Foto’s Francois Oberholster

In die winter hou ’n mens mos van lekker gesellige kuiers in ’n warm, aanloklike ruimte. Maar moenie stres as jou sitkamer daar koud en droewig uitsien nie – jy kan dit ’n splinternuwe voorkoms gee met ’n bietjie moeite én min geld. Besluit eenvoudig op jou styl, volg ons raad en maak jou vertrek ’n treffer!

Dis mos kuns dié!

Mooi muurkuns hoef nie jou sak te ruk nie. Ons het by ’n tweedehandswinkel afgekom op ’n ou boek vol afdrukke van bekende kunswerke – teen ’n winskoop. Ons het die prente uitgeknip en ’n eenvoudige galery geskep deur dit met veerklemme teen die muur te hang.

Mandjies is ’n tydlose opsie vir bêreplek en gee tekstuur aan ’n vertrek. Gebruik dit om ekstra dekens, tydskrifte of kinderspeelgoed uit die oog te hou.

Met ’n laag verf ...

Dit het net ’n bietjie verf gekos om dié ou sitkamer met sy vuil roomkleur mure en saai baksteen-kaggelrand nuwe lewe te gee. Die mure, plafon en kaggelrand is wit geverf om die ruimte op te helder. Ons het toe ’n dramatiese fokusmuur met Dulux Inky Pool 1 geverf. ’n Groot verandering in ’n kits!

’n Lelike, oudmodiese gloeilamp in die retro-hanglig is vervang met ’n oorgroot Edison-koolstoffilamentgloeilamp. Dit gooi sagter, warmer lig en lyk stukke beter. ’n Lessenaarlamp langs die sytafel bied ekstra lig vir wanneer jy wil lees of televisie kyk.

Oulap se rooi

Bal-en-klou-meubels is wyd beskikbaar en ook nie te duur nie; gaan soek aanlyn of snuffel bietjie rond in Ouma se garage, dalk sien jy iets waarvan jy hou. Ons het dié tafeltjie ’n vurige voorkoms gegee: Die pote is voorberei met Dulux Supergrip en toe geverf met Dulux Pearlglo Waterbased Enamel in die kleur Volcanic Splash 2. As jy kans sien, kan jy die hele tafel rooi (of in die kleur van jou keuse) verf.

Dié muur is versier met twee skilderdoeke waarop ’n 11-jarige seun sy kunsstempel afgedruk het. As die gedagte van ’n kind met ’n verfkwas jou benoud maak, skep gerus jou eie meesterstuk!

Onder die voete

Die enkele kelim wat voorheen onder die koffietafel gelê het, het feitlik verlore geraak in die ruimte en nie regtig warmte verleen nie. Omdat ’n groter mat duur kan wees, stel ons die volgende voor: Kies ’n paar kleiner matte en werk dit met rooi draad en ’n kruissteekpatroon aan mekaar. Herbenut matte wat jy klaar het, of brei jou versameling uit.

Droommooi

Sagte wit voile is bekostigbaar; gebruik lengtes van dié romantiese materiaal vir gordyne. Sny dit eenvoudig in die regte grootte, soom dit om sodat dit nie uitrafel nie en hang dit met klein veerklemme aan die gordynstokke.

Wenk

Die gordynstokke is net onder die plafon geïnstalleer; dit beklemtoon die hoogte van die vertrek.

Witwarm idee

Die kaggel se baksteenomranding is geverf met Dulux Pearlgo Waterbased Enamel in wit. Nie net kikker dit die bakstene op nie, dit staan ook mooi uit teen die blougroen fokusmuur. Omdat die kaggel se skoorsteen toegebou is, het ons ’n elektriese kaggel geïnstalleer. Dit lyk én werk perfek!

Die afwerking

Voltooi die prentjie met strooikussings, dekens en ornamente. Hergebruik ou ornamente en uitstalgoed of soek oulike items by tweedehandswinkels en markte.