’n Gesoute binneontwerper wys hoe om ’n huis propvol persoonlikheid en kleur te skep – al is jou plek hoe klein.

Deur Beatrice Moore-Nöthnagel • Foto’s: Francois Oberholster • Stilering: Simone Borcherding

0714DECgunther-027

Die roos-seildoeke is Designers Guild-lap wat Salomé oor skilderrame laat span het – dit pas perfek by die kleurskema.

Maroen mure, blou deure en ’n pienk grensmuur – wie’t gesê jy moet altyd neutrale kleure in ’n klein ruimte gebruik? Beslis nie die ontwerper Salomé Gunter nie. Sy het onlangs ’n nuwe hoofstuk in haar lewe begin toe sy ’n piepklein huis in ’n stil straat op Franschhoek gekoop het.

Dit volg nadat sy en haar man, Willem, hul hoogs suksesvolle “naweek-besigheid” – ’n restaurant, verblyf- en trouvenue onder die vaandel Café Felix & Old Oak Manor House – op Riebeek-Kasteel verkoop het. “Ons het daarna gesmag om ons privaatheid terug te kry en dis presies wat ons in hierdie nuwe naweek-wegbreekplek gevind het,” vertel Salomé. Hulle kon die huis, op ’n erf wat in die proses was om onderverdeel te word, vir ’n billike prys aanskaf, omdat nie baie kopers die potensiaal van die eiendom kon raaksien nie. Die Gunters se nuwe huis was die oorspronklike skuur op die perseel, maar is toe reeds deur ’n argitek in ’n woonplek omskep.

Salomé het weer haar besigheidshoed opgesit en die erf nie net vir eie gebruik ingerig nie, maar ook so ontwerp dat sy dit aan toeriste kon verhuur onder die naam Bedside Manor. Sy verduidelik sewe ontwerpbeginsels waarvolgens jy ’n huis van skaars 100m2 propvol persoonlikheid én prakties kan inrig.

1. Al die kleure van die reënboog

Die meeste van ons is maar skrikkerig vir helder kleure, maar Salomé is ’n groot voorstander daarvan. “Kleur het ’n massiewe uitwerking op jou psige – dis ’n komplekse en dinamiese weten- skap. Ek het eenkeer ’n blou sitkamer in ’n oorsese tydskrif gesien en die heerlikste gevoel gekry – daarna móés ek eenvoudig net so ’n vertrek hê! ’n Ander keer het ek ’n massiewe skuurdeur in maroen as voordeur by ’n gastehuis in Frankryk gesien, wat net so ’n groot indruk op my gemaak het.”

Wit is ’n veilige kleur, maar ’n mens hoef darem nou ook nie altyd alles wit te verf nie. Hoewel dié huis binne wit is, was die stoep die ideale plek om met kleur te speel omdat dit so ’n warm, knus gevoel skep saam met die kaggel in die winter. Ook buite is kleur ingespan: Wit was eenvoudig nie ’n opsie vir die grensmuur nie omdat die blikkering weens skerp sonlik jou oë sal seermaak – pienk werk perfek! “Dit maak my sommer gelukkig net om daarna te kyk.”

outside

2. Kuierstoep

In ’n klein huis is dit belangrik om soveel ruimte as moontlik te probeer wen. ’n Stoep wat andersins net in die somer en op warm wintersdae gebruik sou word, is nou ’n tweede kuierplek ná dit met groot glasdeure en -vensters toegebou is. Omdat daar nie plek vir ’n eetkamertafel in die huis is nie, dien dié vertrek nou as onthaal- én eetplek. Salomé pas maklik agt mens hier in wanneer sy onthaal – nie rondom ’n eetkamer- tafel nie (daarvoor is die stoep te nou), maar met genoeg sytafeltjies om gesellige kuiers te verseker. Die rietplafon en natuurlike grasmat is tipies Kaaps; dit bied hope tekstuur en skep steeds ’n buitegevoel.

stoep

’n Klein eet-en-werkhoekie vir iemand wat op ’n koue dag binne wil wees. Die pragtige afdruk is van Pezula Interiors, terwyl die katrol-lig by Salome Gunter Interiors bestel kan word.

3. Moenie dat ’n styl jou bind nie

As jy nie weet by watter styl om te begin nie, koop meubels en bykomstighede tipies van die streek waar jy bly. Dit sal jou gou op die regte spoor sit. Dis juis daarom dat Koöperasiestories een van Salomé se gunsteling-winkels is – al die voorraad kom van Franschhoek of uit die Kaap, en daarom werk dit in haar huis. Verder meng sy graag oud en nuut. Want hoewel nuwe rusbanke altyd ’n goeie idee is omdat dit lekker groot en gerie ik is, is sy versigtig vir te veel moderne meubels saam. Los matte en diervelle is ’n moet. “Dit is ‘super-internasionaal’ en jy kry dit van Italië tot in Afrika,” verduidelik sy. “Ek is mal oor ’n vel: Dis sag onder die voete en verskaf tekstuur en kleur.”

0714DECgunther-013

Die glasbottels bo-op die houtkas is van Koöperasiestories net buite Franschhoek, waar Salomé graag inloer. Dit skep ’n vintage-gevoel met die gasproppe bo-op.

kitchen

4. Speel met kuns

Wat maak ’n huis interessant? Die antwoord is eenvoudig: kuns, versamelings en unieke stukke van jou reise – saam met ’n stewige skoot speelsheid. Salomé is ’n groot voorstander daarvan dat jy jouself nie te ernstig moet opneem nie.

’n Goeie voorbeeld hiervan is een van Ann Gadd se kenmer- kende skapieskilderye – met ’n vuurpyl! Aangesien Willem ’n atoom sikus is, lok dit altyd allerlei kwinkslae onder gaste uit. Tog hoort dié speelse skildery tuis langs die waardevolle Pierre Volschenk. “Dit sal baie hartseer wees as jy niks in jou huis het wat jou laat glimlag nie. Dis hoekom dit so belangrik is om ietsie te koop terwyl jy reis. Want elke keer as jy daarna kyk, onthou jy weer daardie goeie tye.”

0714DECgunther-001

5. Meubels wat werk

Die beste raad vir ’n klein sitkamer is om die grootste rusbank moontlik aan te skaf. Dié bank met sy los oortreksel is ’n massiewe 2,5 m lank. Tog werk dit perfek. Nie net bied dit sitplek vir minstens drie mense nie, maar dit de nieer ook die verskillende ruimtes en skei die sitkamer netjies van die res van die huis.

Dis al ’n duisend maal gesê, maar ons sê dit weer: Meet, meet en meet weer voor jy koop. As jy ’n hoekbank koop is dit veral belangrik om nie net die “L”-vorm te meet nie, maar die hele vierkant wat die bank sal vorm as jy die kof etafel-en-voetruimte in ag neem, is Salomé se raad.

0714DECgunther-016

In die neutrale sitkamer sorg geel strooikussings en die heldergeel Smeg- yskas – Salomé se gunsteling – vir spatsels kleur.

6. Dromerige slaapkamers

Die twee slaapkamers is rustig, dog interessant en propvol tekstuur. “Jou reise gee beslis ’n diepte aan jou lewe en daarom is ek so lief om altyd iets op ’n ander plek te koop. Die plakkaat teen die muur het ek byvoorbeeld in ’n eiendomsagent se venster in Uzés in Frankryk raakgesien. Ek wou dit summier koop, maar het dit present gekry. Terug in Suid-Afrika het ek dit laat vergroot en geblok – dit skep sulke lie ike herinneringe.” Selfs die klein badkamer het verskeie interessante elemente soos die muurpaneel van Koöperasiestories wat teen die muur vasgesit is, strepe bygekry het en nou as hangplek vir handdoeke dien. “Sit altyd iets interessants in jou badkamer,” sê Salome.

bedroom

Jou reise gee beslis ’n diepte aan jou lewe en daarom is ek so lief om altyd iets op ’n ander plek te koop.

bathroom

Salomé is mal oor die toiletrolhouer van dryfhout wat heelpad van Île de Ré aan die kus van Frankryk kom.

storage

7. Wyk buitentoe

As jy nie meer plek binne het nie, dan moet jy maar uitbeweeg tuin toe. Ons bly immers in Suid- Afrika en is mos lief vir buite kuier. Dié “somerhuis” is oorspronklik as stalletjie vir Salomé Gunter Interiors by Decorex gebou, met pragtige, duur antieke vensterrame – die ideale tuinhuisie vir haar Franschhoek-huis! Dit was aanvanklik in ’n modieuse grys geverf, maar die kleur het net nie gewerk in die tuin nie. En wit sou net ’n seeroog wees. “Toe dink ek: Hoekom nie ook rooi en blou nie? Dit het ’n sinkdak en ons het ’n afdak van latte opgesit – die perfekte ‘somerhuis’!”

0714DECgunther-017

’n Ou Wendyhuis is waar almal in die somer uitspan en eet. Die pragtige lap is van Masquerade.