Foto’s Francois Oberholster, ER Lombard en verskaf | Stilering Marian van Wyk en Amanda van Wyngaardt

Bamboesvloere skep ’n kontemporêre dog natuurlike voorkoms en gevoel in Magdel en Ulrich Stander se huis in Durbanville.

1. Bamboes

Bamboes word deesdae gereken as ’n modieuse, ekovriendelike alternatief vir hardehoutvloere, sê Nicole Russell van Italtile. Waar hout tot vloerplanke verwerk word, word bamboes in lae aan mekaar gegom voordat dit verwerk word tot ’n produk wat soos vloerplanke lyk.

HOEKOM BAMBOES?

Kostedoeltreffende bamboes is beskikbaar in ’n verskeidenheid kleure en teksture. Bamboes-vloerplanke word effens dunner gemaak as houtplanke, maar die meeste het dieselfde klikstelsel en kan op dieselfde manier geïnstalleer word.

VOORDELE

Die materiaal verleen elegansie aan ’n ruimte en verskaf warmte met sy natuurlike groeipatrone en tekstuur. Bamboes is meer krapbestand as die meeste houtsoorte en is ekovriendelik omdat dit in volhoubare aanplantings verbou word.

NADELE

Al is bamboes meer bestand teen waterskade as die meeste houtvloere, is dit nog steeds ’n natuurlike materiaal wat uit organiese elemente bestaan; daarom sal dit buig of muf as dit aan te veel vogtigheid blootgestel word. Moet dit nie in badkamers of ander vertrekke wat kan nat word, gebruik nie.

PRYS

Vanaf R790/m²

Wenk
Vee of stofsuig gereeld; jy kan af en toe skoonmaak met ’n klam mop of wasvrye, nie-alkaliese skoonmaakmiddels wat gemaak is vir bamboes- of houtvloere.

Die vloer in Thea en Werner Kluyts se solderkamer in Bellville is bedek met ’n vinielvloer (Memphis in die kleur 549) van KC Flooring.

2. Viniel vs. gelamineer

Die verskil tussen viniel- en gelamineerde vloere laat talle verbruikers nog kopkrap. Dis te verstane, want albei gebruik 3D-druktegnologie en albei boots die voorkoms van natuurlike materiaal soos hout na teen ’n breukdeel van die prys, verduidelik Sasha Kozinsky van Finfloor.

Viniel bestaan uit ’n kern van sintetiese hars of kalsiumkarbonaat-klipstof waarop ’n beeld van hout gedruk is, met ’n beskermende laag teen verwering bo-oor. Gelamineerde planke het ’n kern van hoëdighteidveselbord wat gemaak word deur hars en houtskaafsels teen hoë hitte saam te pers. Dit word dan behandel met ’n dekoratiewe afdruk om die voorkoms van regte hout te skep.

HOEKOM VINIEL?

Vandag se viniel is verreweg beter as dié van destyds en dit vaar goed onder uiterste toestande, direkte sonlig en ’n wye temperatuurbestek. Dis sag onder die voete en stil om op te stap.

HOEKOM GELAMINEERDE PLANKE?

Danksy vordering die laaste tien jaar is die kern sterker, wat dit meer waterbestand gemaak en die klikstelsel verbeter het. Dis ook bekostigbaarder as viniel.

VOORDELE

Die grootste voordeel van ’n vinielvloer is dat dit 100% waterdig is, wat beteken dis ideaal vir kombuise en badkamers. Dis ook baie duursaam. Aan die ander kant kos dit heelwat minder om gelamineerde vloere te vervaardig en jy kan dit sommer self installeer.

NADELE

Viniel is baie duursaam, tog kan baie skerp voorwerpe dit beskadig. Viniel van ’n lae gehalte kan mettertyd vergeel of verdof in direkte sonlig. Gelamineerde planke se grootste nadeel is dat dit steeds nie 100% waterdig is nie. Laegehalte- en goedkoper gelamineerde vloere kan ’n onrealistiese tekstuur en swak bolae hê.

PRYS

Goeie gelamineerde vloere kos R250–R500/m2 en pryse vir goeie vinielvloere begin by R480/m2

Kraai viniel koning?

“In die oë van die verbruiker is dit nie die geval nie,” sê Theresa Venter van Floorworx. “Huiseienaars het gewoond geraak aan die idee van gelamineerde vloere, maar is nog onseker oor luukse vinielplanke (LVP’s). Diegene wat van beter weet, het aangename ervarings met viniel gehad, maar ek kom agter mense wat onseker is oor die voordele, kies eerder keramiekteëls of gelamineerde vloere.

“Maar wat duursaamheid betref, kry viniel al die regmerkies! As dit kom by ontwerp is dit ook nou baie kleurvoller, moderner en makliker om te installeer en onderhou as destyds.

“Tog het gelamineerde vloere oor die jare baie verbeter en bly dit my persoonlike gunsteling. Ek verkies dit bo enige ander vloersoort. As jy een van die voorste handelsmerke in Suid-Afrika koop, sal jy nooit jou vloer hoef te vervang nie, tensy jy besluit jy wil ’n ander kleur of meer moderne vookoms hê. Pasop vir swak produkte – dit kan nie hitte of direkte sonlig baie goed hanteer nie; dit kan ook krap, en oplig of buig as dit verkeerd geïnstalleer is.”

’n Black Forest- gelamineerde vloer van Finfloor in die kleur Maplewood Mist skep ’n gevoel van weelde in dié oopplan-kombuis-en-eetkamer.

Jeanne en Conrad Botes van Kaapstad het hul houtblokkies aanlyn gekoop by verskillende verkopers; daarom was die blokkies nie identies nie. Die oplossing? Beits dit swart vir eenvormigheid.

3. Houtblokkies

Anders as kontemporêre houtplanke en vervaardigde vloere, is oorspronklike blokkiesvloere minstens 15 mm dik; selfs baie ou houtvloere is dus dik genoeg om geskuur en opgeknap te word, sê Joe Mkhosi van JM Flooring in Kaapstad. “Gemeet aan vandag se standaarde bied dit uitstekende waarde vir geld,” voeg hy by. ’n Nuwe vloer is ook ’n opsie, maar die blokkies of planke is nie so dik nie, want dit word meestal van vervaardigde hout gemaak – en dit gaan jou baie uit die sak jaag.

HOEKOM HOUTBLOKKIES?

Dis veelsydig en maklik om op te kikker met kontemporêre afwerkings soos ’n afgewitte voorkoms en ander beitse. Vir afwisseling kan dit in ’n visgraat- of mandjieweefpatroon gelê word, of in ’n meer moderne sjevron- of seshoekpatroon.

VOORDELE

Met herwinde blokkies kry jy goeie waarde vir jou geld – en dit sal ’n leeftyd hou! Met kennershulp kan ’n ou vloer weer splinternuut lyk.

NADELE

Om ’n beskadigde blokkiesvloer te herstel, sit nie in enigeen se broek nie; in onervare hande kan jou vloer maklik ’n ongelyke, onooglike nagmerrie word. Vog kan probleme veroorsaak en vorige beskermende lae moet deur ’n kenner ondersoek word. Kry ook kennersraad oor die korrekte beits en verseëlaar. Wat tweedehandse blokkies betref, kom party in kort lengtes wat nie in elke dekorplan sal pas nie.

PRYS

’n Opknap kan enigiets van R190/m² tot R300/m² beloop, terwyl pryse vir ’n nuwe vloer by R600/m² begin

Leiklipvloere skep ’n kontemporêre plaashuis-voorkoms in Illze Muller se huis op Herbertsdale. Haar bouer het die vloere jare gelede ingesit en toe sy later opknap, het sy nog laat installeer vir eenvormigheid.

4. Leiklip

Baie van ons onthou die leiklipvloere uit ons kinderdae wat eenvoudig sonder patroon gelê is. Nie almal hou daarvan nie, maar dit is steeds in baie huise te sien, veral op stoepe – en dis nou weer gewild! Vandag kry jy leiklip hoofsaaklik in teëlvorm van wisselende groottes, sê Ross Hislop van Union Tiles.

HOEKOM LEIKLIP?

Dis ’n natuurlike produk wat ’n rustieke voorkoms skep; dis ook veelsydig, want dit is in verskillende kleure te kry. As jy ’n stylstelling wil maak, probeer Union Tiles se swart Brazilian-teëls van 1 000 x 1 000 mm.

VOORDELE

Leiklip is sterk en duursaam, wat beteken dit kan lewenslank hou. Dis ’n gewilde keuse vir vloere en mure binne die huis, maar dit kan ook buite gebruik word.

NADELE

Weens variasies in die dikte en grootte is dit nie maklik om leiklip te installeer nie; dit kan ook afskilfer en in lagies splyt. Leiklip vra taamlik baie onderhoud, en dit moet ook met ’n gepaste verseëlaar soos S.Q.T Union Sealer verseël word.

PRYS

R96–R690/m², afhangend van kleur en grootte 

Wenk
As jy wonder hoe om te maak as jy outydse leiklipvloere in jou huis het, werk met dit wat jy het pleks van daarteen te stry, is Ross se raad. “Dis ’n baie spesifieke voorkoms. Kies meubels in die retro-styl en kombineer dit met ’n paar moderne items vir ’n kontemporêre gevoel. ’n Klassieke mat sal perfek hierby pas.”  

Foto Greg Cox/Bureaux

Lalegno se vervaardigde hout verleen sofistikasie aan ’n kontemporêre ruimte.

5. Vervaardigde hout

Vervaardigde hout, gewoonlik eik, is die moderne alternatief vir soliede hout omdat die volhoubaarheid en koste van soliede hout ’n struikelblok begin word het, verduidelik Hanél Appleby van Lalegno South Africa. Dis ’n kombinasie van lae timmerhout met ’n duursame hout-bolaag, versterk deur ’n rugkant van vinnig groeiende hout – alles aan mekaar gelamineer vir die beste stabiliteit. Só kan die planke langer en breër gemaak word. Vervaardigde eikehout word ook met die grootste respek vir die omgewing gemaak.

Het jy geweet?
’n Vloer van vervaardigde hout het ’n 4mm-fineerlaag kan twee tot drie keer in sy leeftyd afgeskuur word om dit op te kikker of die kleur te verander.
HOEKOM VERVAARDIGDE HOUT?

’n Eikehoutvloer skep nie net ’n warm, verwelkomende gevoel nie, dit verhoog ook jou huis se waarde. Nes soliede hout sal dit oor die jare net nog mooier word namate dit karakter bykry. Visgraat- en sjevronpatrone is deesdae gewild, en natuurlike kleure, hetsy gerook, geborsel, geolie of vernis is in die kol.

VOORDELE

Niks kom by die prag van ’n natuurlike houtvloer en die gevoel van hout onder die voete nie. Houtvloere is ’n belegging wat jare sal hou as dit reg onderhou is. Dis warm in die winter en koel in die somer, en sal enige dekorstyl komplementeer. Vloere van vervaardigde eikehout hoef net gestofsuig te word; jy kan enige vuil kolle met ’n klam lap afvee.

NADELE

Nes soliede hout sal vervaardigde hout nie goed vaar in nat areas soos badkamers nie omdat dit vog sal absorbeer, wat dit mettertyd sal beskadig.

PRYS

Vanaf R550/m²

Die regte sorg
In die algemeen moet geoliede vloere elke 24 maande geolie word, afhangend van gebruik, terwyl hout met ’n lakseëlaar nie enige gereelde onderhoud vra nie. Die vloer kan oorgeskuur en herseël word wanneer dit tussen vyf en 10 jaar oud is, afhangend van gebruik en verwering. Die vloer hoef nie gelig te word nie, en dit word op die plek geskuur en weer gebeits.

Handgemaakte Terra-Stone-teëls van Union Tiles is die perfekte afwerking vir Zelda en Pieter Straus se buite-area in Mosselbaai. Kussings en dekoritems van Arabesque

6. Terrazzo

Terrazzo is al vir jare ’n instelling – onthou jy daardie ou gespikkelde teëls uit die 60’s? Vandag spog dit met ’n kontemporêre voorkoms en raak dit al hoe gewilder. Volgens Eben Albrecht van Union Tiles is terrazzo ’n sementagtige vloer bestaande uit verskeie materiale soos herwinde glas, marmer, kwarts en graniet.

Deesdae is dit in ’n verskeidenheid patrone met gladde en glyvaste opsies te kry. Vir diegene wat ’n naatlose voorkoms verkies is kan die terrazzo-mengsel in jou huis (“in situ”) gegiet word, maar dis ’n duur proses wat ’n mens liefs aan die kenners moet oorlaat, sê Eben. Hul groot teëls (800 x 800 mm en 600 x 600 mm) is ’n meer kostedoeltreffende opsie en makliker om te installeer.

HOEKOM TERRAZZO?

Terrazzo is welbekend vir sy prag, maar veral ook sy duursaamheid. Die teëls is 13–20 mm dik, afhangend van die grootte, en kan daarom tonne voetverkeer hanteer en sal lewenslank hou.

VOORDELE

Met die regte onderhoud sal dit sy oorspronklike toestand vir ’n onbepaalde tyd behou. Indien die oppervlak ná 25–30 jaar regtig afgeloop lyk, kan dit geslyp en gepoleer word om die teëls se oorspronklike prag weer te ontbloot.

NADELE

Terrazzo se swakheid is sy poreusheid. Dis belangrik om die teëls se oppervlak tydens die installering te beskerm teen moontlike vlekke deur byvoorbeeld verwers of elektrisiëns, want die teëls word vooraf met net een beskermende verseëllaag behandel. Skoonmaakmiddels wat suur of ammoniak bevat, moet ten alle koste vermy word omdat dit die oppervlak sal ets. Wend twee lae verseëlaar ná installering aan om die poreuse eienskappe van die produk teen te werk.

PRYS

Vanaf R340 per gegroefde teël in een kleur, tot R870 vir ’n handgemaakte veelkleurige Mediterreense terrazzo-patroonteël; die koste van ’n in situ-aanwending begin by R1 000/m².

Het jy geweet?
Meer as 500 miljoen mense het al oor die ± 21 000 m² van Union Tiles se gewone en handgemaakte terazzo-patroon-teëls by die V&A Waterfront in Kaapstad gestap sedert dit 26 jaar gelede, in 1992, geïnstalleer is. Dis gemiddeld 20 miljoen mense per jaar – praat nou van duursaam! 
VERSKAFFERS