Foto's Francois Oberholster en Elza Roux

VERSAMELING #1

Uit die natuur

Skep ’n kalmerende uitstalling in jou slaapkamer deur botaniese afdrukke bo jou bed te hang, amper soos ’n massiewe kopstuk. Dis presies hoe Magdel van der Walt, eienaar van TinTown, die natuur tot binne-in haar solderslaapkamer gebring het. Sy beskryf haar prentversameling uit The Book of Plants: The Complete Plates (Taschen 25th Anniversary Series) as rustig en vredig. “Ek het aanvanklik skuldig gevoel om so ’n pragboek te verwoes, maar het gou daaroor gekom,” lag Magdel nou. Vir die projek het sy al die ou rame wat sy in die huis kon bymekaarmaak, wit geverf.

Min van ons blaai regtig deur ons koffietafelboeke. Nou kan ek die prente elke dag geniet. – Magdel van der Walt

Wat jy nodig het:

  • Ou rame van ’n eenderse grootte en fatsoen om ’n eenvormige voorkoms te skep.
  • ’n Versameling botaniese afdrukke – verf jou eie, skeur dit uit ’n ou plantillustrasieboek of soek daarvoor aanlyn.
  • Wit verf en ’n kwas.
Wenk

Kies prente in dieselfde illustrasiestyl vir samehang.

VERSAMELING #2

Iets van als

Janine Mollentze, ’n vryskut-sosialemediabestuurder, het ’n lang, saai muur in haar woonkamer in ’n asemrowende vertoonstuk omskep deur haar kosbaarhede vernuftig op ’n oënskynlik lukrake manier uit te stal op steierplanke – dis ’n goedkoop alternatief vir rakke in die industriële styl. “Die vintage-horlosies is my huismaat s’n en ek het so ’n jaar gelede die ou naaimasjiene begin bymekaarmaak. Ons liefde vir analoog-fotografie het weer ons kameraversameling geïnspireer – die meeste van hulle kom uit die tyd toe ons in Londen gewoon het,” sê Janine. Sy vertel ook dat die goue bokkie-snuisterye vir haar baie spesiaal is. “Ek het dit van my ma geërf. Die res van die ornamente is als by vintage-winkels op klein dorpies uitgesnuffel.”

Dis hier waar jy kan speel en artikels kan meng en pas tot jy voel die geheel werk, verduidelik Janine.

So maak jy:

Soort by soort Begin deur al jou kosbaarhede deur te kyk en hopies te maak van soortgelyke artikels wat jy wil uitstal. So het Janine al haar horlosies, boeke,  kunswerke, plante, ornamente, blikkies en ou kameras bymekaargesit sodat sy mooi kon sien wat sy het om mee te werk. “Groepe van eenderse artikels bymekaar het groter trefkrag as wanneer los goed net oral in ’n vertrek neergesit word,” verduidelik sy.

Raklewe Sit lang rakke oor die lengte en hoogte van jou muur in. Dié rakke hoef nie duur of spoggerig te wees nie; ’n struktuur van herwinde steierplanke of houtbalke op eenvoudige stutte, alles in dieselfde kleur as jou muur, werk net so goed.

Organiseer “Voeg na hartelus enigiets wat oud, nuut of selfs stukkend is by, solank dit by die res pas,” stel Janine voor. Sy het boeke van dieselfde kleur opmekaar gestapel en ornamente bo-op geplaas vir ekstra visuele trefkrag. Die ou kameras langs mekaar skep ’n geskiedkundige prentjie, met ’n lang geraamde prent daaragter wat hoogte verskaf.

Wenk

Neem die skaal, kleur en era van stukke in ag en groepeer dit saam met ander met teenoorgestelde eienskappe om hul glanspunte te beklemtoon.

VERSAMELING #3

My bokkie, my gogga

As jy bokkoppe en ’n hele versameling veelpotiges teen die muur wil sien, moet jy in Benn, die jong seun van Bibette Prins van Plan B Vintage, se kamer gaan kyk. “Hy’t behoorlik ’n obsessie met wildsbokke en insekte,” glimlag Bibette. Sy het die insekversameling uit haar winkel huis toe gesmokkel en hulle een vir een in ’n drukkerslaai gemonteer. Dit was die perfekte Kersgeskenk! “Ek self hou van ou speelgoed, dierkoppe en afdrukke, en het al heelwat nuttige toevoegings by Typo, speelgoedwinkels en my eie winkel raakgeloop,” vertel sy. Dis duidelik dat dié speelse seuntjiekamer Benn nog jare lank gaan vermaak en gelukkig hou.

Wenk
Jou kind se kamer hoef nie kinderlik te wees nie! Versier dit net soos enige ander vertrek om dit tydlose sjarme te gee en voeg allerlei persoonlike artikels by vir ’n eie stempel.
VERSAMELING #4

Vorm met ’n funksie

Heike le Cordeur, eienaar van die blomontwerpsaak Fleur le Cordeur, hou daarvan om snyblomme te rangskik in vase wat ’n storie vertel, hetsy van die tydperk waarin dit gemaak is of van waar dit vandaan kom. Sy glo ’n venster is die beste plek om antieke vase uit te stal, aangesien die son se strale wat daardeur spoel ’n dromerige voorkoms skep. Haar uitstalling is in ’n venster op pad na haar badkamer, wat beteken sy kan dit elke dag geniet. “Dit was ’n selfdoenprojek wat my en my ma ure se plesier gegee het om die regte hoogte tussen die rakke te kry sodat al my gunsteling-vase daarin kon pas,” onthou Heike. “My beste raad is om iets te versamel wat jy kan gebruik. Ek put soveel genot uit my vase, want ek gebruik dit op ’n daaglikse basis. So wissel hulle gedurig op die rakke en lyk my uitstalling nooit dieselfde nie!”

So maak jy:

1. Kies ’n venster in jou huis wat nie kan oopmaak nie of wat jy nooit hoef oop te maak nie.

2. Meet die diepte en wydte van die vensternis om die lengte en breedte van elke rak te bepaal en bereken die afstand tussen die rakke sodat jy weet hoeveel jy gaan nodig hê. Installeer ekstra stutte in wye vensters sodat jou rakke nie 1 200 mm oorskry nie; gebruik dan ook glas wat minstens 10 mm dik is. Meet vooraf jou gunsteling-vase om seker te maak dat hulle gaan pas!

3. Laat die glas volgens jou mate sny. Vra raad by die glashandelaar oor die regte dikte glas vir jou bepaalde rakgroottes.

4. Koop en installeer stutte om die rakke te ondersteun. Heike het fyn vlekvryestaalstutte gekies, maar daar’s style en groottes te kus en te keur na gelang van jou smaak en behoeftes.

Wenk

Skrop vase wat jy nie skoongewas kry nie met ’n oplossing van koeksoda en asyn; laat dit vir ’n paar minute of selfs oornag week. As jy met hardnekkige vlekke sukkel, druk die vaas in ’n houer met rou rys en draai dit tot  skoon.

VERSAMELING #5

Met liefde vir blou

’n Versameling blou borde teen die muur bo die opwasbak het ’n gewoonlik vaal, onnet hoekie in ’n aantreklike fokuspunt omskep. Dié oulike groepie is die breinkind van Gretha Bester, eienaar van die lapfirma Makietie. “Ek is eenvoudig mal oor alles wat blou is! Ek sal altyd iets blou kies – of dit nou koppies, borde, bakkies of vadoeke is,” verduidelik Gretha. Sy het juis die borde so gehang dat sy hulle kan geniet terwyl sy skottelgoed was. “Elke keer as ek daarna kyk, sien ek nog ’n stukkie detail wat ek nooit voorheen opgelet het nie.” Sy glo dat ’n mens dié dinge waarvoor jy lief is moet uitstal, pleks daarvan om dit in ’n kas weg te steek.

VERSAMELING #6

Alles op die spel

Poskaarte, liefdesbriewe en woorde wat vir jou spesiale betekenis inhou lyk tuis rondom ’n kaggel. Kaggelrakke is ideaal om ’n versameling sentimentele stukke wat nêrens elders in die huis sou hoort nie, uit te stal. By die kaggel links bring tipografie van verskillende vorms en groottes lewe in die vertrek en druk die eienaars se eie stempel op ’n eenvoudige sitarea af. Hou die skaal en hoogte in gedagte om ’n stelling te maak, eerder as om die ruimte met allerlei planlose “goetertjies” vol te prop.

VERSAMELING #7

Kom binne

Paul Mrkusic, hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Antiekhandelaarsvereniging en eienaar van Bancroft, ’n vintage-winkel in Johannesburg, het ’n leë donker nis by die ingang na sy woonstel in ’n treffende uitstalling van reisboeke, geliefde versamelstukke en speelse snuisterye omskep.

So maak jy:

Plan van aksie Met ’n eklektiese versameling op rakke is dit belangrik om voorwerpe volgens hoogte en grootte te groepeer, eerder as volgens gedeelde eienskappe. Begin deur die grootste en hoogste artikels oor die rakke te versprei en vul die openinge tussenin met die res van die voorwerpe.

Meet en pas Meet die hoogste stuk in jou versameling en bepaal die diepte van die ruimte tot jou beskikking. Werk dan ’n geskikte hoogte vir elke rak uit om die spasie eweredig en proporsioneel te verdeel. Koop bekostigbare houtplanke by jou ysterwarewinkel; Paul het kiaat gebruik, maar stewige dennehout sal ook werk. Laat jou knaphandige vriend dan die rakke meet, saag en installeer (en die hout behandel, indien nodig).

Keurige kontras Moenie bang wees om ernstige antieke stukke met speelse artikels wat dalk meer sentimentele as geldwaarde inhou, te meng nie. In Paul se kleurvolle versameling staan ’n Art Nouveaukameevaas deur Muller Frère net so gemaklik langs ’n Tsjeggiese Art Deco-likeurstel deur Moser, as langs ’n geverfde Kuifie-houtbeeldjie van ’n handwerkmark by die Victoria-waterval.

Wenk

Maak hol rakke van drie dunner houtpanele (bokant, onderkant en voorkant) waarin jy laespanning-liggies kan monteer om die rakke te verlig. Spieëls teen die muur agter die rak versterk die glansvoorkoms.

VERSAMELING #8

Skitterende skatte

Dié toegeboude stoep in die hart van die Paarl het ’n koninklike gevoel gekry met sierlike goudomraamde spieëls. Gretha Bester het ’n groot voorliefde vir karaktervolle bykomstighede. “Van die spieëls het merkies en toon tekens van verweer, maar dit is juis wat my stoep lewe gee,” vertel Gretha. Sy dink nie te veel oor hoe sy die spieëls rangskik nie. “As daar klaar ’n spyker in die muur is, dan is dit waar die spieël kom,” lag sy. Spieëls kan jou deesdae heelwat uit die sak jaag; gaan snuffel dus ’n bietjie op jou ouma se solder of by rommelwinkels na dié skatte.

Wenk
Hang jou eerste spieël gesentreer teen ’n muur of ten opsigte van ’n meubelstuk en voeg mettertyd nog spieëls rondom by; behou deurentyd dié middelpunt en hou dieselfde afstand tussen rame.
VERSAMELING #9

Kosbare vrag

Toe die fotograaf Bridget Corke op ’n dag ’n lieflike geelhout-dientafel op die ingewing van die oomblik by ’n ontluikende vakman koop, het sy geen idee gehad dat dit eendag haar kosbaarste besittings sou dra nie.

So maak jy

Meer, nie minder nie Aksentueer ’n dientafel met ’n lang blad deur dit propvol pragtige vertoonstukke te maak. Hoewel jy met verskillende groeperings en nuwe vondste kan speel om die voorkoms nou en dan te verfris, is dit goed om ’n fondament van voorwerpe wat nie verskuif word nie, te behou. Vir Bridget is dit haar “onthou-hoekie”: ’n versameling foto’s, afbeeldings en sentimentele aandenkings aan haar geliefde ouers en susters.

Perfekte prentjie ’n Horisontale oppervlak teen ’n muur verskaf die ideale geleentheid om kunswerke op ’n kreatiewe manier uit te stal. Hier leun ’n Adriaan Boshoff-olieverfskildery in ’n vergulde raam ewe gemaklik neffens die kontemporêre rame van die pointillistiese portret van haar oorlede pa en die Ruth Squibb waterverfskildery wat teen die muur gemonteer is.

Goue lint Dis tog moontlik om ’n versoenende element in so ’n eklektiese versameling in te bring. Hier eggo die aalwyn, ystervarkpenne, figuurtjies van gegote metaal en ’n glasbak vol vrugte die subtiele organiese gevoel wat die ruwe, byna onafgewerkte blad uitstraal.

VERSAMELING #10

Teen die muur

Die binne-ontwerper Amanda Caudle se grasdakhuis met sy hoë spitsplafonne is die ideale platform vir haar versameling kunswerke, asook die blou-en-wit porselein wat sy op haar reise aangeskaf het.

So maak jy

Hoogte en breedte Om ’n doeltreffende stelling soos dié te maak, is dit belangrik om die visuele gewig van die uitgestalde voorwerpe op die vertikale én die horisontale vlak te balanseer. Deur die versameling tot reg bo in die nok te neem, het die vertrek ’n dramatiese gevoel van hoogte gekry; maar die lang ry porseleinware herstel die ewewig in die breedte. Amanda het die asimmetriese rangskikking geanker met ’n groot spieël in die middel as fokuspunt.

Kleur dit in Wanneer jy met twee ewe groot versamelings werk, is dit wys om een net effens meer as die ander te laat uitstaan – dis juis die geheim van komplementerende dekor. Die blou van die porselein, wat sakpas-vlooimarkvondste sowel as waardevolle stukke uit Hongkong en Brittanje insluit, verskaf die perfekte aksent in die neutrale skema.

Fyn gesny Dis vanselfsprekend dat jy sal wil seker maak niks belemmer jou lieflike uitstalling teen ’n muur nie. Amanda het die hout-konsoletafel spesiaal op die regte hoogte laat maak sodat ’n mens die porseleinware bo die bank se rugleuning kan sien wanneer jy die vertrek van die ander kant af binnekom.

Onthou
  • Sorg vir harmonie in ’n groep kunswerke van verskillende mediums en onderwerpe deur die skaal af te wissel en gewig van die rame te balanseer.
  • Koop ongeraamde kunswerke pleks van soeweniers wanneer jy reis; dis ligter om te dra en kan nie so maklik beskadig word nie.
Jy kan ook ’n versameling silwerware soos trofeë, sjampanjebakke, bekers en kandelare bymekaar plaas en dit opklits met takkies groenigheid.
VERSAMELING #11

Kristalhelder

Swierige kristal saam met vergulde rame en silwerware kleur ’n dekorprentjie weelderig in. Maar sulke artikels hoef nie net mooi te lyk nie, dit kan ook ’n praktiese doel dien. “Die glas- en kristalhouers in my badkamer is nuttige bêreplek vir grimeermiddels en oorbelle,” verduidelik Bibette Prins terwyl sy die sierlike deksel van elkeen aflig. Die kombinasie van die verskillende soorte glas en kleure span vernuftig saam om die lig te reflekteer en die badkamer daardie glansryke voorkoms te gee waarvan Bibette so baie hou.

Is dit kristal of glas?
  • Heelwat ouer kristalstukke bevat nog lood – iets wat jy aan die gewig sal voel. Vergelyk voorwerpe van soortgelyke grootte; dié van kristal sal swaarder wees as glasware.
  • Tik liggies met jou vingernael teen die rand van ’n glasvoorwerp. As dit ’n kort, dowwe geluid maak, is dit glas; ’n lang musikale pieng dui gewoonlik op kristal.
  • Hou die voorwerp op en kyk of dit die lig in ’n veelkleurige prisma opbreek – dis ’n seker teken dat dit kristal is.
  • Kristal word gewoonlik met groot presisie geslyp en gepoleer om die minimum gebreke te toon. Streel liggies met jou vingers daaroor om te voel of daar enige nate of skerp rande is, wat op glas sal dui.
  • Die rand is ’n maklike verklikker: as dit dik is, is dit waarskynlik glas, terwyl ’n delikate dun rand heel moontlik kristal is.
  • Kyk uit vir borrels, wat ’n uitwerking op die waarde van kristal het.
VERSAMELING #12

Boeretroos

“Ek is mal oor koffie,” lag Bibette, toe ons haar uitvra oor die ou lessenaarlaai wat sy gebruik het om ’n pragtige uitstal-eenheid vir haar espressokoppies en ou emaljeskatte te maak. “Op dié manier kan ek my versameling elke dag geniet en staan dit nie êrens agter toe kasdeure nie,” verduidelik sy. Dis die samevoeging van ou en nuwe koppies wat dié uitstalling sy trefkrag gee, terwyl kleure in dieselfde tone samehang verseker. Kyk hoe vernuftig Bibette die koffiemasjien reg onder die koppies geplaas het. Wanneer sy nou vroeg soggens die slaap uit haar oë gevryf het, staan alles slaggereed om haar gou aan die gang te kry!

Jeuk jou hande? Neem ’n ou laai en maak vir jou ’n uitstalrak!
VERSAMELING #13

Witter as wit

’n Hele versameling wit keramiekware van die vloer tot die plafon maak ’n treffende stelling in dié plaaskombuis buite Stanford.

“Omdat die muur so donker is, het ek besluit om die vertrek op te helder met laag op laag wit ware van verskillende teksture en herkomste. Hier is Egiptiese artefakte, ou blikborde en -ketels, fyn, ou Engelse porselein, gehekelde bakkies, kunstige bekers, beeldjies van diere – net waaraan jy kan dink,” verduidelik Deirdre Loxton, wat haar skatte oor die jare by rommelwinkels, markte en ontwerperboetieks uitgesnuffel het.

Wenk

Wanneer jy op die uitkyk is vir iets nuuts om op ’n bepaalde plek te plaas, probeer om jou oog op net wit goed in te stel. So sal jy jou nie deur ander mooigoed laat verlei nie.

Die voordele ...

  • Oop rakke is prakties omdat jy dadelik kan sien wat jy nodig het en dit sommer van die rak kan afhaal.
  • Lig speel lieflik met artikels wat so uitgestal word en omskep elkeen as’t ware in ’n klein kunswerk.
  • Die voorkoms verander voortdurend terwyl dinge in gebruik is en nuwes bygevoeg word; dit bly dus ’n bron van inspirasie.
  • ’n Skoon wit palet is tydloos, en jy sal ’n versameling in dié kleur vir baie jare geniet.
  • In ’n klein of donker vertrek skep ’n wit palet die gevoel van lig en groter ruimte.
  • Rakke van die vloer tot teen die plafon verskaf hoogte en skep hope ekstra bêreplek.

... en die nadele

  • Oop rakke kan nooit heeltemal stofvry wees nie; maar as jy die voorwerpe gereeld gebruik, sal stof nie kans kry om daarop aan te pak nie!
  • Wees streng en hou by jou wit palet – naaswit en roomkleurige artikels, of titsels rooi of blou sal eenvoudig nie werk nie.
  • Omdat alles wit is, kan van jou mooigoed maande lank ongebruik op die rak bly staan!
  • Klein handjies kan artikels op lae rakke maklik bykom en breek. Oorweeg dus om wit bêrehouers vir vadoeke en tafeldoeke op die onderste rakke te plaas.
  • Die oplossing as jy dit moeilik vind om artikels op die boonste rakke by te kom: ’n Leer wat by jou rak pas.