Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

Die kenners is dit eens: Eerste indrukke tel wanneer jy in ’n trae mark wil verkoop. Goeie vloei van een vertrek na die ander en onbelemmerde ingange en deure is ononderhandelbaar. En, natuurlik, maak seker alles is mooi netjies!

Wanneer jy jou huis wil verkoop, wil jy dit vinnig en teen die hoogste prys moontlik doen, reg? Maar dan moet die eiendom nie te lank in die mark wees nie, want dit lei dikwels tot laer aanbiedinge. En in die huidige Suid-Afrikaanse ekonomie en eiendomsmark is die druk groot.

“Die eiendomsmark is tans gunstig vir kopers,” sê die FNB-eiendomsekonoom Siphamandla Mkhwanazi. “Die aanbod is groter as die vraag, wat kopers ’n groot verskeidenheid keuses gee en hulle in staat stel om te soek na wat hulle wil hê. Hulle het die oorhand tydens onderhandelinge en kan dikwels ’n goeie afslag beding. Op die oomblik word 90% van transaksies in die pryssegmente bo R2,3 miljoen onder die aanvanklike vra-prys beklink. Dit beteken verkopers sal nege uit tien keer hul prys drasties moet verlaag om hul huis van die hand te sit.”

Maar daar’s ook goeie nuus: Dit lyk of die eiendomsmark stabiliseer. “Ons verwag steeds dat huispryse vir die res van 2019 en in 2020 met gemiddeld 3,5% en 4% jaar op jaar sal styg,”sê Siphamandla. “In die kort termyn kan ons verwag dat mark-aktiwiteit sy momentum sal behou, aangevuur deur aantreklike pryse, groter mededinging tussen finansiers en laer rentekoerse. Maar veral in die hoër prysklas is vuurwerk onwaarskynlik te midde van ’n swak ekonomiese basis, asook die oormaat huise wat te koop is.”

As jy ’n huis in die hoër pryssegment het en kopers skaars is, oorweeg “home staging” – ’n proses waardeur jy jou huis regruk vir ’n vinniger verkoop. Dit kan ’n paar klein veranderings aan jou eiendom beteken (soms net eenvoudige stilering en opruiming, in ander gevalle ligte onderhoud soos verf) wat dit aanlokliker maak vir potensiële kopers. Dit kos wel iets, maar die kans is goed dat jy dié geld sal terugkry danksy ’n beter aanbod.

Hoekom dit doen?

“Die praktyk van ‘home staging’ raak al hoe gewilder in Suid-Afrika namate agente, ontwikkelaars en verkopers die voordele daarvan begin raaksien,” sê Liesa Jossel, die stigter van Home Stagers Cape Town en stigterslid van die Suid-Afrikaanse tak van International Home Staging Professionals.

“Uit ondervinding het ons geleer ’n huis wat reeds drie maande op die mark is, verkoop binne sowat drie weke nadat dit verkoopgereed gemaak is. Die meeste verkopers sny hul prys met 10% ná sowat drie maande. Op ’n huis van R3 miljoen beteken dit ’n verlies van R300 000. Stilering kos ’n breukdeel daarvan en lok die kopers en aanbiedinge!”

Wat behels die diens?

“Verskillende mense bied verskillende dienste aan,” verduidelik Liesa. “Party doen net konsultasies vir bewoonde eiendomme, ander stileer leë huise wat te koop is; party stileer kantore en ander net luukse huise.

“Wanneer ek ’n huis besoek wat bewoon word, sal ek saam met die verkoper deur die huis stap en vir hulle verduidelik hoe om die ruimte op te tooi sodat hulle die beste foto’s aanlyn kan plaas. Ek sal ook aandui wat hulle moet doen om die aandag te vestig op eienskappe waarna kopers soek, byvoorbeeld ruimte, lig, vloei en funksie.”

Volgens Liesa, wat ook mense oplei om huise verkoopgereed te maak, was dit nog altyd moeilik om leë huise verkoop te kry, want kopers kla dikwels dit lyk “koud”. En dis natuurlik ook soveel makliker om foute raak te sien. “Onthou, jou tuiste word ’n huis wanneer jy dit in die mark sit en dit ding mee met talle ander huise in dieselfde prysklas en buurt, daarom moet joune uitstaan.”

Hoeveel kos dit?

Hoewel dit wissel van stilis tot stilis, kos ’n konsultasie vir ’n gemiddelde bewoonde drieslaapkamerhuis sowat R1 000 per uur – en dit is ook hoe lank die gemiddelde sessie duur. 

“Wanneer jy ’n leë huis moet inklee, is daar meer faktore wat jy in ag moet neem,” verduidelik Liesa. “Die grootte en styl van die eiendom sowel as die prysklas is belangrik. ’n Leë een- tot tweeslaapkamerhuis se stilering begin by ongeveer R18 000 per maand; dié koste sal aansienlik verminder vir die tweede maand indien die huis nog nie verkoop is nie. Die eerste maand is wanneer ek al die ontwerp, beplanning, verkryging en plasing van meubels en bykomstighede doen, en die koste sluit aflewering en die verwydering van alles agterna in.” 

Liesa het haar eie voorraad mooigoed, maar huur ook soms spesifieke meubels en dekor-items wat by ’n bepaalde huis sal pas. “My mikpunt is om ’n pragtige en stylvolle huis met goeie vloei en ’n aantreklike voorkoms te skep,” verduidelik sy.

Maak ’n plan

Indien jou huis gemeubileer is en jy nie meer as R10 000–R15 000 wil bestee nie, het die eiendomsagent Stephanie White van Harcourts Dunn, wat self huise verkoopgereed maak, die volgende raad:

1 Buite Eiendomme wat afgerem lyk, skrik kopers af. Probeer soveel moontlik opruim en regmaak.

2 Klein herstelwerk Dié hoef nie ’n fortuin te kos nie, maar sal ’n groot uitwerking op die koper se indruk van jou huis hê. Vervang stukkende ruite, ontbrekende deur- en kashandvatsels en herstel skewe skarniere en geute.

3 Stoep of braai-area Dié leefruimtes is belangrik vir Suid-Afrikaners en moet dieselfde aandag as die huis se binneruimtes geniet. Dit word nie as ekstras beskou nie, eerder ’n uitbreiding van die leefvertrekke binne; dit moet skoon, netjies en gesellig wees.

4 Kombuis Spandeer ’n paar rand en sorg dat alles werk. Die belangrikste is dat die kombuis aantreklik moet lyk. Iets persoonliks soos kruie op die vensterbank roer altyd my hart.

5 Badkamer Daar is eenvoudig geen verskoning vir sigbare vlekke, skimmel of muwwerige voegbry nie! Raak ontslae daarvan – dit kos net ’n bietjie moeite. Kry ’n skimmelverwyderaar by jou ysterwarewinkel.

6 Slaapkamers Weereens is daar niks wat ’n vars laag verf nie kan regruk nie. Dis een van die eenvoudigste en bekostigbaarste maniere om die vertrekke in jou huis te vernuwe; hou liefs by neutrale skakerings.

5 moenies

Dié faktore sal potensiële kopers gou afskrik, sê Stephanie:

  • Klamheid
  • Donkerte
  • Onnetheid
  • ’n Gebrek aan onderhoud
  • Sigbare struktuurskade

  • Professionele foto’s van jou huis maak ‘n groot verskil wanneer jy potensiële kopers in die aanlynmark wil lok. Moenie tweede beste aanvaar nie. – Stephanie

    Op skoudag

    Wanneer jou huis die dag op skou is, het agente dikwels truuks wat hulle uithaal om ’n aangename huislike omgewing te skep; hier is Stephanie s’n:

    • Geure Aangename aromas wek positiewe emosies; daarom is dit belangrik dat jou huis lekker ruik. Spuit gerus lugverfrisser of kamersproei met ’n vars geur soos sitroengras.
    • Huislikheid Bring die natuur binnetoe vir ’n gevoel van geluksaligheid. Vars blomme en/of groenigheid uit jou tuin werk goed hiervoor.
    • Lig en lugtig Maak die vensters oop om baie natuurlike lig en vars lug in te laat. 
    • Tuin Hou dit skoon en netjies en maak skoon agter jou troeteldiere. Min dinge is so erg soos wanneer jy die tuin wil verken en “landmyne” moet systap. Ek beveel ook aan dat mense hul troeteldiere op skoudag van die perseel verwyder.
    • Persoonlike besittings Haal al die velrome en tandeborsels van die wasbakkas af. Bêre ook persoonlike items soos gesinsfoto’s, wat kan keer dat potensiële kopers hulself in die ruimte sien.

    KONTAKTE