Jy kan beslis melamien verf, solank jy die basis reg voorberei. Verwyder eers alle handvatsels en versierings. Indien jy die handvatsels gaan vervang, moet jy seker maak dat die nuwes op die vorige hegposisies sal pas, anders moet jy die ou gate eers opvul en nuwe gate vir die nuwe handvatsels boor.

Berei die oppervlakke voor deur dit eers deeglik skoon te maak met ’n ligte suikerseepoplossing – veral in ’n kombuisomgewing waar oppervlakke maklik vetterig kan raak. Wend daarna Plascon Tile and Melamine Primer oor die melamien aan. Wag tot dit droog is en wend dan twee lae emaljeverf van goeie gehalte, verkieslik met ’n waterbasis (dis beter vir die omgewing), aan. Laat die eerste laag goed droog word voor jy die tweede laag aanwend en skuur die oppervlakke liggies tussen die emaljelae vir ’n gladde afronding. Jy sal die beste resultate behaal as jy die deure horisontaal kan verf, maar dan sal jy hulle eers moet afskroef. Merk in dié geval die deure aan die binnekant, met ooreenstemmende nommers op maskeerband in die kas, om seker te maak dat jy hulle weer in die korrekte posisies terugsit.

Hoewel ek altyd verkies om soveel moontlik self te doen, kan jy natuurlik ’n kombuiskasverskaffer vra om vir jou ’n kwotasie te gee om net die kasdeure te vervang met nuwes in die voorkoms van jou keuse. Die kanse is goed dat dit nie veel duurder gaan uitwerk as jy al die moeite en koste om die melamien oor te verf, in ag neem nie. Aan die ander kant kan ’n aansienlike kwotasie dalk net die regte aansporing vir jou wees om die takie self aan te pak!