Foto’s Francois Oberholster en Elza Cooper l Stilering Marian van Wyk en Amanda van Wyngaardt

1 Beste gebruik van ruimte

Toe Sachar Pistorius en Anton Krugel in 2018 by ’n kleiner huis in Westdene, Johannesburg, intrek, het hulle besluit om hul pasgemaakte 10-sitplektafel te hou, al is die eetvertrek kleiner as in hul vorige huis. “Om die groot tafel te akkommodeer moes ons die ruimte in ons nuwe huis anders benut; daarom het ons die sit- en eetkamer omgeruil en die ‘funksie’ van dié twee ruimtes verander,” verduidelik Sachar.

“As jy in ’n kleiner ruimte woon, laat dit jou nuut dink oor hoe jy jou geriewe ten beste kan benut. Die term ‘eetkamer’ kan gerus verander na ‘gemeenskaplike vertrek’, want ek dink baie huishoudings gebruik dit vir meer as net eet. Ons span dié ruimte in vir kuier, eet, werk en speel, en om dinge te bêre en te organiseer.”

Die voordeur van Sachar en Anton se huis maak oop in die eetkamer, wat as’t ware die middelpunt van hul huis is.

’n Hoe¨ uitstalkas is perfek vir drankies, ekstra glase, vase en kerse. Die dakvenster laat natuurlike lig by die oopplan-eetkamer instroom.

Drankkas van Amatuli; tafel van Die Dot Shop; vloerlamp van La Grange Interiors

Dís hoekom dit werk ...

Middelpunt 

Die eetkamer is netjies in die middel van die huis, en net 2m van die kombuis, die sitkamer en die swembaddeel onderskeidelik. Daarom is Sachar en Anton nooit te ver van die aksie af nie.

Ruim 

Die tafel en stoele neem net ’n derde van die vloeroppervlakte in beslag, wat genoeg ruimte laat om vryelik van die voordeur na die sitkamer en kombuis te beweeg. Die vertrek bied maklik sitplek vir 10 gaste tydens ’n formele aansit-ete, of 20 pelle vir ’n informele braai.

Veeldoelig 

Sachar en Anton eet by een punt van die tafel, werk by die ander punt en “bêre goed” in die middel. Verskillende stoele, sommige regop en ander meer vir agteroorsit, omring die tafel van herwinde Oregondennehout-vloerplanke; laasgenoemde het wiele onder die pote vir maklik rondskuif.

Dekor 

Die ruimte is eenvoudig en sonder fiemies, met ’n warm, natuurlike palet. Verskillende teksture en style gee dit diepte, terwyl kunswerke van keramiek en hout, skilderye en diervelle elk ’n storie vertel.

Sashar saam met die ruhaar- foksterriërs Sebastian en Charlie.

Die dientafel, wat aan Sachar se ouma en oupa behoort het, vorm deel van ’n pragtige uitstalhoek.

Potte van Liebermann Pottery

Die oopplan-kombuis langsaan kyk uit op die binnehof met sy lieflike vyeboom.

SACHAR SE TOPWENKE

• Voldoende beligting van verskillende bronne, soos ’n vloerlamp, verdofbare ligte en hanglampe, is belangrik as jy ’n knus atmosfeer wil skep. Kies gloeilampe met ’n warm wit skynsel.

• Stoele sonder stoffering is maklik om skoon te maak; jy kan altyd ’n los kussing bysit vir tekstuur en sagter sit.

• Besonderse tafelversierings soos keramiekware is sjarmant en gee gaste iets om oor te gesels.

• Kies plante as ’n versagtende element. Die oopplan-kombuis langsaan kyk uit op die binnehof met sy lieflike vyeboom.

Skildery deur Vanessa Berlein; stoele en kandelaber van Delos; fluweel-stoffering van bbellamy & bbellamy; swart poef van Weylandts

2 Koel kontras

Tydens ’n jaar lange opknap het Stefan Blom en Albie du Toit die dak en vloer van hulle huis uit die 1930’s in Groenpunt, Kaapstad, vervang en binnemure uitgebreek om ’n oopplan-leefarea te skep met plek vir hul agtsitplek-eetkamertafel. “Deesdae kook ons net vir ’n paar gaste op ’n slag, want só kan ons beter saam met ons gaste kuier,” sê Stefan.

Die oopplan-leefarea het ’n wit plafon, wit mure, wit vloere en meestal wit meubels. “Wit is vir ons so kalmerend,” sê Stefan.

“Ons wou ’n ruimte inrig waar mense eenvoudig kan asem skep en vryelik en gemaklik rondbeweeg. Die agtergrond moenie inbreuk maak op die ete of die gaste se aandag aflei nie ... Trouens, wit is dikwels die ideale agtergrond vir groot persoonlikhede!”

Dís hoekom dit werk ...

NET WIT

Danksy die palet is die ruimte lig en helder. Die tafel is pasgemaak en wit geverf, terwyl die stoele en kandelaber wit gespuitverf is. ’n Spatsel kleur In dié oorwegend wit ruimte verleen sitplekke gestoffeer in verskillende kleure ’n prettige kinkel.

KUNSWERKE

Stefan en Albie versamel Suid-Afrikaanse kuns; interessante stukke wakker altyd goeie gesprekke aan, maar die gashere glo vas dat die fokus altyd op die persoon voor jou moet wees.

GOEIE VLOEI

Dié ruimte is gesellig, met goeie vloei tussen die leefarea en kombuis. Die paartjie beskryf dit as ’n ruimte waar “almal net op hul gemak kan wees”.

STEFAN EN ALBIE SE TOPWENKE

• Moenie alles sommer net grys verf nie: Dit werk dalk in ’n slaapkamer omdat dit jou kan help slaap, maar dis vervelig vir die lewe!

• Dink versigtig oor die vloei tussen areas vir kook en kuier.

• Vra jouself af: Is die ruimte aanloklik? Jou onthaalplek moet verwelkomend en samehangend wees.

3 Werk én plesier

’n Formele eetkamer is die laaste ding wat Kay en Ross Lindsay wou hê toe hulle die huis in Clovelly, Kaapstad, waar hulle al 24 jaar woon, vernuwe het. Dié eienaars van die Kaapstadse rolverdelingfirma Kayos wou eerder ’n ruimte inrig waar hulle kan “werk, eet en uitspan”.

“Ons het net enkele struktuurveranderinge gemaak, maar die sit- en eetkamer omgeruil sodat die eetkamer reg langs die kombuis is. Op dié manier kon ons ’n tipiese oopplan-leefruimte skep,” verduidelik Kay. “Ons wou ’n vertrek ontwerp wat mense innooi, soos die sitkamer altyd gedoen het. Maar omdat dit ook ’n gemaklike werkspasie moes wees, maak die muureenheid ook voorsiening vir kantoortoerusting soos ’n drukker. Dis waar ons leef en werk, en ook vriende en familie om die eetkamertafel onthaal.”

Buiten dakvensters vir meer natuurlike lig het die paartjie ook ’n eiland in die kombuis reg langsaan ingesit. “Die res is deur net verf en plakpapier bewerkstellig,” sê Kay.

Die tafel met sy eikehoutblad en staalpote is pasgemaak deur Alastair Schoon en ontwerp deur die argitek Nicci Drzewicki, wat ook die rusbank ontwerp en gemaak het. Met die stapeldeure oop, het die Lindsays ’n uitsig op die tuin wanneer hulle by die eetkamertafel sit.

Dís hoekom dit werk …

EILANDSTYL

Die nuwe kombuiseiland beteken meer toonbankspasie én pakplek – boonop word dit ook as kroeg gebruik. “Dis ’n wonderlike ruimte waar ons saam kos kan berei terwyl ons steeds met gaste in die eetkamer kan gesels,” sê Kay.

KNUS EN WARM

Omdat die huis suid front en hoë plafonne het, word dit baie koud in die winter. Twee kaggels – een in die sitkamer en een in die eetkamer – hou die huis heerlik warm.

LIG en HELDER

Die Lindsays het die donker rietplafon wit geverf en vier dakligte geïnstalleer, wat ’n lieflike atmosfeer gee.

GEMAK

Dis nie aldag dat jy ’n gestoffeerde rusbank as sitplek by die eetkamertafel sien nie, maar dit werk perfek en gaste is geneig om langer te vertoef.

DEKOR

Kay gebruik breekgoed as dekor: “Ons het my ma se breekgoed uit ’n stowwerige kas gehaal en dit uitgestal; nou gebruik ons dit elke dag, wat wonderlik is.”

KAY SE TOPWENKE

• Dink mooi oor watter gevoel jy in die eetkamer wil bewerkstellig voor jy dink oor hoe dit moet lyk.

• Oorweeg die vloei van die ruimte en hoe om ’n groot groep gaste te akkommodeer.

• Smeulkaggels is ’n wonderlike belegging; dis doeltreffend, maak jou huis vinnig warm en skep ’n knus atmosfeer.

Die fokusmuur met sy swart-en-wit tropiese plakpapier, ingeboude houtrakke en kaggel is ’n ware apploustrekker. Kay en Ross stal hul hartsgoed hier uit en elke voorwerp het spesiale betekenis.

Kroegstoele van MRP Home; swart stoele van The Sofa Company; hanglampe van Eight Degrees South; rottangstoele van Block & Chisel; plakpapier van Hertex

Kroegyskas van CaterMarket; pizza-oond van ItalOven; wynrak, kratte op wiele en hoë tafel van Wood and Steel; kandelaber van Candelabra; kroegstoele van Incanda; teëls van Stiles

4 Onthaal in styl

“Wat ’n heerlike, gesellige huis!” is iets wat Dawie en Rudean Breet gereeld hoor wanneer gaste by hul opgeknapte huis in Durbanville instap. “Gaste is gewoonlik verbaas oor hoe ‘oop’ die vyftig jaar oue huis is; met die stapeldeure oop kan jy van die voordeur reg deur tot in die kombuis, stoep en swembad in die agterplaas sien,” sê Rudean.

Nadat die Breets sewe jaar gelede hier ingetrek het, het hulle die voorkoms binne en buite vernuwe, maar van die oorspronklike styl-kenmerke uit die 1970’s behou. Binne het hulle mure uitgebreek, ’n braaikamer aangebou en beter vloei tussen die onderskeie leefareas bewerkstellig. Ongelukkig het hulle net ’n jaar ná die opknap ’n huisbrand gehad en moes hulle van voor af regmaak!

Vandag is die trauma grootliks vergete en onthaal die Breets minstens een keer ’n week – in die somer buite langs die swembad en in die winter binne met ’n braai, potjie of pizza. Die rou baksteenmuur is met wit sement afgewerk, en groot swart en wit teëls (400 x 400 mm) is ’n kontemporêre dog tydlose element. 

Stoele by die kaggel in die sitgedeelte tussen die kombuis en stoep maak dit ’n knus leeskol in die winter.

Die stoep met sy latte-dak raak deel van die kombuis wanneer die stapeldeure oop is.

Vloerteëls van Stiles; tafel en stoele van Patio Warehouse

Dís hoekom dit werk …

GOED TOEGERUS

Dié kuierplek het alles: ’n kroeg onder die toonbank, luidsprekers in die plafon, ingeboude wynrakke, ’n pizza-oond en ’n braaikaggel met plek vir ’n potjie en ’n vuur. ’n Opwas-ruimte in die industriële styl, geïnstalleer deur CaterMarket (Dawie en Rudean se onderneming) bedien die braai-area en die kombuis.

DOELGERIGTE MEUBELS

Die hoë tafel met kroegstoele langs die braai is gemaklik vir onthaal en die kinders sit daar wanneer hulle huiswerk doen. Die kombuiseiland is ideaal geleë vir kosbereiding, terwyl die kaggel en gemaklike stoele daar naby die perfekte plek is vir opkrul.

BALANS

Dawie was verantwoordelik vir die meubels en ontwerp van die kuierruimtes, terwyl Rudean die donkerder kleure gebalanseer het met ligte skakerings soos sagte grys en geel.

OOP NA BUITE

Wanneer die stapeldeure oopstaan, kan die paartjie die voëls en eekhorings in die tuin dophou terwyl hulle binne sit.

Rondom die groot kombuiseiland met sy blad van rou eikehout is daar steeds genoeg ruimte vir gemaklike vloei van die stoep na die binnebraai. ’n Geel Fratelli Onofri-stoof vang dadelik die oog.

Kombuis deur Pierre Slabber Wood Interiors

DAWIE EN RUDEAN SE TOPWENKE

• Maak dit interessant. Die oorspronklike grys afgevlakte vloer was vir die Breets te vervelig, toe laat lê hulle groot swart en wit teëls.

• ’n Behoorlike opwasplek is ideaal as jy gereeld onthaal.

• Plaas jou braai-area naby die kombuis sodat jy deel van die aksie kan wees.

• Goeie natuurlike lig is noodsaaklik; probeer soveel moontlik lig inbring wanneer jy opknap.

Die Noltes het die twee ou kombuiskaste by voormalige bure gekry en gerestoureer. 

Mat van Bellville Furniture

5 Vir afskaal

Toe Sonja en Francois Nolte na ’n tweeslaapkamer-meenthuis in Panorama, Kaapstad, trek, moes hulle mooi dink om die beskikbare ruimte te benut. Met die hulp van IB Solutions is die ou eetkamer omskep in ’n derde slaapkamer vir wanneer familie en vriende kom kuier; die ander twee slaapkamers is ook met 1,6 m vergroot.

Hulle het toe ’n nuwe eetarea en braaikamer in ’n voorheen onbenutte kol tussen die stoep en motorhuis ingerig, en die muur tussen die kombuis en sitkamer uitgebreek sodat dit alles een oopplanvertrek uitmaak. Al die matte is uitgehaal, die vloere afgevlak en ’n IsoBoard-plafon is reg onder die staandak aangebring om die ruimte lig en oop te laat voel.

“Al het ons afgeskaal, wou ons nie ingehok voel nie,” verduidelik Sonja. “Gaste is altyd verbaas deur die binnekant, want dis nie wat jy sou verwag as jy na die fasade kyk nie. My seun en skoondogter, wat aanvanklik nie wou hê dat ons na ’n kleiner plek moet trek nie, was ook aangenaam verras.”

Dís hoekom dit werk …

MAAK OOP

Stapeldeure wat op ’n klein swembad-area oopmaak, skep gemaklike vloei tussen binne en buite.

MET ’N UITSIG

Natuurlike lig stroom hier in danksy twee groot vensters aan weerskante van die ingeboude braai; dit bied ook ’n gedeeltelike uitsig op Tafelberg, wat “elke oggend soos ’n nuwe skildery” lyk.

OORGENOEG SIT- EN PAKPLEK

Buiten ’n agtsitplektafel bied die trappe informele ekstra sitplek buite. Ou kombuiskaste verskaf uitstal- en pakplek, en verleen ’n tikkie ouwêreldse sjarme aan die dekor.

AFGEVLAKTE VLOERE

Vloere afgerond met TFC TopSeal is prakties en maklik om skoon te maak; dit gee ook ’n kontemporêre gevoel aan die vertrek.

SONJA SE TOPWENKE

• Vloei van binne na buite is belangrik, veral as jy in Suid-Afrika woon en ons lieflike klimaat wil geniet.

• Vinnige, maklike toegang tot die kombuis is noodsaaklik as jy graag onthaal.

• ’n Onverwagse dekoritem of meubels wat ’n verhaal vertel, sal gaste altyd aan die gesels kry. 

VERSKAFFERS & KONTAKTE

Alastair Schoon 082 866 7393

Amatuli 011 440 5065

bbellamy & bbellamy 021 462 1357

Bellville Furniture 021 949 8880

Block & Chisel 087 015 0181

Candelabra 021 939 1001

CaterMarket 021 949 7325

Chair Crazy 021 465 9991

Decofurn 087 740 1800

Delos 021 447 5739

Die Dot Shop 076 581 8170

Eight Degrees South 076 766 9842

Hertex 021 914 3390

IB Solutions 082 220 2925

Incanda 021 914 5832

ItalOven 021 981 1372

La Grange Interiors 011 444 5379

Liebermann Pottery 011 482 2215

MRP Home 0800 212 535

Nicci Drzewicki 021 433 0422

Patio Warehouse 087 825 1120

Pierre Slabber Wood Interiors 083 450 4547

Stiles 021 510 8310

Superbalist

The Sofa Company 021 200 5904

Vanessa Berlein 084 614 0268

Weylandts 0860 103 400

Wood and Steel 082 377 8838