Foto’s Francois Oberholster en Elza Cooper | Stilering Marian van Wyk en Amanda van Wyngaardt

#1 Monochroom en manlik

Foto GAP Interiors/Bureaux

Oorgenoeg verdofbare gesonke ligte sorg dat dié dubbelvolume-ruimte nooit donker voel nie. 

Kussings van MRP Home

Die swart aluminium wat vir die trapreling, balustrade en deur- en vensterrame in Rupert Smith se huis in Observatory gebruik is, het die dramatiese styl van sy slaapkamer geïnspireer. Hy hou van ’n meer moderne, industriële voorkoms, maar in sy private ruimte wou hy ’n warmer atmosfeer hê.

“My huis het ’n baie hoë plafon, wat koud en sielloos kan voel as dit die gewone moderne dekorbehandeling kry,” sê Rupert. Hy het warmte geskep deur verskillende teksture laag op laag in die kamer te gebruik – die ongepleisterde matswart fokusmuur agter die bed vorm die grondslag.

Ons is dol hieroor!
’n Trap lei van dié tussenvloer-slaapkamer na nog ’n tussenvloer, waar Rupert se seun slaap.
Ons is dol hieroor!
Die groenigheid van ’n klimop-kokedama versag die industriële styl.

Skep atmosfeer

Rupert sê ...

• Ek dink dis ’n goeie idee om ’n ruimte te versier met ’n swart-en-wit “raamwerk” en dan laag op laag daarop te bou.

• Benut die beskikbare lig ten volle, bring energie in met plante en gebruik bykomstighede wat jou gelukkig maak, soos ’n deken uit jou kinderdae of ’n herinnering aan jou gunsteling-vakansiebestemming.

• Ontwerp gaan oor ’n samehangende geheel. Jy kan dit bereik met verskeie skakerings van dieselfde kleur en die herhaling van motiewe, kleure en teksture.

Dis in die detail
Die swart fokusmuur kontrasteer pragtig met die rustieke hout van die bed.

#2 ’n Skeut energie

Mynhardt het teen ’n kopstuk besluit en het liewer ’n muurkaart gebruik, wat hy vir net R50 gekry het by iemand wat kantoor skoongemaak het.

Vinielvloer van Builders; hanglampe van The Lighting Warehouse; rooi rak en strooikussings van MRP Home; Ikea PS-kassie van myflatpack.co.za

Die hoofslaapkamer in Mynhardt Joubert se huis in die Paarl was eers wit, maar nou is dit ’n lewendige blou wat jy nie sommer sal miskyk nie!

“Wit was ’n veilige keuse en het aanvanklik gewerk,” verduidelik Mynhardt. “Maar dit het nie regtig gevoel soos ’n ruimte wat my persoonlikheid weerspieël nie. Wat ek eintlik wou hê, was ’n mengelmoes van kleur!”

Mynhardt het Plascon Teal Tide gekies vir die aksentmuur agter die bed. “Ek is mal oor blou en wou iets hê wat die ander blou dekorstukke, soos die wasbak- en bedkassie, sou komplementeer.”

Die oopplanruimte is geïnspireer deur die styl van Europese soldervertrekke. “Dis soortgelyk aan wat jy dalk in die solderkamer van ’n Paryse woonstel sal sien. Ek hou so baie van dié voorkoms dat ek van nou af altyd slaapkamers so sal ontwerp!” sê Mynhardt.

Die donkerbruin vinielvloer is in ’n visgraatpatroon gelê vir nog ’n interessante fokuspunt.

Dis in die detail
Mynhardt het die ou hospitaalkassie 20 jaar gelede gekoop en helderblou geverf. 

Ek is gaande oor al die kleure – dis soos iets uit ’n storieboek! – Mynhardt

Deken van Zandla Zam

Die beste blou

Katlego Kondlo van Plascon sê ...

• Die kalmerende skakerings van blou is ontspannend, daarom is dit geen verrassing dat dit so goed werk in ’n slaapkamer nie. Gebruik koel bloue soos Pristine Blue of Blue Bottle saam met warm geel en rooi tone, ’n warm grys of ’n neutrale kleur vir balans.

• Diep, donker bloue soos Lapis Blue of Deep Sea Reef verleen drama en elegansie aan gesofistikeerde ruimtes, terwyl helder bloue meer energie uitstraal en ’n opbeurende atmosfeer skep. 

Ons is dol hieroor!
Die plafon was eers oop, maar Mynhardt het gesien daar is potensiaal vir pakplek en het vloerplanke laat insit vir ’n tussenvlak.

#3 In ’n sentimentele styl

Foto Daniela Zondagh/VISI

Die ontblote gegalvaniseerde elektriese pype verleen ’n tikkie industriële styl.

Mat van Weylandts; die hanglamp was ’n vintage-vonds

Hannes en Tina Maritz, die eienaars van die trou-en-funksiesaak Kraak, beskou hulself as taamlik sentimenteel en wou hê alles in hulle huis in Wellington moet betekenis hê – ook in die slaapkamer.

Die huis self was eers ’n melkstal en hul kopstuk is gemaak van ou sinkplate wat voorheen op die dak was! Die trommel aan die voetenent is vol vintage-speelgoed uit Hannes se kinderdae en die kaste is erfgoed uit Tina se familie.

Dis in die detail
Die bedkassies is erfstukke wat destyds pakplek was vir naaldwerktoebehore. 

Die paartjie het besluit op ’n wit agtergrond wat ’n lugtige, ontspanne atmosfeer sou skep; hulle het die rou betonvloer ook wit geverf met ’n waterbasis-vloerverf vir ’n rustieke afwerking. Die plafon bestaan uit wit Rhinoboard en pasgemaakte staalrame. “Ons wou ’n slaapkamer hê wat neutraal en sielvol is; ons hou van hoe oop en kalm die wit alles laat voel, veral met al die lig wat deur die groot boogdeure stroom,” sê Hannes.

Ons is dol hieroor!
’n Groot varing in ’n pot op die hangkas beklemtoon die hoë plafon. 

#4 Grafiese glorie

Strooikussings van Zana; stoeltjie van Amatuli; mat van Hertex; hanglampe van superbalist.com

Die interieurontwerper Debbie Luke van Designed by Debbie het opdrag gekry om ’n outydse slaapkamer in Andrew en Katja Wegner se Johannesburgse huis te omskep in iets vars en prettigs. Sy het heel eerste die matte uitgehaal en die vloer afgevlak. Daarna het sy ’n treffende swart-en-wit fokusmuur geskep wat die slaapkamer van die badkamer en kaste skei.

“Die bed kyk nou uit op die swembad. Dis lekker dat die bed heeltemal apart is van die res van die ruimte, want dit moet ’n plek wees waarheen jy regtig kan ontsnap,” sê Debbie.

Sy het die grafiese plakpapier self ontwerp; haar inspirasie was ’n geometriese spatpaneel wat sy gemaak het toe sy die Wegners se kombuis opgeknap het. “Ek wou dieselfde tema reg deur die huis gebruik: minimaal dog stylvol met kontrasterende ontwerpelemente,” verduidelik sy.

Debbie moes die vertrek beplan rondom die bed wat Katja by haar ouers geërf het. “Om die antieke bed in ’n moderne omgewing te laat werk het ek ’n neutrale palet gekies en kontras geskep met elemente soos die swart en wit in die plakpapier,” sê sy. 

Dis in die detail
’n Halwe muur skep uitstalplek agter die bed.

Werk met ’n plan

Debbie sê ...

• Kontrasteer harder elemente soos afgevlakte vloere met sagteres soos weelderige matte.

• Laat elke ruimte soos ’n vakansieplek voel. In dié geval kyk die bed uit op die swembad en is dit apart van die badkamer en aantrekdeel.

• Maak seker elke liewe ding in jou kamer is iets wat jou na aan die hart lê.

• Wees dapper! Verlaat jou gemaksone en skep ’n voorkoms wat jou regtig inspireer. Moet nooit voel dat jy jou aan enige reëls hoef te steur nie.

• Hou jou slaapkamer netjies en tegnologie-vry.

#5 Rustig en kalm

Kopstuk van Weylandts; hanglampe van superbalist.com; kussings van Country Road

Ryno en Marita Palm wou hê dat hul slaapkamer die stylkeuses in die res van hul huis in Somerset-Wes weerspieël – gevlekte sementvloere met titsels goud in die meubels en dekorstukke. “Ons wou hê elke vertrek moet sy eie besonderse elemente hê, maar ek dink tog ’n paar eenderse afwerkings deur die huis skep goeie visuele vloei,” verduidelik Marita.

“Die apploustrekker in die slaapkamer is die plakpapier agter die bed. Ons was op soek na ’n ontwerp wat eenvoudig en rustig is en die rou sement en titsels goud sou komplementeer.”

Die paartjie het Alana Groenewald en die span by Groen Bespoke Wallpaper gevra om iets daarvolgens te ontwerp – en hulle is baie in hulle noppies met die eindresultaat!

Kies plakpapier wat regtig tot jou spreek, wat jou inspireer en jou opgewek laat voel elke keer dat jy daarna kyk. – Alana

Hanglampe in die badkamer van superbalist.com; skerm van Design 11; spieël van MRP Home

Om die gevlekte voorkoms op die mure en vloere van die en suite te verkry is ’n mengsel van grys en wit sement, met ’n klein bietjie swartoksied daarby, gebruik. Marita se broer Arno het die treffende wasbakrak gemaak van staal; dit het ’n houtblad en is afgerond met ’n goue epoksilaag. “Dié treffende rak bring warmte in ’n ruimte met soveel sement,” sê Marita.

Kies die regte plakpapier vir jou slaapkamer

Alana Groenewald van Groen Bespoke Wallpaper sê ...

• Maak seker jy weet wat is strelend vir jou. ’n Slaapkamer moet ’n ruimte wees waar jy kan ontspan en jou batterye kan herlaai, en die stimuli wissel van mens tot mens. As jy op soek is na rustigheid, kies ’n sagter motief, soos iets wat die tekstuur van linne of marmer naboots. As jy meer aangetrokke is tot kleurryke, interessante komposisies, oorweeg ’n sterk blommotief of abstrakte patroon of kunswerk.

• Blou het in die algemeen die ontspannendste en strelendste uitwerking. Kleure wat ’n soortgelyke uitwerking het, is grys, ligte skakerings van pers, en blougroen – almal het dieselfde ondertoon. Subtiele skakerings van geel kan ’n gevoel van warmte en lig skep en word dikwels vereenselwig met geluk, terwyl groen strelend en verfrissend is danksy die verwantskap met die natuur.

• Plakpapier is geskik vir die meeste ruimtes, maar bevestig eers met jou verskaffer of hul produk geskik is vir vertrekke waar dit met water en stoom in aanraking sal kom.

• Plakpapier kan ook meestal rondom elemente soos vensters, lugreëlaars, kragproppe en kaste geïnstalleer word. Stuur ’n foto van jou muur aan jou verskaffer sodat hulle die nodige aanbevelings kan doen voordat installering begin. 

KONTAK EN VERSKAFFERS

Amatuli 011 440 5065

Builders 0860 284 533

Country Road 0860 022 002

Design 11 021 851 2035

Designed by Debbie 082 555 4965

Groen Bespoke Wallpaper 082 749 6393

Hertex 021 461 7420/3

MRP Home 0800 212 535

The Lighting Warehouse 0860 144 683

Weylandts 0860 103 400

Zana 

Zandla Zam