Foto’s Francois Oberholster, Elza Cooper en Henrique Wilding • Stilering Marian van Wyk, Amanda van Wyngaardt en Kim Bougaardt

Teëls is al vir eeue bekend as ’n betroubare bedekking vir vloere en mure.

En dis maklik om te verstaan hoekom: Teëls vra die minimum onderhoud, dis duursaam, min moeite om skoon te maak en maklik om te vervang (as jy die stof kan hanteer wat met die uitkappery gepaard gaan ...).

In die verlede het praktiese oorwegings dikwels voorkeur geniet bo die estetiese: ’n Keramiekteël in ’n neutrale skakering was die veiligste keuse vir menige sitkamer, kombuis of badkamer. Deesdae is daar ’n groot verskeidenheid teëls op die mark, met allerhande teksture, kleure, vorms en groottes om van te kies – wat beteken jy kan ’n dekorstelling op jou muur óf vloer maak.

1. Speel met patrone

Moenie huiwer om te eksperimenteer nie. Daar is immers soveel lewendige kleure en patrone om van te kies – jy kan ook rondspeel met vorms soos seshoeke en diamante!

Van hout tot beton

Omdat die hele oopplan-leefarea van dié huis in Oranjezicht, Kaapstad, ’n blokkiesvloer het, wou die eienaars iets anders vir die ingang hê. Toe kies hulle seshoekige sementteëls in swart, wit en grys. Dis nie net duursamer as die gerestoureerde houtblokkies nie, maar maak ook ’n treffende fokuspunt. Van die houtblokkies is gesaag sodat dit by die teëls se vorm kan pas en ’n netjiese oorgang tussen die twee oppervlakke vorm.
Sementteëls van Moroccan Warehouse; mat van MRP Home

Meng en pas!

Morgan Piper van Houtbaai het ’n monochroom patroon gekies vir die bokante van dié trappe op haar werf, maar het die voorkante versier met helderkleurige teëls. Dié teëls het verskillende patrone, maar is almal in skakerings van groen, wat eenheid skep in dié speelse ruimte.

“Wanneer jy patrone kombineer, gebruik kleure wat by die omgewing inskakel vir eenvormigheid en trefkrag – al is dit net die hoofkleur op die teël,” sê Lané Esterhuizen van Concreative Tiles.
Sementteëls van Moroccan Warehouse

Wenk
Buite-vloerteëls moet ’n growwe tekstuur hê (vra vir glyvaste teëls) sodat dit nie glad is wanneer dit nat word nie. Sementteëls moet ook met ’n gepaste verseëlaar behandel word, hetsy dit binne of buite gebruik word.

2. Kulkuns!

Danksy inkstraal-glasuurwerk kan die oppervlak van algemene gebruiksteëls soos porselein net soos hout lyk, maar steeds brand-, vog-, plaag-, chemikalie-, son- en krapbestand wees.

Ewebeeld

“Teëls wat natuurlike klip of houtgrein naboots, raak nou al hoe gewilder,” sê Jasmin Kraneveldt van Bathroom Bizarre. “So kan jy die prag van natuurlike materiale geniet met al die voordele eie aan teëls; jy kan ‘houtvloere’ in die badkamer of ‘houtbekleding’ teen jou tuinmure sit sonder dat jy dit jaar ná jaar hoef te skuur en verseël.”

Ander teksture sluit in tekstiel, metaal, marmer, natuurlike klip en sement-afvlaklae. Dit het al die duursame eienskappe van vloerteëls en is dikwels kostedoeltreffender as die oorspronklike materiaal.
Colorart Light Matte-porseleinteëls met ’n houtvoorkoms (150 x 1 200 mm; R690/m²) van Italtile

3. Tekstuur

As dit by vloerteëls kom, verwys tekstuur dikwels na glyvastheid. Maar teen ’n muur kan tekstuur enigiets van ’n interessante motief tot ’n eenvoudige afgeskuinste rand of groefpatrone verteenwoordig.

Swierig

Die kleure in Julie Fourie se huis in Gauteng is monochroom, daarom het sy tekstuur gebruik vir visuele trefkrag in haar eenvoudige palet. In dié badkamer is treffende terra-klipteëls (van ongeglasuurde keramiek) met ’n groefpatroon van Union Tiles teen die muur rondom die bad gebruik. Pragtig!

’n Eksotiese geur

Nelri Botha van Potchefstroom het geld bespaar deur die meeste van haar badkamermure te verf sodat sy meer op een fokuspunt kon bestee. Sy het besluit op arabeskvormige porselein-teëls met afgeskuinste rande in neutrale kleure van Tile & Decor Mart in Klerksdorp.

“Ek wou hê dit moet soos ’n vakansiebestemming voel wanneer ek in die badkamer is – en my eksotiese teëlmuur is nommerpas daarvoor,” sê Nelri.

Foto Greg Cox/Bureaux

4. Maak indruk

Grootte tel! Of jy ’n kleiner mosaïekteël of groter formaat kies, albei skep ’n besonderse fokuspunt.

Groter is beter!

In Gregory Katz se huis in Kaapstad is die badkamermure versier met dramatiese porseleinteëls van 600 x 300 mm. “Ons wou ’n skoon, ruim voorkoms hê met minimale voegbrylyne,” verduidelik hy. Die donker voegbrylyne skakel in by die donkergrys glyvaste vinielvloer.

“Jare gelede was daar ’n skuif van 300 x 300 mm- na 600 x 600 mm-teëls,” sê Nicole Russell, bemarkingsbestuurder by Italtile. “Die laaste tyd het ons navrae begin kry oor 800 x 800 mm-teëls en tans is ons grootste teël 1 500 x 2 400 mm.”

“Groter teëls beteken minder voegbrylyne, wat die illusie van ruimte skep,” sê Johnny Lamprecht van Bathroom Bizarre. “Voegbry breek oppervlakke – hoe minder ‘stukke’, hoe groter lyk die oppervlakte. Nog ’n voordeel is dat dit baie gouer gaan om groter teëls te installeer.”

Wenk
Jy kan ’n naatlose voorkoms kry met wit voegbry, maar onthou net dat ligte voegbry geneig is om te verkleur.

Foto Warren Heath/Frank Features

Dinamiet in klein pakkies

Keramiek-mosaïekteëls soos dié word gewoonlik as aksent gebruik, maar in Mari Groenewald se Kaapse huis is dit oor die hele spatpaneel ingespan as ’n bekostigbare manier om die oog te tref. “Dit pas in by die res van die ruimte; als is tekstuurryk en daar is baie natuurlike skakerings van die hout en bakstene,” sê Mari.

Het jy geweet?
Mosaïekteëls word in velle verkoop met verskeie teëls aan een maas-rugkant. Dit kan van ’n verskeidenheid materiale gemaak word, soos keramiek, porselein, glas, klip, vlekvrye staal en selfs seeskulpe en spoelklippies.

5. Sonder reëls!

Selfs op ’n knap begroting kan ’n eenvoudige, bekostigbare teël ’n treffende fokuspunt vorm as jy kreatief met die uitleg te werk gaan.

Lank en skraal

Dié huiseienaar wou ’n eenvoudige wit stort hê en het die idee op Pinterest gekry om lang keramiek-metroteëls (75 x 300 mm) in ’n visgraatpatroon teen die muur te lê. Op die stortvloer is kleiner (en daarom meer glybestande) porselein-mosaïekteëls gebruik. 

Wenk
Donker voegbry kan nuttig wees wanneer jy ’n interessante uitleg wil beklemtoon.
Oulike patrone vir metroteëls

Werk boontoe

Met die gebruik van twee neutrale kleure (wit en grys) vang die besonderse patroon van dié metroteëls (onder) die kollig. Hanno de Swardt van Milnerton in Kaapstad wou ’n speelse voorkoms in sy stort hê; hy sê die vertikale uitleg van die teëls gee die badkamer ’n kontemporêre voorkoms en laat dit groter voel.

“Te veel kleur of ingewikkelde motiewe kan oorweldigend wees in ’n klein ruimte, maar net ’n titsel kleur in ’n unieke patroon is ’n bekostigbare en doeltreffende manier om jou badkamer trefkrag te gee,” sê Jasmin Kraneveldt van Bathroom Bizarre. “Nog ’n nuwe trend is om ’n mat teël op die vloer en dieselfde teël met ’n glansafwerking teen die muur te gebruik.”

Wenk
Teëlreekse word dikwels gestaak; koop ’n paar ekstra vierkante meter ingeval daar een of twee teëls tydens installering breek of later skade opdoen.
VERSKAFFERS EN KONTAKTE