Ek onthou die soel somermiddae wat ek by my ouma gaan kuier het wanneer sy teruggekom het van ’n lang dag by haar meubelwinkel. Sy sou op die stoep staan en met ’n muisskuurder doenig wees aan ’n tafel of koskas of ammunisiekis wat sy onlangs op ’n veiling gekoop het. Met elke heen en weer van die Black & Decker sal sy ritmies mompel: “Wie. Verf. Hout?”

Soos my ouma het ek ook ’n broertjie dood aan hout verf. Maar nie alle hout is gelyk geskape nie en daarom is dit soms, en net soms, die enigste manier om ’n ou meubelstuk weer nuwe lewe te gee. Maar hoe gemaak met blikkantien?

Moet ek verf?

Maak seker jy is gemaklik om jou meubelstuk se hout onherroeplik te verander. Saamgeperste en laaghout kan jy maar verf. Selfs dennehout, meranti en fineerhout kan nog gly – maar, vir die liefde van alles wat goed en heilig is, moenie geelhout of Oregonden (Oregon pine) verf nie. As jy nie weet wat jy in jou hande het nie, vra iemand wat weet!

Berei jou hout voor

’n Ligte skuur is omtrent altyd al wat nodig is. Begin met ’n lekker growwe skuurpapier en werk dan stelselmatig fyner tot jy by die gewenste afwerking kom. Was die oppervlak vinnig met suikerseep of vee bloot af met ’n klam lappie en laat dit dan droog word.

Wees gewaarsku: As jy vermoed dat die hout in die verlede met olie gepoleer is, hou verby. Ná ure se skuur en afwas sal jy jou Picasso-bewegings uithaal net sodat die olie ’n paar uur later deur die verf sweet. Pak dié katjie aan met handskoene en tonne raad van ’n verfspesialis.

Die eerste laag ...

... is die belangrikste. Onderlaag. Enige ysterwarewinkel wat sy sout werd is, sal ’n reeks onderlae hê wat geskik is vir jou projek. Vra net die man agter die verftoonbank en volg die instruksies op die houer tot die laaste letter.

Kies jou roller ...

Gebruik ’n sponsroller vir die gladste afwerking. Jy wil hê die meubels moet lyk asof dit tuis sal lyk op ’n Pinterest-inspirasiebord, nie soos iets wat voor jou huis van iemand se bakkie afgeval het nie.

Waar jy verf is belangriker as hoe jy verf

Sorg dat jy ’n plek kies waar stof en wind jou nie gaan pla nie. Daar is niks so irriterend soos takkies en sand wat jou kwaskuns kom belemmer nie. Maak ook seker dat die projek nie in die pad is of gedurig rondgeskuif moet word nie. 

Wag

In die verfwêreld is “droog” maar ’n relatiewe term. My raad is dus: Wag tot die verf droog is as jy daaraan vat. Wag dan dubbel so lank soos wat jy reeds gewag het. Wag dan sommer nog ’n kwartier. Dan behoort jy uiteindelik veilig te wees. 

Onthou: Verf is deesdae gemaak om aan hout te bind en gaan nie soos toentertyd se olieverf die hout bewaar nie. Dit raak deel van die hout. Dink daarom twee keer voordat jy jou oumagrootjie se wiegstoel met swartbordverf probeer optooi!
Nuwe episodes van
My plek of joune? wys elke Dinsdag om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147) met heruitsendings op Sondae om 19:00.