Foto’s Francois Oberholster, Elza Cooper, Peter Rimell en Justin Patrick • Stilering Marian van Wyk en Amanda van Wyngaardt • Assistent Nolene van Staden

Skep ’n fokuspunt met dekoritems wat dadelik ’n visuele impak maak – van ’n massiewe hoekbank in die sitkamer tot ’n treffende kopstuk of imposante muurkuns. Ons lesers wys hoe ...

Begin by die begin
  • Neem die styl en grootte van jou vertrekke in aanmerking voor jy op meubels besluit. Maak seker dit pas, en beperk jouself tot een hoofitem. Doen deeglike navorsing en gebruik jou maatband!
  • Moenie oorhaastig koop nie – net omdat ’n ding trendy lyk, beteken nie dit sal in jou spesifieke ruimte werk nie.
Hoekom so groot?
  • Dit verskaf drama.
  • Dit skep ’n interessante fokuspunt.
  • Dit verleen hoogte en diepte aan jou vertrek.

1. Die regte kopruimte

Die interieurontwerper Nadia Botha van Delicate Designs in Johannesburg was ongelukkig met die oop ruimte bo die dubbelbed in haar hoofslaapkamer (heel bo); sy het dit eers met kunswerke gevul, maar later besluit om ’n luukse, ekstragroot kopstuk te laat maak.

Johan Nel Designs het die kopstuk pasgemaak in ’n vierkantige vorm van 2 x 2 m; dis toe oorgetrek in Stafford-lap van Hertex.

“Ek wou iets anders hê en die kontemporêre kopstuk werk perfek saam met ons klassieke meubelstukke,” sê Nadia. “Aanvanklik het ek en my man, André, besluit minder is meer by slaapkamerdekor, maar op die ou end het die klassiek kontemporêre styl beter as ’n moderne een gewerk!”

Die klassieke ontwerp, gekombineer met weelderige dog subtiele lap, verleen elegansie aan dié vertrek.
Slim wenke
  • Gestoffeerde kopstukke is in ’n verskeidenheid ontwerpe te kry; dit kan eenvoudige vierkante wees, of reghoeke in ’n patroon soos Nadia s’n, of knoopdetail hê.
  • Lap met ’n kleurryke ontwerp of patroon skep ’n pragtige fokuspunt bo enige bed. Balanseer dit met wit linne of bykomstig-hede in ’n sagte pastelkleur.
  • Grootte tel gewis! In ’n dubbelvolume-slaapkamer kan ’n kopstuk tot bo teen die plafon effens oorweldigend wees, veral as jou bed smal is.
  • ’n Kopstuk hoef nie tot teen die vloer te strek nie, tensy dit breër as die bed is. As jy joune presies dieselfde breedte as jou bed wil hê, laat maak dit op maat sodat dit net bo jou bed se raam pas.
  • Indien ’n gestoffeerde kopstuk nie vir jou is nie, oorweeg ’n skerm of kamerverdeler, of selfs houtbekleding – dit maak ’n indrukwekkende fokuspunt.

2. Piekniek in die woud

Ná 42 jaar by een adres het Arthur en Joan Ormerod besluit dis tyd vir verandering. Met die hulp van Karlene Crause van Before & After Decor het die Ormerods besluit om een van hul vier slaapkamers in ’n eetkamer te omskep. Op dié manier kon hulle die leefkamer vergroot en sou die huis terselfdertyd ’n gerieflike oopplan-uitleg kry.

Hulle wou graag ’n woudtoneel hê – iets wat die gevoel sou gee dat ’n mens tussen die bome deur wandel. Karlene het ’n fokusmuur van die vloer tot die plafon voorgestel; hulle het toe ’n foto aanlyn by Can Stock Photo gekoop en dit as plakpapier laat druk by Smart Art.

Die Ormerods het die oorspronklike retro-eetkamermeubels behou, maar dit wit geverf en nuut laat stoffeer sodat hulle meer op die plakpapier kon bestee.
Sieza-hanglamp van Minima; tafeldoek van Carole Nevin; groot houtslaaibak en koperlantern van @home; glase en waterkraffies van Woolworths

Beplan jou projek in soveel detail moontlik. Jy moet weet hoe die prentjie uiteindelik gaan lyk. – Karlene
Slim wenke
  • Nadat jy die foto aanlyn gekoop het, kan jy dit manipuleer; die Ormerods het hulle s’n omgedraai sodat die bome aan die regterkant is en daarom meer sigbaar is vanuit die sitkamer.
  • As jy nie kans sien vir ’n permanente opsie soos dié fokusmuur nie, oorweeg kunswerke – dit hoef nie jou sak te ruk nie. Danksy digitale drukwerk kan jy amper enigiets op enige oppervlak laat aanbring. Jy kan selfs ’n galery met jou gunsteling-vakansie-foto’s op seil laat druk.

3. Plek om te strek

’n Groot rusbank in die leefarea is nie altyd prakties nie. In Lauren en Reg Frates se huis op Knysna werk die groot L-vormige bank omdat dit ’n oopplanvertrek is met oorgenoeg beweegruimte. Die interieurontwerper Rose McClement van Design Monarchy sê: “Omdat meubels so ’n belangrike element is, is sorgvuldige beplanning belangrik. ’n Groot rusbank met groot armleunings en diep sitplekke werk glad nie; ook nie ’n koffietafel wat al jou vloerspasie in beslag neem nie. Kyk eers baie goed rond en meet voor jy koop.”
Kussings van iSpy

4. In die middel

Die apploustrekker in die Frates-gesin se kombuis is die pragtige negosiekas wat as basis vir die eiland gebruik word. “Ek het dit agter in ’n tweedehandswinkel op Knysna ontdek,” vertel Lauren. “Ek het dit dadelik gekoop, sonder om te weet wat ek daarmee wil doen of hoe ek vir my man gaan verduidelik hoekom ek so ’n reuse-kas gekoop het. Dit het maar R1 300 gekos! Terwyl ons gebou het, het ek besef as ons ’n stewige blad bo-oor sit, sal dit die perfekte kombuiseiland wees.”

5. Hoog tyd

Groot horlosies is nou ’n witwarm dekoritem en met die groot verskeidenheid wat deesdae in die winkels te koop is, is daar baie om van te kies. Jako en Anneke Lee het dié een jare gelede by Chocolat Bistro in Durbanville gekoop. Dit pas perfek bo die bankie in hul ingangsportaal, en omdat dit so ’n groot spasie bedek, is dit nog meer van ’n visuele treffer. Horlosies is ’n klassieke keuse; moet dus nie huiwer om kosbare erfstukke te gebruik nie – al staan dit stil!
Kussings van Sugar Tong Tong

6. Op groot skaal

Groot vloerteëls is steeds gewild – en nie net in groot, oop ruimtes nie. Kyk net hoeveel indruk dit maak in dié klein badkamer! Die huiseienaar, Annalize Engelbrecht, sê gaste gee haar altyd komplimente oor die vloer. Elke porseleinteël is 600 x 600 cm groot (Super Black en White Nano van Tiletoria) – en verbasend genoeg laat dit die gastebadkamer groter lyk as wat dit regtig is. “Ek wou ’n Franse voorkoms skep en oud en nuut kombineer. Die groter teëls is iets wat ek van die begin af wou hê – ek is dol oor die voorkoms. Dié klassieke teëls pas perfek in die vertrek.”

Porseleinteëls is luukser as keramiekteëls, maar dit kan ook gladder wees; kry raad by jou verskaffer voor jy ’n keuse maak.

Slim wenke
  • Wanneer jy teëls lê, begin by volle teëls in die sigbaarste areas, en gebruik dié wat gesny moet word in hoekies soos onder die bad of in die verste hoek van die vertrek.
  • Vinielvloere werk ook goed in badkamers en is nie so koud soos teëls nie. Kies ’n waterbestande produk, soos Belgotex se Arlington- of Davenport-reeks.
  • Groot keramiekteëls met ’n houtvoorkoms is ook ’n wonderlike opsie vir ’n badkamer. As jy reghoekige teëls kies, lê dit in ’n visgraatpatroon vir ekstra visuele detail.

7. In die kollig

Dié hangligte van witgeverfde doringtakke maak ’n stylstelling bo die tafel in Ilse Smith se oopplankombuis. “Ek wou iets besonders hê – niks “blieng” nie,” sê sy. “Toe ek dié grotes in Spaces op Robertson sien, was dit liefde met die eerste oogopslag.”

Die ligte van sowat 50 cm hoog en 50 cm in deursnee is in perfekte balans met die agtsitplektafel – trouens, in vergelyking met die lampe lyk die tafel amper klein!

“Jy kan hulle beslis nie miskyk nie. My man, wat baie lief is vir koorsbome, is ook mal daaroor. En my kinders noem dit Jesus-kranse. Saans, wanneer die ligte aan is, lyk dit nog mooier.”
Ketel van Le Creuset

Dié groot items maak ’n reuseverskil

Rose McClement sê met ekstragroot dekorstukke kan jy verskeie ontwerpelemente kombineer wat speels dog treffend kan wees:

  • Spieëls en horlosies werk goed (maak groot spieëls sommer op die vloer staan sodat dit teen die muur leun)
  • staanlampe
  • ronde hanglampe
  • vleuelrugstoele
  • kuns, foto’s, kaarte en selfs ’n ekstragroot houtlepel en -vurk teen die muur
  • gestoffeerde ottomans as koffietafels
  • huis- en tuinplante in potte
  • keramiekpotte
  • glasvase met aalwyne
  • klokglas-vase
  • lewensgroot hondebeelde
  • grafiese plakpapier met lewensgroot beelde, soos ’n woud- of kustoneel
  • kopstukke
  • swartborde
  • kaggelmantels
  • groot letters
  • strooikussings met interessante kleure of patrone.
Slim wenke
  • As jy nie jou dekor in drieë wil rangskik nie, oorweeg een groot kandelaar of lampkap vir visuele trefkrag.
  • Kies jou gloeilampe versigtig, veral wanneer dit sigbaar is –maak nie saak of dit aan- of afgeskakel is nie.
  • Of jy een hanglamp of drie het, hou die afmetings van die tafel waarbo dit hang, in gedagte. “Proporsie is noodsaaklik,” sê Rose. “Jou lig moet nooit breër of langer as jou tafel wees nie – nie eens as dit ’n ekstragroot ronde tafel is nie. Groter ligte moet hoër as gewoonlik gehang word, nie net vir visuele balans nie, maar ook om te verhoed dat mense hul kop daarteen stamp.”
  • Ideaal gesproke moet daar 75 cm tussen die tafelblad en die onderkant van die hanglamp wees.
VERSKAFFERS EN KONTAKTE