Nie almal is dapper genoeg om hul motorhuise in woonstelle of ekstra kuierplek te omskep nie. Maar dié wat dit wel gedoen het, is nie een oomblik spyt oor hul besluit nie. Ons kyk na vier ware omskeppings en nog moontlikhede. garage-conversions-1Die Van Reenens se woonstel is lig en oop, en lyk baie meer modern as die res van die geboue wat uit die vroeë 1900’s dateer.

Garage 1: Kuierruimte

Conrad en Marlene van Reenen van die Strand het drie jaar gelede besluit om die groot motorhuis op hul erf in ’n blyplek vir kuiergaste te omskep.

Die projek

“Die gebou was vervalle en as ons dit sou afbreek, kon ons nie weer op dieselfde fondament bou nie, aangesien die boulyn in gedrang was.” ’n Tekenaar het hul idees verfyn, waarna Conrad self die bouwerk bestuur het.

Hulle kon die oorspronklike mure behou, maar vensters is aangebring vir meer natuurlike lig. Van die dakkappe is vervang, ’n nuwe dak opgesit en heelwat pleisterwerk is gedoen. Die muur aan die westekant moes vogwering kry, asook ’n nuwe laag bakstene om die struktuur te versterk.

Die Van Reenens vertel dat daar geen fondamente was nie, net spoelklippe en swart klip; dit moes met ’n moderne fondament vervang word deur onder die ou kleibaksteenmure te bou.

Die eindproduk

Drie maande later was die projek klaar. Nou word die voltooide woonstel gereeld as onthaalarea ingespan.

Wanneer die Van Reenens die konsertinadeure op ’n somersdag wegskuif, geniet hulle die nuwe ruimte. Hier kan hulle met gaste onder die nuwe afdak braai, eet, swem en kuier, met bediening vanuit die woonstel.

Wenk: Moenie kortpaaie volg nie. Spandeer eerder die ekstra geld en kies duursame produkte en goeie bouers. garage-conversions-2Melissa Kretschmer en Grant Newman het hul leefruimte vergroot deur ’n enkelmotorhuis in ’n kuierplek te omskep.

Garage 2: Steeds ’n wenner

Wie kan ons heel eerste Regruk met Flair-wenners vergeet? Melissa Kretschmer en Grant Newman van Wynberg het in 2008 ’n kuiervertrek met ’n kroegie, rusbank en boekrakke ingerig in hul enkelgarage met sy treffende gewel.

“Toe ons besef ’n derde van ons erf bestaan uit die oprit en motorhuis aan die agterkant, het ons besluit om iets beter met die ruimte te doen,” vertel Melissa.

Die projek

Daar was nie geld vir argitekte en ingenieurs nie, maar albei hul pa’s is voormalige ingenieurs en ’n argitekvriend het raad gegee. Melissa en Grant het self die veranderinge aangepak en twee maande lank elke naweek gewerk.

Hulle het die motorhuisdeur met ’n dubbele oopswaaideur vervang (wat meer as die helfte van hul begroting ingesluk het), nuwe beligting aangebring en ’n kroegtoonbank en boekrakke ingebou; Melissa het die mure met interessante verftegnieke en stensils versier.

Omdat hulle op ’n baie klein begroting moes werk, is die meeste van die boumateriaal herwin. Selfs die ou garagedeur is opgesaag en as ’n kasdeur ingespan.

Die eindproduk

“Die ruimte wat ons gewen het en die lekker kuiers wat ons nou al met ons vriende hier gehad het, beteken veel meer as ’n enkelgarage vir een van ons twee se motor,” sê hulle.

Wenk: Dink goed oor alternatiewe veilige parkeerplek vir jou motor en moenie dat jou verbeteringe voornemende kopers later afskrik nie. ’n Wit vollengte-gordyn kan toegetrek word om die slaapkamer en leefvertrek te skei. Die bed is op die tussenvlak.’n Wit vollengte-gordyn kan toegetrek word om die slaapkamer en leefvertrek te skei. Die bed is op die tussenvlak.

Garage 3: Naweekplek

Nadat Neil Stemmet en sy lewensmaat besluit het om hul hoofhuis by De Kelders in ’n gastehuis te omskep, het hulle die enkelmotorhuis op die eiendom ingerig as ’n woonstel waar hulle naweke kon bly sonder om hul gaste te pla.

Neil, ’n binne-ontwerper, het die 21 m²-vertrek baie vernuftig ingerig. Hoewel die organiese styl in hul naweekplek verskil van dié van die hoofhuis, trek dieselfde kleur op die mure, vloere en kaste tog die verskillende ruimtes bymekaar. “Daar moet altyd ’n lyn deur ’n huis loop, van die voortuin dwarsdeur tot in die agterplaas,” verduidelik hy.

Die projek

Waar die motorhuis eens was, is die deuropening toegebou en ’n kas- en pakruimte met ’n slaapbank bo-op aan die binnekant geskep. Die lae betondak was nogal ’n struikelblok. “Ons moet buk om by die instapkas in te kom en koes as ons op die bed gaan lê, maar dis ’n klein prys vir die luukse spasie,” lag hy.

Natuurlike lig stroom deur die venstertjie bo hul bed en ’n gordyn kan toegetrek word om die slaapdeel privaat en die leefarea netjies te hou. Wit is as basiskleur gebruik om die ruimte groter te laat voel, en word opgehelder met kleurryke bykomstighede.

Die eindproduk

Die woonstel is nou hul gunsteling-naweekplek. Hulle geniet die privaatheid, die pragtige seeuitsig, die lug wat kruisventileer deur die vertrek, die lekker buitestort en die sterre saans deur die venster bo hul bed.

Wenk: Bou ’n tussenvloer en kies meerdoelige meubels soos ’n bank wat as ekstra slaapplek kan dien.

Garage 4: Huis-huis

Marko en Maxie Pretorius van Bloemfontein het as pasgetroudes in 2007 dringend ’n huis nodig gehad. Hulle het planne geteken en met min geld ’n motorhuis van net 35 m² omskep in ’n oopplanhuis vir twee, kompleet met sit-, eet- en leefruimte, slaapplek, kombuis én badkamer.

Wenk: Installeer skuifdeure wat so groot is soos die hele motorhuisdeuropening – dit laat die ruimte groter voel, verskaf ekstra natuurlike lig en maak die tuin deel van die leefruimte.

Wil jy jou motorhuis omskep?

Marcus Smit, ’n argitek van Gordonsbaai, sê indien jy jou motorhuis in ’n leefbare vertrek wil omskep, sal die volgende vraelys ’n goeie vertrekpunt wees.

• Wat is jou behoefte; waarvoor gaan die area gebruik word en is daar ’n alternatiewe, veilige parkeerplek vir jou motor?

• Is die bestaande struktuur voldoende, of is strukturele veranderinge nodig? Vra raad by ’n argitek of bouer.

• Is die eiendom in ’n winterreëngebied? Dan moet die buitemure spoumure wees, anders moet jy vir vogwering of selfs vir die bou van ’n ekstra muur aan die binnekant van die bestaande gebou (afhangende van plaaslike bouriglyne) voorsiening maak.

• Is daar ’n vogweerlaag onder die vloer? As vog van die grond na die vloer kan intrek, kan die gebou ongeskik wees as ’n leefruimte. ’n Ekstra betonvloer met vogwering kan wel bo-op die bestaande vloer gegooi word (of ’n nuwe vloer kan die oue vervang).

Nog wenke

• Oorweeg droëmure en liggewigkonstruksies om vertrekke af te skort.

• Bou die garagedeuropening effe kleiner en installeer ’n dubbele oopswaaideur, of breek dit wyer oop vir stapeldeure. Dink aan die visuele effek.

• Om plek te spaar, oorweeg skuifdeure aan slaapkamer- of kombuiskaste, en kies veeldoelige en ingeboude meubels en toestelle.

• Maak voorsiening vir natuurlike lig deur genoeg vensters in te sit. Dit hou jou kragrekening laag en maak die ruimte vroliker.

• Indien moontlik, verkort die inrit en skep ’n tuintjie – dit verbloem die “herboudemotorhuis”-voorkoms. Of skep privaatheid met ’n klein binnehof deur die voorkant met ’n muurtjie af te skort.

• Maak gebruik van betroubare, geregistreerde kontrakteurs, kry verwysings van vriende en vra om voorbeelde van die kontrakteurs se werk te sien. Indien moontlik, gesels met vorige kliënte.

• Maak ook altyd seker jou gebou voldoen aan munisipale en bouregulasies, en dat die nodige krag- en watervoorsiening maklik by die bestaande dienste op die eiendom kan aansluit.

As jy nog inspirasie kort, kyk na dié planne vir ’n tienerkamer, gastekamer en tuiskantoor, almal ingerig in ’n area van sowat 28 m².  ’n Enkelmotorhuis is sowat 18 m² groot en ’n dubbelmotorhuis sowat 36 m².

garage-conversion-plans