Foto’s Francois Oberholster en Elza Cooper l Stilering Marian van Wyk, Amanda van Wyngaardt en Dina Venter

1 Geil in groen (en goud en pienk en oranje …)

WIE WOON HIER?

Stefan Blom en Albie du Toit

WAAR Kaapstad

GROOTTE 15 m²

ORIËNTASIE Noordoos

Die dagbeddens kom oorspronklik van Weylandts; Stefan en Albie het oortreksels laat maak wat by elke seisoen pas. Dié oranje oortreksels is van reënbestande sambreelmateriaal. ’n Tuinkabouterkanttafeltjie is ’n speelse element.

In die skadu van die stoep skep kleur die gevoel dat jy onder koeltebome sit op ’n somersdag. – Stefan

Stefan Blom en Albie du Toit skrik nie vir kleur nie. Inteendeel, hul huis in Groenpunt, Kaapstad, verteenwoordig al die kleure van die reënboog: Die gastekamer is poeierblou (sien die voorblad van Mei 2020 se Tuis), en hier op die stoep is dit geil groen, plafon en al.

“Om die plafon te verf was ons vriend Jan Botha, ’n binne-ontwerper, se voorstel,” vertel Stefan. “Dis goed om jou planne met kreatiewe vriende te bespreek, want hulle het dikwels idees waaraan jy nie self sou dink nie!

“Ons wou hier met kleur speel om ’n kontras te vorm met die stoep op die boonste vlak waar ons weer net wit en ander neutrale kleure gebruik het,” verduidelik Stefan. “Ons gebruik graag kleur om aan verskillende vertrekke hul eie karakter te gee. Dan is dit amper soos om ’n nuwe mens te ontmoet wanneer jy ’n vertrek kies na gelang van hoe jy op ’n bepaalde dag voel, en natuurlik die weer. Ja-nee, ons is nie bang vir kleur nie!”

In die somermaande kuier die twee feitlik heeldag op dié stoep langs die swembad. “Dis die ideale plek om met ’n drankie in die hand te ontspan of ná ’n groot middagete te kom agteroorsit.”

Stefan (links) en Albie wou juis hê dié ruimte moet gemaklik voel.

Langs die stoep lei sementtrappe na die balkon en die res van die huis. Mat van Haus; pienk Kartell-bankie van True Design

Dit werk, want…

KLEUR Die lowergroen mure en plafon dra by tot die idee van koelte, terwyl kontrasterende kleure soos pienk en oranje interessante afwisseling bied.

TEKSTUUR Die houtdek, vetplante, los mat en gras langs die swembad verleen lieflike tekstuur.

BINNE NA BUITE Stapeldeure verbind die leefvertrek en stoep met mekaar en dra by tot die kuiergevoel buite.

MEUBELS ’n Ou rusbank wat met nuwe lap oorgetrek is, asook dagbeddens, skep ’n ontspanne luim waar vriende hulle kan uitstrek.

Ligblou teëls in die swembad kry ’n grafiese kinkel deur donkerrooi teëls in die vorm van ’n kruis, terwyl die staaltrap herinner aan Seepunt se swembad net ’n klipgooi ver.

2 Gedek vir gaste

WIE WOON HIER?

Ilza Roggeband en haar seun, Zac Steyn (18)

WAAR Melkbosstrand

GROOTTE 31,2 m²

ORIËNTASIE Oos

Danksy ’n slim plan het dié onbenutte deel van hul tuin in Melkbosstrand nou ’n kuierkol geword wat Ilza en Zac daagliks geniet. “Ek is ’n baie slegte tuinier,” vertel Ilza. “Toe ek die huis gekoop het, was daar ’n groot stuk gras en plek-plek plante. Ek het my flou gesukkel om dit aan die lewe te hou en moes seker drie keer die gras vervang.

“Zac se pa, Skalk Steyn, was ’n argitek en het eendag die voorstel gemaak om die stoep en pergola te bou. Hy is ongelukkig in Desember 2016 oorlede en het nooit die eindproduk gesien wat amper soos ’n buitevertrek aangebou is nie. Dit laat my (klein) huisie sommer groter lyk en was beslis elke sent werd!”

Nou gebruik die gesin dit veral baie in die somer – van ontbyt tot middagete en aandkuiers. “Maar in die winter kuier dit net so lekker omdat dit al die wind afkeer en ek eenvoudig kussings en komberse uitsit.” 

’n Houtmuur met ’n bypassende deur versteek die wasgoedlyn en watertenk. Geweefde sak en kikoi van Baraka Gifts and Decor; bedrukte kussings van African Design Collective

Voor

Die hele dek en pergola is gebou van Suid-Afrikaanse behandelde dennehout wat die kontrakteur, Richard Farmer, met sy eie mengsel verseël het. Ilza het die gras in die tuin met kunsgras vervang en plante gekies wat min onderhoud verg.

Dit werk, want…

VEELDOELIG Die latskerm aan die agterkant van die stoep bied ekstra privaatheid en keer die ergste son af; boonop ondersteun dit ’n grenadella wat mettertyd die hele skerm gaan toerank.

KLEUR Die gewone grys vibracrete-muur het ’n laag diepblou dakverf gekry. Tikkies kleur in die meubels en strooikussings helder die stoep op.

PRAKTIES Die stoep verg min onderhoud en die potplante sorg feitlik vir hulself.

Dol oor die kleur? Oorweeg dan Duram By the Sea.

3 Ongekunsteld romanties

WIE WOON HIER?

Trix en Koos Grové

WAAR Napier

GROOTTE 24 m²

ORIËNTASIE Noordoos

Toe Trix en Koos, wat die oudhedewinkel Napier Antiek op die dorp besit, twaalf jaar gelede dié huis gebou het, was ’n stoep met ’n braaiplek onder dak ononderhandelbaar. Want dié oud-Namibiërs wil braai, of dit nou reën of mooiweer is!

Aan die voorkant van die huis is ook ’n klein stoep, maar hulle het hul buitekuierplek spesifiek aan die agterkant van die huis gebou waar dit baie meer beskut is teen die wind. ’n Terras met groentebeddings in die agtertuin sorg ook vir ’n ekstra tikkie koelte. Trix is baie lief vir tuinmaak en daarom wou hulle nie die stoep toemaak nie. Net ’n smal strook latte links van die braai, waarteen ’n rankrosie opkruip, keer die ergste oggendson af.

“Omdat die huis self nie baie groot is nie, wou ons hê die stoep moet regtig ’n verlengstuk van die huis wees,” vertel Trix. Die Grovés wou die byna minimalistiese styl binne die huis na die stoep uitbrei. Dit het dieselfde gewone sementvloer wat met ’n verseëlaar behandel is om dit teen die ergste vlekke te beskerm, en ’n netjiese latte-plafon onder ’n sinkdak.

“Dit is ’n onopgesmukte, eenvoudige kuierplek wat ons van die oggend tot die aand kan gebruik. Presies wat ons wou hê!”

Dit werk, want…

MINIMALISTIES Met die braaiplek as enigste fokuspunt aan die een kant van die stoep, ’n tafel aan die ander kant en ’n paar potplante is die stoep gestroop van alles wat nie mooi sowel as prakties is nie.

NEUTRAAL Die aardse kleure van die plafon, sementvloer en geverfde baksteenmuur rondom die braai skakel naatloos in by die tuin.

LANDELIK Die nerf-af tafel met sy ysterpote en vintage-lampies verleen ’n ongekunstelde romantiek aan die stoep.

Die stoep is ’n integrale deel van ons lewens. Ons kuier ons dae hier om! – Trix

Trix is gaande oor die paar groen hanglampe wat voorheen die Namibiese dorp Otjiwarongo se strate verlig het en heel moontlik uit die dertigerjare kom. Die groen tafel is eintlik ’n ou deur wat die Grovés jare terug raakgekoop het; Koos het self die ysterpote daarvoor gemaak.

4 Koel Mediterreens

WIE WOON HIER?

Guy en Andrea Osler

WAAR Struisbaai

GROOTTE 20 m²

ORIËNTASIE Suidwes

Wanneer ’n mens ’n stoep bou op ’n dorp wat berug is vir sterk wind in die somer, tref jy voorsorg dat jou buitekuiers nie deurmekaargeklits word nie. Daarom het Guy en Andrea een kant van dié onderdakstoep by hul huis in Struisbaai toegebou. “Die stoep was voorheen baie blootgestel aan die elemente, maar met die nuwe muur en ingeboude bankie kan ons feitlik heeljaar hier kuier,” vertel Andrea.

Die Oslers het byna twee jaar gelede permanent na dié stranddorp verhuis en tydens bouwerk aan die hoofhuis ook die veranderinge aan die stoep, ’n hanetree van die huis af, gemaak. “Drie dubbeldeure maak van die huis af op die tuin oop en skep ’n lieflike atmosfeer wanneer ons buite kuier.” Toe al die werk binne die huis klaar was, het die stoep se grys sementvloer effens hartseer en afgeskeep gelyk, vertel Andrea. “Patroonteëls was net die ding om die stoep ’n wow-faktor te gee.” Hulle het drie verskillende patrone gekies: ’n eenvoudige grys “raam” met ingewikkelder patrone in die middel onder die tafel, en ’n meer beskeie blompatroon vir die buitenste omranding.

“Ons is dol oor die Mediterreense voorkoms, maar het ook mandjies en Malawi-stoele gekies vir ’n tikkie Afrika – ons woon immers op die punt van dié wonderlike vasteland!”

Die ingeboude sementbankie verskaf ekstra sitplek en is kenmerkend van tradisionele vissershuisies in die omgewing. Lanterns van MRP Home

Die latei bo die braaiplek is dieselfde skakering geverf as dié bo die vensters en deure daaragter. Verfkleur: Plascon Regina Night

Net duskant die stoep is ’n buitestort op ’n klein platform waar die Oslers sanderige voete kan afspoel ná ’n draai by die see. Teëls van Moroccan Warehouse, gelê deur Fred Retief van Disa Renovations

Dit werk, want…

KOEL KLEURE Die blou-en-wit palet op die stoep herhaal die tema binne die huis en verleen ’n Mediterreense gevoel aan die stoep. Tikkies geel helder die ruimte op; die Oslers het onlangs ook ’n helderpienk bougainvillea in die tuin geplant vir nog kleur.

TEKSTUUR Die latte-plafon is wit geverf om in te skakel by die witgekalkte mure en braaiplek, maar help ook om die stoep koel te hou. Andrea het ook feetjieliggies tussen die latte deurgeweef wat saans gesellig gloei. ’n Verweerde houttafel en ingeboude sementbankie bied interessante variasie.

PATROON Die patroonteëls op die vloer is beslis die apploustrekker op dié ontspanne stoep.

5 Buite die boks

WIE WOON HIER?

Christopher en Hayley Smith

WAAR Somerset-Wes

GROOTTE 85 m²

ORIËNTASIE Oos

Die swembad doer onder in ’n donker hoekie van hul erf was onprakties, gekraak en boonop te groot om ná die Wes-Kaapse waterkrisis te onderhou. Toe besluit Christopher en Hayley om dit toe te gooi en heeltemal van voor af te begin. Hul plan het nie net ’n nuwe, heelwat kleiner swembad ingesluit nie, maar ook ’n splinternuwe dek en onthaalplek.

Die hele afdak-struktuur is gebou van behandelde dennehout wat verseël is met ’n mengsel van rou lynolie en terpentyn. Die sinkplate sluit by die huis se dak aan. Hout-hanglamp van Eagle Lighting; handdoeke van MRP Home

Skermmuur

“Ons wou ’n ruimte skep waar ons buite kan kuier ongeag die weer – ’n eg SuidAfrikaanse stoep,” vertel Chris. Hulle moes juis planne beraam om dié deel van die tuin, reg langs die huis en op dieselfde vlak, teen die wind en weer te beskerm. Chris het die idee vir die afdak met sy skermmuur op Instagram gesien en besef dit sou die ideale oplossing wees om in die winter die stoep teen die wind te beskut, en in die somer ekstra koelte te verskaf.

“Die stoep en afdak het die manier waarop ons in ons huis leef heeltemal verander,” sê hy. “Hayley doen gereeld joga op die stoep, en smiddae is dit heerlik om met ’n bier in die hand die voëls in die tuin dop te hou terwyl die son die bloekombome goud verkleur. Hier is hoekies vir lees, joga, baaiplek, onthaal – you name it!

Dis ons gunstelingplek. In die somer bring ons meer tyd hier deur as in enige ander vertrek in die huis! – Chris

Voor

Omdat die erf teen ’n steil helling is, was dit ’n uitdaging om die nuwe 3 x 3m-swembad by die dek te laat aansluit. Die betonswembad is op die plek gegiet. “Dit was nie die mees ekonomiese keuse nie, maar nou weet ons dis rotsvas!” sê Chris. Die water word verhit, wat beteken hulle kan dit ook in koeler maande gebruik.

Die ou vensterrame is een van Hayley se vondste by ’n tweedehandswinkel.

Hayley het dié veelsydige muurhaak op ’n skrootwerf opgetel.

’n Ingeboude sementblad dien nie net as praktiese oppervlak wanneer die gesin braai nie, maar ook as eettafel.

Sitsakke van Happy Sak

Oorskiet-dekhout is gebruik om die braaiplek te omraam.

Dit werk, want…

ONTWERP Die latskerm is nie net prakties nie, maar gee ook ’n grafiese ontwerpelement aan die stoep. Die Smiths wil in die toekoms seile aan die agterkant van die stoep aanbring vir ekstra beskutting, met ’n inhaakmeganisme wat keer dat dit in die wind wapper.

SONES Die stoep skakel met die oopplan-leefvertrek en danksy die verskillende sones op die stoep voel dit soos ’n verlengstuk van die huis.

VOLUME Die hoë, skuins afdak skep ’n lieflike ruim gevoel, byna asof jy in ’n boomhuis sit.

6 ’n Stoep wat netjies pas

WIE WOON HIER?

Adriaan du Plessis en JC de Jager

WAAR Pretoria

GROOTTE 25 m²

ORIËNTASIE Noordwes

Heeljaar braai en buite kuier – dis wat dié stoep vir Adriaan en JC so aantreklik gemaak het toe hulle twee jaar gelede by hul huis in Menlopark, Pretoria, ingetrek het. “Ons wou ’n buiteruimte hê wat soos ’n verlengstuk van die huis voel,” verduidelik Adriaan.

Hy het die uitleg van die meubels en verskillende sones op die stoep fyn beplan en dit toe in fases ingerig. Daar moes ’n rusbank en twee eetkamertafels inpas – een vir intieme etes en een vir groot partytjies. Adriaan het begin deur die meubels wat hy reeds gehad het kort-kort rond te skuif totdat hy tevrede was met die uitleg. Toe het hy die hulp van die stilis en binneversierder Dina Venter van My.Decorlist ingeroep om die prentjie in te kleur met beligting, strooikussings en matte. Dina het ook raad gegee met kunswerke. Nadat Adriaan die hoekbank en die eetkamertafel en -stoele gekies het, het hy die muur agter die braaikaggel geverf en die teëls gelê.

Die stoep loop in ’n L-vorm om die voor- en sykant van die huis en sluit aan by die oopplan-leefvertrek-enkombuis binne. Benewens die onderdakstoep is daar ook ’n dek van 15m² wat weer met die agterkant van die huis skakel. Hier is ’n lang tafel perfek vir wanneer Adriaan en JC groot groepe onthaal. “Die dek is eintlik net ’n bonus as jy sonder ’n dak oor jou kop wil kuier,” sê Adriaan. “Selfs al reën dit het ons nou lieflike kuierplek by die braai.”

Eetkamertafel en bankie van Goozberry, wit plastiekstoele van Addis, ligte van Superbalist

Dina het vuurvaste Mexikaanse patroonteëls vir die kaggelomranding gekies, waarna Adriaan en JC die uitleg beplan het. Die blougrys verf rondom die kaggel het hulle spesiaal laat meng by Universal Paints.

Die braaikaggel met sy patroonteëls is die fokuspunt op dié deel van die stoep. In die houtkas regs bêre Adriaan allerhande vuurmaakgoed soos aanstekers, vuurhoutjies en houtskool. Teëls van Hadeda

Adriaan en JC het die sinkplafon so saam met die huis gekoop. “Dis eintlik twee lae sink met isolering tussenin wat keer dat dit te warm word in die somer,” verduidelik Adriaan. “Dit maak gelukkig ook maklik skoon!” Hy het die rooi gemakstoele by sy ouma geërf.

Rusbank van Superbalist; mat van Haus; ligte van Knus

Dit werk, want …

SONES Die stoep is verdeel in verskillende sones wat deur los matte afgebaken word. Elke sone is met ’n spesifieke doel ingerig en geniet ’n uitsig oor die tuin.

TEKSTUUR Die sinkplafon, ontblote bakstene, teëls om die braaiplek en sagte rusbank en kussings werk alles saam om ’n knus ruimte te skep.

ATMOSFEER Treffende ligte in die sitdeel en bo die eetkamertafel beteken Adriaan en JC kan tot laat saans op die stoep kuier, selfs nadat die vuur al uitgebrand het.

7 Eksie-perfeksie

WIE WOON HIER?

Izak en Riëtte van der Wat en hul seuns, Izak (5) en Leopold (2)

WAAR Johannesburg

GROOTTE 30 m²

ORIËNTASIE Wes

Die oorspronklike stoep van die Van der Wats se huis in Parkview, Johannesburg, was ’n steen des aanstoots: Teëls wat binne hoort, is buite gebruik en was glad as dit reën; daar was geen muur om die stoep nie, al is dit plek-plek gevaarlik hoog; die trappe na die stoep was onprakties groot en breed en omdat geen voorsorg getref is om water weg te voer nie, het vuil waterstrepe teen die mure afgeloop. Maar die ergste was seker die knoetsdak met sy (skewe) pilare, vertel Riëtte.

“Dit was asof ’n vorige eienaar begin het met ’n projek, maar óf sy lus óf sy geld het opgeraak. Omdat dit so ’n ongemaklike spasie was – daar was nie genoeg skaduwee nie, geen braaiplek nie; dit was eintlik net gewoon lelik – het ons dit bitter min gebruik. Ons het ook liewer mense by die kombuisdeur verwelkom as by die voordeur wat op die stoep uitloop.”

Ná sowat drie jaar het Izak, ’n siviele ingenieur, besluit om sy lyf argitek, projekbestuurder, skrynwerker en bouer te hou ten einde die gesin se droom van ’n stoep wat mense welkom heet, te verwesenlik. Met die hulp van ’n span bouers onder leiding van Lovemore Sibanda van LM Construction, wat vir die breek- en bouwerk verantwoordelik was, het Izak self ook ingespring met die lughamer om van die ou teëls ontslae te raak. Klein Izak en Leopold het fluks “hand bygesit”.

Izak het ’n nuwe dak ontwerp wat op houtbalke rus en met steunrame wat hy self ontwerp het, aan pilare heg. Die dak self is van 3mm- gegalvaniseerde sinkplaat, behalwe voor die voordeur, waar een strook polikarbonaat meer lig inlaat. “Izak het tot laatnag sit en ontwerp totdat elke element in plek geval het,” onthou Riëtte. Die eindresultaat is ’n gesellige, gelukkige stoep waar die gesin heeltyd kuier. Van hier kan Izak en Riëtte hul kinders in die tuin en sandput dophou en na die voëls in die jakarandabome kyk. En gaste kan nou gerus maar by die voordeur inkom!

Aan een kant van die stoep is ’n braaikaggel met ’n knus sithoekie ingerig. Izak se ouers, wat hul lewe lank mooi ou meubels versamel het, het die wit ysterstoele aan die paartjie geskenk. Izak het die koffietafel gebou uit ou oliekratte – dit was een van hul eerste meubelstukke. Mat van Elsa Barnard Mohair Carpets

’n Klipbasis aan die voorkant van die stoepmuur en teen die trappe herhaal die klipafwerking onder twee komvensters aan weerskante van die stoep. Familievriende wat in die nabygeleë Westcliff woon, het die klip, wat hulle laat kap het vir ’n projek wat toe nooit gebeur het nie, aan hulle geskenk. Foto Cilla Bloom Photography

Die houttafel se blad en die bankies is van herwinde vloerplanke gemaak. Riëtte het die kussings laat maak van oorskietmateriaal van Skinny laMinx wat sy byna vyf jaar lank gebêre het “vir eendag”. “Ek is bly ek kon die lap uiteindelik inspan; daar was net-net genoeg!” Tafel en bankies van Scroll Studio; kussings gemaak deur March Interiors; ligte van The Lighting Warehouse

Die staalstutte waarin die pilare rus is Izak se eie ontwerp wat hy by die lasersny-firma Microcode laat maak het. Hy verduidelik dat die stutte met behulp van ’n chemiese ankermiddel aan die stene geheg is. “Ek het 12mm-gate 250mm diep in die steenmuur geboor en toe skroefpenne saam met die chemikalieë in die gate gesit. Dit stol baie vinnig en jy kan die volgende dag jou struktuur begin opsit.”

Izak het al die houtwerk self gedoen. Die pilare waarop die dakstruktuur rus is van meranti wat verseël is met Woodoc 30 Clear. Om onkoste te beperk is net die hoof-dakbalke van gelamineerde dennehout; die ander balke is strukturele dennehout wat Izak afgeskuur het en met Woodoc 35 Meranti behandel het.

Die dekstroke bo-op die rooi baksteenmuurtjie is eintlik vensterbanke van Old World Concretes. Dit is die perfekte afronding vir die muur en bied boonop gemaklike sitplek.

Dit werk, want …

VLOEI Die stoep is die hoofingang na die huis en nooi jou werklik binne. Die voetgangerhek maak van die straat af in lyn met die voordeur en ingangsportaal oop. ’n Nuwe stel trappe verbind al dié ingange met die stoep en skep ’n simmetriese prentjie weerskante van die paadjie. Nog ’n stel trappe lei van die stoep na die tuin.

AARDS Al die natuurlike afwerkings soos hout, bakstene en die terracottateëls op die vloer skep ’n warm, aardse gevoel wat die stoep karakter gee.

EENVOUD Die ongekompliseerde simmetriese ontwerp van die stoep maak ’n sterk indruk.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

Addis 021 917 2000

African Design Collective  

Baraka Gifts and Decor 021 425 8883

Disa Renovations 066 537 7892

Eagle Lighting 021 424 4071

Elsa Barnard Mohair Carpets 046 648 2687

Goozberry 084 258 2863

Hadeda 011 788 9859

Happy Sak 083 456 4767

Haus 0860 437 839

Jan Botha Design 082 499 7449

Kartell 021 418 5382

Knus

LM Construction 073 852 2294

March Interiors 083 468 1473, marchinteriors3@gmail.com

Microcode 011 873 6125

Moroccan Warehouse 021 461 8318

MRP Home 0800 212 535

My.Decorlist

Napier Antiek 028 423 3314

Old World Concretes 011 626 2510

Richard Farmer 071 703 5498

Scroll Studio 082 904 9744, scrollstudio@gmail.com

Skinny laMinx 021 424 6290

Superbalist 087 362 7300

The Lighting Warehouse 0861 5444 8464

Universal Paints 

Weylandts 0860 103 400