So gebruik jy die kleurwiel

Komplementêre kleure lê regoor mekaar op die kleurwiel. Dit beteken as jy ’n komplementêre kleur vir pienk soek, moet jy kyk na die blougroene regoor die pienke op die kleurwiel. Hierdie kleure sal mekaar aanvul en versterk.

Kontrasterende kleure lê weerskante van ’n kleur se komplementêre kleur op die kleurwiel. Dit beteken as jy ’n kontrasterende kleur vir pienk soek, moet jy gele of blou-violette oorweeg. Dink aan ’n skroefvorm wanneer jy kontrasterende kleure op die kleurwiel soek (laat die stippellyn jou lei op die kleurwiel oorkant) – dit bied dieselfde voordele as komplementêre kleure, maar die effek is subtieler.

Wenke vir kontrasterende kleure in jou dekor

1. Gebruik koue en warm kleure saam. Deur dié kleure te kombineer, kan jy diepte in jou dekor skep: Koeler kleure soos blou sal in die agtergrond verdwyn, wat warmer kleure soos rooi sal laat uitspring. As jy dus ’n ruimte verkies wat in die algemeen koeler is, kies koel kleure vir jou skilderdoek waarteen artikels in warmer kleure sal uitstaan; doen die teenoorgestelde vir ’n warmer gevoel.

2. Hoe verder kleure van mekaar af op die kleurwiel verskyn, hoe groter die kontras – en hoe meer dinamies sal jou vertrek wees. ’n Goeie voorbeeld is die geel-rooi-blou-skema van kleure ewe ver van mekaar op die kleurwiel.

3. Moenie sterk, helder kleure in gelyke mate in ’n vertrek inbring nie; so ’n ruimte kan oorweldigend voel met al die kleure wat om die kollig meeding. Gebruik ’n eenvoudige 60/30/10- reël om sterk kleure te balanseer: Kies een skakering vir 60% as dominante kleur (byvoorbeeld die blou muur oorkant), voeg trefkrag by met ’n sekondêre kleur vir 30% (rooi buffet en mat) en gebruik 10% geel (boeke en kunswerk) as aksentkleur.

4. Voeg neutraliserende kleure by vir balans in ’n helderkleurige ruimte – dit sluit enige neutrale, swart of wit voorwerpe in. Hier is die neutrale vloer die vernaamste balanserende faktor. Die wit stoel en swart raam om die kunswerk versterk die ander kleure in die vertrek.