Wenke 

  • Gebruik wat in seisoen is.
  • Gee ’n tikkie glans met olyfolie.
  • Spuit water op die blare vir ’n douvars voorkoms.
  • Stal jou tamaties in glashouers uit.
  • Halveer jou kopkool vir ekstra effek.
  • As jy ’n tafelversiering maak, kies groente wat jou maaltyd komplementeer, soos eiervrug saam met Mediterreense kos.

Gaan groen!

Wit koekstaanders stel ’n paar woestynrose (Echeveria) en artisjokke (Cynara cardunculus var. scolymus) sierlik ten toon.

Spinasie, broccoli, bok choy, Romanesco-broccoli en kopkool, afgerond met Muehlenbeckia, kry plattelandse flair in ’n gevlegte kruik.

Bekoorlike kranse

’n Krans vir die Pase

Wat jy nodig het
  • bloekomblare (Eucalyptus)
  • rooi-uie
  • heel knoffel
  • Chinese witwortel
  • Asiatiese pere
  • preie
  • leë eierdoppe
  • papierharte

Só maak jy

Laat lê ’n bloemisteskuimring in water tot dit goed nat is. Rangskik die bloekomblare in die rondte daaroor tot die hele ring bedek is. Ryg 7 mm-silwerdraad (te koop by ysterwarewinkels) deur die groente en maak dit om die krans vas. Ryg nog ’n draad deur die eiers en maak dit ook vas. Rond die krans met harte af.

Panzanella-krans

Kry die resep hier.

Perfek in pers

Laat dié knolgewas-trio – rape, beet en radyse – tot hul reg kom in ’n ou kruik of beker wat die groente se vorm en kleur die beste sal vertoon.

Ouma se ou Spode-koekstaander omtower ’n ongewone versameling van raapkool, rooi uie, rooikool en selfs ’n kokosneut in ’n kulinêre collage.

Tafeldekor uit jou tuin

Dek ’n aardse tafel soos dié een deur Marlize en Charlotte Boonzaaier van Flowerheart in Durbanville buite Kaapstad met ’n kombinasie van loof, houtbykomstighede en eetbare tafelversierings wat jy in jou tuin gepluk het. Die kapplanke – gebruik sommer ’n mengelmoes uit jou kombuis – beskerm jou tafeldoek en dien as plekmatjies, en ná ete kan gaste kaas en beskuitjies daarop geniet. Goue of koper messegoed, elegante glase en groen breekware rond die prentjie af.

’n Draad-obelisk en ’n blok bloemisteskuim op ’n diep bord vorm die basis van dié rangskikking.

So maak jy ...

Laat dryf die bloemisteskuim bo-op ’n houer water totdat dit vanself sink – dan weet jy dis goed deurdrenk. Pluk nou in die tuin al wat ’n eetbare takkie, bloeisel, vrug of mooi blaar is. Begin jou rangskikking met die grootste elemente soos granate, grenadellablare en -vrugte en druk groepe daarvan in die oase. Vorm dan interessante lyne met lang grenadellalote, ’n rits pikantrissies aan ’n tak en groenigheid aan weerskante. Rond die prentjie af met groente en/of vrugte soos beet, preie en pruimedante. As die groente nie stele het wat maklik in die oase gedruk kan word nie, bind ’n draad daarom of steek dit vas met sosatiestokkies. Vul laastens enige oop kolle met fyner groenigheid en blare. Marlize het spinasie, krulkool, basiliekruid en salie gebruik.

Pak ’n mandala van blare en blomme as basis vir jou kaasbord. Hier is pynappelsalie (Salvia elegans), roosmaryn, Afrikaners (Tagetes), vye-, olyf- en beetblare gebruik.

Kyk op!

Hang blomme en groente bo jou tafel – dis nou een manier om jou tafeldekor tot nuwe hoogtes te voer! Gebruik tou of kabelstroppe om ’n rangskikking aan ’n kandelaber of hangligamp vas te maak, en stal soortgelyke blomme in bekers of vase op die tafel uit om die hangende rangskikking te komplementeer.