Maak ’n stylstelling!

Die treffende goue spieël saam met die ander titsels goud verleen warmte en ’n bietjie glans aan die ruimte. Dis ’n treffende fokuspunt teen die skoon wit kaggel.

Volronde skoonheid 

’n Raamlose ronde spieël voeg tekstuur en diepte by dié treffende kaggelmuur in Catherine Crawford se huis in Kaapstad. 

Speel met proporsie

’n Groot, ronde spieël is ’n interessante fokuspunt langs die bed. Dit kikker die eenvoudige muur op en skakel terselfdertyd in met die ander oorgroot dekoritems soos die lamp, bonkige ottoman en luukse bedtafel.

Vet pret 

Pleks van een groot spieël het die interieurontwerper Claudia Fabian of Mer Design vyf kleineres teen die muur in Ilana en André Joubert se ingangsportaal gehang. Dié prettgie ontwerp weerkaats lig en kleur van ander areas in die vertrek. “Dis ook ’n ongelyke getal en wisselende groottes, wat dit ’n interessante versameling maak,” sê Claudia.

Franse bekoring 

Die goue kleurskema in die hoofslaapkamer is geïnspireer deur geborduurde vintage-lap wat Colette Marias Nel in Parys gekoop het. Die swierige spieël is verguld met goue verguldpasta wat sy in ’n Paryse kunswinkel ontdek het. Dit skakel perfek in met die gevoel van die res van die vertrek.

In die buitelug

Buite-spieëls kan só gehang word om meer lig in donkerder areas van die tuin of buite-kuierareas in te bring. Hier weerkaats die spieël teen die donker fokusmuur lig en groenigheid uit elders in die tuin.

Probeer iets anders

Dié stylvolle spieëls is gemaak van houtbakke wat die eienaars plaaslik gekoop het. Saam met die wasbak (dieselfde soort bak) verleen dit elegansie aan die andersins industriële afwerkings in die badkamer.