Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

PROJEKGIDS

Harde werk 3/10 

Vaardigheidsvlak 4/10

Tyd nodig 1 tot 2 uur 

Maak dit vir R1 400: Hout R910, skroewe R50, wiele R400, skarniere R20, magneetknippe R20 (matras uitgesluit) 

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

• 3 000 x 32 x 94 mm- geskaafde dennehout, gesaag in:

   vier lengtes 1 000 mm (lang sye)

   twee lengtes 595 mm (kort sye)

• 18 mm-laaghout, gesaag in die volgende panele:

   twee 1 000 x 660 mm (bodem    en bokant)

   een 660 x 340 mm (kopstuk)

   een 595 x 185 mm (keerplank)

• een pakkie 6 mm x 50 mm-spaanderbordskroewe

• een pakkie 8 mm x 30 mm-spaanderbordskroewe

• twee 30 mm-skarniere

• vier 75 mm-rolwiele

• twee magneetknippe

• houtlym soos Alcolin 

Fast Set Wood Glue

• houtvuller 

• skuurpapier

• verf of vernis (opsioneel)

GEREEDSKAP

• koordlose boor en 3 mm-boorpunt 

• potlood 

• maatband

• figuursaag 

• houtklamp

Projeknotas

• Onthou om gidsgaatjies te boor.

• Skuur jou planke vooraf.

Lym en skroef een 595 mm-plank tussen die ente van twee 1 000 mm-planke vas. Plaas die 1 000 x 660 mm-bodem op hierdie raam, lym en skroef vas met die 6 mm x 50 mm-skroewe. Herhaal met die ander 595 mm- en 1 000 mm-planke en die 1 000 x 660 mm-bokant.

Hou die twee bokse teen mekaar en heg hulle aan die oop kant met die skarniere. Skroef die wiele aan die bodem vas met die 8 mm x 30 mm-skroewe.

Maak seker jy skroef die kopstuk net aan die boonste deel vas, anders sal dit nie kan oopvou nie!

Saag ’n opening van 150 x 20 mm uit twee hoeke van die 660 x 340 mm-kopstuk sodat die wiele vrylik kan draai wanneer dit toegevou is. Dit gee ook definisie aan die kopstuk se bo-rand wanneer die bed oopgevou is. Lym en skroef nou die kopstuk aan die “koppenent” van die boonste boks vas, met die uitgesaagde hoeke gelyk met die bodem.

Sit die boks op sy wiele neer en skroef die magneetknippe aan die lang sye van die kas vas, en die plaatjie vir elke knip aan die kort sye van die keerplank, sodat dit die oop sy toemaak as die bed toegevou is. Dit verbloem die matras terwyl jou bed as koffietafel diens doen. Vul al die skroefgate met houtvuller en laat dit goed droog word. Skuur deeglik en verf of vernis die hout in die afwerking van jou keuse. 

Poukussing en kombers van Woolworths; mosterdgeel kussing en matras van MRP Home

KONTAK EN VERSKAFFERS

Deon de Goede 084 589 5026, deon@diydeon.co.za

MRP Home 0800 212 535, mrphome.com 

Timbercity 021 927 5000, timbercity.co.za 

Woolworths 0860 022 002, woolworths.co.za