Foto’s Sally Chance en Tyrone Bradley • Stilering Jana-Marie Hey

Sue de Witt se pragtige hout-kunsblokke is helder en speels – baie soos haar kleurvolle klein huis op Pinetown. Sy en haar man, Pierre, en die kinders, Sally en David, het in April 1979 hier ingetrek, en hoewel hulle oor die jare aangebou het, is dit steeds ’n beskeie 137 m2. “Die gebrek aan ruimte het effens gepla terwyl die kinders grootgeword het, maar nou is dit piekfyn – hoewel ’n groter kombuis welkom sou wees!”

0315DEKdewitt-pinetown-1

0315DEKdewitt-pinetown-2

In ’n klein huis dien ’n leefvertrek dikwels ook as werkarea. Hier lok ’n muur vol kunswerke die aandag weg van die lessenaar en maak dit meer deel van die leefruimte. Die prent van die jakkals (bo links) is deur Wonder Meyer, die windpomp, swaan en voëls op ’n draad van Terry Angelos; die bedrukte blokke is Sue se handewerk terwyl die takbok-plakkaat uit die Australiese tydskrif Frankie kom. Die houtbeeldjies is van Ikhaya.

Die lasergesnyde houttakke teen die muur was voorheen swart, maar Sue het hulle geverf. Sy het verskeie wit versamelings wat ’n koel atmosfeer skep in die warm, bedompige Durbanse klimaat; dit vorm ook die perfekte agtergrond vir haar kleurvoller versamelings. “Alles lyk goed saam met wit!” lag Sue. Wit en helder kleure werk perfek saam teen ’n muur in ’n klein ruimte.

Oop leefruimtes

Die De Witts het ’n paar jaar gelede die mure tussen die leefvertrek, die gang en die kombuis uitgebreek sodat die huis nou ’n oop, lugtige gevoel het. Tog moet Sue en haar gesin steeds die meeste maak van die ruimte waarin hulle woon.

In die leefvertrek word die eetkamertafel ook vir materiaal knip gebruik, want wanneer Sue nie besig is met haar kunswerke nie, doen sy naaldwerk. Die lessenaar in die hoek is netjies en sonder tierlantyntjies.

“Ons het gemaklike banke vir TV kyk; dit het los oortreksels wat maklik gewas kan word – ’n moet met vier honde in die huis: die spanjoele Ruby en Rusty, Peanut, die Jack Russell en Pokit, die optelhond wat baasspeel op die werf.

En omdat dié vertrek ruimte het, word linne gebêre in ’n ou kas wat ook diens doen as TV-kabinet.

Elke duim tel

Die huis het net enkele ingeboude kaste, maar verskeie losstaande eenhede bied oorgenoeg bêreplek. In die kombuis is die enigste ingeboude kabinet onder die wasbak; ’n ou klerekas het rakke gekry en dien nou as kruidenierskas – en ’n vintagekas is die uitstal- en bêreplek van Sue se versameling wit keramiekware.

“Ons gebruik elke duim om goed in te bêre sodat Pierre genoeg werkspasie in die kombuis kan hê – hy’s die kok, terwyl ek opruim en wegpak. Potte en panne kom in ’n dieneenheid onder die werkblad, terwyl toestelle soos die vrieskas na ’n werkarea in die motorhuis geskuif is – dis lekker naby die kombuis.”

0315DEKdewitt-pinetown03

Oop rakke in die kombuis bied pakplek vir alledaagse gebruiksgoed, sowel as uitstalruimte vir versamelings.  Sue het ’n paar jaar terug haar Oregondennehoutkas vir dié pragtige blou kombuiskas by ’n plaaslike tweedehandswinkel verruil. Sy versamel nou al jare lank bekers, juis om bo op die kas uit te stal; maar sy glo haar versameling is nou volledig.

Op die rak

Die gebrek aan spasie ten spyt hou Sue van bymekaarmaak. En sy stal graag alles uit – van Kimmi-poppies en keramiekvase tot vintage-spieëls. “Ek is dol op ou goed, en daar’s vir my niks lekkerder as om op ware skatte af te kom terwyl ek deur tweedehands- of welsynswinkels snuffel nie. As vrywilliger by die Highway-hospieswinkel het ek al die mooiste goed op hul veilings raakgeloop.”

Gelukkig is Pierre en David albei kranige houtwerkers; hulle pas al wat boekrak en kas is aan of maak nuwes sodat elke kunswerk, pot of boek ’n spesiale plekkie kry.

Danksy wit mure, gordyne en rusbanke kom elke ding tot sy reg en bots niks met mekaar nie.

0315DEKdewitt-pinetown-4

Die bed, bedtafeltjies en spieëltafel kom alles uit tweedehandswinkels; die gehekelde deken was ’n vonds by ’n welsynswinkel. Bo die bed hang nog van Terry Angelos se kunswerke.

0315DEKdewitt-pinetown-5

KLOKSGEWYS VAN LINKS BO Sue met twee van die vier honde, Pokit en Rusty; die wit swane is oor 10 jaar bymekaargemaak; selfs die koekoekhorlosie het ’n leksel verf gekry; ou trofeë en vase word maklik in iets besonders omskep deur net blomme daarin te sit. Sue het nog ’n hele klomp wat in die motorhuis weggepak is, almal tweedehandse vondste, net soos die koperskinkbord; Sue verander haar dekor gedurig, soos die rugkant van die vertoonboks met die houtbeeldjies van Ikhaya; in die naaldwerkkamer word ou garetolle en kant in glasflesse gebêre en uitgestal; haar versameling Kimmi-poppies.

0315DEKdewitt-pinetown-6

Sue hou van los oortreksels, want sy maak dit self en kan hulle maklik afwissel.  Met die tafel teen die stoeprand word die ruimte ten beste benut. Terwyl gaste aan die ander kant en die koppe sit, kan hulle die uitsig op die tuin geniet. Die bont kussingoortreksels is lapmonsters wat Sue eenvoudig aanmekaargestik het.

Van binne na buite

’n Knus stoep verbind die huis en die tuin. “Dis net 1,8 m breed, maar 10 m lank sodat ons smal eettafel en rusbank heel gemaklik daar pas. Dit skakel perfek by ons binne-buite-leefwyse in danksy ’n skuifdeur wat toegang uit die kombuis vergemaklik. Pierre het die dek self sowat 10 jaar gelede gebou,” sê Sue.

In die groot agtertuin het hulle verskeie plantbokse vol groente. “Dis darem lekker om net in die paadjie af te stap vir vars slaaiblare en roket. Ons kweek preie, seldery, boontjies, sprietuie en heelparty rissies, asook verskeie kruie. Pierre lê graag die jalapeño’s in of maak vir ons brand happies daarvan.”

VERSKAFFERS EN KONTAKTE
  • Terry Angelos 061 677 8877, terryangelosart.com
  • Highway Hospice 031 208 6110, hospice.co.za
  • Ikhaya 084 360 2246, ikhayastore.com
  • Sue de Witt 084 500 6919
  • Wonder Meyer wonder-meyer.blogspot.com