Stilering Marian van Wyk, Amanda van Wyngaardt en Nelia Andrag l Foto’s Francois Oberholster, Greg Cox, Henrique Wilding, Elza Cooper en Stephané van Eck

Witwarm tropies

Dié tropiese plakpapier van Groen Bespoke Wallpaper het dadelik haar oog gevang toe Carla van der Merwe van die Boschenmeer-landgoed in die Paarl iets gesoek het om haar slaapkamer mee te verfris. “Ek is lief vir die buitelug, daarom wou ek spesifiek iets hê wat die natuur sou binnenooi,” verduidelik sy. “Hoewel die ontwerp nogal dramaties is, is dit nie ‘swaar’ nie en helder dit die vertrek op. Dit skep ’n rustige atmosfeer in die kamer.”

[Botanies bly gewild]

“Botaniese en blom-ontwerpe is soos die ‘little black dress’ van muurpapier,” sê Alana Groenewald, die ontwerper agter Groen Bespoke Wallpaper se skeppings. 

“Dit sal altyd relevant bly, al verander die komposisies, kleure en illustrasie-media (die manier waarop dit geskep word) van tyd tot tyd.” Alana sê dié style is tans hoogmode:

Tropiese ontwerpe, maar nie noodwendig meer die erg kleurvolle en eksotiese ontwerpe nie – eerder meer koloniale interpretasies van tropiese landskappe.Aardse inspirasie kom op die oomblik sterk na vore met patrone van natuurlike en geweefde materiale soos rottang, vlegwerk, gras, linne en kurk. 

Geometriese ontwerpe, Art Deco-patrone en sterk motiewe is steeds in die kol. Historiese inspirasie soos tapisserieë, Chinoiserie en Toile de Jouy maak weer hul verskyning. 

Tydlose patroon

“My werkkamer is my heiligdom waar ek die meeste van my tyd deurbring. Hier gebeur alles wat kreatief is,” vertel Cillié van Rooyen van dié vertrek by haar huis in Johannesburg. “Die plakpapier is dus baie gepas as ‘intreepunt’ – nie net inspireer die patroon my nie, die kleur stimuleer ook kreatiewe denke.”

Die Orla Kiely-plakpapier kom uit ’n boks oorskietstukke wat ’n vorige sakevennoot by CP Décor in Parkwood, Johannesburg, raakgeloop het. Om die verskillende stroke te laat pas, was soos om ’n legkaart te bou, onthou Cillié. “Ek het die eerste keer dié ontwerp, in die oorspronklike bont patroon, op ’n serp om ’n vrou se nek gesien wat verby my gery het. Dit het my bygebly as die mooiste ding ooit! Ek is dol oor die klassieke skoon lyne en eenvoud daarvan. Ek het ’n Orla Kiely-teepot wat op my skoot uit Londen saam huis toe gevlieg het!” 

Morris & Co.-plakpapier van St Leger & Viney; kombuiskaste pasgemaak deur Timeless Timbers

O, so sentimenteel 

Baie van die breekgoed wat die kunstenaar Mona Haumann al van jongs af bymekaarmaak, het sentimentele waarde. Daarom wou sy dit graag ’n ereplek in haar kombuis op Stellenbosch gee. “Van die koppies en pierings – ook die broodblik – het ek by my ouma geërf. Dit moes die kollig vang, maar terselfdertyd binne bereik wees vir alledaagse gebruik,” verduidelik sy. 

Die oplossing was ’n pasgemaakte kas teen ’n muur bedek met blou-en-geel plakpapier. Laasgenoemde het ’n delikate blompatroon wat die versameling breekware – meestal geel, Mona se gunstelingkleur – trefkrag gee. “Geel is die kleur van blydskap en vreugde. Dit herinner my aan my kinderdae toe ek lemoene uit my ouma se vrugteboord gaan pluk het en vars sap in haar kombuis uitgedruk het. Die titsel geel in die plakpapier bind dié items saam met die res van my kombuis.” 

Bed van Design Store; lig van Bofred

Goudstandaard

Toe die juweliersware-ontwerper Anna Raimondo ’n paar antieke Chinese tromme met ’n lakvernisafwerking by haar ouma erf, wou sy plakpapier kry met ’n ontwerp wat by die voëls op die tromme sou pas. “Ek was eintlik op soek na iets met bladgoud, maar het op die ou end besef ek sou dit nie in Suid-Afrika kry nie. Nadat die ontwerper Lei Lester my aan Cara Saven van Cara Saven Wall Design voorgestel het, het ek met haar span saamgewerk om die bladgoud-voorkoms met die ibisse in vlug na te boots. Ek wou graag hê dit moet soos ’n perkamentrol lyk.”Daarna het Anna die res van die vertrek saam met Jenny Collins van Red Cat Design uitgerus. “Ek hou van die Art Nouveau-kinkel wat die bed aan die kamer verleen, veral met die swart ligte daarby.” 

Bed van Design Store; lig van Bofred

Kunssinnig

Vir die leefvertrek in haar Swellendamse huis het die kunstenaar Olivia Botha, wat die onderneming Art de Olivia bedryf, plakpapier ontwerp met motiewe uit haar eie kunswerke. “Al die elemente, soos die vrouegesig, voëls en visse, is digitaal verwerk en in ’n nuwe ontwerp saamgevoeg. Elke element is simbolies: Die visse verteenwoordig hoedat jy jou omgee vir ander mense moet wys, terwyl die voëls simboliseer dat jy mense vryheid moet gee sodat hulle kan vlieg,” vertel Olivia.Olivia het die tekstuurvrye plakpapier by IPrint in Bloemfontein laat druk en die panele self met Pattex-plakpapiergom geïnstalleer. “Dié ontwerp is beslis hier om te bly!” sê sy laggend.

Sal my Instagram-foto’s werk?
Die kort antwoord is nee. “Foto’s wat jy met jou selfoon neem, is in die algemeen nie groot genoeg vir gebruik as ’n enkele beeld op plakpapier nie,”  sê Leanne Killian van Orms Print Room & Framing in Kaapstad. “Jy kan wel ’n collage van verskillende foto’s skep. Ongelukkig is Instagram-foto’s te veel saamgepers vir die meeste drukdoeleindes.”

[Laat druk jou eie ontwerp]

Dis deesdae makliker as ooit om pasgemaakte plakpapier te laat druk, vertel Leanne Killian, hoof van dekordrukwerk by Orms.

“Dit kan so maklik wees soos om jou muurmate en miskien ’n foto van die muur vir ons te stuur. Dan help ons jou om ’n gepaste ontwerp te kies, wat ons dan vir jou druk. Die moontlikhede is legio!” 

Leanne sê geen muur is te groot of te klein nie en hulle volg dieselfde proses vir elke projek:

Kies jou ontwerp “Jy kan een van jou eie foto’s verskaf. Ons het spesialis-programmatuur waarmee ons die foto’s kan vergroot vir gebruik teen ’n muur. Of jy kan een van jou kunswerke bring, wat ons dan in hoë resolusie skandeer.” Nog ’n moontlikheid is dat een van Orms se ontwerpers ’n pasgemaakte ontwerp volgens jou persoonlike styl skep. En as jy ’n bepaalde foto van byvoorbeeld ’n bekende landskap in gedagte het, kan hulle jou help om dit in die hande te kry.

Digitale model en drukwerk “Sodra jou ontwerp gefinaliseer is, skep ons ’n digitale model op skaal van jou muur. Daarna doen ons ’n toetsdruk op die papier van jou keuse sodat jy dit kan goedkeur voordat ons die finale drukwerk vir die volle muurgrootte doen,” sê sy. Dit neem drie tot vyf werkdae.

Installering Orms beveel aan dat hul kliënte ’n professionele diens gebruik wat die muur eers sal ondersoek om hulle van die toestand en korrekte grootte te vergewis. “Vir suksesvolle installering moet mure heeltemal glad en gelyk wees,” vertel Leanne. “Indien daar gebreke in die muur is, sal hulle raad vir enige herstelwerk gee voordat hulle die papier hang.”Drukkoste Vanaf R395/m².

KONTAK ormsprintroom.co.za

[’n Kenner se wenke]

“Hou in gedagte dat dit vier of vyf dae duur voordat pasgedrukte plakpapier heeltemal droog is,” sê Adam Houghten van Inyanga Signage Specialists. Hy gee dié wenke vir mense wat hul eie plakpapier wil laat druk:

• “Vra dat jou diensverskaffer al jou papier op ’n enkelrol en in een sessie druk. Die groot drukkers wat vir plakpapier gebruik word, werk teen verskillende temperature. Selfs drukwerk wat in die oggend en die middag van dieselfde dag gedruk is, kan geringe kleurverskille toon.”

• Hy sê wanneer jy plakpapier in panele laat druk, moet jy ook seker maak dat die panele met sowat 100 mm oorvleuel.

• By ontvangs van die papier moet jy die onderskeie seksies op die vloer uitlê om seker te maak dat alles pas voor jy dit begin plak.

KONTAK inyangasignage.co.za

Natuurlike keuse

Toe Lizanne Viljoen van Durbanville haar eetkamer wou opkikker, het sy by Jani Augustyn-Goussard van SophiaHelen Design Studio gaan aanklop. “Die ontwerp op dié plakpapier is From Mariana With Love, wat olienhouttakke, blousyselbos en die klein inheemse voëltjies wat in dié bome en struike woon, illustreer,” vertel sy. Jani, wat ook opgelei is as ’n internasionale kleurtaal-kenner, kon die agtergrond van die plakpapier presies laat pas by die bestaande verf op die ander mure in dié vertrek sodat die ontwerp naatloos daarby kon aansluit. Die tafeldoek en kussings is ook pasgemaak met SophiaHelen-ontwerpe wat die plakpapier komplementeer.

WenkAs jy nie ’n hele muur met plakpapier wil bedek nie (of jou begroting dit nie toelaat nie), kan jy met ’n enkele paneel plakpapier ook ’n groot indruk maak, sê Jani. “Plakgereed-stroke is beslis ’n sakpas-alternatief. Die stroke van 2,7 x 1,3 m kan horisontaal of vertikaal wees, en ons ontwerpe gee jou die geleentheid om elke afdruk aan te pas in kleure na jou smaak.

KONTAK sophiahelen.com

Eerste indruk

Met die intrek by hul huis in Parkhurst, Johannesburg, het Morgane en Lionel Andrews net ’n paar dinge verander. “Die gastetoilet se mure was roomkleurig geverf, maar ek wou hê ’n mens moet voel jy stap in ’n ander wêreld in as jy die deur agter jou toemaak. Toe plak ons dit,” vertel Morgane. “Ek wou eers ’n ontwerp met suurlemoene hê, soos by ’n restaurant waarvan ek baie hou. Maar toe dink ek dié is darem ’n huis en ek kan hier meer kreatief wees. Nou gee die groot blomme kleur en fleur aan elke toiletbesoek.”

[Gom of selfklewend?]

• Nuwe drukmetodes en afwerkings gee jou vandag ’n veel groter verskeidenheid plakpapier om van te kies. Die tradisionele metode om plakpapier met ’n spesiale gommengsel aan te wend, bly gewild vir al die verskillende papierteksture – van suède en linne tot geweefde papier wat asemhaal.

• Selfklewende plakpapier stel jou in staat om relatief maklik jou eie plakpapier te installeer. Dié soort kom gewoonlik in panele en die jongste tegnologie maak dit maklik om klein aanpassings tydens installering te maak.

Die Nina Campbell Perroquet-plakpapier, wat in die hoofslaapkamer was toe die Andrewse hul huis gekoop het, skep ’n dromerige atmosfeer. Hulle het die hemelbed laat maak net soos die een wat die vorige eienaars hier gehad het.

[Plakpapier in enige vertrek]

Dit is beslis moontlik om plakpapier in vogtiger vertrekke soos ’n badkamer of kombuis te gebruik, sê Jan-Hendrik Groenewald van Groen Bespoke Wallpaper.

 “Die installering is dieselfde,” verduidelik hy. “Solank die oppervlak nie konstante water kry nie, byvoorbeeld binne ’n stort, sal dit goed werk. Goeie ventilasie in die vertrek is die enigste vereiste.”

Jan-Hendrik glo wel dit is ’n goeie idee om plakpapier in die kombuis met ’n glaspaneel te beskerm teen vet wat moontlik daarteen kan spat. “Maar die meeste hedendaagse plakpapier kan met ’n klam lap of spons en ’n bietjie seepwater skoongevee word.

“As jy rakke of hakies bo-oor nuwe plakpapier wil aanbring, moet jy minstens 48 uur ná installering wag voor jy gate in die muur boor. Gee in die Kaapse winter tot 72 uur kans.”

KONTAK groenjan.co.za

Blommeparadys

Arnold en Katrien Botha se vorige huis was taamlik modern. “Ons het ’n minimalistiese styl met neutrale kleure probeer, maar eintlik het dit ons albei mal gemaak,” vertel Katrien. Toe hul tweede dogter verlede jaar gebore is, het hulle na hierdie geskiedkundige huis in die Strand getrek en besluit om hul passie vir blomme en tuinmaak by hul dekor in te werk. “Ons wil in volkleur leef!”Dié botaniese ontwerp van Groen Bespoke Wallpaper was die perfekte keuse vir die ingangsportaal. Die Bothas het besluit om die papier tot net onder die portretlys te plak sodat dit die huis se hoë plafonne beklemtoon.

Wenk
Moenie bang wees om te waag met jou plakpapier nie, is Alana Groenewald van Groen Bespoke Wallpaper se raad. “’n Aksent-muur kan enige vertrek heeltemal verander en weer nuut laat lyk. Kies ’n ontwerp wat met jou styl en persoonlikheid resoneer.”  

In hul oudste dogter, Klara (3), se slaapkamer verleen nog ’n Groen-ontwerp ’n tydlose voorkoms. Die Bothas het ook hier die papier tot net onder die portretlys geplak en die strook daarbo in ’n komplementêre sagte pienk geverf.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

@home 0860 834 834

Art de Olivia 076 607 7315

Bofred 082 563 5640

Cara Saven Wall Design 082 953 6246

CP Decor 083 602 0367

Design Store 082 940 9200

Groen Bespoke Wallpaper 082 749 6393

Hertex 021 914 3390

Hinterveld 

Home Fabrics 021 425 8287

IPrint 082 480 5616

Lei Lester 083 567 8554

Makietie Linne 084 206 9898

Mr Price Home 0800 212 535

Red Cat Design 082 862 5510

Ryan Christie Furniture 078 457 2524

SophiaHelen Design Studio 021 976 0114

St Leger & Viney 011 444 6722

Timeless Timbers 021 882 9240