Foto’s Henrique Wilding, Elza Cooper en Francois Oberholster l Stilering Marian van Wyk, Zarah Riley, Amanda van Wyngaardt en Cornel Dunn

#1 So gemaklik

Nadat die ongemaklike trap tussen die eet- en sitkamer in Brian en Louise Tait se huis in Rondebosch tydens ’n algehele opknap in 2019 geskuif is, het die nuwe oopplanruimte vir hulle net te groot gevoel. Op aanbeveling van die argitek-ontwerper Jenny Collins van Red Cat Design en die binneontwerper Zarah Riley het hulle toe besluit om ’n kaggel tussen die twee dele van dié vertrek te installeer, met ’n opening na albei kante. Dis nie net ’n puik oplossing wat die ruimte subtiel in twee verdeel nie, maar skep ook ’n treffende fokuspunt. Dié plan het perfek gepas by die Taits se visie van ’n leefruimte wat hulle as gesin, asook saam met hul vriende, kan geniet.

“Die skakel tussen die eet- en sitkamer en die kombuis, en die inwoners se interaksie in die drie vertrekke, was belangrik,” vertel Jenny. “Daar moes genoeg hoekies wees vir boek lees en dut in die namiddagson, asook ruimtes waar hulle vriende met ’n vleisbraaiery of rondom die eettafel kan onthaal.”

Die oopplan-leefarea het ’n natuurlike vloei na die dek, swembad en agtertuin sodat alles organies een ruimte vorm wanneer die stapeldeure wyd oop staan. Die dekor is ’n balans tussen oud en nuut, sag en hard, modern en klassiek. Dit skep ’n ruimte wat as gesellig en gemaklik dog stylvol ervaar word. Aluminiumdeure en -vensters deur G&E Glass and Aluminium

Voor

’n Dubbelkantige kaggel tussen die sit- en eetgedeelte skei die twee dele sonder dat dit die vloei of geselskap belemmer. Infiniti-kaggel van Fireplace Studio; mat van Airloom

SKEP SONES

• Met die kombuis in die kort been van die L-vormige vertrek is dit nie direk in die oog uit die sitkamer nie – ideaal as jou kombuis dalk deurmekaar is wanneer gaste onverwags opdaag.

• ’n Reeks balke onder die plafon ondersteun die boonste vlak, maar definieer ook die vertrekke onder.

• Meubels en beligting is ingespan om sones af te baken en ’n duidelike funksie aan elke deel van die vertrek toe te wys.

MEUBELPLASING

• Die hoekbank definieer die sitgedeelte in die groot oopplanvertrek. Dit omlyn dié deel net genoeg in die groter ruimte om dit knus te laat voel, terwyl daar genoeg oop spasie rondom is om hindernisvrye beweging tussen al die dele toe te laat. Die bank het ruim sitplek vir heelparty gaste, maar bied ook die perfekte uitleg aan ’n gesin wat net wil ontspan, agteroorsit met ’n boek en hul voete by die kaggel warm hou.

• Die boekrak van die vloer tot die plafon vorm ’n fokuspunt wat terselfdertyd knus en treffend is; dit gee die area ’n duidelike doel en is ’n praktiese oplossing vir die gesin se boekversameling.

Die eienaars het voorheen ’n blou kombuis gehad en so baie daarvan gehou dat hulle dieselfde skakering hier gekies het.

Koper-deurhandvatsels en oop rakke van eikehout bring warmte in. Die vintage-koperkraan, wat deur ’n stalletjiehouer by die Milnerton-mark bekom is, bring ’n klassieke element tussen die andersins moderne afwerking in. Die eienaars het voorheen ’n blou kombuis gehad en so baie daarvan gehou dat hulle dieselfde skakering hier gekies het. Kombuis ontwerp in samewerking met Zarah Riley; handvatsels van Handles Inc.

Kennersraad

Die argitek-ontwerper Jenny Collins van Red Cat Design gee hierdie wenke vir goed ontwerpte oopplanruimtes:

• Kry eers die argitektoniese elemente reg voordat jy met die interieurontwerp begin speel.

• ’n L-vormige oopplan-leefruimte werk uitstekend, met die kombuis óf die sitkamer in die kort been, afhangend van wat by jou leefstyl pas.

• Daar is niks wat ’n ruimte so goed laat voel soos natuurlike lig nie. Omdat dit as ’n skakel met die omgewing dien, help dit om ons te anker.

• ’n Gemaklike rusbank is onontbeerlik in ’n leefvertrek. Kies een met ’n vorm wat goed inskakel by die vloei na ander vertrekke. Dit moet die sitdeel afbaken, maar nie inhok nie. Hoekbanke werk goed en moedig middagslapies of fliek-marathons saam met die hele gesin aan.

• ’n Mooi mat voeg nog ’n definiërende laag by die ruimte en die tekstuur onder kaal voete gee ’n nuwe dimensie aan hoe ’n mens die ruimte ervaar.

• Bêreplek kan nogal moeilik wees in oopplanruimtes en dit is belangrik, aangesien niemand daarvan hou om by ’n deurmekaar vertrek in te stap nie – en daar’s g’n deur waaragter jy dit kan wegsteek nie! Oorweeg dus meubels met bêreplek, soos ’n kis as koffietafel of ’n ottoman met pakplek binne-in. Mandjies werk goed vir speelgoed, komberse en kaggelhout; dit bring ook tekstuur en ekstra detail in die vertrek.

Jenny se taboes

• My grootste irritasie is ’n gastetoilet direk uit ’n oopplanruimte. Dit maak almal ongemaklik. Indien jou ruimte beperk is en jy nie ’n ingangsportaal het nie, probeer dit ten minste afskort of skep ’n gangetjie daarheen.

• Ruimtes moet breed genoeg wees dat dit gemaklike vloei toelaat. Jy wil byvoorbeeld nie tussen jou bank en die koffietafel deurloop om by die eetkamer uit te kom nie; skep ’n “loopgang” aan die kant van oopplanruimtes.

• Grootte is belangrik: Te groot kan oorweldigend wees; te klein voel weer beknop.

KONTAK Red Cat Design

cement, screed, de wet, onrus, gravel, outside liv
Verskeie vensters verseker dat die sitkamer in natuurlike lig baai. Gordyne was onnodig en dit dra by tot die skoon, oop gevoel. Omdat daar nie ’n mat is nie, kom die lieflike blokkiesvloer, wat met bryvulling gelê is, tot sy reg. Sitkamerstel van Ryan Christie Furniture; hanglig van Weylandts

#2 Oop en retro

Met ’n ingangsportaal, sitkamer en eetkamerkombuis sommer alles aaneen, geniet Morgane en Lionel Andrews elke deel van hierdie ruimte na behore. Hulle het dié huis in Parkhurst, Johannesburg, net so gekoop en dit was nie vir hulle nodig om enigiets te verander nie.

“Ons is mal oor die vloei tussen die onderskeie leefvertrekke en al die spasie wat dit bied,” vertel Morgane. “ ’n Mens voel glad nie ingeperk nie. Alles vloei aaneen, maar is netjies afgebaken. Die sitkamer is heerlik vir lees in die dag, om ’n drankie voor ete saam met vriende te geniet of net lekker voor die kaggel te ontspan op ’n koue wintersaand. En wanneer ons onthaal, is ons in die eetkamer-kombuis.”

MEUBELPLASING

• Twee identiese retro-banke teenoor mekaar geplaas, met ’n gemakstoel teen die staalreling tussen die sitdeel en die kombuis-eetkamer, bied sitplek vir gesellige samesyn met vriende. Die meubels versterk die simmetriese gevoel in die vertrek met die kaggel in die middel en eenderse vensters weerskante.

• ’n Koffietafel van glas laat die ruimte groter voel.

SKEP SONES

• Die sitkamer is op ’n laer vlak as die ingangsportaal en kombuis. Met drie houttrappies wat daarheen lei, vorm dit ’n sone op sy eie.

• ’n Staalreling skei die sitkamer van die ingangsportaal bo, tog voel die ruimtes steeds deel van mekaar. Danksy dié reling kon ’n buffetkas ook staanplek kry om die ingangsportaal te definieer.

• Sierlike pilare skei die ingangsportaal van die eetkamer-kombuis.

• Verskillende vloermateriale baken die areas af: In die sitkamer en ingangsportaal is die oorspronklike blokkiesvloere, terwyl die kombuis ’n sementvloer het.

Aangesien die paartjie meestal in die kombuis onthaal, was ’n groot eetkamertafel hier ’n moet. Vier stoele en ’n houtbankie bied genoeg sitplek aan wie ook al inval vir ’n kuier. Eetkamertafel en bankie van Ryan Christie Furniture; grys stoele van @home

’n Pragtige ou uitstalkas dien as eiland in die kombuis.

Omdat dié ou tafel ongemaklik laag was, is blokke onder die pote gesit sodat mense en stoele maklik daaronder kan inskuif. Danksy los matte voel die sementvloer warmer. Vloere deur Earthcote; bykomstighede van The Small Gallery

#3 Elegante sonkamer

Toe ons in Junie 2020 Jacomien de Wet se lieflike huis op Onrusrivier in die Wes-Kaap afneem, moes ons net ’n foto van haar ma, Irma Herbst, se lieflike sonkamer kry. Ma en dogter woon op twee erwe langs mekaar en Irma se kothuis is sowat ses jaar gelede ingerig. Dié sonkamer – die ou stoep wat toegebou is – beslaan ’n ruim 30 m² en word as die vernaamste leefarea beskou. “Ek drink soggens my koffie hier en dis ook waar ek stiltetyd hou,” vertel Irma.

MEUBELPLASING

• ’n Groot dagbed van 2,4 m strek oor die volle breedte van die verste muur en anker sodoende die sitgedeelte.

• Al is die vertrek smal, is ’n los kas en kanttafels slim geplaas dat dit nie beweging belemmer nie; dit bied ook uitstalplek vir mooigoed en plante.

• Met die tafel teen die venster en eetstoele net aan drie kante, voel die vertrek oper en ruimer.

SKEP SONES

• Aangesien die sonkamer taamlik smal is, moes Irma slim te werk gaan met die ruimte. ’n Sitgedeelte is teen die een venstermuur ingerig met ’n eetkamertafel teen ’n ander venster. ’n Hanglig voor die bank help om die sitgedeelte te definieer.

• Danksy al die natuurlike lig deur die ouderwetse “skoolvensters” groei plante uitstekend hier en word die vertrek deel van die tuin.

Die vals plafon is oorspronklik en kom in talle huise in die omgewing voor. Dit is bloot geverf vir ’n moderne voorkoms. Al die vensters in die huis het hortjies gekry omdat die gesin nie van gordyne hou nie. Blou bank van Cielo; groen stoel van Re-Trend

#4 Vrolike prentjie

Neeltjé Swanepoel se huis in Victory Park, Johannesburg, vertoon sy sestigerkenmerke met trots en deesdae ook in volkleur. Sy en haar man, Hendrik, wat sedert 2010 hier woon, het oor die jare stelselmatig opgeknap. Geen groot veranderinge is aangebring nie, aangesien hulle hou van die argitektoniese styl. Die sitkamer, net regs van die ingangsportaal, spog met sy oorspronklike blokkiesvloer, klipmuur en ’n kaggel – geen wonder dis hul gunstelingvertrek in die winter nie.

“Dit was eers ons TV-kamer totdat ons ’n jaar of wat gelede ’n stoep in ’n TV-kamer verander het,” vertel Neeltjé. “Toe moes ek ou banke en stoele rondskuif en is ek elke keer verlei deur die mooi helder kleure in die boeke waardeur ek by die plaaslike stoffeerder geblaai het. Ek het sommer net op kleure en patrone besluit soos wat ek die dag lus was en uiteindelik het dit saam ’n mallerige prentjie gemaak waarvan ek hou!”

SKEP SONES

• Die sitkamer grens in ’n oopplanontwerp aan die eetkamer, maar is twee trappies laer as laasgenoemde. Die kombuis is apart, met ’n deur uit die eetkamer.

• ’n Groterige groep kan in die eet- en sitkamer kuier sonder dat die gaste geskei word. Albei vertrekke loop uit na die tuin en daarom kan jy selfs in Johannesburg se hoogsomer binne en buite tegelyk kuier.

• Aangesien dit ’n lang vertrek is, is twee sithoeke ingerig. Die stoele en ottoman in die middel word maklik geskuif om vir ’n groter groep voorsiening te maak.

MEUBELPLASING

• Twee groot gestoffeerde sofas in ’n L-vorm teen die muur en die venster skep ’n gesellige kuierhoek. ’n Ottoman verskaf ekstra siten pakplek sonder dat dit die vloei belemmer.

• Aan die ander kant van die lang, smal vertrek is ’n koffiehoekie op ’n retrokroegtoonbank ingerig.

Die dekorstyl is gemaklik en informeel, maar met unieke elemente en kunswerke wat van oraloor versamel is. Die huiseienaars snuffel graag rond in winkels met antieke én moderne artikels. Die pizzaoond werk veral goed in die winter wanneer die Barnardts nie in die reën buite kan onthaal nie. In die somer maak die vertrek oop op die ruim stoep en swembadarea.

#5 Skoonheid uit die sestigs

Tipies as dit kom by opknapwerk aan ’n ouer huis het Sonette en Nelius Barnardt van Somerset-Wes ’n paar binnemure uitgebreek om meer oopplanruimtes te skep en vloei te vergemaklik. “Die huis is in die sestigerjare gebou en ons het van die elemente uit dié era behou, aangesien ons die karakter van die huis wou eerbiedig,” vertel Sonette. “Daarom sal jy hier en daar nog elemente sien soos groot glasskuifdeure met houtrame en ’n gangdeur met draadversterkte veiligheidsglas. Die oopplan-leefvertrekke kan almal met skuifdeure toegemaak en gesluit word.”

Die leefvertrek met ’n pizzaoond en eetkamertafel is waar die gesin die meeste van hul tyd deurbring. “Ons leef regtig in hierdie vertrek; dit het ’n informele kuiergevoel en alles is byderhand. Ons visie was ’n plek waar ons lekker kan ontspan en onthaal, daarom is daar ’n lang tafel, maar ook gemaklike banke en stoele.”

SKEP SONES

• Danksy die simmetrie van die vertrek was dit maklik om die sitkamer in te rig aan die een kant en die eetkamer aan die ander kant van die pizzaoond wat as sterk fokuspunt dien.

• ’n Aardse mat anker die sitgedeelte.

• Verskillende ligte is gebruik om die sones te skep, soos die twee hangligte reg bo die eetkamertafel.

MEUBELPLASING

• Twee groot gemaklike rusbanke met los oortreksels skep ’n vierkantige kuierkol saam met twee wit geverfde imbuia-stoele.

• Twee koffietafels in plaas van een word ingespan, aangesien Sonette graag stillewes of “mini-uitstallings” op een koffietafel skep terwyl die ander een vir onthaaldoeleindes gebruik word.

• In plaas van agt individuele eetkamerstoele is daar twee lang bankies sonder rugleunings by die tafel, wat die gevoel van oopte en ruimte versterk.

Ander opsies

Sam Harris van Tuis se binneversierdiens Welkom Tuis stel dié moontlike alternatiewe uitlegte vir elke leefvertrek voor indien die inwoners ’n verandering oorweeg:

cement, screed, de wet, onrus, gravel, outside liv
cement, screed, de wet, onrus, gravel, outside living, plarox, reader home

#1 Sam, ’n interieurargitek, sê jy kan ’n groot impak maak deur net jou meubels te skuif. Sy is egter oortuig die meubelplasing in dié leefvertrek is perfek.

cement, screed, de wet, onrus, gravel, outside liv
Verskeie vensters verseker dat die sitkamer in natuurlike lig baai. Gordyne was onnodig en dit dra by tot die skoon, oop gevoel. Omdat daar nie ’n mat is nie, kom die lieflike blokkiesvloer, wat met bryvulling gelê is, tot sy reg. Sitkamerstel van Ryan Christie Furniture; hanglig van Weylandts
de wet,plarox,cement screed,fountain,onrus,gravel,
de wet,plarox,cement screed,fountain,onrus,gravel,reader home,outside living

#2 ’n L-vormige sofa in plaas van twee aparte banke kan goed werk in die Andrews-egpaar se gesellige sitplek, sê Sam, terwyl twee los gemakstoele aan die oorkant goeie vloei sal bevorder.

Omdat dié ou tafel ongemaklik laag was, is blokke onder die pote gesit sodat mense en stoele maklik daaronder kan inskuif. Danksy los matte voel die sementvloer warmer. Vloere deur Earthcote; bykomstighede van The Small Gallery
de wet,plarox,cement screed,fountain,onrus,gravel,
de wet,plarox,cement screed,fountain,onrus,gravel,reader home,outside living

#3 Omdat Irma Herbst se sonkamer so lank en smal is, is ’n oulike klein kroegie (óf koffiehoekie) ’n slim plan om die sit- en eetdeel te skei. Só skep jy ’n lieflike alles-in-een-onthaalarea. Die eetkamertafel kan dan in die teenoorstaande hoek van die vertrek inpas, met meer sitplek reg rondom die tafel.

Die vals plafon is oorspronklik en kom in talle huise in die omgewing voor. Dit is bloot geverf vir ’n moderne voorkoms. Al die vensters in die huis het hortjies gekry omdat die gesin nie van gordyne hou nie. Blou bank van Cielo; groen stoel van Re-Trend

#4 ’n Hoekbank is ’n goeie oplossing vir die Swanepoels indien hulle ’n rustige en tydlose voorkoms in hierdie ruimte wil skep. Rond die vertrek af met ’n enkele, treffende gemakstoel en ’n ottoman, is Sam se raad.

Die dekorstyl is gemaklik en informeel, maar met unieke elemente en kunswerke wat van oraloor versamel is. Die huiseienaars snuffel graag rond in winkels met antieke én moderne artikels. Die pizzaoond werk veral goed in die winter wanneer die Barnardts nie in die reën buite kan onthaal nie. In die somer maak die vertrek oop op die ruim stoep en swembadarea.

#5 Aangesien die pizzaoond die fokuspunt in die vertrek is, kan jy die sitkamer reg voor die oond inrig, net soos voor ’n tradisionele kaggel. Skuif dan die eettafel met stoele na die agterste gedeelte van die vertrek vir ’n duidelik gedefinieerde eetarea. Op dié manier behou jy die oopplangevoel van die vertrek.

VERSKAFFERS

@home 0860 834 834

Airloom 021 932 6318

Cielo 0886 024 356

Earthcote 021 447 0217

Fireplace Studio 021 712 3713

G&E Glass and Aluminium 021 903 5173

Handles Inc. 021 422 2322

Iron & Wood 4U 083 272 4133

Re-Trend 011 482 2454

Ryan Christie Furniture 078 457 2524

Sheridan Interiors 083 441 0037 of 021 685 2757

Superbalist 087 362 7300

The Small Gallery 083 261 1659

Welkom Tuis 021 773 0745

Weylandts 021 914 1433

Zarah Riley Interiors and Design 082 094 2857