Foto’s Francois Oberholster, Justin Patrick, Elza Cooper, Henrique Wilding en ER Lombard | Stilering Marian van Wyk en Amanda van Wyngaardt

#1 Drie in een

In 2013 het die modeblogger Sergio Ines van whatmyboyfriendwore.com Gauteng verruil vir ’n piepklein dupleks in Kaapstad se stadskern. Hy het besluit om die plek na sy smaak in te rig, maar dit was geen maklike taak nie. Met net 20 m² waarin ’n slaapkamer, kas en badkamer moes pas, moes hy heelwat slim planne vir die ruimte bedink!

Sergio het die muur tussen die slaap- en badkamer laat uitbreek en besluit om hout, sement en glas te kombineer. Die glas skep ’n gevoel van ruimte en die gesonke ligte versterk die stylvolle, minimalistiese aanslag in die res van die vertrek.

Sergio het ’n kopstuk met ’n rak en laaie gekies wat uitstekend gebruik maak van die muurruimte bo die bed; dit sluit ook perfek aan by die bedbasis met sy slim ingeboude kaste aan die voetenent.

’n Vollengtespieël op die toilet se skuifdeur skep die illusie van ruimte (links). ’n Kas van laaghout met rakke, hangplek en laaie is ingebou om dié ongemaklike hoekie beter te benut. 

Foto: Greg Cox/ bureaux.co.za
Staaldromme van Pedersen + Lennard

Blink idee!
Ongeag hoe klein jou ruimte, daar moet altyd plek wees vir ’n tikkie persoonlike flair. Sergio se paspop, wat hy ook vir stilering gebruik, maak ’n oulike fokuspunt.

#2 Baken dit af

Alta Moggee is dol oor die ruim spens en opwasvertrek in haar Parkview-huis. Maar omdat die twee ruimtes met ’n deur verbind was, het haar kombuisgoed oor en weer getrek en dikwels op die verkeerde plek beland. Om die twee van mekaar te skei het Alta die deurgang laat toebou, en nou het elke vertrek sy eie skuifdeur na die kombuis.

Nadat sy iets soortgelyks op Pinterest gewaar het, het Alta twee antieke Franse stoele (’n geskenk van haar skoonma) bo die ingang na die spens en die opwasvertrek gehang.

’n Ou winkelkas in die spens is die perfekte bêreplek. Die metroteëls, wat effens langer as normaalweg is, gee die ruimte ’n tikkie elegansie. Die leer is geverf met Dulux Honey Mustard vir ’n spatsel kleur.

Gewone of mat ruite laat lig in en laat die 7m2-ruimte lugtiger voel.
Aluminiumraam-deure van Glasfit

#3 Netjies weggepak

Al is daar min plek in haar Airbnb-huurplek, wou Nikki Zigras, die baasbrein agter die interieurontwerpfirma Studio Do Cabo, beslis ’n knus eetplekkie daar inrig. Sy het dié kompakte viersitplektafel ontwerp om op rolwiele uit te skuif wanneer nodig; agterna swaai dit weer terug tot teen die muur. Dis dieselfde hoogte as ’n kroegtoonbank sodat die kroegstoele onderin kan staan; die tafel verskaf ook ’n ekstra werkoppervlak in die kombuis.

Koel verby!

Die tafel het rolwiele net aan die een kant; aan die ander kant is dit met ’n swaaistut teen die muur vas.
Tafel gemaak deur Andre Otto van GreenCube Design

#4 ’n Plekkie in die son

Dié ongemaklike hoekie langs die trap en oorkant die voordeur in JC Snooke en Wim Steyn se Linden-huis kry lieflike oggendson. Hulle het besluit om dit beter te benut deur ’n gesellige leesarea hier in te rig – gerieflik net om die draai van die oopplankombuis. ’n Treffende groen muur beklemtoon die hoogte in die dubbel-volume-ruimte; die kleur (Dulux Dublin Bay 1) herinner aan die tuin. “Toe ons in 2015 hier intrek, was daar nie juis ’n tuin om van te praat nie,” sê JC. “Ons het baie tyd en energie daaraan gewy en met die muur wou ons graag die natuur binnetoe nooi.”

Blink idee! Selfs in ’n klein area moet ’n mat knus in die ruimte pas sonder dat dit aan die mure raak. Danksy ’n smaraggroen nommertjie is hierdie sithoekie soveel geselliger.
Stoel van Weylandts; die mat is ’n tweedehandse kopie

#5 Vorm en funksie

Werner Botha en sy pa, Gerhardt, het onlangs ’n houtwerk-en-meubelfirma, Lumber & Foundry, op die been gebring. Hulle het dié oulike meubels vir Werner en sy vrou, Mariaan, se slaapkamer in Pretoria self ontwerp en gemaak. Pleks van kaste van die vloer tot teen die plafon het hulle op ’n kleiner, oop kas besluit. “Dit bespaar regtig soveel ruimte; ons kan ons meubels lekker rondskuif sonder om ons te bekommer oor kasdeure wat moet oop en toe!” verduidelik Mariaan.

Die paartjie het ook ’n kas van laaghout gebou met ’n uitvou-spieël wat kan toemaak wanneer hulle dit nie gebruik nie. Daar is drie kompartemente sodat alles netjies gebêre kan word.

#6 Meer as een funksie

Ná Jill en Craig Marion se vakansie op die Spaanse eiland Minorka het hulle vol inspirasie teruggekeer. Op hul erf op die Tuinroete was daar ’n potte-bakkersateljee wat hulle in ’n gastesuite wou verander. Omdat hulle die oop ruimte in vertrekke moes onderverdeel, was elke vertrekkie nogal klein – maar die paartjie het gesorg dat dit prakties én iets vir die oog is.

Kombuisrakke van ou steierplanke benut die volle hoogte in die vertrek. Net daaronder is ’n koffiestasie-en-ontbythoekie van nog ’n ou steierplank gestut deur tweedehandse traprelings. In klein vertrekke is veeldoelige ruimtes soos dié baie nuttig!

Blink idee! Oop rakke tot bo teen die plafon beklemtoon die hoogte van die vertrek, en groot vensters met ’n ragfyn blinding laat hope natuurlike lig in.

Dis in die detail

Weggesteek agter die blou-en-wit gestreepte gordyn onder die wasbak staan ’n kroegyskas, broodrooster en mikrogolfoond.

#7 Hou links

Niemand het die gangetjie links van die voordeur in Lorraine Coetzer se Bellville-huis gebruik nie; familie en kuiergaste het altyd regs gedraai deur die eetarea op pad kombuis toe. Op ’n dag het Lorraine gekla oor die min plek in haar klein kombuis – die kaste het uit hul nate gebars! Dis toe dat haar dogter Mar-Louise met die vernuftige plan vorendag kom om die ongebruikte gangetjie in ’n spens te omskep. Lorraine het dit toe sommer laat toebou en hol dennehoutrakke laat installeer.

Blink idee! Kratte op rolwiele pas knus onder die rakke en verskaf bêreplek vir kombuisware wat nie gereeld gebruik word nie.
Rakstutte van Cape Garden; hanglampe van Eagle Lighting; horlosie van Boardmans; muur gebou deur Prizma Projects

#8 Gerieflik byderhand

Monica van der Berg was moeg vir die ongebruikte wynrak in dié hoek van haar huis in Proteavallei naby Kaapstad. Sy wou ’n praktiese ruimte hê wat ook ’n mooi fokuspunt sou vorm; daarom het sy besluit om dit op te dollie met linne-plakpapier en houtrakke op stutte wat ’n laag metaalverf gekry het.

Monica ruil gereeld die items uit wat hier staan sodat die hoekie altyd vars lyk.

Hake teen die muur is ’n praktiese toevoeging. “Dié ruimte is reg langs die deur na die motorhuis. Hier hang ons nou die kinders se sakke en baadjies sodat hul benodigdhede altyd gerieflik byderhand is! Dis so ’n veelsydige hoekie, en boonop mooi om na te kyk!” sê sy.
Plakpapier van Hope Vol Hoop; muurhake van MRP Home

Kontakte en verskaffers
  • Boardmans boardmans.co.za
  • Cape Garden 021 988 4137, capegardencentre.co.za
  • Eagle Lighting 021 914 2488, eaglelighting.co.za
  • Glasfit 0860 123 423, glasfit.com
  • GreenCube Design 076 339 9292, greencubedesign.co.za
  • Hope Vol Hoop 083 703 3512, info@hopevolhoop.co.za
  • Lumber & Foundry 083 461 6748
  • MRP Home 0800 212 535, mrphome.com
  • Pedersen + Lennard 021 447 2020, pedersenlennard.co.za
  • Prizma Projects 021 919 0834, prizmaprojects.co.za
  • Studio Do Cabo 063 161 8578, nzigras.wixsite.com/conceptinteriors
  • Weylandts 0860 103 400, weylandts.co.za