Foto: Francois Oberholster

’n Eklektiese keuse van kussings en tekstiele gee dié alledaagse rusbank hope persoonlikheid.

#1 Klassiek en modern sy aan sy

Kussings met ’n klassieke, botaniese patroon en een met breë strepe werk verrassend goed saam met ’n Afrika-deken en die moderne lap op die koffietafel in Jane Linley-Thomas van Durban se TV-kamer. Die koraalkleur wat in al die tekstiele herhaal word, skep samehorigheid – dis die geheim wat die mengsel van motiewe en patrone laat werk.

#2 Een motief, verskillende groottes

Wanneer jy blommotiewe in dieselfde sagte palet meng, hou dit interessant deur die grootte van die motief op die onderskeie kussings af te wissel. As die kussings boonop verskillende groottes en vorms het, is dit des te mooier, soos op dié stoep van Liesl Rheeder.
oortgelyke kussings is te kry by Plan B Vintage en Strand Trading Post; kanttafel van Chair Crazy

Strooi of mooi?
  • Hou matigheid voor oë. Kussings moenie net mooi wees nie, maar ook funksioneel. ’n Diep rusbank sit gemakliker as jy ’n kussing agter jou rug kan indruk. Maar as jy sien jou gaste skuif die kussings rond om ’n sitplek te kry, is dit tyd vir minder maak. Dieselfde geld ’n bed: Jy wil immers nie soggens en saans ’n stapel kussings op- en afpak nie. Dis net lastig.
  • Vermy ’n ry amper eenderse kussings wat “perfekte pasmaats” is. Die geheim van ’n interessante effek lê in die vorms, kleure en teksture wat jy kombineer. Soos die ontwerpers graag sê: As dit nie by mekaar pas nie, is dit nommerpas.
  • As jy motiewe meng, kombineer verskillende patrone met mekaar, byvoorbeeld fyn etniese patrone met groter, besiger botaniese patrone. Maak seker dat ’n aksentkleur in elke kussing herhaal word, al is dit subtiel. Geometriese patrone is maklik om te kombineer; strepe, kolle, sig-sag-, diamant- en heksagonpatrone sit gemaklik langs mekaar.
  • Strepe is immerklassiek. Gebruik dit na hartelus saam met bont motiewe.

#3 Herhaal ’n kleur

Geometriese patrone is treffend, en kussings is ’n slim manier om sulke vrolike patrone én ’n modieuse aksentkleur terselfdertyd by jou dekorskema in te werk. Die mentgroen geometriese patroon hier skep ’n treffende kontras met die donkergrys muur in Jane Linley-Thomas se slaapkamer. Dieselfde mentgroen en grys word in die kussing regs herhaal – ’n suksesvolle kombinasie.

Voel (die) vere
Goedkoper strooikussings is dikwels alte vrolik, maar word binne maande letterlik platgesit. Vervang mettertyd die vulsel met vere. ’n Verekussing lyk duursaam, sit (of lê!) lekkerder en verloor nooit sy vorm nie. As dit wel ’n bietjie plat lyk ná ’n lang kuier- of rondlêsessie, skud jy dit bloot uit en die kussing lyk weer volrond.
Ons is dol oor hoe Lauren vierkantige en reghoekige kussings saam gebruik in ’n interessante groepering.

#4 Motiewe van fyn tot groot

Strooikussings kan maklik voorspelbaar raak, maar nie as jy motiewe van verskillende groottes kombineer nie. Dink laag-op-laag, soos Lauren Frates van iSpy op Knysna graag doen. In haar hoofslaapkamer speel sy ’n grafiese blommotief en ’n fyn tradisionele patroon teen mekaar af vir ’n interessante effek.
Blomkussing van iSpy; muur geverf in Dulux Winter Teal 4

#5 Intense kontras

’n Monochroom swart-en-wit dekorskema is tydloos en klassiek, maar met strooikussings kan jy dit lag-lag ’n vrolike, informele, modevars inspuiting gee. Hoe helderder die kleure, hoe meer intens en dramaties is die kontras met die neutrale skema.

Op Jane Linley-Thomas se stoep (bo) helder kleurvolle strooikussings die grys skema op terwyl dit die gevoel van ’n leefvertrek in die buitelug skep.

Foto: Greg Cox/Bureaux

Doreen de Waal kombineer monochroom kussings met spatsels helder kleur in haar Kaapse soldervertrek. Die kleur is subtiel, maar die kontras trek dadelik die aandag. Haar swart-wit-kombinasies is slim: Sy het strepe van verskillende breedtes gekies, en op die kussings is die ontwerp swart op wit, terwyl die deken die teenoorgestelde is: wit strepe op ’n swart agtergrond.Drie kussings links van Skinny laMinx

VERSKAFFERS