Foto’s Henrique Wilding
Dis dalk nie ’n aangename onderwerp nie, maar goeie sekuriteit is ’n moet in ons pragtige land met sy hoë misdaadsyfers. Vir die meeste mense is daar twee belangrike oorwegings: om die boewe uit te hou wanneer hulle nie tuis is nie en om snags rustig te slaap deur veilige sones in die huis te skep.
Tradisionele diefwering en veiligheidshekke kan onaantreklik wees. “Mense is dikwels wrokkig oor die koop van hekke en diefwering,” sê die binne-ontwerper Jenny Collins van Red Cat Design. “Jy weet dis noodsaaklik, maar mens wil nie baie geld daarop uitgee nie, veral as dit nie mooi lyk nie. Gelukkig is daar deesdae heelwat aantreklike opsies beskikbaar.”