Foto’s Francois Oberholster, Greg Cox, Elza Cooper, ER Lombard, Justin Patrick, Ed O’Reily en Charlene Schreuder • Stilering Marian van Wyk

Mense sê dikwels: Om te weet hoe om ’n prent op te hang ?is ’n kuns op sigself. En die professionele mense wat gereeld enigiets van meesterstukke tot familieportrette en erfstukke vir kliënte moet hang, stem saam. As jy jou muurdekor te hoog plaas of as daar nie samehang tussen die stukke is nie, kan dit die voorkoms van ’n hele vertrek beduiwel.

Tog kan enigeen die perfekte galerymuur of fokuspunt skep deur net ’n paar eenvoudige riglyne te volg. 

In Johan van Zyl en Peter van Noord se huis op Koringberg in die Wes-Kaap versier ’n verskeidenheid kunswerke elke liewe muur.

Links is ’n digitale afdruk met die titel Ansie Warhol (2001) deur Diek Grobler gedeeltelik sigbaar en regs ’n ongetitelde afdruk deur ’n Suid-Amerikaanse kunstenaar wat hulle in 2012 by die Toffie Pop Culture-fees in Kaapstad gekoop het. Die wit figuurtjies teen die muur is deur die kunstenaar Marinda du Toit gemaak van afvalmateriaal.

1 Wat is kuns

“Kuns is ’n oorspronklike werk wat met kreatiwiteit, vaardigheid en ’n bepaalde doel uitgevoer is,” verduidelik Alex Hamilton, ’n kunstenaar, kurator en galery-eienaar. “Dis outentiek en dra ’n boodskap oor, maar is nie noodwendig ’n skildery nie.”

Nie alles wat jy teen ’n muur hang, hoef ’n oorspronklike kunswerk te wees nie. “Dis belangrik om te onderskei tussen kuns en muurversierings,” sê hy. “Borde, foto’s en tapisserieë, selfs ’n versameling handsakke, kan ’n muur versier. Ek het ook al ’n treffende rangskikking van tikmasjiene teen ’n muur gesien! En dit hoef nie duur te wees nie – enigiets waarvan jy hou, wat atmosfeer skep en vir jou vreugde bring, kan werk.”

Dié vier houtfigure, ook in Peter en Johan se huis, is deur Marinda du Toit; in die middel is ’n afdruk van ’n ets deur Lynn Smuts, en die pienk werk is ’n afdruk van ’n ongetitelde ets deur Colijn Strydom.

Hier hang Marlise Keith se Take a load off Manny bo die bed. Regs is die oorspronklike werk wat Piet Grobler gemaak het vir ’n plakkaat waarmee die Kaapstadse balletgeselskap hul produksie van Die Neutekraker in 1997 geadverteer het.

Nie alle foto’s hoef geraam te word nie – raak kreatief en rangskik jou familiekiekies in ’n vorm wat die oog vang. Vir ’n speelse dekorkinkel kan jy dit laat druk om soos toeka se Polaroid-foto’s te lyk. Of laat monteer dit op houtblokke by ’n verskaffer soos Photoblox.

2 Die perfekte hoogte

Kunswerke in galerye hang meestal tussen 1 400 mm en 1 600 mm bo die vloer, verduidelik Nick Henshilwood van Hang it Now. Hoewel ’n mens dieselfde in jou huis kan doen, moet jy meubelstukke soos ’n groot rusbank of konsoletafel in ag neem en die nodige aanpassings maak.

“Kuns wat te hoog hang, kan ongemaklik voel indien daar te veel oop spasie tussen die kunswerk en die vloer is – ’n mens behoort in die middel van ’n kunswerk in te kyk om die skoonheid ten volle te waardeer,” sê Nick.

In Lize Beekman se huis in Melkbosstrand hang drie van haar kunswerke teen ’n blou muur (Dulux Sapphire Springs 2) in haar leefvertrek. Die mandalas, in eenvoudige wit rame, skep ’n treffende fokuspunt bo die kontemporêre konsolekas.

’n Foto-collage hoef nie altyd in ’n vierkant gerangskik te wees nie. Oorweeg ’n onderstebo “stadsprofiel” soos dié as uitleg. Dis ideaal wanneer jou ruimte beperk is, byvoorbeeld bo ’n rak.

’n Ongetitelde skildery deur Roelie van Heerden vul die ruimte bo dié deur, wat andersins dooie spasie sou wees.

’n Versameling van Marjorie Wallace se sketse vir haar man, Jan Rabie, se gewilde boek Die seeboek van die sonderkossers gee in beskeie swart rame trefkrag in dié huis op Onrusrivier.

3 Groeperings wat werk

’n Uitstekende manier om ’n groot aantal kunswerke of ander versierings teen een muur uit te stal is in ’n groep. Nick verduidelik: “Prente kan met of sonder rame wees. Indien jy hulle wil raam, is daar verskeie moontlikhede. Maar hou dié riglyne in gedagte sodat dit nie soos ’n saamgeflanste mengelmoes lyk nie:

Nick se voorstelle

SÓ MAAK JY?

  • Plaas die kunswerke plat op die vloer voor die muur waarteen jy dit wil ophang.
  • Skuif hulle rond tot jy die ideale groepering het.
  • Indien jy ’n netjiese voorkoms en ’n gevoel van orde wil skep, hou die basis en sye in ’n reguit lyn, met ’n lukrake rangskikking in die middel. 
  • Laat sowat 5–12 cm oop tussen kunswerke en vermy massiewe groeperings, aangesien dit die samehang kan versteur. 
  • Gebruik twee hake vir elke kunswerk, dan kan dit nie skeef hang nie; wondergom kan ook help.

4 Raammodes

Metaalrame, veral koper, is weer hoogmode, net soos die sweef-effek, verduidelik Brett Deacon van Picture Hanging Services. “Minimalistiese, dun en natuurlike houtrame is ook tans gewild, terwyl wit of helderkleurige rame ’n werk kan laat uitstaan. Dit hang regtig af van die kunswerk self en soms ook die vertrek waar jy dit wil gebruik.

“Maar wat ook al die styl van die raam, jy kan ’n skoon voorkoms skep deur dit so plat moontlik teen die muur te installeer. Ons verkies om twee skroewe of spykers per raam te gebruik, anders kan ’n afstowwery of skoonmakery dit versteur; dit hou ook die kunswerke stewig en veilig.”

Top-wenk
Maak altyd van ’n ervare en betroubare ramer gebruik vir die beste resultate, is Nick se raad. Dit kos dalk meer, maar jy kry puik advies en ’n produk van gehalte. Suurvrye monteerborde, die korrekte kleure en die regte rugkante en hangers is maar enkele aspekte waarmee jou ramer jou kan help.

Als in harmonie! In die wit rame is twee blou teëls deur Farah Hernandez en die afdruk op seildoek is van die blog explodingdog.com.

Met of sonder glas?
Die algemene reël is dat olieverfskilderye nie glas kry nie, terwyl helder glas aanbeveel word vir waterverfskilderye of werke op papier. Oorweeg UV-beskermde, nie-weerkaatsende museumglas vir waardevolle artikels om die kunswerk tot sy reg te laat kom.

Die regte beligting ?is ’n aanwins in ’n huis vol kuns. Kolligte op ’n onopsigtelike spoor, soos hier, kan so gedraai word dat die kuns saans op sy beste lyk.

Ryklik versierde rame of skoon lyne?

Sierlike rame het steeds ’n plek in die huis; dit hang alles van die kunswerk af, sê Brett.

“Vir my is ’n sierlike, vergulde raam ’n kunswerk op sigself. Dit word dikwels vir oorspronklike, tekstuur-ryke olieverfskilderye gebruik wat ’n sterk benadering vra.” Groot spieëls in vergulde rame maak ook ’n treffende vertoning.

As jy steeds wonder watter raam jy moet gebruik, hou jou dekorstyl in gedagte, is die binne-ontwerper Anien Bell se raad:

  • Vir ’n Franse voorkoms, oorweeg silwer of afgewitte rame of rame van herwinde eikehout.
  • Vir ’n kontemporêre voorkoms, kies swart of wit boksrame.
  • Vir ’n shabby-sjiek voorkoms is rame wat van ou vloerplanke gemaak is, ’n tydlose opsie.

SÓ MAAK JY?

Is jy moeg van rame met ’n verweerde voorkoms? Moet dit nie sommer net uitgooi nie, gee dit ’n vars, nuwe styl. Volg eenvoudig dié stappe deur Nadine Vosloo van Tjhoko Paint:

1 As jy van die diep groewe van verweerde verf of hout ontslae wil raak, vul dit op met ’n produk soos Tjhoko Paint se Stencil of Paris sodat jou raam gladder kan lyk en voel.

2 Sodra jy ’n gladde oppervlak het om mee te werk, kan jy dit afrond met ’n stensil en ’n kombinasie van verf en glasuur, soos Tjhoko Paint se Charm’s Silver en Antique Brown Glaze.

3 Jy kan rame ook versier met afstrykprente – ’n Tjhoko Scratchie Transfer of Tjhoko Waterslide Transfer is wonderlik vir detail en patrone. “Dis eintlik so maklik om ’n raam heeltemal nuut te laat lyk en daar is geen bepaalde reëls nie,” verduidelik Nadine. “Jy kan ook al jou ou prentrame in spieëls omskep of die vars rame net so, sonder iets daarin, teen die muur hang. En natuurlik bly swart-en-wit foto’s ’n immergroen gunsteling.”

Winkels toe!

1 Wit hout-fotoraam (18 x 18 cm) R149, @home

2 Swart A4-sertifikaatraam R139, Makro

3 Abby-A4-sertifikaatraam (3-pak) R109, Makro

4 Country Road Lucite-A3-plakkaatraam R699, Woolworths

1 Sertifikaat-raam met 3D-insetsel (26 x 21 cm) R89, @home

2 Wit hout-fotoraam (40 x 60 cm) R399, @home

3 Country Road Adler-raam (28 x 22 cm) R249, Woolworths

4 Country Road Tube-A2-plakkaathanger R229, Woolworths

5 Spotgoedkoop

’n Mens het nie altyd duur kunswerke nodig om ’n fokuspunt te skep nie; oorweeg dié sakpas-opsies:

  • Twaalf kalenderprente rondom dieselfde tema in gewone winkelrame kan ’n treffende collage vorm.
  • ’n Versameling ou en nuwe, geblomde of grafies versierde kleinbordjies maak ’n kleurvolle prentjie teen ’n fokusmuur.
  • Hang ronde borduurrame aan linte. Jy kan ook loof daaraan vasbind vir ’n pragtige krans enige tyd van die jaar.
  • Versamelings horlosies, spieëls, skinkborde, skale of selfs leë prentrame wat almal in dieselfde kleur geverf is, skep trefkrag in ’n kits.
  • Drie tot vyf swewende houtboksies teen ’n muur verskaf uitstalplek vir enigiets van foto’s tot snuisterye. Seshoekige rakke is steeds hoogmode.
  • ’n Muur vol familiefoto’s dra altyd iets persoonliks oor. Hou dit vars deur foto’s wat op seildoek en viniel gedruk is, te meng en pas met geraamde kiekies. 
Top-wenk
Betrek die kinders by jou huis se dekor deur spesiale skoolkuns­projekte te raam – hulle sal so trots daarop wees om hul handewerk teen die mure te sien. Hou dit eenvoudig met byvoorbeeld kontemporêre wit rame vir ’n skoon en vars voorkoms. 

6 Afdrukke kraai koning

Daar is diegene wat onder die indruk is dat ’n afdruk minderwaardig is aangesien dit ’n reproduksie is van iets wat oorspronklik met verf op doek geskep is.

Mark Attwood van The Artists’ Press het die volgende te sê: “Hoewel dit waar kan wees van digitale afdrukke, is die afdrukke wat ons by The Artists’ Press doen glad nie ‘namaaksels’ nie! In ons ateljee verf of teken die kunstenaar direk op die steen of plaat wat tydens die drukproses gebruik gaan word; die resultaat is ’n genommerde, oorspronklik gedrukte kunswerk wat in beperkte getalle gereproduseer is. Om dié rede behou baie van die afdrukke wat ons maak nou al jare lank hul waarde in die (sekondêre) veilingmark, en in baie gevalle is dit ’n veel beter belegging as aandele of effektetrusts.

“Mense moet eenvoudig bewus gemaak word van watter verskillende opsies daar is. Afdrukke kan aan nuwe versamelaars ’n bekostigbare manier bied om ’n oorspronklike werk deur ’n belangrike kunstenaar te bekom waar ’n skets of skildery eenvoudig onbekostigbaar sou wees. Boonop is dit ’n goeie manier om ’n versameling op te bou en jou huis te verfraai.”

Die groot geraamde wit plakkaat in Peter en Johan se eetkamer kom uit die Amsterdamse katmuseum Katten Kabinet. Regs is Public Figure (2010), ’n litografiese kunsafdruk deur Claudette Schreuders. Die “tier”-bankie by die kop van die tafel is gemaak deur die kunstenaar Strijdom van der Merwe.

Elke kind is ’n kunstenaar. Die probleem is hoe om ’n kunstenaar ?te bly wanneer ons grootword. – Pablo Picasso, Spaanse skilder?

Kortliks

Besige agtergrond

Kan ek kunswerke oor plakpapier of ontblote bakstene hang?

Kuns teen besige plakpapier kan ’n uitdaging wees omdat dit tot visuele konflik of te veel energie kan lei, verduidelik Brett. “Goedgeplaaste, met die hand uitgesoekte kunswerke in rame wat by die kleure en gevoel van die betrokke ruimte inskakel, kan bydra tot die effek en ’n ekstra dekoratiewe laag skep. My raad? Minder is meer.”

Dieselfde geld vir ontblote baksteenmure. “Groot, prominente kunswerke of ’n collage van kunswerke kan goed werk as fokuspunt op so ’n muur,” sê Brett. “Kies die kunswerke sorgvuldig sodat dit saam met die agtergrond werk, maar steeds genoeg kontras skep dat die kuns kan uitstaan, pleks dat die stene dit oorskadu of oordonder. Ek vind dat kunswerke met sterk kleure soos blou, groen, rooi en oranje nogal goed werk.”

Muurkleur

Watter kleur moet ek my galery-muur verf

Hieroor is daar geen eenstemmigheid nie. “Ek hou van ’n neutrale kleur, aangesien die versameling soveel tekstuur en kleur aan die muur gee,” sê Nick.

Wit is steeds ’n tradisionele keuse; tog is daar ’n neiging om ’n sterk kleur soos blou of donkergrys te gebruik. “Dit skep ’n treffende fokus-effek waarteen die rame uitstaan,” sê Brett.

Anien het ’n besliste gunsteling wanneer dit by donker verfkleure kom: Rhine Castle van Plascon – ’n diep, warm houtskoolgrys. “Dit werk goed omdat dié donker agtergrond die kollig op die kunswerke laat val.” 

Die kunstenaar Alex Hamilton het sowat 20 jaar gelede met sy versameling muurvase begin. “In die begin was dit goedkoop en kon ek dit oral kry. Maar namate ek die Kaapse winkels en markte leeggekoop het, het ek op my oorsese reise in plekke soos Berlyn, Amsterdam en Dublin daarvoor begin uitkyk en besef dat hulle oor die wêreld heen nogal skaars is,” verduidelik hy. “Dit het definitief my ‘ding’ geword.”

Deur keramiekware met kunswerke teen ’n muur te kombineer, breek jy die vierkantige vorms en skep jy interessante tekstuur. – Brett

Borde as kunswerke

Hoe hang ’n mens borde teen ’n muur?

Die eenvoudigste manier om borde teen ’n muur te hang, is met ’n spesiale draadhanger wat in verskillende groottes te kry is teen sowat R25. Nog ’n opsie is ’n onsigbare skyfhanger (R90) wat aan die bord se agterkant geheg word en maklik verwyder kan word indien nodig. “Albei werk goed vir groot en antieke borde,” sê Nick.

Sommige keramiekware word gemaak met ’n gaatjie in die agterkant, wat beteken jy kan dit met ’n stukkie draad of koord ophang. “Dis altyd die maklikste en vinnigste metode. Ander opsies sluit in verstelbare metaalstutte vir swaar keramiekware, wat stewig in ’n muur vasgesit word met proppe en skroewe,” voeg Brett by. “Vir ander driedimensionele artikels soos rakette is daar ’n groot verskeidenheid hake en stutte met verskillende afwerkings beskikbaar, maar dié oplossings word meestal spesiaal vir elke geval gemaak.”

Ons kenners

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

@home 0860 576 576

Alex Hamilton Art Studio 021 447 2396

Greenscene Interiors 021 975 7716

Hang It Now 082 374 8991

Makro 0860 300 999

Photoblox 082 419 6280

Picture Hanging Services 021 790 2604

The Artists’ Press 083 676 3229

Tjhoko Paint 073 206 3104 

Woolworths 0860 022 002