Foto’s Elza Cooper | Stilering Amanda van Wyngaardt

As dogter van die hoof-wildbewaarder in die Krugerwildtuin is dit geen verrassing dat Kerryn-Lee Maggs ’n passievolle natuurliefhebber is nie; daar is amper 80 plante in haar tweeslaapkamerwoonstel van 83 m2!

Albei haar ouers het ’n voorliefde vir groenigheid gehad.Kerryn se pa is ook ’n plantkundige en as jong meisie was sy sy skaduwee. Sy het selfs al die botaniese name waarvan hy gepraat het, probeer onthou.

“Ons tuin was altyd so geil en in ons huis was daar plante net waar jy kyk,” onthou Kerryn. Dit was dus vanselfsprekend dat sy die Linden-woonstel waar sy vroeg verlede jaar ingetrek het sou mooimaak met plante.

Omdat sy huur, kan sy nie haar permanente stempel daar afdruk nie. “My plantversameling het begin as oplossing om die leë ruimte te vul terwyl ek nog meubels bymekaargemaak het, maar namate ek meer plante aangeskaf en dit begin floreer het, het ek ’n gevoel van trots begin kry en het dit ’n missie geword,” sê Kerryn.

Soos dit maar met die meeste van ons die geval is, het sy agtergekom dis nie kinderspeletjies om ’n plant aan die lewe te hou nie. “Heelwat plante het gekom en gegaan, maar ek het geleer om te werk met wat ek het en seker te maak ek verstaan die dinamika wanneer ek ’n nuwe plant inbring,” sê sy.

Kerryn en ’n paar kenners deel hul wenke om huisplante gelukkig te hou...

’n Groen tema

In die leefarea het Kerryn plante met ’n verskeidenheid teksture en wisselende hoogtes gekombineer met drie groot geraamde botaniese afdrukke wat die natuurtema versterk. En die donker blokkiesvloer en houtmeubels lyk pragtig tussen al die groen. Daar is altyd vars blomme vir kleur, soos die rooi ranonkels op die tafel, en sy posisioneer plante graag só dat dit in ’n spieël kan weerkaats vir ’n dubbele effek.

“Kyk jou ruimte goed deur voor jy plante koop,” sê Melissa Lawrence van die kreatiewe ontwerpfirma Studio Melissa Louise. “Let byvoorbeeld op na die verskillende hoogtes waar jy plante in ’n vertrek kan plaas.

“Wissel die hoogtes af met ’n kombinasie van groot potplante op die vloer, potte op mediumhoë staanders en plante met ’n hangende groeiwyse op rakke, teen die muur of aan hake van die plafon af.”

Botaniese afdrukke en rame van Courtyard Framing & Living; ronde spieël van Weylandts; eetkamertafel, -stoele en buffetkas van Re-Trend; rusbank van sofacompany.com; ottoman van @home

Die meeste vetplante geniet direkte sonlig en kan by vensters en deure staan. – Kerryn-Lee

Geraamteplant-bak van Yours Ceramics

Hou hulle aan die lewe

Joy Phala, ’n landskapontwerper en die eienaar van Organic Kitchen Gardens, sê huisplante sukkel gewoonlik omdat dit ’n oorhaastige kopie is en mense nie altyd genoeg weet van individuele plante se behoeftes, soos lig, water, voeding, lug en humiditeit, nie.

“Dis belangrik om te onthou dat dié plante nie net vir die mooi daar is nie; hulle moet versorg word, amper soos ’n troeteldier,” sê Joy. “Voor jy ’n nuwe troeteldier kry, sal jy oplees oor hoe om vir daardie dier te sorg. Dieselfde moet geld vir plante. Dis veral belangrik vir huisplante, want dis eintlik tuinplante wat ons in die huis wil laat aanpas.”

JJ van Rensburg van Garden World in Johannesburg sê lugversorging is die ander groot faktor wanneer dit kom by huisplante se oorlewing.

“Die meeste plante sal swak vaar as hulle blootgestel word aan strawwe lugversorging, wisselende temperature of konstante wind.

En hy beaam Joy se raad: “Wanneer jy ’n plant kies, maak seker wat sy ligbehoeftes is; kyk byvoorbeeld hoeveel sonlig ’n kol in jou huis kry voor jy ’n sonliewende plant kies,” verduidelik hy. 

Klein oase

Omdat die kombuis piepklein is, het Kerryn besluit om nie te veel plante hier te gebruik nie; daarom het sy dié mooi groen kol geskep in die ruimte tussen die kombuis en sitkamer wat eintlik onbenut is, “behalwe vir ’n paar onoopgemaakte posstukke wat af en toe hier lê”.

“Plante het van dié ongebruikte hoekie ’n lieflike klein oase gemaak,” sê Melissa. “Pleks van die plante net op die gewone plekke soos die werkblad staan te maak, het Kerryn hangplante bygevoeg, asook een bo-op die kombuiskas om die tema deur te voer en ’n mooi, afgeronde geheel te skep.”

Die regte lig

Die meeste huisplante, ook dié wat sonliewend is, verkies indirekte lig; ’n goed verligte vertrek wat vyf tot ses uur indirekte sonlig kry, is ideaal. Andersins is oggendson alleen ook voldoende.  

Roteer plante elke paar dae sodat hulle eweredig aan lig blootgestel word. Dit sal keer dat die steel skeef groei terwyl dit na die son draai.

By die spieëltafel skep die kombinasie van lewendige groen loof en helder kleure ’n vrolike vintage-hoekie; die ysterstaander gee dit ’n moderne kinkel.

Spieëltafel van Kensington Trading; lampkap van Edgars Home; spieël van Granny’s Attic Antiques & Collectibles; plantstaander van Re-Trend.

Kamma-kamma!

“Kunsplante, soos die groot nagemaakte palmblare in Kerryn se slaapkamer (onder), is nuttig om donker hoekies waar sekere regte huisplante sal sukkel om te floreer, op te helder,” is Melissa se raad. “Stof die blare gereeld af sodat hulle altyd blink en ‘eg’ lyk.”

Nagemaakte plante is ook doeltreffend op moeilik bereikbare plekke, want hulle lyk nes die ware jakob – tot jy daaraan vat – maar jy hoef hulle nie water te gee nie.

Koopwenke
  • Werk met ’n plan as jy gaan plante koop: Identifiseer die sonnige en donkerder dele van jou huis en vind uit watter plante jy waar kan plaas voor jy jou beursie uithaal.
  • Koop eers net een plant vir ’n deel van jou huis wat jy met groenigheid wil versier, en raak gewoond aan die versorging daarvan in dié omgewing voor jy meer aanskaf.
  • Maak seker jy ken die botaniese naam van die huisplant wat jy kies, dan sal jy dit maklik aanlyn vind waar jy meer oor sy vereistes te wete kan kom.
  • Plak die inligting wat saam met die plant kom op die pot se onderkant sodat jy dit nie verloor nie.
  • Moenie sommer plantstukke wat afbreek, weggooi nie. Druk dit in ’n pot met grond, maak gereeld nat en wie weet, dalk skiet dit wortel. Eksperimenteer gerus. 

Prente van voëls en ander diere bo die bed, asook vars blomme op die bedtafel, dra by tot die karakter van dié natuurgeïnspireerde vertrek.

Bedlampe, grys deken en strooikussings van Woolworths; kuns-palmblare en groen vaas van Loads of Living

Kerryn se gunstelinge

  • Bamboespalm (Chrysalidocarpus lutescens) – hou van baie lig en bewegende lug; perfek naby ’n deur of venster.
  • Vioolblaarplant (Ficus lyrata) – breë blare; omdat dit hoog groei, laat dit ’n klein ruimte groter lyk.
  • Aglaonema ‘Silver Queen’ – geniet ’n warm omgewing; die blaarkleur wissel dwarsdeur die jaar.
  • Bobbejaantoontjies (Senecio radicans) – lyk pragtig wanneer dit oor die rand van ’n hoë houer tuimel; lief vir oggendson en middagskadu, en droogtebestand.
  • Pêrel-bokkos (Senecio rowleyanus) – ’n vetplant met pragtige blare wat tot 50 cm lank word. As jy dit terugsnoei, sal die plant digter groei.
  • Geraamteplant (Monstera deliciosa) – perfek om ’n fokuspunt in ’n groot, oop vertrek te skep; hou van ruimte, maar kan in toom gehou word deur minder gereeld te verpot en liggies uit te dun.
  • Vredeslelie (Spathiphyllum wallisii) – laat enige donker hoekie in die huis vroliker lyk met sy treffende groen blare en groot wit blomme in die lente.
  • Takbokvaring (Platycerium bifurcatum) – kan heelwat koue verduur; neem water op deur sy blare en hou dus van ’n fyn sproei.
  • Norfolk-den (Araucaria heterophylla) – groei tot 2 m hoog; kan heelwat son hanteer, maar vaar die beste in indirekte lig.

“’n Fokuspunt soos dié portaalrak is die perfekte plek om plante van verskillende groottes en teksture uit te stal. ’n Spieëltafel, buffet of vensterbank werk net so goed. Kombineer die plante met vase, mandjies, potte en hake vir afwisseling,” sê Melissa.

Stortgordyn, staander en mat van MRP Home

Van klinies tot tropies

“My eerste prioriteit was om die badkamer mooi te maak – dis die eerste vertrek wat mense sien as hulle by die woonstel instap, en dit was maar kaal en onpersoonlik met wit teëls reg deur,” vertel Kerryn.

Met plante en net enkele nuwe bykomstighede kon sy dit in ’n kits opvrolik, sonder dat dit haar veel uit die sak gejaag het. Die stortgordyn pas by die botaniese tema en gee die voorheen saai vertrek ’n modieuse kinkel.

Vogtigheid

Nog plante wat goed vaar in vogtige ruimtes soos ’n badkamer sluit die voëlnesvaring (Asplenium nidus), olifantsoor (Alocasia), hen-en-kuikens (Chlorophytum comosum) en mot-orgideë (Phalaenopsis-spesies) in.

Water en sorg

• Besluit op watter dae jy jou plante gaan natmaak en voed – hoe meer plante jy het, hoe moeiliker raak dit om te onthou wanneer jy wat natgegooi het!

• Om uit te vind of ’n potplant water kort, druk jou wysvinger in die grond – as sowat ’n derde van jou vinger droog voel, is dit tyd om nat te gooi. Dompel die hele pot in water sodat dit die vogtigheid eweredig kan opneem; lugborrels sal vorm sodra die water die lugholtes in die grond inneem.

Wanneer dit ophou borrel, is die potmengsel deurdrenk; laat dit dan goed dreineer. Dis belangrik om individuele plante se waterbehoeftes te ken, maar gewoonlik hoef ’n mens net goed nat te maak en dan te wag tot die boonste laag grond droog is voor jy weer water gee.

• Stof plante se blare gereeld af om te keer dat stof daarop aanpak – dit kan plae lok.

Die woonstel se balkon is die enigste buiteruimte. “Vul jou plante aan met sagte meublement en ander dekor met lewendige blom- of botaniese elemente, veral in ruimtes wat nog nie volledig ingerig is nie,” is Melissa se raad.

Delicious Monster-kussing van MRP Home; stoele van Amatuli; nestafel van @home; bekers van Maxwell & Williams

Onthou!
Vra ’n kenner by jou kwekery of die huisplant wat jy kies nie dalk giftig is nie. Indien wel, moet dit nie eet nie en hou dit buite bereik van kinders en troeteldiere.

Nog goeie huisplante

Philodendron ‘Xanadu’ – is gehard en groei vinnig (tot 15 m hoog); hou van skaduwee.

Philodendron selloum ‘Compacta’ – gee ’n tropiese gevoel met sy welige, laaggroeiende loof en is ewe gelukkig in swak of skerp lig.

Syngonium ‘White Butterfly’ – hou van helder lig, maar nie direkte sonlig nie; moet gereeld natgemaak word. Dié elegante plant moet goed teruggesnoei word, aangesien dit sterk groei.

Oumansbaard (Usnea) – gedy in goeie lig; ’n aantreklike en tekstuurryke hangende lugplant wat verdeel kan word.

Dracaena sanderiana – bamboesagtige stele met ’n besonderse vorm, wat mooi tekstuur verleen. Hou van helder lig; groei tot 1 m hoog.

Regop olifantsoor (Alocasia ‘Calidora’) – welige tropiese voorkoms vir ’n tikkie drama. Dit hou van indirekte sonlig en klam grond, en groei goed in groot houers.

Varkoorplakkie (Cotyledon orbiculata) – lief vir helder lig en selfs son (as die grys blare groen verkleur, kry dit nie genoeg lig nie); groei vinnig en blom in die somer. 

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

@home 0860 576 576

Amatuli 011 440 5065

Courtyard Framing & Living 013 751 1349

Edgars Home 0800 203 925

Garden World 011 957 2047

Granny’s Attic Antiques & Collectibles 011 615 2963

Kensington Trading 011 616 1295

Loads of Living 0861 565 565

Maxwell & Williams 

MRP Home 0800 212 535

Organic Kitchen Gardens 011 782 9591

Re-Trend 011 888 2593

Sofa Company 021 200 5904

Studio Melissa Louise 084 299 1686

Weylandts 021 914 1433

Woolworths 0860 022 002

Yours Ceramics