Stilering Marian van Wyk, Amanda van Wyngaardt en Juané Scheepers

Of jy nou ’n hele vertrek daarin klee of dit net plek-plek gebruik, daar is geen twyfel dat trendy swart tonne skop aan jou dekor sal verleen nie. 

“Dit lyk of mense uit hul gemaksone beweeg wanneer dit by kleur kom – ’n tendens wat nou al ’n ruk lank momentum optel,” sê Lizemari Möller, handelsmerkbestuurder by Duram. “Met toegang tot inspirerende platforms soos Instagram en Pinterest word ons kreatiwiteit deesdae meer gestimuleer, en dit het ’n heel nuwe wêreld vir dapper kleurkeuses oopgestel. Swart sit as’t ware op die verste punt van die dapperheid-spektrum. Trouens, dit word nou as dié gewildste neutrale kleur beskou.” 

Palesa Ramaisa van Dulux stem saam: “Swart werk goed as neutrale skakering omdat dit so veelsydig is,” sê sy. “En dit word nie meer net spaarsaam gebruik nie; ’n hele vertrek wat swart geverf is, is ’n pragtige agtergrond vir dekor. Dis ook ’n goeie pasmaat vir talle aksentkleure, van sorbet-skakerings en juweeltone tot ander neutrale kleure, en jy kan dit natuurlik saam met wit gebruik vir ’n klassieke voorkoms.” 

Swart werk in ’n verskeidenheid dekorstyle. “Swart en houtskool kan ’n afgeleefde Georgiaanse interieur opkikker of drama verleen aan ’n Franse voorkoms; dit blaas lewe in outydse ruimtes en werk ewe goed in huise in die minimalistiese of industriële styl,” sê Sandra Larkin, ’n interieur-ontwerper en kleurspesialis by Versus Paints. Kyk net hoe het dié lesers donker tone by hul dekor ingewerk ...

Verfkleur
Plascon Bovine

#1 Sielvol en tekstuurryk 

Die Johannesburgers Tammy en Alistair Holmes wou ’n klassieke dog sensuele voorkoms vir die nuwe gastebadkamer in hul Parkmore-huis hê. Eers het hulle al die mure ’n diep houtskoolkleur geverf. “Badkamers met hul reguit lyne kan dikwels koud lyk,” sê Tammy. “Ons wou ’n sielvolle toevlug skep en het geweet die ryk, donker mure sou perfek wees daarvoor. 

“Ek het bykomstighede ingebring wat regtig sou uitstaan teen die swart en warmte byvoeg, soos ’n oranje Romeinse blinding en ’n goue kandelaber en bykomstighede.” 

Vir die vloer het Tammy besluit op Marokkaanse teëls in ’n ligter skakering om die swart teen die mure te “breek”. 

Dis in die detail
Daar was nie plek vir ’n mengkraan op die kas se blad nie, daarom is die krane teen die muur gemonteer. Dit vang die oog teen die donker mure.

STYL-RIGLYNE

Tammy, die eienaar van Ivy Décor & Design, gee dié wenke as jy met swart wil versier: 

  • Donker skakerings is goed vir klein ruimtes omdat dit die lyne in ’n vertrek laat “verdwyn”, veral as jy dit gebruik saam met spatsels kleur wat die oog tref. 
  • Wit, goud en neutrale skakerings lyk goed teen swart; voeg een helder kleur by vir ’n verrassingselement. 
  • As jy graag swart meubels en bykomstighede wil inbring in ’n vertrek met donker mure, kies ’n ligter houtskool vir die mure. My gunstelinge is Plascon Bovine en Earthcote Ja Boetie Johan – albei verleen diepte en warmte.
Verfkleur
Plascon Tribecca Corner

Hanglamp, tafel en stoele van superbalist.com; Jetmaster 850- braaikaggel van braaiculture.com

#2 Treffend en modern 

Toe Lizelle en Nico Janse van Rensburg in 2015 by dié huis in Melville, Johannesburg, intrek, was die eerste item op hul doenlys ’n nuwe verflaag buite. “Ons het nog altyd gehou van huise met ’n donker, interessante buitekant – dis net só treffend en modern,” sê Nico. “Toe ons die huis koop, kon ons uiteindelik self so iets probeer – en ons is mal daaroor. Ons huis is omring deur ’n geil groen tuin, en die donker mure komplementeer dit goed.”

Op die grondvlak van die paartjie se dubbelverdiepinghuis is ’n oopplankombuis, eetarea en sitkamer, wat alles oopmaak op dié gesellige stoep waar hulle onlangs ’n braaiplek ingebou het. 

“Voer die tema deur met aksente in treffende kleure soos donkeroranje en helderpienk,” sê die interieurontwerper Sandra Larkin. “Goud lyk ook fantasties by swart en kan sy man staan teen dramatiese elemente soos interessante beligting of kandelabers.”

Ons is dol hieroor!

Die grys afgevlakte vloer en sinkplaatdak met sy wit houtbalke beklemtoon die ryk donkerte van die mure.

Dis in die detail

Swart rame teen die swart muur en die kontrasterende wit agtergrond laat die afdrukke mooi uitstaan. Die paartjie het die huis se oorspronklike ontblote baksteenwerk agter die braai behou en dié element in die bêreplek daaronder herhaal vir samehang.

Nes ’n klassieke swart rokkie is ‘n titsel swart in jou huis ‘n tydlose, veelsydige manier om ’n sterk stylstelling te maak. – Palesa Ramaisa, Dulux
Verfkleur

Die houtkaste is geverf met Plascon Phantom Ship om in te skakel by die Tribecca Corner teen die mure.

Spatpaneel se teëls van CTM

Ons is dol hieroor!

Riaan het die hanglamp bo die eiland ontwerp en gemaak.

#3 Beste vir ’n begroting 

Met groot planne en ’n klein begroting het Luzahn en Riaan Deysel ’n afgeleefde huis in Midstream, Centurion, gekoop. “Die huis het soos ’n Afrika-lodge gelyk met donker mure, donker plafonne, massas donker hout en swart leiklipteëls,” sê Luzahn. 

Om koste te bespaar het die Deysels besluit om die vloere te behou en ’n dekortema te kies wat daarby pas. “Ons het besef dit sou nie finansieel sin maak om al die teëls uit te kap en die hele huis oor te teël nie, toe hou ons die leiklip en kies ’n industrieel- Skandinawiese interieur met swart vloere, wit mure en titsels grys, staal en hout. Ons het ook ’n paar style aanlyn en in ons Tuis-tydskrifte nagevors, wat baie gehelp het. En ek het gou geleer as ’n man hom glad nie kan voorstel hoe iets gaan lyk nie, help prente nogal baie!” 

Die paartjie is veral dol oor hul nuwe kombuis, wat ’n vars voorkoms gekry het nadat hulle die donker kersiehoutkaste en muurteëls wit geverf het. Dié ruimte maak oop op die eetarea, waar hulle ook die donker mure en plafon wit geverf het en moderne meubels ingesit het.

Swart matras- en strooikussing-oortreksels van Hertex; deken van MRP Home

Ons is dol hieroor!

Dani het dié tafel se pote korter gesaag en die dwarslatte verwyder, en nou werk dit goed as dientafel.

#4 Subtiele elemente 

In dié sitkamer word swart ingespan as subtiele dog treffende dekorelement wat die ruimte bymekaarbring. Die huiseienaar en interieurontwerper Dani Hardy het liggrys teen die mure gebruik saam met spatsels helder kleur om ’n paar uitgesoekte swart elemente, waaronder die sitkussing, spieël en kaggel, te beklemtoon. 

“Kontemporêre stukke met reguit lyne verseker dat die swart nie oorheers nie en lyk goed saam met sagte, snoesige elemente soos dekens, matte en strooikussings,” sê Dani, die eienaar van Simply Interior Design.

Dis in die detail

Plafonprofiele met gesonke ligte baken verskillende ruimtes in die huis af en vorm ’n interessante fokuspunt.

Geel kroegstoele van superbalist.com

Wenk!

Donker mure kan ’n ruimte “rek”, veral wanneer die ander mure, vloer en plafon ’n ligter kleur is.

#5 ’n Vars bries

Al was sy gaande oor haar wegbreekplek op Porterville, kon Wanda du Toit van Stellenbosch nooit gewoond raak aan die klein kombuis nie. Dit was wit geverf sodat dit lig en ruim kon voel. Toe sy onlangs opknap en die kombuis uitbrei met ’n eetgedeelte, het sy besluit om ’n kans te waag met kleur – en ’n ryk, donker houtskool vir ’n paar aksentmure gekies. 

“Ek is bly oor hoe als uitstaan teen dié kleur, van die beligting tot die dekor,” sê Wanda, die mede-eienaar en kreatiewe direkteur van die welbekende handwerkmark KAMERS/Makers. Sy het die plafon met IsoBoard laat beklee en van die mure wit gehou vir kontras en om te keer dat die ruimte “soos ’n spelonk” voel.

Dis vir my lekker dat kosmaak nou ‘n gesellige aktiwiteit is; uiteindelik voel dit ek kan hier asemhaal. – Wanda

MAT VERSUS GLANS

1 ’n Matswart afwerking skep ’n sagte, aanloklike voorkoms en help om onvolmaakthede te verbloem, waar ’n glansafwerking weer geneig is om ’n oppervlak te beklemtoon, sê Lizemari Möller van Duram. 

2 Palesa Ramaisa van Dulux beveel glans of semi-glans aan vir aksente soos meubels, afwerkings en deure, en ’n mat- of satynafwerking vir mure en plafonne. 

3 “Speel gerus met verskillende afwerkings,” sê Sandra Larkin, ’n interieurontwerper en kleurspesialis by Versus Paints. “Jy kan byvoorbeeld ’n donker houtskool muur in ’n mat afwerking kombineer met ’n dramatiese meubelstuk in ’n swart glansafwerking, of verf jou kombuiskaste in ’n donker glansverf vir drama.”

Kennersraad: Lig in die donker

Omdat swart lig absorbeer, is goeie beligting ’n moet in donker ruimtes. Eben Kruger van Eurolux gee raad:

  • Gebruik meer as een ligbron in ’n vertrek, byvoorbeeld algemene sowel as taakbeligting. 
  • Indien dit ’n taamlik ruim vertrek is, belê in ’n groot kandelaber of treffende hanglamp wat heelwat lig sal verskaf. 
  • Wanneer jy muurligte koop, kies dié wat nie lapskerms het nie. Sulke skerms verskaf stemmiger lig, terwyl glasskerms of oop gloeilampe ’n vertrek helderder verlig. 
  • Oorweeg spieëls om die lig te weerkaats.

KONTAK 011 608 2970, eurolux.co.za

Verfkleur
Plascon Phantom Ship

Wanda het die donker kleur ook in die aangrensende eetarea gebruik om die nuwe oopplanruimte te anker. Die donker mure skep ’n sterk agtergrond vir die houtmeubels.

Kraan van Eurotrend; muurhake van Orejen

#6 Grafiese ontwerp 

Om in te skakel by die moderne geometriese en monochroom tema in Andrew en Katja Wenger se huis in Johannesburg het die interieur-ontwerper Debbie Luke van Designed by Debbie ’n treffende spatpaneel vir die kombuis ontwerp. Sy het swart, wit en grys teëls in verskeie vorms gesny om die verlangde effek te verkry. 

“Ek het al die stukke op die vloer uitgepak en dit toe saamgevoeg soos ’n legkaart,” vertel sy. “Dit was geweldig ingewikkeld, maar groot pret!”

Sien is glo!

Dié treffende muur lyk dalk na ’n verfprojek of plakpapier, maar dis inderwaarheid gedoen met teëls!

Metaal-kanttafel van superbalist.com; groen fluweelgordynlap van Hertex

#7 Ja, selfs in ’n babakamer! 

Debbie het opdrag gekry om die kleurskema ook na die babakamer deur te trek. 

“Omdat dit ’n babakamer is, wou ek die swart op ’n subtiele, prettige manier inspan,” sê Debbie. Sy het besluit op wit mure met swart muurplakkers, ’n swart metaal-kanttafel en swart sier-elemente teen die muur. 

“Ek het groen fluweelgordyne en huisplante bygevoeg om die monochroom voorkoms te ‘aard’,” verduidelik sy.

Wenk!

’n Klassieke palet van swart en wit is nommerpas vir ’n kinderkamer omdat dit maklik in die toekoms aangepas kan word.

Kontras is altyd ’n wenner. Swart en wit is teenoorgesteldes en grys is reg in die middel – die perfekte trio. – Debbie Luke

ONS SWARTLYS

Skakerings strek van suiwer swart (geen ondertoon) tot donker houtskool. Talle van die kleure vertoon baie swart; ander het weer ondertone soos pers, groen, bruin en blou. Skep samehang deur te sorg dat omringende kleure by die ondertoon inskakel, soos ’n geil groen tuin en ’n houtskool skakering met ’n groen ondertoon, of hout en ’n skakering met ’n bruin ondertoon.

VERSKAFFERS

@home 0860 576 576

Designed by Debbie 082 555 4965

Eurotrend 011 609 0214

Hertex 011 262 4108/9 

Lots and Crates 011 326 2508

MRP Home 0800 212 535

Orejen 083 303 3063 

Simply Interior Design 082 777 8533 

Union Tiles 011 663 2000