#1 ’n Plek vir elke gier

Grootte: 25m2
Front: noordoos

Op Karien en Gerhard Basson se stoep in Midstream, Pretoria, gebeur die allerlekkerste dinge: Kersetes, kinderpartytjies en laataandkuiers met wyn by kerslig waar die wêreld se probleme opgelos word. “Ons stoep is die plek waar ons die beste herinneringe bou!” vertel Karien.

“Ons is mal oor alles wat Suid-Afrika bied en toe ons in 2009 laat bou het, was ons opdrag aan die argitek dat alles so oop moontlik moes wees, en dat binne en buite moes saamsmelt.”

Vandag kuier die gesin en hul vriende om ’n boma-vuurtjie vir ’n Bosveld-gevoel, geniet hulle ’n glasie wyn in die kelder vir ’n Kaapse geur en kuier hulle op die aangrensende dek onder die prieel of knibbel aan happies op die stoep. “Dit is wat die kuierplek interessant maak – hier is verskeie kuieropsies,” vertel Karien.

Dié slim beplanning van agt jaar gelede kon ook nie meer prakties wees vir hul drie besige seuntjies vandag nie: die tweeling Hein en Regardt (5) en Alexander (3). “Dié mannetjies glo al wat ’n mens binne-in ’n huis doen, is slaap,” skerts Karien.

Met die groot skuifdeure oop skakel die kombuis en leefvertrek naatloos met die stoep en die dek langsaan. Daarom het Karien besluit om die eetkamer op die stoep te maak. “Dis so maklik om in die kombuis te werskaf én steeds deel te wees van die kuier buite,” vertel sy.

Tafels en stoele van Weylandts; poewe van @home
Karien het haar dekorbykomstighede oor jare bymekaargemaak en op allerlei interessante klein plekkies gekoop. Ander, soos die pienk tafel en stoele, was eers haar ma s’n.
Oulike plan! Die kelder met sy waenhuisdeur bied privaatheid aan die stoep, wat aan die voorkant van die huis geleë is. Terra-Stone-teëls van Union Tiles; seile van Shadeline Awnings

Kaptein, span die seile

Seile is ’n maklike oplossing om buite-kuierplekke tydelik mee toe te maak. “As die seile oop is, is dit ons buitelug-eetkamer, maar op koue dae laat ons die seile sak en dan skep dit ’n aparte vertrek,” vertel Karien. Dié seile het ’n inhaakmeganisme onder wat keer dat dit in die wind wapper. In die winter maak ’n gasverwarmer die stoep warmer as wat die huis binne is. “Party aande, as ons ’n meer formele ete hou, dek ons ’n mooi tafel met kandelare, maak ons die seile toe en sit ons die feetjieliggies aan wat uit die dak hang. Dan voel dit soos ’n klein restaurantjie in die hart van Parys!”

Ontbyt is deesdae ’n hoogtepunt, want dis elke oggend ’n groot kompetisie om te sien wie eerste die houtkapper hoor of gewaar! – Karien

#2 Onder die bome

Grootte: 24 m2
Front: noord

Toe San-Marie en Derick Vogel die eerste keer na die huis oorkant die Durbanville Voorbereidingskool – deesdae hul kinders, Ben (8) en Kara (7), se skool – gaan kyk, het die groot bome op die ruim erf van 1 500 m² onmiddellik hul harte gesteel.

“Ek geniet die bome nog elke dag,” vertel San-Marie. “Dié kuierplek laat my skatryk voel!”

Met die intrekslag was die swembad en leiklipvloer reeds daar, ’n entjie van die huis af, maar verder nie veel van ’n kuierplek nie – net gras en ’n kruietuin.

Toe spring Derick self in en bou die braaiplek en afdak. “Dit het weliswaar ’n bietjie langer geneem as met kontrakteurs, maar nou is dit sy persoonlike ‘monumentale’ kuierplek!” skerts San-Marie.

“Ons stoep is ’n gemaklike spasie waar ons hele gesin, vriende en hul kinders saam kan kuier. Dit kry heerlike oggendson en in die laatsomer lieflike koelte.”

Die Vogels gebruik hul ruim braaikaggel van 1 m hoog en 1,7 m wyd op verskeie maniere – van braai en potjiekos tot ’n lam op die spit.

“Derick het ook hakies ingebou waaraan ons soms toutjie-hoender braai. Dit werk so: Jy maak eenvoudig ’n heel hoender aan ’n toutjie vas en dan draai hy so bo die kole tot hy gaar is – heerlik!”

Reg langs die braai is ’n oondjie, ook Derick se handewerk. “Ons het die oonddeur by ’n oom op Barrydale gekoop,” sê San-Marie. “Die oondjie is toe rondom die deur beplan. Ons het al pizza, skaapboud, varklende en brood daarin gebak.” 

San-Marie beskryf haar dekorstyl as “gemaklik”. Die kuierplek se kleurpalet is neutraal sodat sy dit telkens in ’n ander kleur kan opkikker. Derick het die tafel en bankies self gemaak; die koffietafel kom uit ouma Tossie, Derick se ma, se huis.
Stoele en kussings van MRP Home; tafeldoek van Udumo Designs

AFDAK MET GROENIGHEID

Vir die afdak is gewone houtbalke ingespan met sinkplate bo-op. Dis waterdig en bied genoeg skaduwee. “Die dak was maklik om te installeer en redelik kostedoeltreffend,” vertel San-Marie. “Ons swembad word verhit met waterpypies wat bo-op dié dak aangebring is. Weens al die bome was die swembadwater maar ysig voor ons dit begin verhit het.” Om die struktuur te versag en groenigheid in die somer in te bring, is drie wingerdstokke

geplant wat onder die dakplate rank.

#3 Plaasstoep

Grootte: 80 m2
Front: noord

Francois en Emsie Roets van die bekende Groeneweide-aarbeiplaas buite George kan saans heerlik op hul ruim stoep ontspan ná ’n dag se harde werk. Die huis word as’t ware omraam deur drie stoepe: die hoofstoep van 80 m² aan die agterkant (op die foto) wat skakel met smaller stoepe (10 x 2,4 m elk) aan weerskante.

“In die somer kuier ons heerlik aan die oostekant, en in die winter is die hoofstoep, wat noord front, die lekkerste,” verduidelik Francois. “Laatsomer is die westekant weer ons gunsteling-sitplek. Ons kry nogal sterk bergwinde en suidoostewind hier op George, daarom is dit belangrik dat jy skuif na waar jy beskut is.”

Hoewel Francois en Emsie die huis so gekoop het, pas die stoep perfek by hul leefstyl: in die somer vir onthaal, en in die winter vir sit en boek lees en gesels.

Maar hier is ook al musiekuitvoerings en troues gehou. Hoe dan nou anders met so ’n lieflike uitsig op die Suid-Kaapse berge en wild soos springbokke, njalas en sebras wat vrylik net ’n paar meter daarvandaan wei? “Laatmiddag, wanneer ons die vuur aansteek, is dit die rustigheid van die omgewing wat ons die meeste geniet,” vertel Francois.

Die
Die rolblindings is meer esteties as prakties, sê Francois. “Wanneer die witstinkhoutbome voor die stoep in die winter hul blare verloor, laat hulle lekker son deur, en in die somer gooi hulle ’n digte skaduwee.” Die mure en vloer is met Cemcrete afgewerk en lyk ná 14 jaar in wind en weer nog pragtig.
Francois en Emsie Roets

Ekstra lig

As jy ’n nuwe stoep met ’n dak daaroor aanbou, is dit noodsaaklik om die uitwerking wat dit op die aangrensende binneruimtes gaan hê, in ag te neem. ’n Soliede afdak kan die huis donker maak. Daarom is deursigtige dakplate die ideale oplossing: Dit verseker nie net meer lig buite op die stoep nie, maar ook binne. Op die Roetse se stoep verskaf ’n enkele strook deursigtige plate oor die aardse balke genoeg natuurlike lig.


#4 Soos ’n tuinhuis

Grootte: 32m2
Front: noord-noordoos

’n Ry stene vorm ’n noodsaaklike grens tussen die grasperk en die gruis. Dit lyk nie net mooi nie, maar skep definisie en hou die klippies en gras netjies uitmekaar.

Carina en Jurie Prins se stoep in die Paarl was ’n integrale deel van die beplanning van hul huis.

“Vir ons moes die stoep ’n binne-buiteleefruimte wees, ’n plek wat ons kan toemaak indien nodig, maar ook in die son kan sit,” vertel sy. “Ons stoep is ons kuierplek en dit is hier waar ek kan afskakel met ’n boek of tydskrif en net weer ‘mens’ kan word.”

Wat hulle die meeste van dié ruimte geniet, is dat alles kan oopmaak – nie net verbind die raamlose glasdeure die stoep met die tuin nie, die stapeldeure tussen die stoep en die sitkamer skuif ook heeltemal uit die pad. Dis nou oopplanleef tot die maksimum!

’n Sierlike ysterprieel vooraan die stoep se dak versag die oorgang tussen binne en buite met ’n wit bougainvillea en ’n Port St Johns-klimop (Podranea ricasoliana) wat daaroor rank. Saam met die hortjies en die rooi klinkerstene met wit sement tussenin skep dit ’n romantiese gevoel.

“Dit bied ook ekstra skaduwee en pas perfek by die atmosfeer van ons huis,” sê Carina.

Wat die dekor betref, was dit vir haar belangrik om die stoep informeel te hou. “Met die rankplante daaroor wou ek dit soos ’n regte ‘tuinhuis’ laat voel. En binne het ons ontblote, ruwe bloekombalke juis gekies om die natuur binnetoe te bring.”

Die
/
Carina

#5 In die Wildernis

Grootte: 56m2
Front: suid

Jill en Craig Marion leef so te sê dag en nag op hul veranda. En hoekom nou nie? Hulle word immers omring deur ’n deel van die Tuinroete Nasionale Park met sy ryk voëllewe en natuurskoon! “Ons slaapkamer maak op dié veranda oop en ons eet al ons maaltye hier, behalwe aandete in die winter!” vertel Jill.

“Partytjies hier is heerlik, want ons het genoeg spasie vir dans. Ons gebruik die stoep ook dikwels as tydelike kantoor – terwyl ons werk, kan ons kyk hoe die byevangers in die swembad duik!”

Jill beskryf die styl van die stoep as Suid-Afrikaans met ’n Mediterreense gevoel – ’n voorkoms waarvan hulle baie hou, aangesien hulle dikwels na Griekeland reis.

“Ek was my lewe lank nog ’n versamelaar van mooigoed en baie van my dekor kom van Australië, waar ons voorheen gewoon het,” vertel sy.

Met sy sinkdak wat aan die onderkant wit geverf is vir ’n ligte voorkoms, is die stoep heeltemal beskut teen die elemente. “Ons wou aanvanklik ’n Isoboard-plafon insit teen die hitte, maar het gevoel dit sou daardie tipies Suid-Afrikaanse kothuis-voorkoms bederf,” vertel Craig. “Gelukkig kan ons die hortjies aan die een kant oopmaak en dan is daar ’n heerlike bries.”

Jill en Craig het die hortjies by ’n antiekwinkel op Robertson raakgeloop toe hulle eenkeer van die Kaap af terug huis toe gery het. Dis geverf in Arapaho Valley van Duram. SLIM PLAN: Saam met die muur kon ’n dagbed ingebou word wat nou dié kant van die veranda anker en gerieflike sitplek bied danksy gemaklike los kussings. French Limestone-teëls van Wonder Rock
Die veranda kyk af op die binnehof met sy swembad en prieel. Craig en Jill gebruik dié deel ook graag vir partytjies en aandetes in die somer. Die groot Indonesiese spieël is meer as 25 jaar terug by die destydse Wetherlys gekoop; dit was jare lank binne die huis, maar Jill sê sy het nou die perfekte plek daarvoor gevind. En die Knysna-loeries kom bewonder hulself graag in die weerkaatsing!

Slim hortjies

Dié deel van die stoep was aanvanklik oop, maar omdat die koue seewind lastig was en die klammigheid die gestoffeerde meubels beskadig het, het die Marions besluit om dit toe te bou. Ter wille van ventilasie is wel ’n opening gelaat met groen hortjies daarvoor.

“Dis ’n praktiese oplossing,” sê Jill. “Ons is nogal verbaas dat die hortjies sonder ’n venster so te sê heeltemal waterdig is, want die ingeboude dagbed daaronder bly altyd droog.”

Ons het ’n reël in ons huis: Almal kan kom en gaan soos hulle wil, maar wanneer dit tyd is vir skemerdrankies moet almal op die veranda bymekaarkom! – Jill
VERSKAFFERS