Foto’s Francois Oberholster

PROJEKGIDS
  • Harde werk 5/10
  • Vaardigheidsvlak 5/10
  • Tyd nodig 5 tot 6 uur
  • Doen dit self vir ± R6 500: Hout R6 300, spykers R38, Alcolin Acrylic Sealant R25, skuurpapier R10, houtvuller R30, skroewe R50

Projeknotas

  • Ons het ’n muur van sowat 8,5 m² bo die kombuiskaste, tussen twee symure, beklee. Pas die materiaalhoeveelhede en -mate aan volgens die oppervlakte wat jy wil beklee en saag die nodige dele uit vir enige openinge, soos die venster in ons geval.
  • Meet baie sorgvuldig voordat jy saag.
  • Skuur jou planke vooraf.
  • Onthou om gidsgaatjies te boor.

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • 30 dennehoutvloerplanke (3,6 m elk)
  • 10 geskaafde 1 800 x 22 x 44 mm-dennehoutplanke (vertikale stutte)
  • ses geskaafde 2 400 x 12 x 144 mm-dennehoutplanke (vensterbank)
  • ses geskaafde 2 400 x 12 x 95 mm-dennehoutplanke (raam om venster)
  • 40 inkap-ankerskroewe (6 mm x 55 mm)
  • ’n pakkie ovaal spykers (40 mm)
  • ’n pakkie 6 mm x 40 mm-skroewe
  • Alcolin Acrylic Sealant
  • dennehoutvuller
  • 220-grint-skuurpapier
  • helder silikoon

GEREEDSKAP

  • koordlose boor en 3 mm-boorpunt
  • figuursaag
  • potlood
  • maatband
  • winkelhaak
  • betonboor en 6 mm-boorpunt
  • hamer

Só maak jy ...

1. Meet en merk die hoogte van die muur wat jy wil beklee. Saag die 1 800 x 22 x 44 mm-stutte in die nodige lengtes en skroef dit vertikaal teen die muur vas. Ons het begin met ’n stut alkant van die vensters en die res eweredig oor die muur versprei.

2. Begin onder en posisioneer die eerste vloerplank teen die regterkantse symuur. Heg dit aan die muur met ovaal spykers wat jy teen ’n 45°-hoek deur die tong van die vloerplanke in die vertikale stutte inkap (dan het jy die minimum gate om agterna op te vul). Saag die volgende vloerplanke op maat om die res van die afstand tot teen die linkerkantse muur te vul. Begin jou tweede ry aan die regterkant met die oorskietstuk van die laaste plank in die eerste ry (dan beland lasse nie bo mekaar nie). Skuif die tweede laag se groef oor die eerste laag se tong en kap die spykers deur die tweede laag se tong vas. Herhaal tot die hele muur bedek is. Wenk Plaas ’n oorskietstuk hout agter elke las om die plank-ente gelyk te hou.

3. By ’n opening (soos ons venster) Meet die lengte van die vensterbank en saag die nodige 2 400 x 12 x 144 mm-plank(e) op maat. Maak seker die voorkante is gelyk met die bekleding en lym die plank(e) vas met Alcolin Acrylic Sealant; skroef dit ook aan die bekleding vas. Herhaal aan die bokant en die sye. Maak ’n raam rondom die venster deur 2 400 x 12 x 95 mm-planke op maat te saag, met die ente teen 45°-hoeke. Skroef die raamdele op die bekledingrand vas.

Ter afronding: Vul skroef- en spykergate met dennehoutvuller. Laat dit oornag droog word en vee skoon met ’n klam lap. Seël die hout met 3 lae Woodoc Water-Borne Floor Matt; laat elke laag goed droog word voor jy die volgende een aanwend. Ons het ’n paar druppels Woodoc Colours in die kleur Full Moon by die eerste laag seëlaar gevoeg om die blonde houtkleur uit te bring. Seël die rande waar die bekleding en vensterraam ontmoet met helder silikoon.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

Horlosie, vergiettes en kapplank van Woolworths; skottelgoedrak van @home; hout verskaf deur Timbercity