Foto’s Francois Oberholster Stilering Marilize Spies

Dis ’n mite dat donker kleure ’n ruimte kleiner laat lyk. Dit gee eerder diepte aan ’n knap vertrek.

Marilize en Johan Spies het nog altyd daarvan gedroom om ’n ou huis in die Kaapse voorstad Boston te koop en reg te ruk. Die woonbuurt is sentraal geleë en gewild onder opknappers. In 2015 het hulle die groot stap gedoen en die trotse eienaars van ’n erg gehawende huis in dié buurt geword! Hulle wys solank hoe die kombuis en eetkamer nuwe lewe gekry het met verf in trendy skakerings van grys.

DIE PALET

1. Dulux Blackberry Farm 2. Dulux Dove Grey 3. Dulux Night Jewels 2

2016PAINT-marelize-kombuis-voor-en-na

paint, anthrasite, dining room, kitchen

Van lig na donker

“Die kombuis uit die vyftigerjare is nooit opgeknap nie en het nog presies gelyk soos toentertyd!” vertel Marilize. “Die outydse vinielvloere was plek-plek geskeur en die kassies was bruin met roomkleurige deure. Ons het besluit om die kaste te behou, maar die muur tussen die kombuis en eetkamer uitgebreek om ’n oopplan-ruimte te skep.”

Dit was heel toevallig dat Marilize en Johan op grys besluit het. “Ons het ’n antrasietkleur gasstoof gekoop en toe verlief geraak op die kleur. Ons moes dit summier op die kaste herhaal!” Ook die mure spog nou, soos die res van die huis, in ’n moderne liggrys baadjie, terwyl die teëls wit geverf is. Marilize het eers onderlaag met ’n sponsroller oor die teëls aangewend en daarna ’n oliebasisemaljeverf bo-oor geverf.

So tussendeur het sy ook die kombuistafel gekry wat sy nog altyd wou hê. Sy het die blad eenvoudig swart geverf en die pote wit – albei met PVA – en toe met ’n mat seëlaar afgerond.

“Die kombuis is wel nog nie klaar nie. Volgende wil ons die werkblaaie met hout vervang en ’n laboratoriumwasbak insit,” verduidelik Marilize.

paint, anthrasite, dining room, kitchen

2016PAINTmarelize2

Kom sit aan

Dit was nie net die kaste en teëls wat onder Marilize se kwaste deurgeloop het nie. Ook hul eetkamermeubels spog met ’n vars nuwe voorkoms. “Al die meubels, behalwe die eetkamertafel, kom uit ons vorige huis,” vertel sy.  “Dié tafel het ons by Nerf-af laat maak in dieselfde styl as die kombuistafel.

“Die kas waarin ek my eetgerei en tafellinne bêre, was voorheen ons TV-kas. Ek het dit swart geverf met PVA in Night Jewels 3. Nadat ek die rande effens afgeskuur het om so ’n bietjie verweer te lyk, het ek dit met ’n mat vernis geseël. Die kas het ook nuwe deurknoppe gekry.” Die eetkamerstoele het dieselfde swart baadjie gekry.

2016PAINTmarelize3

2016PAINTmarelize4

Die buffet teen die muur is ’n ou werkbank. Marilize het die hele struktuur, buiten die blad en sy basis, swart geverf. Johan het die rand met ’n verdiepskaaf afgerond en toe het Marilize die blad naaswit geverf met Dulux Chiffon White 1. Die groot apploustrekker is die blad se basisrand. “Dis met servette gedoen!” vertel Marilize laggend. Sy het bloot die servette in teëltjie-groottes geknip en toe met Podge vasgeplak en geseël. “Ek het die basis dieselfde kleur as die blad geverf. Omdat papierservette baie dun is, skyn dit maklik deur as jy dit Podge, en ek wou keer dat dit ‘geverf’ lyk. Maar ná vyf lae Podge lyk die servette nou kompleet soos Delft-teëls!”

"Swart, room, groen en ’n titseltjie blou sal maar die ding moet doen in ons nuwe huis," sê Marilize. "Op die oud end is ek mal oor die kleurkombinasies, veral by die houtvloer wat ons self afgeskuur het."

Werk só met grys

Jy kan enige saai vertrek in ’n romantiese Frans geïnspireerde lushof of ’n dinamiese werkruimte omtower deur die kontraswaarde – van lig na donker – tussen die mure en dekor aan te pas. So kan jy ’n subtiel romantiese eetkamer skep deur die mure, kaste en stoele te verf in skakerings van grys wat nie te uiteenlopend is nie. Kyk net hoe die verskillende grys tone in dié eetkamer die warmte van die natuurlike houtvloer en tafelblad uitbring. In die kombuis skep die groot kontras tussen die kaste, liggrys mure en swart-en-wit vloer weer ’n praktiese werkplek propvol energie.

– Sonica Bucksteg, Dulux-kleurkenner


VERSKAFFERS
  • Nerf-af 084 946 6326, nerf-af.co.za
  • Cardinal Flooring 021 945 4470, cardinalflooring.co.za
  • Fotakis Brothers 021 933 2620, fotakisbrothers.co.za