Foto’s Francois Oberholster en Elza Cooper Stilering Marian van Wyk en Amanda van Wyngaardt

1 Landelike sjarme

’n Splinternuwe kaggel was hoog op Winston Williams en sy gesin se wenslys toe hulle in 2018 hul huis in Kuilsrivier, Kaapstad, opknap. Hulle het die projek verlede jaar vir Tuis se Regruk met Flair- kompetisie ingeskryf en dit het só indruk gemaak, ons moes dit met ons lesers deel! Die kaggel geniet die ereplek in hul oopplan-leefvertrek. “Dit is heerlik om die vuur te sien en te hoor knetter, selfs al is ons in die kombuis aan die ander kant van die vertrek doenig,” sê Winston. Die skoorsteenbors strek verby plafonhoogte tot bo deur die ontblote dakbalke en skep ’n illusie van ruimte, terwyl die ontblote bakstene ’n landelike sjarme aan die struktuur verleen. 

Indien jy jou huis verhit, maak dit net sin om dit ook goed te isoleer, anders gaan die hitte verlore. Daarom het die De Swardts hier ’n Isoboard-plafon laat insit. “Sowat 40% van die hitte in jou huis ontsnap deur die plafon,” sê Mark Russell van Isoboard. “Maar met plafonisolasie sal jou huis tot 5% warmer wees in die winter.”

Kussings van MRP Home

2 Koel kontras

Dié sjiek kaggel is ’n apploustrekker in Daphne en Stephan de Swart se oopplan-leefvertrek in Somerset-Wes. Die argitek Donovan Hanekom van DH Architecture het dié kuiervertrek rondom die kaggel en sy ingeboude bankie ontwerp. “Ons wou aanvanklik ’n losstaande smeulstofie hê, maar ons begroting het dit nie toegelaat nie. Ek is ’n groot aanhanger van die ontwerp-app Houzz, en dis waar ek die idee van die bankie langs die oop kaggel gesien het,” vertel Daphne.

’n Rou sementafwerking is nommerpas vir die industriële styl van die vertrek en ’n donkerblou muur agter die kaggel versag die voorkoms. Die bankie se rugleuning is net breed genoeg om mooigoed op uit te stal, terwyl daar oorgenoeg pakplek vir hout en ander losgoed onder die sitplek en die kaggel self is. “Stephan is dol daaroor om te braai. Hy sou dit seker ook hier wou doen, maar tot dusver kon ek hom darem oortuig om nie in die huis te braai nie!”

Kaggel van Italfire; hanglamp van Illumina

3 Moeiteloos warm

Ná die eerste winter in hul huis in Kalkbaai het Alma Kennedy en Nico van Niekerk besluit hul oopplan-kombuis kort ’n kaggel. “Ons wou die vertrek op die ‘skoonste’ manier verhit, en omdat ons die huis ook verhuur, wou ons iets installeer wat maklik werk. Daarom het ons dié Monia Bianco-smeulkaggel gekies wat met houtkorrels werk,” verduidelik Alma. Danksy ’n ingeboude elektriese waaier wat die warm lug uit die kaggel deur die vertrek versprei, word die hele ruimte vinnig warm en bly die kaggel se temperatuur konstant. “Dis min moeite. Jy hoef nie kort-kort ’n nuwe stompie op die vuur te gooi nie en die houtkorrels hou baie lank,” sê sy. Alma het dié hoekie in die kombuis in ’n fokuspunt omskep deur ’n versameling kunsafdrukke – gekoop tydens ’n vakansie in Hôi An, Viëtnam – in identiese swart rame aan weerskante van die skoorsteen op te hang. Die skoorsteen van vlekvrye staal loop met ’n knak na buite.  

[Hoe werk korrelkaggels?]

“Korrelkaggels is soortgelyk aan ’n houtkaggel,” verduidelik Leonardo Errera van Italfire, “maar pleks van houtstompies verbrand dit saamgeperste houtkorrels. Jy vul eenvoudig die houer met korrels en steek jou kaggel aan met die druk van ’n knoppie; ’n termostaat beheer die temperatuur.”

’n Verbrandingswaaier wat met elektrisiteit werk – vandaar die kragprop agter Alma en Nico se kaggel – trek vars lug van buite af by die kaggel in en blaas rook en dampe deur ’n vlekvryestaalpyp uit die huis uit. ’n Konveksiewaaier trek ook koue lug in die vertrek by die kaggel in, waar dit verhit word, en versprei die warm lug dan eweredig in die ruimte. Die kaggel gebruik outomaties die regte hoeveelheid korrels ten einde ’n konstante temperatuur te handhaaf – jy moet net sorg dat die bak vol bly. ’n Ingeboude tydtoestel skakel die kaggel outomaties af op die gestelde tyd.

Korrelkaggels brand baie warm en skoon, en vergeleke met ’n houtkaggel is daar bitter min as. Skoonmaak behels eenvoudig om die aspan aan die onderkant uit te gooi. Daar pak nie roet op die glas aan nie en jy kan enige as met ’n nat lap afvee. “Die plaaslik vervaardigde korrels, gemaak van saamgeperste saagsels en afvalhout, kom in sakke van 15 kg en is by die meeste goeie kaggelfirmas reg oor Suid-Afrika te kry.”

KONTAK 021 948 3411, italfire.co.za

Die skoorsteenpyp van vlekvrye staal loop met ’n knak tussen twee houtbalke deur die plafon na die dak. ’n Geboude lys aan die onderkant beskerm die sementvloer.
4 Ouderwets

Dis nou seker al 24 jaar gelede dat Trix en Koos Grové dié gietysterstofie tydens ’n aankooptog vir hul oudhedewinkel Napier Antiek raakgeloop het. Die stofie dateer uit die 1800’s en kom dalk selfs uit Engeland, sê Trix. “Daar is ’n klappie aan die voorkant waardeur ’n mens die vlamme kan sien, en ’n gerieflike laaitjie onder waarin die as opgevang word en wat skoonmaak vergemaklik. Wanneer die stofie eers brand, stook ons hom sommer van bo af.

“Dit was op Cradock waar die stofie met sy lieflike ontwerp my oog gevang het. Ons het dadelik geweet dié pragstuk hou ons vir ons eie huis!”

Elf jaar later, toe die Grovés hul huis op Napier bou, kon die stofie uiteindelik ’n ereplek in hul oopplan-sit-en-eetkamer kry. Hulle het trouens die vertrek rondom dié element beplan: Rakke aan weerskante omraam dit byna soos ’n kunswerk en buiten uitstalplek vir mooigoed en boeke het dit ook pakplek vir houtstompies.

“In al die huise waarin ons al gewoon het, was die kaggel die middelpunt van die leefarea. Ons wou dit ook hier so hê,” vertel Trix. “Dis wonderlik hoe warm hy kan maak. Wanneer ons hom ’n ruk lank nie gebruik nie, kry die stofie die mooiste effense roeskleur, maar dit verdwyn heeltemal as ons hom weer aansteek.”

Hoe groot moet my smeulkaggel wees?

Voor jy besluit, moet jy weet hoe groot die vertrek(ke) is wat jy wil verhit. Werk dit só uit: Vermenigvuldig die breedte van die vertrek met sy lengte en hoogte – dit gee jou die volume in kubieke meter. Hiervolgens kan jy die regte kaggelgrootte (aangedui in kilowatt) kies. Volgens Morné le Roux van On Fire behoort jy tussen 30 m3 en 35 m3 per kilowatt te kan verhit.  

Kaggel van The Fireplace Studio; Malawi-stoele, kussings, kanttafel, gordyne en plafonwaaier uitgesoek deur Malachite Interiors

5 Op ’n troontjie

Toe Guy en Andrea Osler permanent in hul vakansiehuis in Struisbaai gaan bly, het hulle besluit om ’n losstaande houtkaggel as fokuspunt in hul oopplan-sit-en-eetkamer te installeer. Hulle het hul Godin Fonteval-smeulstofie met sy matswart pyp op ’n platform geplaas sodat dit op oogvlak is wanneer hulle in die sitkamer sit. “Ons het aanvanklik besluit om die kaggel van die grond te lig omdat ons jongste dogter net twee was toe ons ingetrek het. Maar ek dink tog die hoogte help om die groot ruimte vinniger te verhit,” sê Andrea. 

“Dit hou die hele vertrek warm en knus in die winter – selfs die kantoor en biblioteek op die tweede vlak voel warmer wanneer die kaggel brand!” Vuurmaakhout vul die ruimte onder die kaggel gedurende die wintermaande; in die warmer maande, wanneer die gesin dit minder gereeld gebruik, bêre Andrea die stompies netjies in mandjies.  

[As fokuspunt]

’n Pragtige kaggel verleen karakter en trefkrag aan enige vertrek, en verhoog die waarde van jou huis. Boonop is daar ’n magdom verskillende afwerkings om van te kies. Maak ’n paar idees bymekaar en besluit dan deur middel van eliminasie watter een die beste aan jou vereistes, styl en begroting sal voldoen, is Shelley Gordon-Williams van Malachite Interiors se raad. “

Die eenvoudigste manier om ’n bestaande kaggel trefkrag te gee, is deur die kaggelrak te stileer.  ’n Versameling keramiekvase of ’n paar houtblakers wat jy tydens ’n vakansie gekoop het, kan ’n pragtige uitstalling vorm. Gebruik gerus ook groot artikels, en moet jou nie te veel aan balans steur nie.”  

Sy sê ook ’n treffende spieël sal lig weerkaats en ’n vertrek groter laat voel. Andersins kan jy kleur en tekstuur inbring met ’n kunswerk. ’n Televisie bo die kaggel is nie ideaal nie, tensy die hitte wat die kaggel opwek, herlei word en die rak dit voldoende afskerm.  Jou goedkoopste opsie is om die bestaande baksteenwerk ’n neutrale kleur te verf; dit sal ’n rustieke kaggel meer kontemporêr laat voel. Vra raad by jou plaaslike verfwinkel oor watter verf geskik is vir die doel.  Die pakplek vir vuurmaakhout onder of langs jou kaggel kan ook ’n ontwerpelement wees; rig dit so in dat dit bydra tot die algehele effek. 

KONTAK 082 901 2564, malachiteinteriors.com 

[Veiligheid eerste]

Hou dié wenke in gedagte om jou vertrek veilig te verhit met ’n smeulkaggel, sê Morné le Roux van On Fire:

POSISIE Maak seker jou smeulkaggel is minstens 100–150mm van die muur af om skade te vermy. Die grootte van jou kaggel sal dié afstand bepaal – raadpleeg die verskaffer. Let ook op hoe naby jou meubels aan die kaggel gaan wees. Wanneer dit by dekor kom, vermy enigiets vlambaars soos hout, papier of sintetiese stowwe te na aan die kaggel. Vinielteëls is eintlik plastiek, en daarom nie ’n goeie keuse as vloerbedekking nie.

VLOERPLAAT Op houtvloere, gelamineerde vloere of matte moet jy ’n hittebestande paneel onder jou kaggel plaas. Dit kan van getemperde glas, graniet of staal wees (laasgenoemde is die goedkoopste). Dit sal die vloer beskerm indien daar dalk ’n kooltjie uitval wanneer jy ’n stompie byvoeg.

SKOORSTEEN Losstaande smeulkaggels kan ’n skoorsteen van vlekvrye staal of emalje hê. Onthou dat dié van vlekvrye staal van kleur verander wanneer dit warm word; jy kan dit wel met ’n hittebestande verf bedek. “Alle skoorstene in die plafon en bo die dak moet uit geïsoleerde pype (’n pyp binne ’n pyp, met isolasie tussenin) bestaan,” is Morné se raad. “Dit keer kondensasie, wat jou kaggel mettertyd kan beskadig.”

ONDERHOUD Versien jou kaggel jaarliks om te verseker dit bly veilig. Laat vee die skoorsteen en gaan die waterdigting na. Die seël op die deurtjie sal ook ná ’n paar jaar vervang moet word – jou diensverskaffer sal die nodige onderdele aanhou.

KONTAK 021 554 3473, on-fire.co.za

Teëls van Italtile

6 Veeldoelig

Ses jaar gelede, toe Jonker en Penny Winterbach hul huis in Melkbosstrand opgeknap het, was ’n nuwe braaikamer met ’n braaikaggel wat groot genoeg is vir ’n spit deel van hul planne. “Die braaikaggel moes laag genoeg wees dat die kinders kan bykom wanneer ons malvalekkers braai en hoog genoeg sodat Jonker nie sy kop stamp wanneer hy die rooster draai nie,” vertel Penny laggend. “Daar moes natuurlik genoeg pakplek wees vir al die braaihout en ’n mens moet gemaklik met jou voete teen die kaggelvloer kan sit – soos by ’n Bosveld-braai!”

Swart-en-wit patroonteëls beskerm die vinielvloer en vergemaklik skoonmaak, en kontrasteer ook lieflik met die ornamentele kaggelrak se tradisionele voorkoms. Die agterkant van die kaggel is bruin vuurvaste stene wat met ’n laag donkergrys dakverf afgewerk is.

Rakke van ou Oregondennehoutplanke uit ’n kelder op Tulbagh bied pakplek vir boeke en mooigoed. Penny het ’n gemakstoel wat haar pa al 14 jaar gelede by ’n tweedehandswinkel raakgeloop het, laat herstoffeer. “Die voetstoeltjie is eintlik my skoonma se ou bal-en-klou-kanttafeltjie wat in bypassende materiaal gestoffeer is.”

Wenk Teëls is ’n eenvoudige manier om die vloer rondom jou kaggel of braaiplek te beskerm en daar is ontwerpe en kleure vir elke smaak. Porseleinteëls is goeie hittegeleiers. As jy teëls kies, maak seker jy gebruik ’n teëlgom wat nie sal lostrek weens die hitte nie.  

Links van die kaggel is ’n ingeboude rak met titsels groen wat dié muur in die oopplankombuis-en-leefvertrek in ’n treffende fokuspunt omskep. Kaggel van On Fire

7 Perfekte pasmaats

Toe die hitte van hul kaggel fyn krakies in die muur daaragter maak, moes Maryke en Clifford Roberts van die Strand ’n plan beraam wat nie net prakties is nie, maar boonop mooi lyk. Hul oplossing was dié plafonpanele van geperste staal wat Maryke by Gister, ’n oudhedewinkel op Somerset-Wes, raakgeloop het.

“Eers het ons die muur met hittebestande verf behandel, maar dit het steeds fyn krakies gemaak. Toe oorweeg ons teëls,” vertel sy. “Maar eintlik wou ons iets ouds inbring wat dié hoekie meer karakter sou gee.” Om die oorspronklike Oregondennehoutvloere van hul huis, wat in 1933 gebou is, te beskerm, het die Robertse ’n beskermende vloerplaat van swart marmer gekies. “Die styl van ons Godin-stofie is eenvoudig en pas in enige dekor,” sê Maryke. “Ons wou nie gebind wees deur kleur en ontwerp as ons dalk later die sitkamerbank of mat of muurkleur wou verander nie.” ’n Skoorsteen van swart emalje voltooi die klassieke voorkoms. Links van die kaggel is ’n ingeboude rak met titsels groen wat dié muur in die oopplan-kombuis-en-leefvertrek in ’n treffende fokuspunt omskep.

8 Mooi met mosaïek

Waar daar voorheen ’n vervelige beige muur bo die houtkaggel by Dorette en Jannie Jooste se huis in Centurion was, pryk nou ’n kunswerk van mosaïek. “Ek soek al jare na só ’n uitdaging,” vertel Dorette. “Ons bly nou 10 jaar in ons huis en ek weet die afgelope nege jaar al ek wil die muur mosaïek! Die kaggel is in die leefvertrek, wat die hart van ons huis is – dis juis wat die rooi mosaïek-hart voorstel.”

Dorette het dié projek einde 2018 aangepak, en die prentjie was eers ’n jaar later voltooi. “Ek het dit letterlik stukkie vir stukkie beplan, geteken en dan die mosaïekwerk gedoen. Soms het daar weke verbygegaan sonder dat ek aan die muur geraak het. Dan het ek weer ’n idee gekry en met die volgende stukkie begin.”

Sy het oorskietteëls van vorige projekte gebruik en met ’n mosaïek-knipper kleiner gesny. Elke prentjie het ’n betekenis: van die kitaar en tromme wat hul kinders, Frits (8) en Janu (7), se kamers voorstel, tot die voetspoortjies vir hul troedeldiere, die Beagles Luke en Leia en die kat Schmi. “Daar is selfs bytjies; dit stel ’n bynes voor wat lank in die skoorsteen was terwyl ek gewerk het.”

Toe die projek eindelik klaar was, het Dorette die mure weerskante van die kaggel ’n diep blou geverf om al die blou teëltjies in die mosaïekwerk te beklemtoon. Deesdae kuier die Jooste-gesin alte lekker rondom hul “nuwe” kaggel!

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

African Design Collective

DH Architecture 021 850 0807

Gister 021 852 4827

Illumina Lighting Solutions 021 979 3940

Italfire 021 948 3411

Italtile 0861 555 109

Laminin Paints 021 851 0337

Malachite Interiors 082 901 2564 

Moroccan Warehouse 021 461 8318

MRP Home 0800 212 535

Napier Antiek 028 423 3314

On Fire 021 554 3473

The Fireplace Studio 021 712 3713

Woolworths 0860 022 002