Foto’s Francois Oberholster, Henrique Wilding, Peter Rimell en Justin Patrick

TV-MUUR#1

Boekekennis

Dié treffende TV-eenheid is beslis iets om oor huis toe te skryf. Sewe sweefrakke van soliede eikehout kreun onder dié Kaapse gesin se versameling boeke en die TV pas knus tussenin. Al die elektriese koorde is versteek in ’n houtboks agter die TV. En hoewel die eenheid vol is, voel dit nooit chaoties nie.

“Ons het nog altyd ’n plakboek gehou van inspirerende huis- en dekorfoto’s, en die boekrak-idee was een van hulle,” onthou die eienaar. “Maar anders as die verwysingsfoto het ons die rakke tot teen die plafon aangebring. Ons is dol oor hoe visueel treffend die algehele effek is.”
Sweefrakke geïnstalleer deur Spotlight Kitchens

Kry dieselfde voorkoms vir minder met ligter dennerakke op rakstutte.
TV-MUUR #2

Wegkruipertjie

Die interieur-ontwerper Evi Elsner van Home Concept het ’n dilemma in dié sitkamer in Somerset-Wes gehad. Net die fokusmuur was geskik om ’n TV daarteen te monteer, maar dit sou die sjiek wit ruimte oordonder.

“Ek haat dit om TV’s uit te stal. Daarom het ek ’n kas met ’n skuifpaneel ontwerp; nou is die TV heeltemal uit die oog wanneer dit nie gebruik word nie,” sê Evi.
Interieur-ontwerp en bank deur Home Concept; stoele van Weylandts

TV-MUUR#3

Maak plek

Edge Bisset het ’n ongemaklike dra-muur in sy veelvlak-woonkamer gehad; dis die agtermuur van sy garage wat onder die eetkamer is. Maar hy het dit slim benut deur die TV en kaggel daar in te bou.

“In my vorige huis was die TV bo die kaggel en dit was ’n bietjie te hoog. Dié keer wou ek die kaggel en TV geniet sonder om my nek te moet rek. Ek verkies dat die skerm uit die oog is wanneer dit nie gebruik word nie – ek oorweeg dit om ’n blinding of skuifdeur te installeer om die TV te versteek,” verduidelik hy.
Kaste deur CH Interiors; trommel van Spitfire Furniture; lamp van Mr Price Home; uilkussings, vaas en gebreide kombers van Loads of Living; protea-kussing van Woolworths

TV-MUUR #4

Raamwerk

Louise Park-Ross, hoofontwerper by Good Clothing, se TV-muur is ’n prettige kunswerk. “Ek het nog nooit ’n TV besit nie, en toe ek dié een koop, het ek ’n punt daarvan gemaak om dit nie ’n fokuspunt in my sitkamer te maak nie,” verduidelik sy. Louise het haar platskerm- TV slim tussen ’n versameling kunswerke “gekamoefleer”, wat dit deel van die groter prentjie maak.

Louise is ’n opperste skattejagter en was maar te bly om in tweedehandswinkels en vlooimarkte te kon rondsnuffel na die perfekte toevoegings tot haar versameling. “Die sleutel is om ’n verskeidenheid vintage-items te kombineer met moderner illustrasies om die voorkoms vars te hou. Ek het ook probeer werk met verskillende vorms – vierkante, reghoeke, sirkels, ovale en letters – sodat dit minder gestruktureerd en meer eklekties is,” voeg Louise by.

En kyk net hoe oulik is die hout-radiogram wat sy vir ’n appel en ’n ei raakgeloop het – dis die perfekte plek om DVD’s en ander losgoed te bêre sodat daar niks rondlê wat die aandag van Louise se “mini-galery” sal aftrek nie. 

TV-MUUR #5

Algehele verduistering

“Dis altyd ’n ontwerp-uitdaging om ’n TV en tuinuitsig met praktiese sitplek in ’n oopplan-leefruimte te kombineer. Boonop moet jy weerkaatsings op die skerm vermy,” sê die argitek Marcus Smit van Grabouw.

Marcus, in wese ’n minimalis, het met ’n eenvoudige oplossing vorendag gekom: Hy het die muur agter die TV swart geverf en sy klankstelsel se luidsprekers agter swart luidsprekermateriaal versteek. Hy het ook ’n swart deur aan die rak gesit waar hy sy DVD’s en afstandbeheerders hou. Terwyl sy TV sigbaar is van die kombuis en eetkamer, skakel dit naatloos by die swart agtergrond in.

Gebreide kombers van Mr Price Home

TV-MUUR#6

Tref ’n balans

Met haar fyn oog vir detail is dit geen wonder dat Emma Atkinson – die eienaar van Milame, ’n onderneming wat handgemaakte juweliersware maak – die balans van haar TV-muur presies reg gekry het nie.

“My oom Sam Curteis, ’n smid, het die rakeenheid gemaak. Dit doen driedubbele diens as ’n TV-eenheid, boekrak en uitstalruimte vir al my kosbaarhede. Ek het ook oor die jare binnenshuise plante versamel – vredeslelies is my gunsteling,” vertel sy.

Tussen die potplante is ’n wit keramiek-uil wat Emma glo oor haar waak en die vintage-voëlsketse links van die TV was ’n vonds by ’n tweedehandswinkel.

Die moderne dog effens onafgewerkte rakeenheid gee die ruimte ’n tuisgemaakte gevoel. “Dis vir my so lekker om my besittings te kombineer en pragtige, vertroostende uitstallings in my huis te skep,” voeg sy by.

VERSKAFFERS