0715DECriebeeck-web1

Toe Suzanna du Preez tien jaar gelede haar huis in die ouwêreldse Swartlandse dorpie Riebeek-Kasteel koop, was dit net ’n vervalle stoor en motorherstel-werkwinkel. Toe het niemand geglo dié eens afgeleefde skuur in die skadu van die Kasteelberg sou kon lyk soos vandag nie. “Maar sy’t my hart gesteel die oomblik toe my oë op haar val,” sê Suzanna. Sy het in die somer van 2007 aan die huis begin werk – volgens inwoners die warmste somer in 50 jaar – en onthou hoe drie ou bome in die agterplaas lafenis aan die werkers gebied het op lang, warm middae.

Die huis dateer uit 1932, en die oorspronklike struktuur was ’n oop skuur wat ene Gert Gagiano vir sy beeste en skape gebou het. Hy het die langwerpige gebou met sinkplate bedek om stof, vlieë en die son uit te hou. Dit het later ’n tabakwinkel geword en toe Suzanna die eiendom koop, het daar varke in die agterplaas tussen motoronderdele rondgevroetel.

Ná maande se harde werk was Suzanna se stowwerige skuurtjie ontslae van al sy vreemde reuke, skarrelende muise en spookagtigheid. Dis vervang met wit sinkplaat-mure, flambojante hortjies en ’n lushof van ’n tuin waar vriende graag kuier. En as Suzanna nie hier is nie, verhuur sy die huis as selfsorg-verblyf onder die naam Tin House.

"Min het Gert Gagiano in die dertigerjare, toe hy hierdie nederige skuilplek vir sy beeste gebou het, geweet hy lê die fondament vir iemand anders se droomhuis", sê Suzanna.

0715DECriebeeck-web6

0715DECriebeeck-web7

Sielskos

Die kombuis, wat van nuuts gebou is, is nou een van die huis se hoogtepunte. Eintlik bestaan dit net uit twee ou slagtersblokke, ’n verskeidenheid losstaande meubels en rakke gemaak van afgewitte steierplanke wat pakplek is vir kruie, speserye en breekgoed. Suzanna onthou: “Die kombuistafel is ’n kosbare stuk van Oom Koos, ons melkman toe ek en my eksman en ons kinders op die Uitkyk wynlandgoed naby Stellenbosch gewoon het. Hy het allerhande meubels aangedra wanneer een van sy familielede afgesterf het. ’n Dierbare mens.”

Langs die kombuis is ’n knus sitkamer kompleet met ’n Victoriaanse kaggel wat Suzanna wintermiddae aansteek. “Ek sê altyd vir gaste ek kan nie verantwoordelik gehou word vir wat dalk nege maande later kan gebeur nie – dis die perfekte plek vir lepellê by kerslig,” skerts sy.

Op die stoep by die swembad staan ’n 10-sitplektafel wat voorheen ’n regter se lessenaar was. Oor hom is al baie vonnisse opgelê. “Die tafel het penmerke op en ek kan my net indink hoe die beskuldigde sy naels kou en die pen in die hout druk voor hy sy lewe wegteken,” erken Suzanna. Dié ruimte onder ’n wingerdbegroeide afdak het Suzanna die geleentheid gebied om nog ryk teksture in te bring met kunswerke, sagte meubels en kandelabers. “Dis vir my so lekker om hier te sit en die tuin en bome te geniet,” sê sy.

0715DECriebeeck-web2

0715DECriebeeck-web10

0715DECriebeeck-web11

Uitgebreide versameling

Suzanna is ’n ywerige versamelaar en haar gunstelingtydverdryf bereik in die winter ’n hoogtepunt: “Ek is dol daarop om by tweedehandswinkels in te loer – veral op reëndae – en na skatte te soek.” Haar shabby-sjiek huis is vol verweerde maar geliefde artikels wat sy oor baie jare versamel het. Baie van die items het sy saamgebring uit Duitsland, waar sy en haar gesin amper agt jaar in Bonn gewoon het.

Dis ’n viering van teksture: Hout en fluweel meng met kristal en sement en skep saam ’n warm en gesellige huis. “Ek is ook dol oor rose. Toe ek hier intrek, het my seun vir my twee pragtige roos-portrette gegee, waarna ek pienk items begin versamel het wat nou deur die hele huis pryk.”

0715DECriebeeck-web9

0715DECriebeeck-web5

0715DECriebeeck-web4

Nuwe hoogtes

Suzanna het nog altyd gedroom van ’n huis met ’n trap wat na ’n oulike solderruimte lei. Toe sy dus die eerste keer by die skuur inkyk en ’n gehawende trap sien wat in ’n stowwerige solder eindig, het sy dadelik gedink aan ’n heerlike solderkamer met uitsigte oor die aangrensende Het Vlockwingerde.

“Vandag het ek ’n pragtige ou houttrap van Oregondenneplanke wat uit ’n kerk in Kaapstad herwin is, met ’n galery van ou landskappe teen die muur,” sê Suzanna. Al was die hout in ’n goeie toestand, het ’n verftegniek in ’n sagte geel dit in ’n regte fokuspunt omskep. “Houtliefhebbers is gewoonlik omgekrap wanneer hulle sien hoe ek dit geverf het, maar ek is dol oor hoe die tegniek dit omskep het in iets wat nou honderd jaar oud lyk,” vertel Suzanna laggend.

Aan die bopunt van die trap is ’n vertrek wat so sjarmant is dat ’n mens skaars die gebrek aan kopruimte opmerk. Die koperbed, getooi in katoenperkal-beddegoed met ’n 300-draadtelling, het Suzanna by ’n tweedehandswinkel se sluitingsuitverkoping gekoop.

Die elegante bal-en-klou-bad in die en suite-badkamer het nie naastenby so gelyk toe Suzanna dit oor die telefoon gekoop het nie. Die verkoopsvrou se beskrywing – ’n “militêre bad” – het haar verbeelding geprikkel. Toe dit hier aankom, was dit in ’n toestand – geroes en sonder pote. “Dit was ’n stryd om die bad so wit en pragtig te kry, maar ek gooi nie tou op as ek ’n spesifieke voorkoms in gedagte het nie,” sê sy tevrede.

Suzanna se dekorwenke

• Sorg dat jy ’n visie en einddoel in gedagte het wanneer jy jou huis oormaak; blaai deur tydskrifte en identifiseer aan die begin al jou styl.

• Moenie haastig wees nie; neem jou tyd en gee genoeg aandag aan elke vertrek en hoekie.

• Moenie te veel style probeer inbring nie; die meeste meubels behoort uit dieselfde era te kom. Gebruik gerus oud en nuut saam, solank een styl meer dominant is.

• Speel met kleur en tekstuur en herhaal elemente in verskillende vertrekke om ’n samehangende geheel te skep.

Die afwerkings

Verf Buitemure in Plascon White; deure en vensters in Plascon Sea Sphynx; binnemure in Plascon Dried Leaf. Vloere Cemcrete afvlaklaag in die kleur Cobble Milk. Kombuis Die houtmeubels is opgekikker met ’n verftegniek; ou steierplanke is afgewit en in rakke omskep om ’n shabby-sjiek voorkoms te skep. Staalwerk Gietyster-detail bo deure en vensters deur Tom Hancock. Meubels Meestal tweedehands met die klem op Art Deco.