Foto’s Francois Oberholster en Henrique Wilding

So reg uit die Renaissance

Ragfyn gordyne werk wondere vir ’n onooglike uitsig terwyl dit steeds ’n ligte karakter verleen. Marné Erasmus Mynhardt van Mitat het inspirasie uit die Renaissance-era geput en dié katoen-gordyne met groot sukses ingespan: Dit drapeer pragtig en versag die ontblote dak, verweerde muur en diefwering by die Ou Poskantoor op Sir Lowry’s Pass Village waar Mitat se ateljee is. Die gordyne is eintlik bedoel vir ’n stoep, en hang aan skroefhakies wat in ’n gordynrak ingedraai is. Marné het die rak uit ’n dennehoutplank gesaag en verfraai met aanplak-versierings en PVA-verf.
Stoepgordyne en gordynrak van Mitat; afwit-verftegniek op die tafel en stoele deur Chrislien Bath

Vars idee!
Detail in die gordyne word elders herhaal. Die motief op die gordyne is spesiaal ontwerp en ook op die tafel gestensil.

Groen en geil

Sarena van Schalkwyk, eienaar van Sara Interior, het dik katoenseil gekies vir die gekleurde gordyne in dié slaapkamer op Stellenbosch. “Natuurlike vesels is die beste keuse as jy self wil kleur en werk goed as jy volume wil skep,” sê Sarena. “Ek het die bo- en onderrand van die nat lap in kleurmengsels van verskillende sterktes gedoop en dit toe opgehang sodat die kleursel stadig ondertoe loop. Die groen palet eggo die natuur: die kamer het ’n uitsig op die tuin, en groen is my gunsteling-kleur om saam met hout te gebruik.”
Foto GAP Interiors/Jonathan Jones

In die kol! Handwerktegnieke is nou baie gewild, maar hou dit eenvoudig – kies ’n monotoon palet of ’n eenvoudige tweekleur-ombree soos op dié gordyn.

V&A

Sarena deel haar filosofie oor gordyne:

Hoekom gordyne? Dit kan ’n vertrek heeltemal vernuwe. Nie net bied dit privaatheid nie, maar ook warmte, weelde en, in sekere gevalle, ’n prettige element.

Hoekom ekstralang gordyne? Ek hang gordyne altyd so hoog moontlik om die illusie van hoogte te skep, wat ’n ruimte groter kan laat voel.

Stokke of spore? Vir ’n kontemporêre gevoel sal ek ’n spoor teen die plafon monteer, maar vir iets meer klassieks sal ek ’n metaalstok met ringe in die Franse styl hoog teen die muur gebruik.

Jou gunsteling-materiaal? Ek is ’n voorstander van natuurlike lap. ’n Swaar, sagte materiaal soos linne het meer om die lyf vir ’n luukse dog onopgesmukte voorkoms. Natuurlike vesels het meer “houding” as iets mensgemaaks soos poliëster, en jy kan minder lap gebruik. Maar kyk mooi, deesdae kry jy baie goeie sintetiese lap.

Waar begin ’n mens? ’n Ontwerper of gordynspesialis kan jou raad gee oor die regte lap en afwerking, en jy kan jou gordyne deur hulle laat maak. Op die ou end werk dit die beste uit en dit hoef nie ’n fortuin te kos nie.

Opgewek

Waar neutrale gordyne ’n klassieke keuse is, verskaf kleurvolles soos dié ’n prettige element. Stik eenvoudig verskillende panele aan mekaar om dié voorkoms te kry. Hier rond die houtskool “raam” die gordyn netjies af.

Wenk Kies ’n donkerder kleur wanneer jy patroonlap wil omraam, verkieslik ’n kleur wat in die patroon herhaal word. Dit sal die lap “anker” sonder om te veel fokus van die patroon af weg te neem.

In die kol! Gordyne in ’n treffende kleurpalet gee nou weer kleur aan huise.

Netjies afgerond

Gordyne met ’n kontrasterende verlengstuk wat op die vloer rus, lyk weelderig en is ’n slim oplossing vir gordyne wat te kort is. “Met die regte lapkeuse kan so ’n verlengstuk tekstuur, kleur of volume in ’n vertrek bring,” sê Sarena, wat baie lief is vir ekstralang gordyne. Vir dié slaapkamer op Stellenbosch is ’n paar lakens van vintage- Franse linne aanmekaargestik. Dit is afgewerk met ’n rooi rand. Die Franse palet van rooi, blou en wit het heel toevallig gebeur: “Die kleur aan die bokant van die muur was aanvanklik dieselfde as die linne, maar nadat die gordyne gehang is, is die mure blou geverf vir kontras,” sê Sarena.

In die kol! Kontrasterende rande is nou baie gewild, wat dit maklik maak om gordyne wat te kort is ’n tweede kans te gee.

Vars idee! Die huiseienaars het ’n bypassende rooi strook teen die muur geverf.

Ek is dol oor lap, veral hoe dit voel en beweeg, daarom gee gordyne my soveel bevrediging by binneruimtes. – Sarena


Van binne na buite

Caspar van der Merwe en Hein Visser voer die oopplan-leefwyse tot nuwe hoogtes by hul huis in Tofo, Mosambiek. Hier skuif hele fasades oop om die binnekant met die natuur daarbuite te verbind. Omdat daar reghoekige vensters van 600 mm bo die skuifdeure is, het hulle die gordyne teen die plafon gehang.
Foto Greg Cox/Bureaux

In die kol! As jy nie wil hê jou gordyne moet op die vloer sleep nie, sorg dat die gaping tussen die soom en die vloer hoogstens 10 mm is, sê Sarena.

Spanwerk

Vir dié badkamer op die Erinvale-gholflandgoed in Somerset-Wes het Sarena rolblindings gebruik saam met ekstralang gordyne wat saggies teen die vloer hang vir ’n elegante effek. “Die blindings bied privaatheid, terwyl die sagte gordyne ’n romantiese atmosfeer skep en die harde lyne versag,” sê sy.

In die kol! Gordynpyp in die Franse styl wat naby die plafon gemonteer is, verleen ouwêreldse sjarme aan ’n nuutgeboude huis.

Slim idee! Eenvoudige rolblindings in dieselfde kleur as die versterraam verdwyn as’t ware daarteen, en bied volkome privaatheid wanneer nodig.

Laduma!

Liat Beinart het dié materiaal ontwerp vir haar seun Naphtali (10), ’n kranige sokkerspeler en -kyker, nadat sy gesukkel het om iets toepasliks vir sy ouderdom te kry. “Nadat ek en Naphtali prente op die internet uitgesoek het, het ek my talentvolle en kreatiewe neef Gil Hockman gevra om dit in ’n roosterpatroon op lap te druk,” verduidelik sy. Liat het toe ’n Romeinse blinding daarvan laat maak wat soos ’n kunswerk lyk wanneer dit toegetrek is. “Blindings het minder lap as gordyne nodig en is dus meer kostedoeltreffend,” sê sy. ’n Romeinse blinding bied uitstekende ligbeheer: Omdat dit opvou, het jy verskeie opsies tussen heeltemal oop en toe, so jy kan besluit presies hoeveel lig jy wil inlaat. By vensters wat baie direkte son kry, is dit ’n goeie idee om ’n blokkeer-voering by te voeg.

In die kol! Pasgemaakte afdrukke laat jou dekor ’n unieke verhaal vertel.

Hoekom blindings?
Onderbeklemtoonde vensterbekledings soos rol- en Romeinse blindings is ’n slim oplossing vir kleiner vertrekke omdat dit ’n minimalistiese voorkoms skep.

Speel ’n rol

Toe Liat ’n interessante kunswerk tussen haar agtjarige dogter, Eliya, se Graad R-skoolkuns ontdek, het sy dit afgeneem met die doel om dit op seil te laat druk en in hul TV-kamer te hang. “Maar toe besef ek hoe mooi dit die vertrek sal afrond as ’n blinding,” verduidelik sy.

Artlab in Kaapstad het Eliya se kunswerk, wat sy op ’n A3-blad geverf het, vergroot sodat dit presies op die breedte van die lap sal pas sonder dat die patroon herhaal. Parisienne Interiors het voorgestel hulle kies polikatoen vir die blinding omdat dit nie so swaar is nie, en hulle het gereël dat die ontwerp daarop oorgedra word. 

“Ek het ’n rolblinding gekies omdat dit knus in die vensterraam pas. Al is dit nie regtig ’n blokkeer-blinding nie, het die oordragproses en die kleur ’n blokkeer-effek tot gevolg gehad. Dis wonderlik wanneer ons bedags en vroegaand TV kyk, want dan weerkaats daar niks op die skerm nie. Dit beskerm ook ons meubels teen die strawwe middagson sonder om die vertrek te donker te maak.
Lap gedruk deur ArtLab; blinding gemaak deur Parisienne Interiors; kussings en deken van MRP Home

In die kol! Prettige vensterbekleding skep ’n ontspanne atmosfeer.

Hou dit lig

Vir haar kompakte Airbnb-woonstel in Mouillepunt het Nikki Zigras van Studio Do Cabo vensterbekleding gekies wat inskakel by die naatlose vloei in die res van die ruimte. Sy het ragfyn gordyne gebruik omdat dit privaatheid bied van omliggende geboue en bedags natuurlike lig deurlaat. Nikki verduidelik: “Ek het ’n gordynkap laat pasmaak om die boonste deel van die gordyne weg te steek; dit laat die vertrek groter en meer afgerond lyk.” Een van haar wenke vir eenvoud in ’n klein ruimte is om die kap dieselfde kleur as die muur te verf. “Só let jy dit nie op nie. Dit skep ’n rustige gevoel en laat die vertrek groter voel omdat daar geen dekoratiewe detail is wat jou aandag aftrek nie.”
Binneontwerp deur Studio Do Cabo; mure geverf met Plascon Evening Mist 2; drom-stoeltjies van @home; mat van MRP Home; stoel oorgetrek met Broken Stripe van Lula Fabrics; al die ander meubels en bykomstighede is tweedehandse vondste wat Nikki opgeknap het

In die kol! Ragfyn gordyne bly gewild, hetsy op hul eie of in lae.

VERSKAFFERS