Foto’s Elza Cooper, Francois Oberholster en Henrique Wilding
Stilering Marian van Wyk, Kim Bougaardt en Amanda van Wyngaardt

#1 Eenvoud en simmetrie

Aan weerskante

Alta Moggee wou ’n ingang skep wat uitstaan teen die saggroen mure op die stoep van haar huis in Parkview, Johannesburg. Die twee pasgemaakte veiligheidsdeure voor die glas-voordeur, asook die dekstoele en gevlegte mandjies weerskante daarvan, skep lieflike simmetrie. Die stoele was eers blou, maar Alta het dit ’n vriendelike geel geverf – dieselfde kleur as haar gunsteling-koffiebeker.

Sy het die mandjies by die staalhek gesit om die prentjie te versag en te kontrasteer met hul industriële styl. “Ek wou ’n rustige ruimte hê wat jou laat voel of jy iewers in die Karoo is, ver verwyder van die stad se geraas,” verduidelik sy.

Dis in die detail
’n Pot met malvas op elke trap is ’n bekostigbare manier om ’n ingang op te dollie. Die klip waarmee Alta die trap afgerond het, kontrasteer pragtig met die andersins industriële elemente.
’n Ingang is amper soos die eerste bladsy van ‘n roman; dis ’n eerste kykie na wat voorlê. – Alta Moggee

#2 Met ’n leksel kleur

/

Pienk plesier

Kleur is ’n wonderlike manier om verandering aan te bring en bewys dat jy nie veel nodig het om jou ingang op te kikker nie. Die helderpienk voordeur van dié huis in St James staan lieflik uit teen die rustieke kliptrap en groenigheid daarrondom. ’n Kleurryke voordeur kan ook die binnekant verfraai; hier skep ’n gemaklike rusbank en galerymuur ’n knus fokuspunt saam met die pienk deur. Hou jy van die kleur? Probeer Plascon Velvaglo in die kleur Fuchsia Fizz.


Foto Emma O’Brien

Plak dit vrolik

Toe die interieurontwerper Joy Liedtke van Joy by Design vrye teuels kry om die saai portaal van ’n Gautengse kliënt ’n skoot vars kleur te gee, het sy geweet heldergroen is net die regte ding. “Die huiseienaars het onlangs ’n waterwys tuin aangelê en ek wou daardie groenigheid in die huis herhaal,” sê Joy. “Daar is ook twee stoele in die leefarea wat met heldergroen lap oorgetrek is; dit was verdere inspirasie vir die plakpapier.”

Joy het die ronde spieël gehang om die vorm van die blomme op die papier te eggo, terwyl die plante, kerse en ander bykomstighede van wisselende hoogtes op die dientafel tekstuur en visuele interessanteid verskaf. Plakpapier deur Hertex (reeks gestaak)

Uit goeie hout

Marietjie Strydom se gunstelingkleur was nog altyd blou – trouens, die kleur pryk in verskeie hoekies in haar huis op Parys. Toe sy dus ’n kleur soek wat haar hout-voordeur van 2 x 1,65 m sal laat uitstaan teen die neutrale kleur van die res van die huis, was blou voor in die ry. “Baie van ons gaste het al gesê dat dit ’n rustige eerste indruk skep. Ons is bly dit het so ’n kalmerende uitwerking én pas terselfdertyd by die res van ons dekor!” sê Marietjie.

Hou jy van die kleur? Probeer Duram NuGlo in die kleur Sapphire Gem, Dulux Ships at Sea of Dulux Planetarium

#3 Treffend met teëls

In ’n patroon

Morgan en Damian Piper van Houtbaai is gaande oor Marokkaanse teëls, daarom was dit geen verrassing toe dié paartjie se 60 m²-stoep ’n Marokkaanse tema kry nie. Die ruimte is afgewerk met teëls in soortgelyke kleure, maar met verskillende patrone. “Ons wou gaste begroet met iets wat die oog sal tref én genoeg vintage-inspirasie wat ons persoonlikheid weerspieël,” sê Morgan.

Indiese dubbeldeur van Private Collections; stoepteëls van Moroccan Warehouse

Dis in die detail
Laat elemente van dieselfde kleur uitstaan deur verskillende patrone, skakerings of teksture te gebruik.
Mure geverf met swart Plascon Nuroof

#4 Groen en organies

Potte vol styl

Die voordeur by die Rialheim-keramiekfabriek op Robertson gee besoekers ’n voorsmakie van wat binne op hulle wag. Planthouers en kerse op die trappe bring ’n tikkie romanse in die rustieke ruimte, terwyl die groenigheid pragtig lyk teen die rou sement-oppervlakke. As jy gaste verwag, kan jy maklik self so maak met mooigoed uit jou huis. Dit sal jou niks uit die sak jaag nie!

Natuurlike skoonheid

Toe Linda Evans en Almarie Mead in 2014 Sedgefield toe trek, was hulle glad nie beïndruk met die huis se koue, donker hek en ingang nie. “Dit was eintlik nogal grillerig,” sê Linda. “Daar was ’n groot, dooie boomstomp in die hoek en dit was nooit lekker om daar verby te stap nie!” Nadat die paartjie ’n garage aangebou het, moes die ingang se rigting verander; hulle het toe sommer die kans aangegryp om ’n boogdeurgang te bou en die ruimte oper te laat voel. “Die perdestertboom was aanvanklik oorgroei van klimop, maar toe die hek klaar was, het ons dit oor die boog opgelei, wat die ingang versag,” sê Linda. Hulle het ook ’n rankjasmyn by die ingang geplant vir sy lieflike geur. Klein agapante en verskeie grasse wat in skadu gedy is weerskante van die paadjie geplant. “Ons het al die groenigheid bygesit omdat dit ’n wonderlike manier het om ’n mens ontspanne te laat voel.”

’n Ingang kan ’n boodskap stuur, en ons wou hê ons s’n moet ‘n hartlike verwelkoming in ons vreedsame wêreld wees. – Linda
Muur en raam geverf met Berlin Block van Plascon

#5 Binneste buite

Oop en bloot

André Kruger wou ’n industriële dog stylvolle voorkoms hê vir sy huis in Brooklyn, Pretoria. Dit het hy reggekry met ’n klassieke kombinasie van ontblote bakstene, donkergrys mure en passtukke van dowwe metaal vir die gloeilampe. Die huis is in 1939 gebou en André kon inspirasie put uit dié erfenis om die tema te versterk. “Om van die oorspronklike baksteenwerk te ontbloot het ek die pleister met ’n bikhamer laat afkap – maar eers ná ’n proeflopie aan die agterkant van die huis om te sien hoe die bakstene lyk!” sê hy en lag. “Ek het die sementraam buite-om laat pleister om die prentjie netjies af te rond.” Vir ’n tikkie aweregse styl is die gloeilampe herhaal in ’n grafiese tekening teen dié ontblote deel van die muur.

Muur en raam geverf met Berlin Block van Plascon

VERSKAFFERS