Op VIA (DStv-kanaal 147) se regrukprogram My plek of joune? neem die nutsman Melt van der Spuy en die binnenshuiseversierder Isabel Barends elke episode ’n vertrek onder hande om dit ’n nuwe voorkoms te gee. Hier deel die twee nou hul wenwenke vir hoe jy jou huis of woonstel met ’n paar maklike truuks kan oortoor.

In dié week se episode van My Plek of joune? pak ons die akteurs Waldemar Schultz en Ira Blanckenberg se buitekamer aan.

Wil jy ook jou buitekamer of motorhuis omskep in ’n funksionele area, maar weet nie waar om te begin nie? Volg dié riglyne en ruk daai spasie in ’n japtrap reg:

1. Gooi uit! Doen ’n oudit van die kamer en gooi alles uit wat nie meer gebruik word nie. ’n Oorvol vertrek kan nie doeltreffend benut word nie.

2. Kies ’n tema of parmantige kleurskema. Hier kan jy kreatief raak en kanse waag – leef jou verbeelding uit en gebruik dekor wat jy normaalweg te bang is om in jou huis te gebruik.

3. Definieer die area. As die spasie meer as een doel vervul, verdeel dit met ’n boekrak, kas of afskorting. Waldi het ou houtpanele met skarniere aan mekaar geheg vir ’n verdeler. Verf of stensil patrone op die panele om dit ’n glanspunt te maak.

4. Skep ’n organiseringstelsel. Buitekamers en motorhuise raak al te maklik die stortterrein vir gemors. Gebruik kratte of plastiekhouers om alles netjies te stoor en plak naamkaarte op sodat jy weet wat in elke houer gebêre word.

5. Gee aandag aan beligting. Maak seker dis voldoende vir die take wat daar verrig moet word. Indien dit ’n werkspasie is, moet daar algemene beligting sowel as taakbeligting wees.

Nie net is dit die moeite werd om ’n onbenutte spasie in ’n veeldoelige area te omskep nie; dis ook makliker as wat jy dink. So stof daai spinnerakke af ek gryp ’n verfkwas!