Tydloos Frans

Kerstin Eser, Plascon-mediastilis en -kleurkenner

DIE VOORKOMS

Die tydlose bekoring van Franse dekor, hetsy klassiek of kontemporêr, sal altyd ’n gewilde keuse wees. Sagpienk is ’n onontbeerlike deel van dié palet. Die geheim is om dit subtiel in te bring, byvoorbeeld met ’n klein meubelstuk, lampkap of strooikussings.

VERFKLEURE

Die meeste ruimtes in die Franse styl is redelik rustig en alles werk in harmonie met mekaar. Hier is jou keuse van basiskleur belangrik. Naaswit Antique Petal, ’n warm gryswit versag deur ’n effens pienk ondertoon, is die perfekte wit agtergrond. Skakerings soos Plaster en Light Stone bevat meer kleur en albei kan as hoof- of basiskleur werk. Al drie skep ’n neutrale agtergrond waarteen goed geplaaste elemente in skakerings soos dofpienk Morning Clarens mooi sal uitstaan.

DIE AFWERKING

Een van die hoofkenmerke van Franse dekor is laag-op-laag-teksture, diepte en ’n gevoel van weelde. Jy kan sagter pienke inbring met elemente soos karaktervolle lampkappe en strooikussings, of roosgoud in die vorm van ligtoebehore en handvatsels. Lang gordyne, groot mandjies wat oorloop van grofgebreide dekens en roospienk bykomstighede sal ’n tekstuurryke laag-op-laag-voorkoms skep.

Maak self so!

Skandi-styl

Lizemari Möller, Duram-handelsmerkbestuurder

DIE VOORKOMS

Die Skandi-styl put inspirasie uit die natuur, en dis juis die eenvoud van dié immergewilde dekorstyl wat mense bekoor. Sagte skakerings van pienk werk goed in hierdie konteks en is dikwels al wat nodig is om dié andersins neutrale kleurskema ’n bietjie skop te gee.

VERFKLEURE

Duram se pragtige Rose Taupe – ’n kombinasie van sagpienk en taupe – pas goed in ’n Skandinawiese dekorstyl. Gebruik dit saam met die koel grys van Calla Lilly, en Shiney Nickel, ’n donkerder grys. Ocean View is ’n pragtige grysblou wat dié kleure mooi komplementeer. As jy besluit om een muur in Rose Taupe te verf, sal ’n liggrys soos Calla Lilly op die res van die mure, en naaswit vloerlyste en deure, ’n lieflike palet uitmaak.

DIE AFWERKING

Meubels van ligte hout met skoon lyne sal jou vertrek oop en ruim laat voel. ’n Paar strooikussings met interessante motiewe, ’n mat in ’n neutrale kleur, glasvase of kerse in roosgoue houers sal die Skandi-prentjie voltooi.

Maak self so!

’n Titsel blieng

Nadine Vosloo, bemarkingsbestuurder by Tjhoko Paint

DIE VOORKOMS

Glansryke vertrekke met ’n bietjie blieng maak ’n stylvolle, gesofistikeerde stelling. Rig ’n sjiek, moderne ruimte in met warm neutrale kleure, silwer en natuurlik ’n titsel pienk.

VERFKLEURE

Tjhoko Paint se Sweetness is perfek as ’n sagte aksent; meer prominente skakerings wat hierby sal pas is Vinia Stone, Steffan en ’n spatsel metaalverf soos Charm’s Silver. Volg die 60-30-10-reël en gebruik Vinia Stone of Silver Moon as hoofkleur (60%) in die vertrek. Vinia Stone sal die vertrek warmer laat voel en Steffan sal dit ’n meer gesofistikeerde karakter gee. Afhangend van jou keuse vir die hoofkleur, gebruik jy die ander een as sekondêre kleur (30%), byvoorbeeld op ’n aksentmuur. Sweetness en Charm’s Silver is perfek vir ’n bietjie blieng.

DIE AFWERKING

’n Kristalkandelaber is nommerpas in so ’n ruimte, andersins kan jy jou ou spieëlrame opdollie met Charm’s Silver. Oorweeg ook silwer fotorame en bykomstighede. Gebruik pienk in strooikussings, dekens, stoffering en detail in kunswerke.

Maak self so!

’n Sweempie romanse

Palesa Ramaisa, Dulux-kleurkonsultant

DIE VOORKOMS

Blospienk tone is hoogs veelsydig omdat dit kan werk saam met ligte en donker hout, asook rooi- en geelkoper-aksente. Jy kan dit met groot sukses inspan in ’n romantiese, vintage- of neutrale kleurskema.

VERFKLEURE

Pictured Rocks is ’n warm pienk wat die tekstuurryke eienskappe van natuurlike hout en leer eggo. Pleks van ’n gewone aksentmuur kan jy ’n meer trendy aanslag probeer met ’n aksentmuur in twee kleure, wasige lyne of selfs ’n ovaal vorm teen die muur, wat ’n speelse element in die vertrek sal skep. Gee jou verbeelding vrye teuels. Vir ’n gesofistikeerde kombinasie kan jy skakerings van grys, silwer en ligpienk as pasmaats oorweeg.

DIE AFWERKING

Koper-elemente soos kanttafeltjies, lampe of skinkborde met artikels soos geurverspreiders daarop, sal die ruimte ophelder. Oorweeg ook matte in ligte kleikleure. Inkblou skakerings en smaraggroen loof is ’n onverwagse pasmaat wat wonderlik lyk saam met die rosigheid.

Maak self so!
VERSKAFFERS
  • @home 0860 834 834, home.co.za
  • Block & Chisel 021 271 0142, blockandchisel.co.za
  • Coricraft 011 611 8700, coricraft.co.za
  • H&M Home 086 0690 707, hm.com/za
  • MRP Home 0800 212 535, mrphome.com
  • Poetry 0860 333 329, poetrystores.co.za
  • The Lighting Warehouse 011 201 2600, lightingwarehouse.co.za
  • Volpes 041 402 6800, volpes.co.za
  • Woolworths 0860 022 002, woolworths.co.za
  • Zara Home 010 020 2837, zarahome.com/za