Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

Wie woon hier? Sanjay en Lavina Daya en hul drie seuns, Veer (10), Dhruv (8) en Darya (6)
WAAR Nuweland, Kaapstad

Met drie woelige mannetjies in die huis het die Daya-gesin ’n behoefte aan ’n praktiese, goed beplande speel- en kuierplek buite gehad.

Daar was wel ’n stoep aan die skadukant van hul huis, maar die tuin op ’n laer vlak was klam en donker. “Ons het nooit juis veel van ’n tuin gehad nie,” onthou Lavina. Die seuns was vinnig aan die grootword, en die Dayas het gevoel ’n swembad met ’n dek en prieel sou die ideale saamweesplek vir die gesin bied.

“Ons wou ’n ruimte skep wat goed by ons lowerryke voorstad sou inskakel,” vertel Lavina. Daarom het die paartjie verkies om so ver moontlik natuurlike materiale te gebruik, ook omdat dié buurt bogemiddelde reënval kry.

Vir die dek het hulle behandelde dennehout gekies; dis nie net duursaam nie, maar omdat dit plaaslik gekweek en verwerk word, het dit ’n klein koolstof-voetspoor. Die hout moet elke 12 tot 18 maande verseël word.

Vir goeie skakeling tussen binne en buite het die Dayas skuifdeure tussen die sitkamer en dek ingesit. “Dit gee ons die wonderlikste kuierruimte. En die seuns is mal oor die verhitte swembad!”

Lanterns van MRP Home

Voor en tydens die dek se konstruksie.

"Die dek is ons gunsteling-plek op die werf!" – Lavina

Tydens die opknap het die Dayas ook ’n prieel aangebou. Net soos die dek is die raam ook met dennehout gebou, met deursigtige polikarbonaatplate bo-oor. “Die prieel is so geplaas dat dit ’n lieflike uitsig op die berge bied,” sê Lavina. “Hier het ons nou ’n ruimte waar ons smiddae kan agteroorsit, met ’n leeshoekie en buite-eetplek vir wanneer ons braai.” Lavina en Sanjay het die Eugenia-heining aan die agterkant van die prieel as ’n groen muur behou.
Geblomde kussings en groen harlekynkussing van Biggie Best

Koste

Dek, prieel en dagbed R100 000
Bou van keermuur R40 000
Gelamineerde struktuurbalk R20 000
Argitek R15 000

Totaal: R175 000 

Watter hout is die beste?

As dit by die beste hout vir ’n dek kom, gaan jou begroting waarskynlik die grootste rol in jou keuse speel, sê Gareth McKenzie, eienaar van McTimber Structures.

Ofskoon KCA-BEHANDELDE SUID-AFRIKAANSE DENNEHOUT ’n sagte hout is, is dit ’n goeie opsie – solank jy bereid is om dit gereeld te behandel. Die afkorting KCA (“CCA”) verwys na die koper-chroom-en-arseen-oplossing waarmee die hout deurdrenk word. Die mengsel word aangepas vir die doel waarvoor en die plek waar die hout gebruik gaan word; die sterkte word aangedui met grade van H2 (binnegebruik soos dakbalke) tot H5 (buitegebruik en kontak met water). Enigiets hoër as H3 is geskik vir buitestrukture.
KOSTE Vanaf R24,60/m

IPE sowel as MASSARANDUBA is uiters hard en stabiel. “By ’n dek met dié hout moet die substruktuur stewig genoeg wees dat die boonste planke nie buig en kraak nie,” sê Gareth. Hy beveel aan dat die hout elke ses tot agt maande met ’n Silkwood-dekseëlaar behandel word.
KOSTE Vanaf R46,62/m

BALAU is veral geskik vir gebruik aan die kus, aangesien dit min tot geen onderhoud in vogtige gebiede verg; in die binneland moet dit egter gereeld behandel word, anders kan dit uitdroog en kraak. Frikkie Greeff, besturende direkteur van Woodoc, beveel aan dat dekke in die binneland met óf Woodoc Deck Dressing (elke ses tot nege maande) óf Woodoc Water-Borne Deck (elke 12 tot 18 maande) behandel word.
KOSTE Vanaf R48/m

GARAPA is nog ’n goeie keuse wat, net soos balau, min onderhoud in kusgebiede nodig het; in die binneland moet dit jaarliks behandel word.
KOSTE Vanaf R48,22/m

Aangesien ZIMBABWEAN TEAK ’n hardehout uit Afrika is, is dit heeltemal opgewasse teen die uiterste temperatuurskommelings in Suid-Afrika, veral in die binneland. Dis ’n baie digte hout en die kanse dat dit sal kraak is dus uiters gering; tog moet dit elke ses tot agt maande behandel word met ’n oliebasis-seëlaar soos Silkwood M7, of elke 12 tot 18 maande met ’n waterbasis-seëlaar soos Woodoc Water-Borne Deck, afhangende van hoeveel direkte sonlig dit kry.
KOSTE Vanaf R65/m

Tafeldoek en kussings van Woolworths; kroegstoele van MRP Home; koperlantern en groen glaskershouer van Loads of Living

Doen dit self!

Wie woon hier? Grant en Andria Gush en hul seun, Matteo Daniel (9)
WAAR Monte Vista, Kaapstad

Waar die Dayas van ’n kontrakteur gebruik gemaak het, het Grant Gush van Monte Vista in 2016 sy eie dek gebou as deel van ’n groter opknapprojek wat die kombuis en onthaaldeel ingesluit het.

Hy het Red Grandis-hardehout vir die oppervlak en dennehout vir die steunstruktuur gebruik; die drabalke is met gegalvaniseerde stutte aan die regop pale geheg. Aangesien hul erf skuins na onder van die huis af loop, het Grant besluit om ’n muur van skanskorwe langs die dek te bou sodat die steunstruktuur nie van die tuin af sigbaar is nie. “Boonop kon ons toe sommer ook ’n sitplek inbou!” sê hy.

Die nuwe dek steek onooglike afvoerpype langs die huis weg; dit sou ingewikkelde strukturele laswerk verg, daarom het Grant by ’n ingenieur gaan aanklop. “Ons het plek-plek dubbele balke gebruik omdat die stutwerk gesaag moes word om dit rondom die pype te laat pas,” verduidelik hy.

Grant se keuse: Red Grandis-HardEHOUT (’n soort Eucalyptus) is ’n kostedoeltreffende ingevoerde hout afkomstig van volhoubare plantasies in Uruguay.
KOSTE Vanaf R32,95/m

’n Goeie fondasie

Om seker te maak jou dek is stewig, moet jy dit op pale en draers plaas. Raadpleeg jou dekplan om uit te vind hoe diep die gate vir die pale moet wees. Giet beton in die gate en plant die pale; wag dan 48 uur dat die beton kan hard word. Jy kan ’n bout bo in elke paal anker, of sit ’n staaf van gegalvaniseerde staal saam met die paal in die beton, en heg die dek se steunstruktuur (draers) daaraan. Nadat jy die draers geïnstalleer het, word die dwarsbalke bo-oor vasgeskroef. Saam vorm dit ’n stewige fondasie vir jou dek. 

Onderhoud

As jy jou dek in die beste toestand wil hou, moet die meeste houtsoorte gereeld – of wanneer dit begin droog lyk – behandel word. Grant wou die natuurlike voorkoms van die hout behou en het sy dek met Galseal-olie (te koop by Somerset Timbers) in die kleur Oak behandel; dit moet elke 12–18 maande aangewend word. Wenk Kyk hoe hoog jou dek bo die grond gaan wees en oorweeg dit om die gras daaronder uit te haal en onkruiddoder te spuit sodat dit nie deur die gleuwe in die dek groei nie.

Die nuwe dek steek onooglike afvoerpype langs die huis weg; dit sou ingewikkelde strukturele laswerk verg, daarom het Grant by ’n ingenieur gaan aanklop. “Ons het plek-plek dubbele balke gebruik omdat die stutwerk gesaag moes word om dit rondom die pype te laat pas,” verduidelik hy.

Bouwenke

Dennehoutbalke of bloekompale is die eenvoudigste opsie vir jou dek se steunstruktuur. “Ek verkies hout, want met die regte behandeling kan dit selfs langer as staal hou,” sê Gareth McKenzie.

Met Rika-blokke (bo) hoef jy nie gate te grawe en die pale vir die steunstruktuur in beton te bevestig nie. Dié betonblokke word hoogstens 1,5 m uit mekaar geplaas; die pale (of draers) pas in die gleuwe. Dit kan op gelyk grond én teen skuinstes gebruik word; maak in laasgenoemde geval seker die blok staan steeds gelyk, en pas die lengte van die pale aan.

Indien jy in ’n kusgebied woon, maak seker jy gebruik gegalvaniseerde skroewe, boute en wasters wat nie sal roes nie. Jy kan die skroefgate verbloem met houtvuller in dieselfde kleur as die dekmateriaal; of gebruik ’n dek-skroefsetter (tweede foto) wat die hegmiddels uit die oog aan die kante van die planke vassit pleks van op die oppervlak. 
Foto Tools4Wood

KONTAKTE EN VERSKAFFERS