Sketse Robert Schultheiss van Out of the Blue Creative Communications, gebaseer op Maskam Water se stelsels

Suid-Afrika is ’n droogtegeteisterde land. Waar die gemiddelde globale reënval per jaar sowat 870 mm is, kry ons land maar 450 mm – dit maak ons een van die droogste plekke in die wêreld!

Dit is dus haas ondenkbaar dat ons toilette met suiwer drinkwater spoel. Die goeie nuus is dat tot 80% van jou huis se afvoerwater hergebruik kan word. Jy kan dié gryswater na jou toilet en tuin herlei – en selfs vir stort en wasgoed was gebruik – mits jy die regte stappe volg.

Het jy geweet?
Sowat 25% van ’n huis se totale waterverbruik word in die toilet afgespoel.

Die meeste mense vang sommer hul stortwater in ’n emmer op en spoel die toilet daarmee. Volgens Gerhard Cronje van Maskam Water, ’n markleier op die gebied van gryswaterstelsels, is dit die maklikste (en goedkoopste) manier om gryswater in jou toilet te kry.

“Gooi dit direk in die toiletbak onder, en nie in die spoeltenk nie,” sê hy. “Dit keer dat die gryswater terugvloei in die drinkwaterstelsel en dit besmet.”

Vir ’n meer formele oplossing, oorweeg ’n goedgekeurde installasie met ’n tenk en pomp, gebruik jou swembad as reservoir, of herlei boorgat- en/of reënwater na jou badkamer.

Wenk

Onthou: Vuil water uit die kombuiswasbak en skottelgoedmasjien staan bekend as swart water, en moet liefs vermy word weens die kosvette en -afval wat daarin is.

Hoe behandel ek gryswater?

Daar is verskeie metodes waarmee gryswater behandel kan word – sommige doeltreffender as ander. Gerhard Cronje verduidelik hoe:

  • Filters is noodsaaklik omdat afvalstukkies soos hare, vette en sepe pompe kan beskadig. Filters kan duur wees, maar jy moet reg kies – goedkoop produkte en dié met ’n te klein filtrasie-oppervlak sal nie die mas opkom nie en moet meer gereeld skoongemaak word, wat maar grillerig is!
  • Ultravioletligte in tenks maak alle kieme dood.
  • Meer gevorderde gryswaterstelsels sit suurstof terug in die water. Belugting verbeter ook die kleur van die water (dit word helderder). Dit kan op een van drie maniere gedoen word:
    1. Voeg waterstofperoksied (H2O2) by. Dit is egter potensieel gevaarlik (dit kan ontplof).
    2. Ander stelsels plaas osoon (O2) in die water, maar dit is ’n sterk oksideerder wat pype en ander oppervlakke verweer.
    3. ’n Fynborrelsproeier breek lug in fyn borreltjies op en meng dit so met die suurstofarm gryswater.

Onaangename reuke kan voorkom word met behulp van blou toiletballetjies bo in die toilet se spoeltenk, ’n chloordobber (soos dié wat in swembaddens gebruik word) binne-in jou gryswatertenk, of ’n chloorpomp (sowat R9 000). Maar onthou: As jy chloor gebruik, kan jou gryswater nie tuin toe gaan nie – dis dan net geskik vir toilet spoel.

Gryswaterstelsels hoef nie net onder die grond versteek te word nie – dit kan ook bogronds wees, wat goedkoper uitwerk. Dit kos vanaf R8 000.
opsie #1

Belê in ’n goedgekeurde stelsel


Voor jy begin

Jy kan nie net ’n opgaartenk in die agterplaas staanmaak, gryswater daarin opvang en dit dan badkamer toe pomp nie:

  • Gryswater is arm aan suurstof en begin binne enkele ure sleg ruik; dit kan ook nie langer as 24 uur gestoor word nie omdat skadelike bakterieë daarin groei wat ernstige gesondheidsgevare inhou.
  • Daar is stukkies afval soos hare, vel en wolletjies in wat pype en pompe kan verstop.
  • Die water bevat groot hoeveelhede ammoniak en soute afkomstig van sepe en afskeidings soos sweet – dit ontneem die water van nog suurstof, moedig swamgroei aan en verweer pype.

So werk dit

Hoewel dit ’n proses is om ’n gryswaterstelsel by ’n klaar geboude huis te installeer, is dit beslis moontlik. Maskam Water verskaf ’n algeheel geïntegreerde gryswaterstelsel wat agterna geïnstalleer kan word. So werk dit:

  • Die stelsel word in die fabriek gebou, volledig met al die nodige filters en pompe. ’n Loodgieter installeer dit dan ondergronds by jou huis met net ’n groen deksel wat bo die grond uitsteek. Die tenk kom in drie groottes: 1 500 liter (genoeg vir ’n huishouding van vier), 3 000 liter en 7 000 liter.
  • Die water afkomstig van jou wasmasjien, stort, bad en wasbakke word van die onderskeie afvoerpype na die ondergrondse tenk herlei. Jou dak se geute kan ook met die stelsel verbind word om reënwater op te vang.
  • Die ondergrondse tenk het twee “kamers”. In kamer 1 word enige vette en olies van die water geskei; dit vloei dan weg in die munisipale rioolpyp. ’n Filter in hierdie kamer vang ook alle afvalstukkies soos hare en wolletjies vas (dié filter kan jy maklik self elke 6 maande skoonmaak). In die tweede kamer word die skoner water wat agterbly, asook reënwater, opgeberg.
  • Water in die tweede kamer word gesuiwer deur middel van ’n lugpomp en ’n fynborrelsproeier (“fine bubble disc diffuser”) soortgelyk aan dié wat in vistenke gebruik word (net groter). Dit maak die water skoon genoeg dat jy dit selfs vir besproeiing kan gebruik sonder dat jou stelsel se spuitjies verstop. ’n Ultravioletlig dood kieme in die water.
  • Om toilette te spoel, word ’n gryswaterpyp met nog ’n filter na die toilet aangelê. ’n Dosis chloor direk in dié pyp ontsmet die water en keer algegroei; dit speel ook klaar met slegte reuke. Die pyp gaan dan deur die badkamer-muur en word met ’n tweede kraan (langs die munisipale kraan) aan die spoeltenk verbind; die munisipale kraan word ontkoppel sodat geen terugvloei na die drinkwaterstelsel moontlik is nie – ’n terugspoelklep is dus nie nodig nie. Koste Maskam Water se stelsels kos vanaf R30 000. ’n Geregistreerde loodgieter moet die stelsel installeer en die koste daarvan word bepaal deur die grootte en ligging van jou erf en waar jou bestaande pype en toilette is; dit kan enigiets tussen R10 000 en R25 000 beloop.
opsie #2

Jou swembad as reservoir

Met die knellende droogte oorweeg al hoe meer mense om hul swembaddens te laat leegloop. ’n Beter idee is om dit as ’n reservoir in te span sou die munisipale krane opdroog, sê Gerhard. Neem wel die volgende in ag:

Voor jy begin

  • Chloor- of soutwater is nie geskik vir ’n reservoir nie; die water moet so natuurlik moontlik wees. Dit kan beteken dat jy in tye van nood jou swembad sal moet leegtap.
  • Vir suiwering word ’n ultravioletlig in die pyplyn na die filter geïnstalleer (waar die chlorineerder gewoonlik kom); dit behandel die water sonder die newe-effekte van sout en chloor. Dit maak die water in jou swembad geskik vir meer as net toilette spoel; jy kan selfs daarin stort, bad en wasgoed was. Jou terugspoelwater kan ook tuin toe gaan. Moet dit net nie drink nie.
  • In ’n gebied met ’n hoë watertafel is glasveselswembaddens nie geskik as reservoirs nie, want wanneer jy die swembad leegpomp kan die hoë watervlak in die omliggende grond die bad uit die grond druk.

So werk dit

Die water uit jou swembad, oftewel reservoir, vloei eers in ’n pompstasie langsaan, wat met ’n pyp aan die swembad verbind word. Net ’n groen deksel is bo die grond sigbaar. Binne-in die pompstasie is ’n drukpomp wat outomaties aanskakel wanneer jy ’n toilet spoel. LW Sou jy die water vir meer as net jou toilette wil gebruik, word ’n 10-mikron-filter asook ’n addisionele UV-lig aanbeveel om alle bakterieë dood te maak voordat die water die huis binnegaan.

Koste

Die pompstasie en pomp kos vanaf R8 000 en die filter en UV-lig ook vanaf R8 000. Installasiekoste word bepaal deur jou terrein.

Nog ’n plan met ’n swembad

Het jy geweet jy kan ook net ’n deel van jou swembad as ’n reservoir gebruik? Ernst Nieuwoudt van Out of the Blue Creative Living Spaces het onlangs ’n swembad omskep – dit is nou deels swembad, deels reservoir. Die water in die reservoir is vars, en word van die dak geoes. Van hier kan dit na die huis herlei word vir toilette spoel, wasgoed was en selfs stort.

1. Die swembad is eers leeggetap (die water is tydens konstruksie in houers op die erf gestoor). 2. Daarna is die swembad verdeel met ’n skeidsmuur van bewapende beton. Die deel naaste aan die huis is die nuwe reservoir, en die res bly ’n swembad. 3. Die reservoir is geseël met ’n blad van bewapende beton, met ’n mangat-opening vir toegang. Met die blad voltooi, is die swembad met die gestoorde water gevul. Die reservoir raak vol van reënwater.

Koste

Bouwerk kan enigiets tussen R80 000 en R150 000 beloop, afhangend van die omvang van die werk. Elemente soos ’n nuwe glasvesellaag of Marblite, asook pompe en ’n UV-lig, kos ekstra.

opsie #3

Gebruik boorgat- of reënwater

As jy gelukkig genoeg is om ’n boorgat te hê, kan jy die water ook gebruik om jou toilette te spoel en nie net vir besproeiing nie. Brandon Fyfe, mede-eienaar van Thompson’s Plumbing, het onlangs dié installasie by ’n huis in Durbanville gedoen:

Voor jy begin

Boorgatwater is meestal nie drinkbaar nie, maar as dit aan minimumvereistes voldoen (laat toets dit by ’n laboratorium soos Bemlab) kan jy dit maklik met jou bestaande toiletstelsel laat verbind sonder enige filters. Jy kan dieselfde proses volg as jy ’n reënwatertenk het.

1. Omdat die boorgatwater reeds in ’n 5 000-liter-tenk opgevang word en die tenk reeds ’n pomp het, was dit net nodig om die water met pype van die tenk af na die toilette te herlei. Pype kan onder die grond of deur die huis se dakruimte loop. Dié huis se toilette is ver van mekaar geleë en dit was dus makliker (en goedkoper) om die hoofpyp in die dakruimte te lê.

2. Die pype uit die dak na die onderskeie toilette sit aan die buitekant van die huis. Jy kan natuurlik die pype aan die binnekant van die muur inbed, maar dan moet jy dit weer toepleister of teël (’n duur storie en onprakties).

3. Op die regte hoogte word die pyp weer van buite deur die muur na die toilet gelei. Nadat die munisipale toevoerpyp ontkoppel is, word die invoerpyp na die spoeltenk aan die nuwe boorgat-waterkraan gekoppel.

Onthou: As jou boorgatwater ’n hoë ysterinhoud het, kan dit jou toiletbak vlek.

Koste

Afhangend van hoeveel werk nodig is, sal dit sowat R7 000–R10 000 kos om jou toilette permanent met jou boorgattenk te verbind. Die koste is net vir die pypwerk; jy moet reeds ’n boorgat- of reënwatertenk en ’n pomp hê.

KONTAKTE EN BRONNE
  • Bemlab 021 853 1490, bemlab.co.za
  • Maskam Water 0861 292 837, maskamwater.co.za
  • Stad Kaapstad 0860 103 089, capetown.gov.za
  • Thompson’s Plumbing 021 976 0327, thompsonsplumbing.co.za
  • Out of the Blue Creative Living Spaces 083 431 1199, creativelivingspaces.co.za