Gebruik hout – in al sy soorte, kleure en teksture, verwerk en opgetel, laag op laag en in kombinasie met ander materiale – om ’n ryk dimensie aan jou dekor te verleen ...

’n Magiese muur

010214TSM036.pdf

Houtpalette en stellasieplanke is groot nuus in interieurs, aangesien dit bekostigbaar en ekovriendelik is en op verskeie vernuftige maniere gebruik kan word. Daniel Holland, eienaar van die koffiewinkel Yourstruly in Kaapstad, het besluit om hout ’n ereplek in sy winkel te gee deur byna al die oppervlakke daarmee te bedek. “Ek het die hout onafgewerk gelos omdat ek hou van die onvolmaakthede – mense kan maar daarop krap of koffie daarop mors, want dit word eenvoudig deel van die voorkoms,” vertel Daniel. Hy het meubels van verskillende houtsoorte gekombineer vir ’n gesellige, eklektiese gevoel, en die illusie van hoogte geskep deur die houtbekleding tot teen die plafon te installeer.

In alle eenvoud

010214TSM037.pdf

Gebleikte hout is kenmerkend van die onderbeklemtoonde Skandi-voorkoms. Beklee gerus ’n hele muur in ’n oorgroot visgraatpatroon vir trefkrag, soos die span van Father Coffee in Johannesburg gedoen het. “Ons het witels gekies vir die kenmerkende kleur en tekstuur, asook die gehalte,” verduidelik Nicholas Christowitz wat die ruimte saam met sy vennote, Barry Weedon, Angie Batis-Durrant en Chad Goddard, ontwerp het. Hulle het ’n stelbou-firma gevra om die projek te behartig. Die belangrikste aspek is om die dekor minimalisties te hou en op die natuurlike teksture, gedempte tone en rou materiale te fokus ten einde dié tradisionele patroon ’n moderne kinkel te gee.

Koel kratte!

010214TSM038.pdf

Theo van Niekerk het inspirasie geput uit sy grootouers se gesellige plaashuis in die Oos-Vrystaat om ’n warm, huislike interieur in sy koffiewinkel, Tamboerswinkel, te skep. “Die krat-rakke is my trots,” sê Theo, wat dié treffende en nuttige eenheid van ou houtkiste gemaak het vir uitstalplek. “Ek is nie ’n houtwerker nie, maar wanneer ek die slag met hout werk, geniet ek dit,” sê Theo, en merk dat dié eenheid ’n wonderlike projek is vir mense wat nie gekonfyt is in houtwerk nie of wat net die nodigste gereedskap het. Dis eenvoudig: Maak ’n rugraam van Supawood en skroef dit teen die muur vas; skroef dan die kratte aanmekaar vas om ’n rakseksie te vorm, en skroef dan al die seksies aan die rugraam vas. “Die beste raad wat ek oor hout gekry het, was: ‘Meet twee keer, saag een keer.’ ”

’n Tweede kans

010214TSM039.pdf

Afvalhout is altyd beskikbaar om pragtige en besonderse stukke mee te skep, mits jy bereid is om rond te snuffel en jou moue op te rol. Dis presies wat Jessica Bonin, die eienaar van Lady Bonin’s Tea Parlour, gedoen het toe sy haar teekamer ontwerp het. “Dit was vir my belangrik om verantwoordelik en met respek teenoor die omgewing op te tree en daarom wou ek soveel herwinde hout moontlik gebruik,” sê Jessica. Haar muurrakke is alles afvalhout – kiaat, eike-, swart- en bloekomhout. “Ek het verlief geraak op die verskillende vorms en skakerings,” sê sy Jessica, wat besluit het om die werkblaaie met ’n natuurlike mat vloerlakvernis, wat geen chemikalieë bevat nie, te seël; die res van die hout is natuurlik gehou. Haar raad is om droë hout te gebruik wat nie sal krom trek weens vog wat daarin vasgevang is nie; as die hout pas gekap is, moet jy dit so spoedig moontlik vassit om te keer dat dit bak trek.

010214TSM034.pdf

ONTHOU Wees op die uitkyk vir myte of goggas wat in hout nesmaak; ’n duidelike teken is klein hopies “saagsels”.