Foto’s Francois Oberholster, Henrique Wilding en Elza Cooper Stilering Marian van Wyk, Henrique Wilding en Amanda van Wyngaardt

Eiland-styl

• Twee verskillende materiale is vir die werkvlak van die toonbank gebruik – vlekvrye staal waar daar gekook word, en ’n mooi eikehout-afwerking vir die eetdeel.

• Die gas-kookvlak vorm deel van die eiland se staal-werkvlak, wat skoonmaak vergemaklik.

• Die 3 x 1,5 m-eiland het nie ’n waterpunt nie, want die groente-wasbak is net langsaan en die skottelgoedwasbak agter.

• Twee groot hanglampe (700 mm D) verskaf genoeg werkslig en skep lieflike ligpoele wat bydra tot die atmosfeer in dié gesellige kombuis. Die standaard-hoogte vir ligte bo ’n eiland is 800 mm, maar ernstige kokke verkies 750 mm, sê Micke Fourie van Tuis se nuwe aanlyn-ontwerpdiens Welkom Tuis. “As jy lang mense in jou familie het of die plafon ekstrahoog is, kan ligte tot 1 000 mm bo die eiland hang.”

Die baksteenmure het ’n ligte sementafwerking gekry en is verseël met ProNature Wall Protect. Die latteplafon gee ’n tikkie plaaslike Afrika-geur. Hangligte van Orejen

1 Swart vir altyd

Manuel en Jenny Cernades het meer as 20 jaar gelede ’n erf in Linden, Johannesburg, gekoop vir hul meubelwinkel, Orejen. Die plan was om eendag ’n huis agter die winkel aan te bou sodat hulle op een erf kon woon en werk. “Ons het uiteindelik daarby uitgekom en wil binne die volgende twee jaar intrek,” sê Jenny.

Die paartjie het vier jaar gelede begin met die uitbreiding en die opknap van die bestaande kombuis. Sy vertel dié vertrek was destyds outyds en glad nie ergonomies of funksioneel nie. “Ons hou daarvan om in die kombuis te onthaal, en dan wil ek nie alleen in die kombuis doenig wees nie.” ’n Groot eiland waar gaste lekker kan saamkuier en deel kan wees van die aksie was dus hoog op hul wenslys.

Jenny en Manuel het gehou van die idee van losstaande eenhede in die industriële styl en het by Prochef Concepts gaan aanklop om hul kombuis met swart poeierbedekte staalkaste te ontwerp. “Staal is nie net ’n moderne afwerking nie, dis ook veelsydig, duursaam en maklik om skoon te maak. En omdat die kombuis uit modulêre eenhede bestaan, was die installering in ’n japtrap klaar,” verduidelik sy. “Die eenvoudige, skoon lyne is eie aan die Skandinawiese ontwerpstyl.”

Omdat die kombuis die middelpunt van hul nuwe leefruimte vorm, wou die paartjie nie hê enige toestelle moet sigbaar wees nie. ’n Geïntegreerde yskas en ruimte vir die skottelgoedwasser, wasmasjien en tuimeldroër onder die wasbak teen die agterste muur was ’n elegante oplossing.

“Ek is absoluut mal oor hoe min onderhoud die staal vra,” sê Jenny. “Die feit dat dit tydloos is en nooit outyds gaan lyk nie, beteken dis waarskynlik die laaste kombuis wat ek ooit sal hê. Ek is mal oor die eilanddeel wat nou die kuierplek geword het – dit werk net só goed.”  

“Kombuiseilande is wonderlik, maar die stoele is so dikwels in die pad wanneer jy nie gaste het wat daar sit nie,” sê Jenny. Daarom het hulle pakplek geskep vir ongebruikte stoele onder die toonbank. “Die hoogte word verstel met ’n sitplek wat inskroef sodat dit netjies in die kas pas.”

Konvekse glas-en-tin-muurhorlosie en koperkraan van Orejen’n Vlekvryestaal-droograk op ’n drupbak bo die wasbak het ’n raam van Oregondennehout gekry. “Ek hoef nooit ons gebruiksgoed weg te pak nie!” sê Jenny. “Ons het net twee van als. Wat klaar gewas is, is sommer weer gereed vir gebruik.” 

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Orejen 083 303 3063

Prochef Concepts 072 700 5481

Pro Nature 021 556 1238

Welkom Tuis

2 ’n Familiesaak

Dirk en Annamarie Blom se oudste seun, Theuns, het jare gelede ’n erf op Bettysbaai gekoop met die idee om eendag daar ’n familie-vakansiehuis op te rig. Ses jaar gelede het hy en sy drie broers saamgespan en op die einste erf ’n huis gebou waar hul ouers kon gaan aftree. “Dis ’n heerlike kuierhuis,” vertel Annamarie. “Daar is ses slaapkamers – een vir elke gesin, en een waar al die kleinkinders slaap. Dis wonderlik, want ons is nooit onder mekaar se voete nie!”

’n Groot oopplan-kombuis-en-leefvertrek is die middelpunt van die huis. En wanneer die hele familie vakansies hier uitspan, draai alles om kosmaak en kuier. “Al my kinders maak graag kos. Ons hang almal hier om die eiland terwyl een van hulle besig is, en dan gesels ons ure aaneen.

“Ons wou graag hê die kombuis moet die fokuspunt van die vertrek wees,” verduidelik sy. Tydlose wit afwerkings pas by die paartjie se eenvoudige leefstyl, terwyl houtvloere warmte aan die ruimte verleen. Op die ingeboude boekrak in die spens langsaan staan kook- en leesboeke sy aan sy; dit vorm ’n lieflike fokuspunt uit die kombuis. “Dis nou my gunsteling-deel van die vertrek!”

“Die plan was eintlik om ’n skildery te hang in die gat waar die boekrak nou is,” onthou Annamarie. “Maar toe pas die boekrak tot op die millimeter in die gat!” Die agterkant van die boekrak is donkerrooi geverf vir ’n spatsel kleur.

Eiland-styl

• Die blad van die 1,5 x 3 m-eiland is van gewone beton en afgewerk met wit verf. “Af en toe, as daar dalk ’n merkie is wat nie wil uit nie, skuur ons die blad liggies af en gee dit net ’n nuwe lagie verf,” sê Annamarie.

• Die losstaande rooi Smeg-stoof pas netjies in ’n opening in die eiland, met meer as genoeg laaie vir kombuisgereedskap langsaan.

• ’n Spoelbak met ’n koue kraan is gerieflik in die blad ingebou.

• Omdat die kombuis aan die een kant van ’n oopplan-leefvertrek is, was genoeg pakplek belangrik sodat die kombuis nie vol en onnet lyk nie, verduidelik Annamarie. Die eiland dien ook sommer as algemene pakplek vir komberse en ander gebruiksgoed.

Ontblote dakbalke verleen ’n gevoel van ruimte, en die Isoboard-plafon hou die vertrek heerlik koel in die warm somermaande. Die papier-“lanterns” is ’n oorblyfsel van een jaar se Kersversierings – Annamarie het so baie daarvan gehou dat sy dit net so gelos het.

Die turkoois patroonteëls het dadelik Annamarie se oog gevang toe sy ’n spatpaneel moes kies. “Dit herinner my aan die binnekant van ’n skulp, perfek vir ’n huis by die see.” Wit melamienkaste smelt byna onopsigtelik weg teen die groot wit muur daaragter. Teëls van Douglas Jones

Kennersraad

Jy kan beslis jou sementblaaie verf, mits jy die regte stappe volg, sê Jenny Moolman, Duram se handelsmerkbestuurder:

1 Begin deur jou toonbank reg voor te berei. Gee nuwe sement minstens 28 dae kans om droog en hard te word voor jy dit verf.

2 Maak seker jou sementoppervlak is skoon en droog, met geen stof, olie of vet daarop nie. Gebruik Duram Showfloor Cleaner & Degreaser, spoel af met skoon water en laat dit droog word. Skuur dan die blad liggies met 100-grint-skuurpapier voor jy dit met ’n klam lap afvee.

3 Wend nou ’n eweredige laag Showfloor Cement Primer aan om die oppervlak te verseël. Die onderlaag is deursigtig wanneer dit droog is – ideaal vir ’n rou sementvoorkoms.

4 Verf dan die oppervlak met Duram Showfloor Polyurethane Floor Paint. Verf altyd eers ’n toetsblokkie om seker te maak die oppervlak is reg voorberei (volg die aanwysings op die verpakking). Wend dan twee lae verf aan, met ekstra lae op plekke wat meer slytasie gaan verduur. Duram Showfloor Polyurethane Floor Paint het ’n medium-glansafwerking wanneer dit droog is en kom in ’n verskeidenheid aantreklike kleure. Dit is uiters krap-, skuur-, vlek- en slytbestand en enige merkies kan maklik herstel word.

5 Gee die verf 2–3 dae kans om droog te word. Afhangend van gebruik en slytasie moet jy toonbanke elke 2–5 jaar oorverf.

KONTAK 021 555 3090, duram.co.za

VERSKAFFER Douglas Jones 086 166 7242

Sarah versamel al jare Le Creuset-oondskottels in elke denkbare kleur. “Dis ’n groot gunsteling vir brood bak, en boonop lyk dit pragtig as jy die lot opmekaarstapel soos ’n Kersboom. Koekstaander van Nicci Stewart Ceramics

3 Die perfekte grootte

Sarah en Richard Stevens wou hulle nog altyd in die lowerryke buurt Walmer in Port Elizabeth vestig, maar kon net nooit die perfekte eiendom kry nie. Toe, in 2008, ontdek hulle ’n leë erf in dié buurt waar Sarah grootgeword het. “Dit het ons die geleentheid gegee om ’n huis – én ’n kombuis – te ontwerp nes ons dit wou hê!” onthou Sarah.

Sarah is ’n kranige kok en bakker en bring graag tyd in die kombuis deur – trouens, sy het in 2013 aan die BBC Entertainment-program Come Dine With Me South Africa deelgeneem. En wanneer ’n spesiale geleentheid soos ’n mylpaalverjaardag gevier word, is dit nie ongehoord dat daar tot 40 gaste by hul huis opdaag nie. Danksy die oopplanontwerp is Sarah altyd deel van die jolyt!

Sarah, ’n landskapargitek, en Richard, ’n beesboer, het Andrew Hart van Andrew Hart Cabinets se hulp ingeroep; hy het die kombuiskaste op maat gemaak en effens laer as standaardhoogte gemonteer om te vergoed vir Sarah se “tekortkominge”. “Ek is nogal kort, daarom het dit sin gemaak om die kaste aan te pas vir my lengte,” verduidelik sy.

Die kombuis was aanvanklik rooi en pers, maar ná sowat vyf jaar het die Stevense die kassies vernuwe deur dit appelgroen te verf. “Die kwotasie om dit te laat spuitverf was astronomies; daarom het ons verf en ’n paar rollers gekoop en sommer self ingespring,” sê Sarah. “Dit was baie werk, maar absoluut die moeite werd!”

Die kombuis is die apploustrekker in die paartjie se huis, en jy sal Sarah gewoonlik in die kombuis aan’t bak kry. “My hart is op sy gelukkigste wanneer ons seuns, Charlie (24) en Robbie (21), vakansies en langnaweke by die huis is, want dit gee my selfs nog meer rede om agter die potte te woeker!”

Ek hou van die opgewekte, oop gevoel van die kombuis en die wete dat dit my toorplek is. – Sarah

Eiland-styl

• Die standaardhoogte van ’n eiland is 900 mm. Richard en Sarah s’n is 870 mm, maar jy kan dit ook hoër maak as almal in die huis baie lank is – maar liefs nie hoër as 940 mm nie.

• Richard en Sarah wou ’n duursame werkvlak hê, maar het nie gehou van hout of vlekvrye staal nie. Richard, wat ook in die boubedryf werk, het ’n kans gewaag en die toonbank gegiet met ’n epoksi-hars – ’n middel wat vanself gelyk lê en gewoonlik vir fabrieksvloere gebruik word.

• Die Stevense het laaie alkante van die eiland laat insit vir al Sarah se gereedskap. “Ek is mal oor ’n gadget!”

Die Stevense moes twee dennebome op die erf laat afkap voor hulle kon begin bou. “Ons het die hout gehou, laat droog en behandel, en uiteindelik vir die ander werkblaaie en die trap gebruik.” Die kandelaber van The Lemon Tree is ’n huldeblyk aan Sarah se ouers. “Hulle het altyd ’n kandelaber in hul huis gehad, en ek hou van so ’n bietjie blieng en oordaad.”  

Jy sal Sarah die meeste oggende in die kombuis kry waar sy besig is om ’n vars suurdeegbrood te bak.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

Andrew Hart Cabinets 082 563 4174

Le Creuset 086 177 3321

Nicci Stewart Ceramics 

Lemon Tree Interiors 041 581 0012

Hanglamp van Pieter Deon Interiors

4 Tydloos elegant

Nadat Sharon Rix en Rudolph Prinsloo in Februarie 2019 hul huis op Stellenbosch gekoop het, het hulle dadelik die kombuis en badkamers opgeknap. “Hoewel die uitleg van die kombuis gewerk het, was die afwerkings verouderd,” sê Sharon.

Behalwe om die yskas en vrieskas na die opwaskamer te skuif vir meer pakplek in die kombuis, is net die kaste en oppervlakke verander om dié vertrek ’n vars voorkoms te gee. Die gesin het die hulp van Rikus Visser en Dawid Griesel van Signature Group ingeroep om die nuwe kombuiskaste te bou.

Die geometriese sementteëls van Moroccan Warehouse teen die mure was die vertrekpunt vir die nuwe afwerkings in die res van die kombuis. Sharon het wit werkoppervlakke van saamgestelde kwarts gekies om die oorspronklike swart granietoppervlakke te vervang, en ’n sagte skakering grys in ’n mat afwerking vir die kombuiskaste.

Kennersraad

Handgemaakte sementteëls soos dié is poreus en kan maklik vog absorbeer as dit nie reg verseël is nie, sê Kundra Bowley van Moroccan Warehouse in Kaapstad:

Al ons teëls word vooraf behandel met ons Colour Retainer Sealer, ’n verseëlaar met ’n waterbasis wat keer dat die teëls merke kry wanneer dit gelê word. Vir oppervlakke soos vloere en spatpanele stel ek voor jy wend twee lae van ons poliuretaan-verseëlaar met ’n satynafwerking as ’n finale laag aan; een laag behoort genoeg te wees vir ’n muur. As jy goed na jou teëls kyk, behoort dié verseëlaars jare lank te hou. Jy kan dit wel elke 3–4 jaar liggies skuur en ’n vars laag verseëlaar gee. Persoonlik hou ek van die verweerde voorkoms; dit het soveel siel!

KONTAK 021 461 8318

Eiland-styl

• Die eiland van soliede hout het wiele onderaan sodat dit maklik rondgeskuif kan word met kos en drankies wanneer die gesin baie gaste onthaal.

• Mandjies op die onderste vlak hou vars groente binne bereik.

• Die eikehoutblad maak die vertrek warmer en eggo die houtrakke teen die muur. Dit pas boonop goed by die patroonteëls en grys afwerkings.

Sharon het lank gesoek vir ’n swart kraan by die laboratoriumwasbak. “Dit het so ’n outydse sjarme!” Kraan van Victorian Side Bathrooms

KONTAK EN VERSKAFFERS

Sweefrakke is funksioneel en perfek om hartsgoed uit te stal. Hanglampe van Block & Chisel

5 Koel langs die kus

Toe Guy en Andrea Osler besluit om die stad se gejaag te verruil vir ’n rustiger leefstyl, was ’n permanente skuif na hul vakansiehuis op Struisbaai die logiese keuse.

“Ons was nog altyd gelukkig op Struisbaai,” sê Andrea, ’n vryskut-kommunikasiekonsultant. “Ons het aanvanklik gedink ons sou vir ’n jaar of twee hierheen trek, maar ná ses maande het ons geweet ons wou nie teruggaan Kaapstad toe nie. Ons dogters, Daniela (11), Sofia (10) en Isabelle (3), het floreer in die stiller omgewing. Ons is lief vir ons huis en hoe naby dit aan die strand is – Guy se passie is diepseehengel en ek en die meisies hou van branderplankry.”

Die Oslers het in Januarie 2019 ingetrek nadat hulle ’n groot deel by die bestaande kothuis aangebou het. ’n Praktiese kombuis was hoog op die lys vir Andrea, wat hou van kook en geleenthede skep wat mense bymekaarbring. Sy het van die begin af geweet sy wil ’n oopplan-kombuis hê wat met die sit- en eetkamer skakel. Jaco Louw van Tip of Africa Creations is ingeroep om al die kaste, asook ’n pasgemaakte wynrak bo die yskas, te bou en te installeer.

Die eiland met sy treffende teëls is die apploustrekker in die ruimte.

“Ek wou hê die kookvlak op die eiland moet na die leefarea wys, want ek hou daarvan om met vriende en familie te gesels terwyl ek kosmaak. Wanneer ek hier kook, voel ek soos die ster van ’n kookprogram!” Die eiland is ontwerp met oorgenoeg pakplek, sê Andrea. Net onder die kookvlak is ’n groot speserylaai byderhand; daaronder is diep laaie vir potte, panne en borde, asook vlak laaie vir eetgerei en ander gereedskap.

’n Aparte opwaskamer agter die kombuis het ekstra pakplek sodat dié vertrek netjies kan bly; dis ook ideaal om vuil skottelgoed uit die oog te hou wanneer hulle kuiergaste het.

Andrea het nog altyd gedroom van ’n ligblou kombuis, en sy versamel al sedert haar en Guy se troue blou, turkoois en seegroen dienborde en bakke van alle groottes. “Baie is geskenke, want vriende en familie dink aan my wanneer hulle ’n bak of bord in ‘my kleure’ sien!” Blou kombuiskaste was daarom die voor die hand liggende keuse.

Die ligblou kaste in die Shaker-styl werk baie goed in ’n strandhuis. “Al die verskillende skakerings van blou en turkoois herhaal die kleure van die lug en die see,” sê Andrea. Sy noem dat ’n laboratoriumwasbak vir hulle nog ’n noodsaaklikheid was. “Dit het ’n tydlose karakter en verleen altyd sjarme aan ’n kombuis.” ’n Vloer van gelamineerde hout reg deur die oopplan-kombuis, eet-en-leefvertrek skep ’n eenvormige voorkoms en naatlose vloei, terwyl dit ook warmte aan die ruimte verleen.

Kennersraad

Kwarts bly ’n gewilde keuse vir kombuisblaaie, want dis uiters sterk en duursaam. Dit kan selfs die waarde van jou huis verhoog, sê Trevor King, bemarkingsdirekteur van Caesarstone Suid-Afrika: Vir ’n hardwerkende werkblad soos ’n kombuistoonbank is dit die moeite werd om te belê in ’n materiaal wat die toets van die tyd sal deurstaan. Maak seker of die oppervlak enige waarborg het, en of dit krap- en vlekbestand is, want dis dinge wat maklik in ’n kombuis gebeur. Hou in gedagte watter onderhoud jou gekose oppervlak nodig het en oorweeg of dit by jou leefstyl inpas. Gehalte-materiale soos kwarts kom in ’n verskeidenheid kleure; dit vra net roetine-sorg om mooi te bly en kan ’n leeftyd hou.

KONTAK 083 608 5810, caesarstone.co.za

Ek hou van die blou kaste; dis nie oordadig nie, maar vang steeds die oog. – Andrea

 Eiland-styl

• Blou-en-wit patroonteëls van Moroccan Warehouse teen die eiland verleen kleur en karakter, terwyl die klassieke wit metroteëls van Italcotto op die spatpaneel ’n neutrale agtergrond vorm waarteen die patroonteëls en blou kaste uitstaan. “Die swierige patroon op die teëls breek ook die kombuis se skoon, reguit lyne,” sê Andrea.

• Die eiland het ’n oorhang, maar dis nie eintlik vir sitplek nie. Mense wat hier saamkuier sit om die tafel soos in toeka se kombuise.

• Die Oslers het besluit op ’n duursame kwartsblad van Caesarstone vir die eiland, terwyl die blad van ligte eik op die agterste toonbank balans en tekstuur inbring en naatloos by die sweefrakke daarbo inskakel.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

Block & Chisel 021 691 0878

Disa Renovations 066 573 7892

Moroccan Warehouse 021 461 8318

Tip of Africa Creations 028 435 6131

Riëtte hou van die industriële voorkoms en het daarom besluit om die suigwaaier se uitlaatpyp as ’n ontwerpelement in die kombuis te gebruik. “Goeie beligting bo die eiland was belangrik en Gerrie het voorgestel ons draai die ligkabels om die pyp,” verduidelik Riëtte.  Die houtstoeltjies is pasgemaak deur Reclaimed Woods en eggo die ander industriële elemente in die kombuis.

6 Minimalisties mooi

Toe Riëtte Marshall en Leonard Ricketts vyf jaar gelede by dié huis in Oude Westhof, Bellville, intrek, het hulle geweet daar lê vir hulle baie werk voor. Veral die donker kombuis met sy swart granietblaaie het gepla. “Ek het heeldag met ’n lap geloop en blink vryf omdat ’n mens als op die swart raaksien!” onthou Riëtte.

Die gesin het dadelik die ingeboude wasmasjien en tuimeldroër uitgehaal en dié ruimte in ’n kas omskep. En toe, in April 2019, het die groot opknap in die res van die kombuis begin.

Riëtte en Leonard se seun Mark het saam met Gerrie van Dalen van Upfront Design ’n nuwe kombuis beplan wat al die gesin se voorkeure sou insluit. “Ek het presies geweet wat ek nié in die kombuis wou hê nie,” vertel Riëtte. “Dit moes beslis prakties wees en alles moes maklik binne bereik wees sodat ’n mens nie so vreeslik tussen goed hoef rond te beweeg nie.”

’n Eiland was ononderhandelbaar. “Ek wou alles kan sien terwyl ek besig is,” sê sy. “Soveel mense maak die fout om hul wasbak in die eiland te sit en die stoof teen ’n muur. Maar ek wil glad nie in ’n muur vaskyk terwyl ek kook nie!”

Die kombuis was voorheen deur ’n muur van die leefvertrek geskei; dié is platgeslaan en ’n skuifdeur tussen die kroeg en eetkamer is uitgehaal om die kombuis, eetkamer, kroeg en leefarea alles in een oop plan met mekaar te verbind.

Kennersraad

Ashley Howarth van Blum South Africa sê dis belangrik om jou behoeftes aan bêreplek met die oog op jou gesin se grootte en koop- gewoontes te bepaal. “Weet wat jul daaglikse roetine en kookpatrone in die kombuis is en hou jul leefstyl in gedagte, dan is dit soveel makliker om kaste te kies.”

Laaie is verkieslik in elke deel van die kombuis. Dit skep meer bêreruimte en is toegankliker as kaste met rakke. Vir groter gerief en netjiese laaie beveel Ashley hul Orga-Line-verdelers aan.

Hoekkaste is dikwels moeilik bereikbaar. “Blum het ’n Space Corner-eenheid met rakke wat ten volle uittrekbaar is sodat jy al daardie goedjies heel agter in die kas maklik kan bykom.”

Vir ’n minimalistiese kombuisvoorkoms, beperk die gapings tussen kasvoorkante tot die minimum. “Kaste sonder handvatsels, met toebehore van topgehalte, verseker ’n skoon ontwerp.”

KONTAK eclipsegroup.co.za

“Goeie beligting bo die eiland was belangrik en Gerrie het voorgestel ons draai die ligkabels om die pyp,” verduidelik Riëtte. 

Eiland-styl

Vir die eilandblad is Dekton in die kleur Kira gebruik. “Dekton is ’n kombinasie van kwartsiet, porselein en glas wat teen uiters hoë temperature verhit en gekompakteer word,” verduidelik Gerrie. “Dit maak die oppervlak baie sterk en uiters duursaam.” Die ander werkoppervlakke is Caesarstone in die kleur Moorland Fog.

Die eikehout-elemente, soos die eiland se laaie, is afgewerk met Rubio Monocoat se natuurlike olie-verseëlaar. Die minimalistiese afwerkings en kaste sonder handvatsels pas perfek by die gesin se ongekompliseerde dekorstyl.

’n Nuwe kruidenierskas was heel bo-aan Riëtte se prioriteitslys. “Ek verpes dit om kos agter in ’n onderste kas te moet soek en het daarom besluit op ’n lang kas met laaie – dis baie meer prakties.” ’n Keramiekwasbak sorg vir ’n tikkie kleur in die andersins neutrale kombuis en die koperkraan is nommerpas hierby. “Ek wou graag iewers in die kombuis ’n Mexikaanse of Portugese ontwerp inbring omdat ek so dol is oor die kleure van dié lande,” vertel Riëtte. “Die ou en meer kontemporêre artikels werk vir my goed saam.” Talavera-spoelbak van Hadeda; koperkraan van Copper Bath

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

Copper Bath 021 448 2884

Hadeda 011 788 9859

Reclaimed Woods 082 586 7189

Upfront Design

Ontblote dakbalke skep ekstra ruimte in die Worsts se kombuis. Die kroegstoele en hanglampe bo die eiland sorg vir tekstuur. Kroegstoeltjies van Decofurn; hanglampe van MRP Home

7 Sonder fieterjasies

Met drie kinders in die huis is daar altyd ’n gedruis om die kombuiseiland van Christo en Yolande Worst se huis op Yzerfontein. “Dis waar die kinders – Mila (16), Christo (4) en Stian (2) – hul huiswerk doen of sit en teken, en natuurlik waar ons kosmaak,” vertel Yolande. “Ander kere sit ons sommer net met ’n koppie koffie en gesels.”

Toe die gesin vroeg in 2018 hier ingetrek het, het hulle minimale veranderings aan die kombuis gemaak. Die aardse afwerkings was nommerpas vir hul stylvoorkeure. “Die sementvloere is prakties en so maklik om skoon te hou, veral in dié fase van ons lewens,” sê Yolande. Die Worsts het aanvanklik oorweeg om deure voor die oop sementrakke aan te bring, maar het uiteindelik daarteen besluit. “Die kleintjies het gelukkig gou geleer om die goed op die rakke uit te los!”

Die Worsts het hul stempel op die kombuis afgedruk met ’n paar klein veranderinge, soos nuwe hanglampe, verf en ’n versameling borde as spatpaneel agter die stoof. “Ons leef sonder fieterjasies. Ons geniet kosmaak en onthaal graag vriende en familie.” sê Yolande. “Dis waar ek op my gelukkigste is.”

Eiland-styl

• Die betoneiland is afgevlak met Cemcrete Satincrete in die kleur Bone. “Gebruik ’n sterk verseëlaar op ’n kombuisblad, want dit verduur baie meer slytasie as die meeste ander oppervlakke,” is Joanne Sykes van Cemcrete se raad. Sy stel voor jy wend eers Cemcrete SiloconSeal aan tot die sement goed deurdrenk is, gevolg deur drie lae CreteSeal Solvent-Based Sealer. Selfs dan moet ’n mens nie baie warm artikels direk op die blad neersit nie.

• Die Worsts het dié aanhaling op die kombuiseiland saam met die huis geërf, en Yolande voel dit pas perfek.

Tikkies groen in die vorm van verf en plante gee lewe aan die opwaskamer.

/

Yolande het kleur by die kombuis ingebring met ’n poeierblou stoof en ’n versameling blou-en-wit borde teen die muur daarbo. “Ek is dol oor kleur en my oog vang enigiets wat blou en wit is. Die borde is oor jare versamel. Nou werk dit so mooi in ons huisie by die see!”

Kennersraad

Daar’s verskeie maniere om ’n sementrak te bou, maar die volgende twee metodes is waarskynlik die maklikste as jy dit self wil doen, sê Karin Cronjé, eienaar van Hands On Creative Building & Management:

Jy kan lateie gebruik waaroor jy ’n sementlaag giet om die groewe te vul en dit afwerk tot ’n gladde oppervlak, of jy kan bekisting (’n houtboks) bou waarin jy versterkingstaal weef, en dit dan met ’n liggewig-betonmengsel vul. In so ’n mengsel word die klip met ’n ligte materiaal soos vermikuliet vervang dat dit nie so swaar is nie. Hoewel lateie baie sterk is, word dit nie aanbeveel om ’n rak oor meer as 2 600 mm tussen twee mure te laat span nie. Die inbou van lateie tussen twee mure is wel ’n maklike en vinnige proses, maar die breedte en dikte van die lateie beperk jou opsies. ’n Rak is gewoonlik 280–350 mm diep, terwyl standaard-lateie ’n dikte van 75, 105 of 150 mm het – en jy kan nie ’n latei dunner sny en langs ander plaas vir ’n bepaalde rakdiepte nie.

Met die bekistingsmetode is daar geen beperkings op die diepte, breedte of lengte van jou rak nie – solank jy voldoende staal inweef. Die enigste nadeel van dié proses is dat jy met groot hoeveelhede nat beton gaan werk en die droogwordtyd veel langer is as met lateie. Onthou, sementoppervlakke is geneig om krakies te ontwikkel. Solank dit haarlynkrakies is, is daar niks om jou oor te bekommer nie, dis deel van die voorkoms. Besprinkel die afgewerkte oppervlak gereeld met water terwyl jy wag dat dit droog word – dit verhoed dat die sement te vinnig uitdroog en dan nie sy volle sterkte bereik nie.

KONTAK 083 277 3166, karin@handsoncreative.co.za

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

Cemcrete 0860 236 2738

Decofurn 087 740 1800

MRP Home 0800 212 535