seepproduk van die vervaardiger skoongemaak word.

ONDERHOUD

Hardehout kan water goed hanteer, wat ’n maklike skoonmaak-opsie bied. Volg die behandelingsprogram volgens die vervaardiger se aanwysings.

TOPWENK

As jy verkies om jou meubels net so te behou nadat dit grys verkleur het, skuur dit net liggies met skuurpapier (120–240-grint) en wend daarna hardehout-olie aan.

Buiten olie en vernis kan jy jou hout ook met enige kleur verf versier vir ’n vars nuwe voorkoms; gebruik ’n waterbasis-emalje vir buitegebruik om die beste resultaat te verseker.

Algemene houtsoorte wat in Suid-Afrika vir buitemeubels gebruik word: Zimbabwiese kiaat, Indonesiese kiaat, karri, jarra en keruing.

Wat van “sagter” houtsoorte?
“Meubels van sogenaamde ‘sagte hout’, soos Suid-Afrikaanse dennehout, kan gemaklik buite gelos word, mits dit behoorlik behandel is met ’n verseëlaar wat dit teen UV-straling beskerm, dit waterbestand maak en stabiliseer sodat dit nie bars of skeeftrek nie,” sê Frikkie Greeff van Woodoc. “Woodoc Water-Borne Deck Sealer saam met Woodoc Plus Life Primer sal houtmeubels beskerm en verseker dat dit vir jare in ’n uitstekende toestand bly. Maar soos met enige projek moet die hout reg voorberei word en die produkte reg aangewend word vir die beste resultaat. Maak altyd seker jy volg die vervaardigers se aanwysings noukeurig.”

WINKELS TOE!

1. Marlboro-driesitplekbank van kiaat R2 499, Decofurn

2. Holiday Side Chair met kiaatraam en sandkleur lap R1 486, Tradewinds

3. Park-opvoustoel van jarra-hout met ’n staalraam vanaf R3 345, Hope Garden Furniture

4. Cascade-sessitplektafel van Killarney-essenhout (179 x 90 x 74 cm) R4 650, Patio Warehouse

4. Beton

Ons ken sementmeubels al jare lank, maar noudat sementvloere en grys verfkleure al hoe gewilder word, is dit ’n trendy toevoeging tot baie tuine. Style wissel van tradisioneel met swierige ouskool-kurwes tot kontemporêr. Deesdae word meubels ook gemaak van polibeton (sien kassie); dit lyk soos sement, maar weeg minder. “Sement is seker die enigste materiaal wat ’n leeftyd hou en ook beter lyk namate dit verouder,” sê Paolo Gosio van Ital Cement. “Dit vra so te sê geen onderhoud nie, en al besluit jy om te verf, hoef dit net elke 3–5 jaar opgeknap te word.”

VOORDELE

Afhangend van die styl is sementmeubels bekostigbaar, maar uiters duursaam. Dis swaar, wat beteken sterk wind sal dit nie wegwaai nie en dis moeilik om te steel – wat dit ’n gewilde keuse vir vakansiehuise maak!

NADELE

Die groot gewig maak dit ongelukkig ook moeilik om rond te skuif. Party mense hou nie van die voorkoms nie en dit kan koud wees sonder kussings.

ONDERHOUD

Sement vra geen onderhoud nie en kan soos enige soortgelyke oppervlak skoongemaak word. As jy hou van die voorkoms van alge wat op die sement groei, moedig dit aan deur natuurlike jogurt aan die meubels te smeer; los dit vir ’n paar weke aan. As jy jou sement wil verf, wend eers ’n betonseëlaar aan gevolg deur ’n waterbasis-emaljeverf vir buitegebruik.

Wat is polibeton?

Betontipe produkte met ’n lae massa, soos polibeton met ’n harsbasis, bestaan uit ’n mengsel van polimeerhars en ’n verskeidenheid vullers wat wissel van growwe sand tot fyn poeiers versterk met glasvesel-stringe, verduidelik Britt Youens van Igneous, wat in dié soort meubels en plantpotte spesialiseer. “Die mengsel wissel volgens die gewig en kompleksiteit van die gietvorm en kan in enige kleur getint word. Sodra dit gegiet is, word die produk bedek met ’n poliëster-bolaag wat in dieselfde kleur as die kernmateriaal getint is.”

Elke item in die reeks weeg ongeveer die helfte soveel soos iets soortgelyks van tradisionele sementagtige beton,” sê Britt. “Items wat van glasvesel-versterkte polibeton gemaak is, is tussen 66% en 75% ligter as dié van tradisionele sementagtige beton. Dit het ’n beduidende invloed op die gebruik van dié meubels op vragdraende strukture. Nogtans is sulke meubels steeds relatief swaar en daarom ook bestand teen sterk wind.”

ONTHOU!

Nie alle buitemeubels is bestand teen wind en weer nie. Sekeres moet onder dak gehou word, terwyl ander maar in die tuin kan staan. Gaan elke meubelstuk se waarborg na en besluit daarvolgens waar jy dit gaan gebruik.

Ingeboude sementbankies is nommerpas vir stoepe en tuinhoekies, en skep gemaklike sitplek met pasgemaakte matrasse en kussings.

Winkels toe!

1. Vierkantige koffietafel met geverfde houtpote (800 x 800 x 430 mm) R2 000, Grys

2. Polibeton-ottoman met ’n basis van organiese hars (350 x 540 x 605 mm) R5 270, Igneous

3. Avery-stoepstoeltjie R1 299, Coricraft

4. Beton-tuinbankie (1 200 x 400 x 420 mm) R2 944, SmartStone

5. Constantia-bankie (R10 415) en Courtyard-tafel (R2 554), Old World Concretes

Herwin!
Buitemeubels van herwinde materiaal word dikwels in openbare parke aangetref en is deesdae ook hoogmode vir die huis. Devon Durham van NewLife Plastics sê: “Dié produkte is omgewingsvriendelik omdat dit van 100% herwinde plastiekverpakking gemaak is, en boonop is dit uiters duursaam en kan dit uiterste weerstoestande hanteer.” Nog ’n bonus is dat dié soort meubels nou beskikbaar is in ’n verskeidenheid kleure en geen onderhoud vra nie. Al nadeel is dat dit taamlik swaar kan wees, maar gelukkig sal dit diewe afskrik.

Gestoffeerde meubels is nie meer beperk tot binne die huis nie; danksy vordering in die vervaardiging van buitelap kan jy dit nou ook op stoepe en selfs in die tuin gebruik.

Sag en sierlik: Kies die regte buitelap

Die meeste buitemeubels, hetsy hout of metaal, sit gemakliker met ’n paar kussings. Die toenemende vraag na buitelap is ’n uitvloeisel van die buiteleefstyl, wat danksy ten volle gestoffeerde buitemeubels nuwe hoogtes bereik. “Daar is talle opsies om van te kies – van buite-fluweel, kunsleer en chenille tot jacquard en bedrukte stowwe in ’n groot verskeidenheid ontwerpe, tradisioneel én kontemporêr,” sê June da Silva van Hertex.

VOORDELE

Lap skep die gevoel van weelde en van die stowwe is vlekbestand, wat dit ideaal maak vir blootstelling aan volson. Dis meestal ook waterwerend en uiters kleurvas. Die internasionale handelsmerk Sunbrella Fabrics is jou beste opsie en word selfs op bote gebruik, maar dis aan die duur kant!

NADELE

Selfs al is lap ontwerp vir buitegebruik, moet kussings liefs ingebring word wanneer dit nie in gebruik is nie. Die drukwerk is nie meer ligvas as ander stowwe nie en moenie heeltyd aan direkte sonlig blootgestel word nie.

ONDERHOUD

Was en stofsuig dit gereeld omdat muf kan vorm op stof wat aan die lap kleef, al het dit ’n mufwerende afwerking.

ONTHOU

As dit by buitemeubels kom, speel die skuim wat vir die kussings gebruik word ook ’n rol, sê Mia van Patio Warehouse. “Danksy nuwe tegnologie laat ekstragroot oop selle maksimum dreinering en lugsirkulasie toe sodat water vinniger kan deursypel en gestoffeerde meubels gouer kan droog word. Kyk uit vir ’n etiket wat sê “quick dry foam”.

TOPWENK

Onthou, water wat op die lap val, kan steeds die kussing daarbinne binnedring en dit vrot of muf maak, so moet liefs nie kussings buite in die reën los nie – dit sal hul leeftyd verkort.

WINKELS TOE!

1. Cozy-tweesitplekbank met aluminiumraam en buiteskuim en -lap R13 280, Patio Warehouse

2. Sitsak oorgetrek met oplossing-gekleurde parasol-poliëster R750–R1 500, Tradewinds

6. Home Sand 1047/92 (150 cm) R414/m, Velvet Products

7. Script Oil (140 cm) R197/m, Biggie Best

8. Promenade Mediterranean (140 cm) R713/m, Hertex 4 Mona 01 (140 cm) van U&G Fabrics R639/m, fabricsuperstore.co.za

9. Mosaic Glacier (140 cm), Sunbrella R1 518/m, fabricsuperstore.co.za

10. Marbella-rusbankstel met aluminium-en-hardehoutbasis saam met premiumgraad buitekussings R13 990, MØN Exteriors

11. Tiara-stoel met aluminiumraam gestoffeer in UV-bestande Sunbrella-lap R7 900, Patio Warehouse

VERSKAFFERS
  • Coricraft 011 611 8700, coricraft.co.za
  • Decofurn 087 740 1800, decofurnsa.co.za
  • Grys 060 551 3122
  • Hertex 021 914 3390, hertex.co.za
  • Garden Furniture 021 448 7485, hopegf.com
  • Igneous 011 827 7425, igneous.co.za
  • Ital Cement 021 510 8181, italcement.com
  • MØN Exteriors 0861 866 766, monexteriors.com
  • MRP Home 0800 212 535, mrphome.com
  • NewLife Plastics 083 647 6767, newlifeplastics.co.za
  • Old World Concretes 011 626 2510, oldworld.co.za
  • Patio Warehouse 087 825 1120, patiowarehouse.co.za
  • Ressource Décor 083 635 9192
  • SmartStone 011 310 1161, smartstone.co.za
  • Tradewinds 021 691 0456, tradewinds.co.za

Ekstra bronne: wayfair.com; thespruce.com