Min dinge laat jou so spesiaal voel soos wanneer jy kan sien daar is moeite gedoen om jou tuis en welkom te laat voel – of jy by ’n hotel, gastehuis of vriende tuisgaan. Dink maar aan ’n bos blomme op die laaikas, sjokolade op die kussing of seep met ’n hemelse geur in die badkamer.

Die Britse dekorkenner Terence Conran glo as dit by gasvryheid kom, sal jy saai wat jy maai – daarom kan jy self na koninklike behandeling uitsien as jy moeite doen met jou gastekamer. En wie van ons het nie al geril vir die lakens, met ’n seer rug opgestaan of koud wakker gelê in ’n vreemde kamer nie? Gastekamers word alte maklik pakkamers – die klerekas is dalk vol huisware wat nie meer nut het nie of jy kan skaars beweeg tussen die bokse en die oefenfiets wat jare laas gebruik is. Spring betyds in, want ’n oorvol huis verg ’n bietjie ekstra beplanning om te verseker almal voel welkom en slaap lekker.  

VOOR: Gastekamers soos dié dakkamer word dikwels as pakplek ingespan. Raak ontslae van onnodige artikels wat net rondstaan. 

NÁ: Aandag aan detail soos hangplek en bedlinne van gehalte laat gaste spesiaal voel. Die gebruik van warm kleure soos magenta en goud skep hier ’n gesellige atmosfeer. 

Dis daardie klein dingetjies en aandag aan detail wat ‘n verskil gaan maak aan jou gasvryheid. 

Ruim op 

Raak ontslae van onnodige goed in die gastekamer. Verkoop die oefenfiets wat jare laas gebruik is en gee ou klere en huisware vir ’n welsynorganisasie. Die klerekas behoort leeg te wees sodat jou gaste ’n plek het het om hulle tasse neer te sit en hulle klere op te hang. Daar moet niks onder die bed wees nie – veral as dit die enigste plek is waar tasse gebêre kan word. Sodra jy gemaklik kan rondbeweeg in die vertrek, kan dit behoorlik skoongemaak en ingerig word vir jou gaste. Maak ook die vensters gereeld oop sodat die vertrek vars ruik. 

Matras en bedlinne

Jou gaste moet net so gerieflik soos jy slaap. Raak ontslae van ’n ou matras waarvan die beste dae verby is en gee vir hulle bedlinne van gehalte. Baie mense hou nie van poliëster- lakens nie, terwyl sommige nie omgee om op ’n poliësterkatoen-mengsel te slaap nie. Die meeste mense verkies suiwer katoen. Veral in die somer slaap jy lekkerder daarop, want dis ’n natuurlike stof wat asemhaal en liggaamsvog absorbeer. 

As jy bekommerd is oor katoen wat kreukel, doen dit in die styl van Marita van der Vyver. In haar jongste boek, Die hart van ons huis (Tafelberg, 2004), verwys sy gereeld na haar oorvol huis in Provence, waar die gaste maar net vir lief moet neem met gekreukel- de katoenlakens.  

’n Skinkbord met ’n koffiemasjien en varsgebakte beskuit sê “welkom”.

Onthou dié dinge vir ‘n gerieflike gastekamer
  • ruim op en maak skoon 
  • vars lug 
  • goeie bedlinne en handdoeke
  • ekstra kombers in die kas
  • oorgooideken 
  • sonvars handdoeke 
  • wasgoedpennetjies
  • leeslig en lig bo spieël
  • klein radio
  • genoeg pakplek en hangers
  • spieël
  • verlengkoord en 2-puntprop
  • ketel met tee en koffie 
  • kerse 
  • tydskrifte en boeke
  • blomme

VOOR: Die tuinhuisie word deur die jaar as kantoor gebruik. In die vakansie kan jy die kantoorinhoud wegpak en ’n heel ander atmosfeer met sagte, romantiese dekor skep

NÁ: ’n Tuinhuisie word in ’n romantiese slaapkamer omgetower. Daar is nie ingeboude kaste nie, maar ‘n hangrak is ’n goeie oplossing (soortgelykes is by Woolworths en Mr Price Home te koop). Die natuurlike skakerings van die dekor is ’n goeie keuse vir ’n landelike buitevertrek, terwyl die potplant iets van buite binnetoe bring. 

Onthou om ’n ekstra kombers in die kas te sit. Voordat jy die bed met donskussings opmaak, moet jy seker maak jou kuiermense is nie hooikoorslyers nie. 

Handdoeke

Was handdoeke en hang dit uit in die son – selfs al kom dit silwerskoon uit die kas. Jou gaste sal die vars songeur en tekstuur waardeer. Kyk ook al die handdoeke goed deur – merke of kolle is onaanvaarbaar. 

Lig 

Die regte beligting is belangrik in ’n slaapkamer. Met muur- of bedlampies sal kuiermense gerieflik kan lees, terwyl ’n lig bo die spieël sal verseker dat hulle nie met grimering, hare droogblaas of skeer sukkel nie. Sit ook ’n paar kerse neer. 

Pak- en hangplek 

Gastekamers is dikwels kleiner as die ander kamers in die huis, wat die pakplek en beweegruimte beperk. Niemand hou egter daarvan om oor hulle eie tasse te klouter om by die haardroër uit te kom nie. As jy platsak is en nie bedkassies het nie, kan jy houtkratte of selfs stoele gebruik. 

As die pakplek min is:

• Kyk by dennehoutmeubelwinkels uit vir ’n bed met laaie aan die onderkant of vir vlak houtkissies op wiele wat maklik in- en uitgetrek kan word.
• Geen ingeboude kaste nie? Die platsak-oplossing is ’n om oop hangplek met ’n chroompyp te prakseer. Mr Price Home en Woolworths verkoop bêre-eenhede wat jy kan ophang.
• Gebruik die ruimte agter die deur vir hake sodat handsakke, serpe en kamerjasse of ’n skoensak opgehang kan word.
• Baie geskenk- en leefstylwinkels soos Game, Mr Price Home, @home, Woolworths, Weylandts en Osiers verkoop mooi helderkleurige bêrebokse wat ideaal is vir onderklere en ander klein artikels.
• ’n Klein boekrakkie is nuttig vir ekstra pakplek.
• ’n Jas- of handdoekstaander neem min plek en is handig vir klere, serpe, hoede en handsakke.

WENK: As daar nêrens bêreplek vir die tasse is nie, moet jy jou gaste rustig laat uitpak en dan aanbied om die leë tasse in die motorhuis of elders te bêre. 

Noodsaaklikhede vir gerief 

’n Mens vergeet maklik van alle- daagse dinge soos kragproppe in jou gastekamer. Dit is daardie klein dingetjies en aandag aan detail wat ’n verskil gaan maak aan jou gasvryheid. Onthou om die gebruik van jou wasmasjien aan te bied (baie mense verkies dit om self hulle wasgoed te was), of bied aan om jou kuiermense se wasgoed saam met joune te was. 

Jou gaste sal ook die privaatheid van ’n eie ingang waardeer.